Die Geskenk van intimiteit met God in ons Gebrokenheid

Die Geskenk van intimiteit met God in ons Gebrokenheid

deur Angela | Maart 29, 2017

My pa het twintig jaar gelede vir my raad gegee waarna ek dikwels terugverwys. Hy het gesê, “As God ‘n roeping op jou hart lê, sal Hy ‘n weg vind om dit tot voleinding te bring.” Jy hoef nie bekommerd te wees dat die roeping sal verval of sal verdwyn nie. Dit mag dalk nie gebeur op die tyd wat jy gedink het dit sal gebeur nie, of dalk nie lyk soos jy gedink het dit gaan wees nie, maar as jy getrou en geduldig kan bly, sal die saadjies wat God in jou hart plant, groei tot dít wat Hy bestem het.

Hier is my verhaal van gebrokenheid en verlossing: van onvrugbaarheid en verlies, gepaard met om te leer om God se goedheid te vertrou.

Ek weet dit is ‘n cliché, maar van ‘n jong ouderdom af het ek geweet dat ek ‘n mamma wil wees. Dit was deel van wie God my geskape het om te wees – ‘n ouer. Jare later het ek getrou met ‘n wonderlike man, en ek het geweet dat ons saam pragtige kinders sal grootmaak. Maar, dit het nie gebeur soos ek gedink het dit sal nie. Inteendeel, terwyl al ons vriende baba’s gehad het, het ons maand na maand geworstel met negatiewe swangerskaptoetse, en die ontdekking dat ek vrugbaarheidsprobleme gehad het. Na toetse en behandeling en meer toetse en meer behandeling, het dit gevoel of ons drome om ouers te word verder en verder wegkwyn. Die donker leegheid van onvrugbaarheid het ‘n realiteit geword.

Alles het so hopeloos gevoel.

So gebroke.

So ongelooflik hartseer.

Dit het ook ons lewens beheer. Die behandelinge, die toetse, die medikasie, die skedules, die asems ophou om te sien of dit gewerk het — dit was al waaroor ons ooit gedink het. Ek het geweet dat God my geskape het om ‘n mamma te word. Hoekom het dit nie gewerk nie? Hoekom kon ek nie my roeping vervul nie? Ek het uiteindelik swanger geword. Ons was oorstelp van vreugde. Maar, gedurende die 9e week van my swangerskap het dinge vinnig verander toe ons uitgevind het dat ons perfekte klein babatjie – wie se ultraklank net twee weke gelede ‘n sterk hartklop gewys het – opgehou groei het. Terwyl ek na die skerm gestaar het, het die woorde van my dokter in my ore weerklink, “Ek is jammer. Daar is geen hartklop nie. Jou baba is dood.” Ek was buite myself van droefheid, en ek het die verlies van daardie baba so diep betreur dat ek in ‘n depressie verval het.

Onvrugbaarheid en verlies is sosiaal taboe – dit is nie onderwerpe wat meeste mense gemaklik voel om oor te praat in gewone gesprekke nie. Op ‘n sekere stadium, diep in die donkerte, het ek besef dat ek geïsoleerd geraak het – nie net sosiaal nie, maar ek het ook wegbeweeg van God af. Woede en pyn het ontspruit uit my obsessie om ‘n ouer te word. Sonder om dit te besef, het ek my pogings om ‘n kind te hê as die mees belangrikste ding in my lewe verhef, en dit het my verteer. Die emosies wat met die onvrugbaarheid en verlies gepaardgegaan het — droefheid, woede, ongeloof, jaloesie, depressie en isolasie – het onhanteerbaar geword. My dierbare man en familie het alles gedoen wat hulle kon om my te ondersteun. Maar dit was nie genoeg nie. Ek het besef dat ek volkome op die Here moet leun om deur hierdie donker tyd te kom. Ek het my begeerte om swanger te raak oorgegee. My gebed het verander van, “Here, gee my asseblief ‘n baba,” na “God, hou asseblief my hemelse baba in U arms, want ek kan nie.”

Die tyd na my miskraam het een van die rykste geestelike tye in my lewe geword. Ek het geleer om diep op God te steun en Hom te vertrou om vir my te sorg. Ek het begin om my energie te gebruik om te fokus op my verhouding met Hom, in plaas van om swanger te raak. My geloof het gegroei. My huwelik is versterk. My depressie het vervaag. Ek het begin om Sy goedheid oral om my te raak te sien. Dit is so ironies: my onvrugbaarheid het tot so ‘n geestelike vrugbare tyd gelei. Terwyl die persoonlike en geestelike verlossing wat ek ervaar het, op hulle eie ongelooflik was, eindig my verhaal nie daar nie. Ek het later swanger geraak – maar hierdie keer was dit anders – geen toetse, geen behandelings. Ek het geboorte gegee aan ‘n gesonde, perfekte, pragtige klein seuntjie. Toe ek my fokus verander het van my leë, kinderlose hande af, na om in die hande van my Skepper vasgehou te word, het my hele perspektief verander. Ek kon sien dat ek ‘n geskenk gegee is deur my gebrokenheid – God het my deur diep waters gelei, en my geloof laat groei op maniere wat my ‘n beter vrou, ma en persoon gemaak het. En getrou aan wat my pa my jare gelede geleer het, het God my toegelaat om die roeping wat Hy op my hart geplaas het om ‘n ouer te word, te vervul. Selfs al was dit nie volgens my tydsberekening nie en het die reis het nie gelyk soos ek gedink het dit sal nie, het dit gebeur.

God het my gebrokenheid geneem, en dit verlos. En dit was perfek.

“Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd.” – Psalm 73:26

Nederig Syne,

Greer

 

Week 3 – Sarah en Onvrugbaarheid

Week 3 – Sarah en Onvrugbaarheid

deur Jen Thorn | Maart 27, 2017

Hierdie week kyk ons na die swaar onderwerp van onvrugbaarheid. Dit is swaar, want dit is so pynlik, dit dreineer mense emosioneel, en dit beïnvloed mense se hele lewens. Baie mense het hulle hele lewe gewag om uiteindelik kinders te hê, net om die bitter teleurstelling van onvrugbaarheid in die gesig te staar.

Daar is ‘n hele paar vrouens in die Bybel wat onvrugbaar was: Ragel (Gen. 30), Manoag se vrou (Rig. 13), Hanna (1 Sam. 1), Mikal (2 Sam. 6) en Sara.

Sarah het 90 jaar oud geword, sonder om kinders te hê. Dit was baie jare van wag. Ek kan my indink dat daar baie trane en hartseer was. Ons weet dat sy nie vertroue in God se getrouheid en goedheid gehad het nie, want sy het haar slavin aan haar man gegee om ‘n kind te kan voortbring. Miskien het sy op 90 moed opgegee dat sy ooit ‘n ma gaan wees. Ons weet dat sy verkeerd was.

In hierdie studie het ons gekies om op Sara te fokus, omdat ons in haar onvrugbaarheidverhaal ‘n baie belangrike waarheid leer…

“Is enige iets te moeilik vir die Here?”

Die antwoord is, “Natuurlik nie!” Die Here kan enige iets volgens Sy wil doen.

Hy kan gebroke liggame genees op maniere wat dokters stomslaan. Hy kan kinders gee aan paartjies wat gedink het dat dit onmoontlik is.

Maar daar is iets anders wat die Here kan doen. Iets, wat dalk selfs meer wonderbaarlik is. Hy kan ware vreugde en tevredenheid gee te midde van onvrugbaarheid.

Verwag die Onmoontlike

Tevredenheid en vreugde te midde van moeilikheid en lyding – iets so onwaarskynlik soos ‘n onvrugbare vrou wat swanger word – kan onmoontlik lyk. Maar onthou, met God is niks onmoontlik nie.

Sy krag is sterker as enige lyding. Hy kan siekes genees, die dooies lewendig maak en die hart van ‘n sondaar verander. Hy kan tevredenheid en vreugde gee aan die gebrokenes van hart, want Hy kan iets uit niks uit skep.

Ons moet tot Hom nader om dit te kan ontvang. Ons moet die beloftes wat Hy in Sy Woord gee, vertrou. Ons moet tot Hom nader in gebed met ons hartseer, en ons moet Hom loof te midde van trane, want Hy is agtenswaardig.

Dan, wanneer ons na aan God is, kan ons wag – en die onmoontlike verwag. Ek wil jou aanmoedig om in jou beproewing, vol vertroue te wag vir God om in jou lewe te werk. Ek bid dat die Here vir jou vreugde sal bring wat diep in jou hart gevestig sal wees, en tevredenheid wat rus op die waarheid dat God altyd goed is.

Kyk na Jesus,

 

 

 

 

 

Week 3 – Video

Week 3 Uitdaging: Spandeer baie tyd in gebed en stort waarlik al jou pyn, frustrasies, teleurstellings en vrese oor onvrugbaarheid uit. As jy self nie hiermee worstel nie, tree dan in vir iemand wat jy ken wat desperaat is om ‘n kind te hê, maar wie se arms leeg bly.

Week 3 Leesplan

Week 3 Memoriseer Vers

 

Nie Nodig Om te Vrees Nie.

Nie Nodig Om te Vrees Nie.

deur Jen Thorn | Maart 24, 2016

Vrees…

Dit kan veroorsaak word deur amper enige iets. Dit kan teweegebring word deur mense, teenspoed, verlies, die verlede en onsekerheid oor die toekoms. Vrees is daardie gevoel van angstigheid oor die uitkoms van iets; dat jou behoeftes of begeertes nie bevredig sal word nie.

Vrees is vir my ‘n goeie vriend. Ek kan alle soorte angswekkende scenarios uitdink, en baie van hulle kan my maklik in ‘n paniek bring, en meeste van hulle word nie eens waar nie. Dis erg, nê?

God het vir ons baie skrifgedeeltes in die Bybel gegee wat ons bemoedig om nie bang te wees nie. Daar is selfs ‘n Christelike mite wat sê dat daar 365 verse oor vrees in die Bybel is, een vir elke dag van die week. Dit is nie waar nie. Byvoorbeeld, in die English Standard Version, kom die woorde “fear not” or “be not afraid” net 137 kere voor. Maar ons het nie 365 “moenie bang wees” nodig nie. As God dit net een keer gesê het, dan sou dit genoeg gewees het.

Kom ons kyk na ons verse vir vandag, en sien sommige van die redes hoekom ons nie bang hoef te wees nie.

  1. Hy is JOU God.

“… moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God;” – Jesaja 41:10

God het alles geskape deur Sy Woord en dra alles deur Sy krag. Hy laat diere praat (Num. 22), en roep bye (Jes. 7). Hy skei die see en laat die son stilstaan. Hy is so suiwer en heilig, dat niemand na Hom kan kyk en leef nie (Eks. 33:20). Hy ontwaak dooie harte en gee lewe (Esra 36). Die ou Bybelse kategisme sê, “God is ‘n gees, oneindig, ewig, en onveranderd in Sy wese, wysheid, krag, heiligheid, geregtigheid, goedheid en waarheid.” Hierdie wonderlike God is nie net God nie, Hy is JOU God.

Deur geloof in Jesus Christus kan jy aanspraak maak op Hom, en Hy maak aanspraak op jou. Hy sorg vir dié vir wie Jesus gely het. Hy beskerm dié vir wie Jesus gesterf het. As lede van Sy familie, is ons volkome veilig en versorg.

Watter redes het ons om bang te wees? Onthou altyd Romeine 8:31:

Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?

  1. God is by jou.

“… moenie bang wees nie, Ek is by jou;”  

Het jy jouself al ooit afgevra hoekom jy bang word?

Somtyds is dit omdat ons na die situasie waarin ons is kyk, en ontblote of alleen voel, sonder beheer of hulp. Ons voel verlore en ons weet nie wat om te doen nie, of waarnatoe om te draai nie. ‘n Deel van God se grootheid is dat Hy alomteenwoordig is. Dit beteken dat Hy orals is op dieselfde tyd. Hy is nie beperk deur tyd of ruimte nie.

In Johannes 14:23 sê Jesus, “As iemand my liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en ons sal na hom toe kom en by hom woon.”

Hy maak sy woning in elke gelowige. Hy beskerm, leer en lei. Hy is nie net daar nie. Hy is nie afleibaar soos ons wanneer ons by ons familie is, maar ook op ons selfone is nie. Ten spyte van alles wat gebeur, is Hy 100% gefokus op Sy kind – en dit is jy en ek! Hy is ten volle bewus van ons gedagtes, ons gevoelens, ons begeertes, ons swakhede en ons vermoëns. Hy weet alles – elke traan wat jy terughou en elke klein sug. Hy is daar om op te lig en te lei, te leer en te korrigeer.

Hoe meer ons toelaat dat hierdie waarhede in ons harte insink, hoe meer sal vrees vervang word met heilige vrede.

  1. God sal jou help.

“Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”

Omtrent alles waartoe ons geroep word om te doen en te wees, kan ons nie op ons eie doen nie, en dit is goed. Dit moet nederigheid en afhanklikheid by ons skep. Ons God is so goedgunstig en genadig om ons al die hulp te gee wat ons ooit sal benodig om ons roeping uit te leef, en die aanslae van die vyand af te weer.

Van Adam tot die Apostel Paulus, is vrees die mens se konstante vyand. Dit is ‘n stryd wat baie mense daagliks moet veg. Vrees is ‘n ware vyand, maar ons God is groter. En hoe meer jou kennis van God is, hoe minder sal jy vrees.

Kyk Na Jesus,

Wees Sterk en Dapper

Wees Sterk en Dapper

Deur Angela | Maart 22, 2017

Moses is een van my absolute geliefkoosde karakters van die Bybel. Hy was ‘n man wat baie foute gemaak het, sy tekortkominge en gebreke was in die openbare oog vir almal om te sien, hy het swak gevoel toe hy sterk moes wees, en het nie gevoel hy is in staat toe God hom geroep het nie.

Ek kan so met hom identifiseer. Ek het meer kere drooggemaak as wat ek wil erken. Ek het toegelaat dat vrees my ontredder het, my teruggehou het en meer slapelose nagte veroorsaak het as ‘n pasgebore baba.

En swakheid… o wee.

Ek bid altyd en vra vir God om ‘n “Aaron” in my lewe in te bring. Iemand wat meer welbesproke as ek is. Iemand wat vir my kan praat. Want as ek eerlik met julle moet wees, dan voel ek meeste dae asof ek nie bekwaam is om ‘n bediening soos hierdie te lei nie.

Moses mag oor sy woorde gestruikel het, maar ek maak meer foute met myne as wat ek graag wil noem.

Moses het die etiket van “Spraakgebrek” gedra, en ek het die etiket gedra van “Leerprobleme,” wat maak dat beide van ons iemand anders voor ons wil plaas. As ons maar net kan wegkruip sodat ander nie ons liggaamsgebreke van naby moet sien nie.

En nogtans, ten spyte van ons swakhede en ons gebrokenheid, kies God nogtans om ons te gebruik… en Hy kies jou ook, liewe vriendin.

In vandag se verse, sien ons Moses aan die einde van sy lewe. Hy het geleer om met God te wandel deur die hoogtepunte en laagtepunte van die lewe, en hy ken hierdie waarheid eerstehands: GOD SAL JOU NOOIT ALLEEN LAAT NIE.

Toe Moses swak was, het God hom sterk gemaak.

Toe Moses lafhartig was, het God hom dapper gemaak.

Dit is ongelooflik om te sien hoe Moses was toe God hom in die begin geroep het, in vergelyking met hoe hy was aan die einde van sy lewe… nadat hy vir 40 jaar saam met God gewandel het.

As gevolg van Moses se persoonlike verhouding met God, was hy in staat om die mense van Israel – en mees belangrikste, vir Joshua – te bemoedig, en hulle uit te daag om sterk en dapper te wees. Hoe? Deur tyd met God te spandeer, deur Hom te vertrou en Hom op Sy Woord te neem… deur te glo dat God sal doen wat Hy gesê het. Moses het geleer om sterk en dapper te wees deur God te vertrou, en te sien hoe Hy keer op keer in sy lewe gewerk het.

Dit was Moses wat gesien het hoe God die waters van die Rooi See geskei het, en toegelaat het dat die nasie van Israel op droë grond deurgetrek het.

Dit was Moses wat gesien het hoe God die mense van Egipte geoordeel het vir hulle ongehoorsaamheid en gevangenisskap van die Israeliete.

As gevolg van God se getrouheid in Moses se lewe, was Moses toe in staat om te kon spreek in die lewens van die volgende generasie, en vir hulle te sê, “Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie! Julle God gaan voor julle uit, net soos wat Hy vir my gedoen het!”

En dit is wat ons nou nodig het.

Ons het vrouens in die ouer generasies nodig wat hoop kan gee aan dié in die jonger generasies, en sê “Hou moed en wees dapper!”

Ons het nodig om van vrouens te hoor wat met God gewandel het, en wat getuienisse het van Sy getrouheid in hulle persoonlike lewens – vrouens wat nie net hierdie waarheid waarvan Moses in Deuteronomium 31 vertel, ken nie, maar vrouens wat dit ook ervaar het!

Ons het nodig om van vrouens te hoor wat die storms van die lewe getrotseer het, en wat kan getuig dat wat Moses gesê het waar is – dat Jesus hulle nie vir een oomblik sal los om hulle storms alleen te trotseer nie.

Dus vra ek jou vandag: sal jy ‘n “Moses” wees vir die volgende generasie? Sal jy moedig en dapper wees deur uit jou persoonlike lewe te getuig van God se getrouheid?  Sal jy deel met die “Joshuas” van vandag oor hoe God getrou was aan jou en hoe Sy woorde waar is?

O, hoe groot is ons behoefte om meer verhale van God se getrouheid te hoor! Ons benodig om getuienisse te hoor van hoe God se Woord waar is, nie net in Bybelse tye nie, maar ook in ons huidige tyd. Ons moet herinner word aan Sy getrouheid en die verlede en Sy getrouheid vandag.

Moses beveel ons om sterk en dapper te wees, maak nie saak watter stryd ons het nie. Ons moet nie bang wees nie, al stuur God ons ook na watter land toe. Ons God is met ons. Kom ons wees saam sterk en dapper!

Kom ons praat: Deel asseblief vandag verhale van hoe jy deur jou wandel met God geleer het om sterk en dapper te wees! Deel met ons hoe God met jou in jou storms van die lewe was, en hoe jy geleer het om dapper te wees. Ons benodig om jou stem en die getuienis wat God jou gegee het, te hoor!

Hê God Groots Lief!

 

 

Week 2 – Moses – Vrees En Swakheid

Week 2 – Moses – Vrees En Swakheid

deur Whitney | Maart 20, 2017

“Wat kan in ons lewens verander as ons waarlik glo… in ons binneste, dat God ons sien en ons hoor? Van watter sonde sou ons wegdraai? Watter sekerheid sou ons verkry? Wat as ons waarlik glo dat God Sy beloftes hou? Hoe sou ons in die Woord van God delf vir Sy beloftes? Hoe sou ons aan hulle vashou wanneer dinge droog of stormagtig of donker is?” – Matt Chandler, Our Story in Exodus

Het jy al ooit ‘n baie gewaagde gebed van gewilligheid gebid, en vir God gevra dat as Hy iemand soos jy kan gebruik – wat ookal dit is waartoe Hy jou roep, – jy dit sal doen?

“Hier is ek, Here. Gebruik my.”

Jy wil gebruik word. Jy het gebid om gebruik te word. Jy het dalk selfs op een stadium ‘n pad geloop, en ‘n duidelike leiding van die Gees gevolg, om “ja” te sê, om groot dinge vir God te doen.

Behalwe, natuurlik, jy het nie regtig bedoel dat jy absoluut enige iets sal doen nie.

As jy soos ek is, het jy dalk alreeds selfs die perfekte beeld van jou bediening in jou gedagtes opgestel. Hy sal sekerlik my mees voor die hand liggende sterk punte gebruik, in my mees ideale plek, om ‘n impak te hê op my mees gewenste demografie, en dit sal alles perfek uitwerk, tot die laaste detail, op die mees effektiewe, engelagtige manier, nê? Mmm.

Sjoe, God het ‘n sin vir humor.

Om teen Goliat te staan te kom, was nie Dawid se mees voor die hand liggende sterk punt nie, om die leeukuil binne te gaan was nie Danïel se mees ideale plek nie, om die mense van Nineve te bereik was nie Jona se gewenste demografie nie, en veertig jaar in die woestyn was definitief nie die Israeliete se mees effektiewe roete nie.

En welsprekendheid voor ‘n intimiderende, kragtige nasionale leier was verseker nie op Moses se top tien lys nie. Keer terug na Egipte en bevry die Israeliete van slawerny? God was seker verward. Om die waarheid te sê, Moses het nie gevra om gebruik te word nie, en hy het definitief nie bekwaam gevoel vir die taak nie.

Uit die brandende bos het hy die Here sy naam hoor roep. “Hier is ek,” het Moses geantwoord, sonder om te weet Wie het geroep, of wat op die spel was. Maar nadat hy God se weergawe gehoor het van sy volgende taak, het Moses God teengestaan op elke vlak, soos sy gebrokenheid na vore gekom het, en sy vrees en swakheid hom oorval het…

WIE IS EK, HERE?

In Moses se eerste veertig jaar was hy ‘n ‘iemand’ – ‘n geredde, beskermde, versorgde, begunstigde, invloedryke prins van Egipte. Maar een lewensveranderende besluit het veroorsaak dat hy moes vlug vir sy lewe, en annoniem moes wees vir die volgende veertig jaar. Moses het gegaan van om in ‘n paleis te woon, tot om skape in die woestyn op te pas – ‘n offisiële, ongekwalifiseerde “niemand” in die oë van die Egiptenare. Daar is definitief ‘n fout, God. U wil hierdie geringe uitgeworpene gebruik om groot dinge vir U te doen? Ek dink nie so nie.

Maar God het geantwoord: Ek sal met jou wees. Ek sal die werk doen. My sterk hande sal jou lei. Ek sal vir jou voorsien. Dit sal gebeur en jy sal sonder twyfel weet dat EK IS die Een was wat jou gestuur het.

NIEMAND SAL LUISTER NA IEMAND SOOS EK NIE.

Moses is oorweldig deur ‘n vrees vir mense. Hy het geweet dat die Egiptenare moeilike mense is, en vir veertig jaar het hy gemaklik gevoel om skape te kry om hom te volg, nie mense nie. As sy ouderdom, beroep en status as ‘n buitelander nie genoeg was nie, dan was die feit om terug te keer na die plek van sy misdaad definitief die deurslaggewende faktor wat hom diskwalifiseer. Ek het alle respek van hierdie mense verloor, God. Ek is nie U persoon nie.

Maar God het geantwoord: My krag sal met jou wees, Moses. Ek sal jou toerus met tekens en wonderwerke – nie net een nie, nie twee nie… maar drie van hulle, net om seker te maak dat hulle sal luister. Toe sê die Here, “Op grond hiervan sal hulle glo dat die Here die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het.”

EK HET NIE DIE REGTE GAWES NIE

Toe Moses besef presies wat God hom vra om te doen, het sy grootste swakheid na vore gekom en hom verlam van vrees. Moses het nie die gawe van spraak gehad nie. Om die waarheid te sê, God wou Moses se grootste swakheid na die voorgrond bring in wat alreeds na ‘n onmoontlike taak gelyk het! Met so baie dinge alreeds teen hom, het Moses geweet dat hy nie ‘n kans staan as hy eers sy mond oopmaak nie. Here, ek kan nie praat nie – kon nog nooit nie, sal nooit nie. Ek is so swak. Asseblief… ek is nie geskik vir hierdie taak nie.

Maar God het geantwoord: Ek het jou gemaak. Ek ken jou. Ek het jou lief. Ek sal vir jou praat.  “Wie het aan die mens ‘n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.”

IEMAND ANDERS IS MEER GEKWALIFISEERD

‘n Desperate Moses maak weer beswaar en pleit weereens, “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.”  Ek kan dit nie glo nie, liewe vriendinne. “Asseblief, Here?”  Na dit alles? Ons moet nie vergeet dat die God van die hemel, wonderbaarlik aan Moses verskyn in ‘n brandende bos. Hy het alreeds tekens en wonderwerke belowe, en het geduldig, oor en oor vir Moses herinner dat Hy die Skepper, die Voleinder en Here bo alles is. Maar in sy gebrokenheid, speel Moses die speletjie van vergelyking in een laaste poging om uit hierdie opdrag uit te kom. Sommige mense is gemaak vir dinge soos hierdie, God. Duidelik het U ‘n fout gemaak.

Voordat ons begin om Moses te kritiseer, sien jy dit nie raak nie? Hierdie is ons.

Soos Moses, haak ons vas by die foute van ons verlede, die beperkinge van ons hede en die onmoontlikhede van ons toekoms. Ons noem onsself gebroke, in plaas daarvan om ons oë te vestig op Jesus wat gekom het om ons sonde – verlede, huidige en toekomstige – te verlos, eens en vir altyd. Ons noem onsself ontoereikend, in plaas daarvan om te kyk na ons sterk Vader, wat gewillig en in staat is om Sy voldoende krag toe te pas op ons huidige swakheid. Ons noem ons situasie onmoontlik, in plaas van om te wandel in die Gees wat leef en verlang om die onmoontlike te doen deur gebrokenes, net soos ons.

Ons was nooit bestem om goed genoeg te wees nie. Ons was bestem om tot aan ons eindpunt te kom, sodat ons gered kan word en dan te kan rus in die groot EK IS.

Kind van God, Hy noem jou uitverkorene.

En Hy maak nie foute nie. In die verlede was God getrou aan Moses, en Hy was nie van plan om hom nou te los nie…

En Hy sal dieselfde vir jou doen.

By Sy voete,

 

 

 

 

 

 

 

 

Kom ons praat: Hoe laat jy toe dat vrees en swakheid jou daarvan weerhou om te doen wat God jou vra om te doen? Wat is een manier hoe jy vandag kan rus in God se getrouheid onderwyl jy vir Hom “ja” sê?

Weel 2 – Video

Week 2 Uitdaging: Skryf ‘n lys van die maniere hoe God getrou was met jou in die verlede. Laat hierdie lys ‘n herinnering wees van wie God is en hoe Hy in staat is om jou te help om jou vrees en swakheid te bowe te kom as jy sê “ja” vir hom.

Week 2 – Leesplan

Week 2- Memoriseervers

Verlies en Eensaamheid

Verlies en Eensaamheid

Deur Jen Thorn | Maart 17, 2017

Verlies en eensaamheid is immer teenwoordige realiteite. Hoewel ons aan die einde gekom het van hierdie week se studie oor hierdie onderwerpe, eindig hulle nie in ons lewens nie.

Ek het verlies ervaar as ‘n tiener. Alhoewel die donker en drukkende wolk van hartseer, vrees en wanhoop opgehef is, het dit littekens gelaat wat van tyd tot tyd my volwasse lewe beïnvloed het.

Ek is ook iemand wat eensaamheid ken. Ek onthou hoe ek by ‘n koshuis in Afrika afgelaai is, en die oomblik toe my familie weggery het, was ek oorweldig met eensaamheid.  As ‘n introvert, was en is dit moeilik om vriende te maak, maar ons smag almal daarna om saam met mense te wees. Ons het ‘n Godgegewe begeerte om geken en liefgehê te word, om gewaardeer en ingesluit te word.

Eensaamheid en verlies kan ‘n deel wees van ons lewens vir een seisoen, of vir baie seisoene. Ons hoef nie eers ver in die Psalms te soek om te sien hoe die skrywers hulle harte van alleenheid, verlies, verwardheid en twyfel uitstort nie. In Psalm 42 vertel Dawid van diepe hartseer, tot die punt waartoe sy trane sy enigste bron van voedsel is (Vers 4, Ou Vertaling).

Die Verstrikking van Wanhoop

Van die oomblik af toe sonde in die wêreld gekom het deur Adam en Eva, was die ervaringe van verlies en eensaamheid ‘n konstante deel van die gebroke menslike ervaring gewees. Verlies van lewe, verlies van ‘n werk of finansies, verlies van onskuld en vertroue, verlies van geluk en gerief.

Verlies en eensaamheid bring verskriklike gevoelens met hulle saam. Hulle lok ons om dinge te doen wat nie goed is vir ons nie, of nie vir God verheerlik nie. Baie van ons gee onsself oor aan ons gevoelens, en ons wentel rond in hartseer en wanhoop, en laat toe dat dit ons van ons energie, selfdissipline, motivering en sorg dreineer.

Ander mense sal tot groot uiterstes gaan om alleenheid en verlies te vermy. Miskien beteken dit om nooit sonder ‘n kêrel te wees nie, of om altyd deur mense omring te wees. Ander sal jok, of steel, of manipuleer om te hê, of om gewild te wees.

Die Vryheid Van Ware Hoop

Maar een van die lesse wat ons van Dawid leer, is dat hy homself nooit toelaat om in die arms van wanhoop te bly nie. Hy kom altyd terug na die een waarheid wat hom – en ons – kan vrymaak. Ons hoop is God! Altyd God!

Waarom is ek so in vertwyfeling

en waarom kerm ek so?

Vertrou op God!

In Psalm 42, preek Dawid twee maal vir sy siel, en vertel vir hy vir sy siel om te hoop in God.

Sy geloof redeneer met sy vrese, sy hoop argumenteer met sy smarte. – C.H. Spurgeon

Hoekom? Want terwyl ons alles kan verloor wat aards is, kan ons niks verloor wat geestelik is nie. Alles wat ewigdurend is, is gewaarborg. Ons kan nie ons siele of ons verlossing verloor nie, want ons kan nie ons God verloor nie! Daarom is Sy liefde vir ons en Sy getrouheid teenoor ons, rotsvas. Omdat God alomteenwoordig is, omring Sy goedheid en Sy troos ons ten alle tye. Sy barmhartigheid wankel nie, en Sy krag is daar om ons te ondersteun en te dra.

Gebrokenheid bring verlies en alleenheid na alle mense, sonder uitsondering. Maar dié wat die Naam van die Here aanroep, sal troos en wysheid vind vir vandag, en sal krag vind vir môre. Dan sal ons die Here loof en Sy Goddelike vreugde vind.

Kyk Na Jesus,

 

Jy Is Nie Alleen Nie. Vind God In Ons Gebrokenheid

Jy Is Nie Alleen Nie. Vind God In Ons Gebrokenheid

Deur Whitney | Maart 15, 2017

Sy liggaam was gebreek. Letterlik.

Ons het geluister na die ongevalle dokter terwyl hy die toestand van my man se skouer, wat nou in té veel stukkies was om te tel, beskryf het. Een klein misstap op die winter ys en ‘n slegte val het nie net bene versplinter nie, maar ook die volgende paar maande van ons lewens.

Nie een chirurg in ons dorp wou aan hom raak nie; die breuke was te erg. Na agt dae van besoeke aan spesialiste en wag, het ‘n trauma span uiteindelik die lang proses aangepak om Tyler se skouer weer aan mekaar te sit. Dit was ‘n raar en gevaarlike chirurgie. Groot spiere sou losgemaak word, senuwees sou afgesny word, en penne en plate en skroewe sou geplaas word in plekke waar dit eenvoudig nie pas nie. Geen beloftes is gemaak of hy weer die gebruik van sy skouer, arm of hand sou hê nie.

En dus het ons na God toe uitgeroep terwyl ons in die storm gewag het.

Ek gaan nie jok nie, dit is ‘n versoeking om in die wagtydperk te vra, hoekom? “Hoekom ons?” “Hoekom nou?”, in plaas van, “Wat wil U in ons groei, Here?”

Dit is ‘n versoeking om in die wagtydperk bekommerd te wees: om vooruit te spring na al my onseker môres, in plaas daarvan om te vertrou in die werk wat God vandag in my wil bewerkstellig.

Dit is ‘n versoeking om te dwaal in die wagtydperk: in rebellie of in my eie verwronge weergawe van onafhanklikheid, in plaas van om te rus in die volkome soewereiniteit en voldoendheid van my Verlosser.

Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.

– Psalm 34:19

Maar o, die troos van ‘n barmhartige Verlosser wat ons nooit los nie – en ons nooit los soos Hy ons gevind het nie. In ons gebrokenheid, het Hy begin om ons te wys dat ons behoefte baie dieper was as net fisiese genesing. In ons gebrokenheid – ons groter swakhede nou blootgestel deur hierdie gekraakte beendere – het Hy verlang om nader aan ons te kom en ons liefdevol heel te maak, meer soos Hy as wat ons ooit was.

Op die eerste dag van Tyler se rehabilitasie, het ek geskryf:

“Trane het teen my wange afgerol terwyl ek geluister het na sy rehabilitasie doelwitte. Vandag het ek gehoor hoe ‘n onafhankilike man hardop sê dat hy sy arm hoog genoeg wil kan oplig sodat hy sy hare kan was. Ek het gehoor hoe ‘n getroue man sy begeerte uitspreek om in ons tuin te werk, en dinge in en rondom die huis reg te maak. Ek het ‘n toegewyde pa gehoor droom om te kan swem en saam met sy seuns bofbal te kan speel. Ek het ‘n passievolle dienaar hoor sê dat hy enige iets sal gee om dromme te kan speel saam met die aanbiddingspan. In die laaste paar weke het hy ongelooflike pyn en daaglikse beperkinge verduur, met nouliks ‘n klagte. Inteendeel, ek het nederigheid, moed, dankbaarheid, volharding en ‘n doelgerigte toewyding om nie hierdie beproewing te verspil nie, gesien. Vir ‘n egpaar wat koppig is, selfonderhoudendheid, orde en die strewe na uitnemendheid liefhet, het hierdie pad definitief sy karaktervormende oomblikke. En miskien, net miskien… is dit presies waar God ons wil hê. Jesus, hou aan om ons te verander om meer soos U te wees… vir ons beswil en U glorie. Daar is baie hoop reg hier. En dus verander my trane vinnig na vreugde, want die enigste plek waar ek wil wees, is in die voldoendheid van God se genade en krag…”

Wat daarvan as ons onsself oorgee, in plaas van om vrae te vra?

Wat daarvan as ons vertrou, in plaas van om bekommerd te wees?

Wat daarvan as ons rus, in plaas van om te dwaal?

O, Hy mag ons definitief vra om moeilike dinge te doen in die proses. Doen dit met die krag van Christus in julle. Maar wat as ons net stop en die nabyheid en vermoë van Jesus met ope arms aanneem, in plaas van om net ongeduldig in te spring en te probeer om hierdie ding reg te maak, of dit weg te wens? Ons kan rus, want ons wandel hierdie pad nie alleen nie. Daar is niemand meer gekwalifiseer om na aan ons te kom en ons te red, as die Een wat ons gemaak het, en wie se liggaam vir ons gebreek is nie.

Toe sy reis van gebrokenheid net begin het, was Tyler se gebed:

“Dankie God, dat U my lewe so mildelik geseën het. Vir U geskenk van verlossing en dat U my nooit in die steek laat of my alleen laat nie. Ek is onvolmaak. Dankie dat U my pas vertraag. Dankie dat U perspektief voorsien. U het alreeds begin om iets van die groter doel wat U vir my het in hierdie ervaring, aan my te openbaar. Laat my ore en oë oop wees en my wil nederig bly soos ek op hierdie pad van afhanklikheid aan U wandel.”

Of dit ons gebroke liggame, ons gebroke harte of ons gebroke verhoudings is, gebrokenheid kan slegs in God se ekonomie so pragtig word. Omdat Jesus ‘n weg geskep het, kan ons gebrokenheid ons meer bewus maak van Sy teenwoordigheid en, deur Sy genade, ons een tree nader bring aan waar Hy wil hê ons moet wees.

“Wanneer ons magteloos is om iets te doen, is dit ‘n groot vreugde dat ons kan kom en in die vermoë van Jesus kan instap.” – Corrie ten Boom

Dit is tyd om te rus, jy wat gebroke en vermoeid is. Jy is nie alleen nie…

By Sy voete,

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kom ons praat: Loop jy tans deur diep waters? Laat die waarheid in hierdie lied oor jou vermoeide siel afspoel, en laat weet ons in die kommentaar hoe ons span vandag vir jou kan bid…

When I walk through deep waters, I know that You will be with me

 When I’m standing in the fire, I will not be overcome

 Through the valley of the shadow, I will not fear

 I am not alone, I am not alone

 You will go before me, You will never leave me…