‘n Hart Wat Vertrou Kan Word

‘n Hart Wat Vertrou Kan Word

deur WhitneyD | Sept 7,2016 | LGG Studies | Jy Is Vergewe

week-1-woensdag

s1d3

Dit het daar gehang in alle vrolike glorie. Pastelkleure en sorgvrye reënboë het my agt-jarige, sorgvrye dogter gelok. Die nuwe skooljaar het voorgelê en ek het vir haar ‘n prettige dag belowe – vir net die twee van ons – plus ‘n nuwe uitrusting wat sy op die eerste dag van skool kan dra.

Van ver af het die t-hemp geglinster, en sy kon glad nie haar oë daarvan afneem nie. Wie kon haar werklik blameer? Dit was die vreugdige beskrywing van elke klein dogtertjie wat na haar volgende bestemming huppel, en wat in sirkels draai terwyl sy haar tande borsel, want… hoekom moet jy stilstaan en borsel, wanneer jy in sirkels kan draai? 

 Maar soos ons nader gekom het, het ons die woorde op die voorkant van die t-hemp gesien, en dit het veroorsaak dat ons gaan stilstaan het.

IN HELDER BLINKERTJIES WAS DAAR NET DRIE EENVOUDIGE WOORDE GESKRYF: VOLG JOU HART.

Drie woorde wat – veral wanneer dit gekombineer word met pastelkleure en sorgvrye reënboë, – dikwels verkeerdelik gesien word as ‘n oortuigende, inspirerende leuse vir die lewe, wat gevolg moet word.

Volg jou hart, het dit gesê.

Die wêreld se opdrag om jou hart te volg bo enige iets anders, word oor en oor deur die massas herhaal. Dit kan gevind word in alles, van middeljariges wat advies aanbied terwyl julle koffie drink, in flieks en popmusiek, tot by die motiverende aanhaling wat met blinkertjies op die voorkant van ‘n beïnvloedbare graad twee dogterjie se t-hemp geskryf is. Hierdie kort frase het ‘n onafhanklike generasie, wie se lede verlang om hulle eie rigting in hulle lewens te volg, verlei. Diegene wat vryheid wil vind om niemand anders of iets anders as hulleself te volg nie, gebruik hierdie frase. Dit word dapper aangekondig deur die verlorenes wat regtig hulle instinkte wil vertrou en diep in hulle eie identiteit wil soek na die moed, onderskeidingsvermoë en stabiliteit wat nodig is om al die antwoorde oor die lewe te vind. Met die eerste oogopslag klink dit braaf, dapper en bevrydend.

Maar ek smeek, moet asseblief nie jou eie hart blindelings volg nie. Dit kan eenvoudig nie vertrou word nie.

Die feit is, as ek my hart vandag sou volg, is dít waartoe dit my mag lei…

My hart sal my mislei om myself bo ander te hef… want my hart is selfsugtig op daardie manier.

My hart sal ‘n spesifieke uitkoms beloof… maar dit sal my nie vertel wat dit my gaan kos nie.

My hart sal oombliklike bevrediging najaag… in plaas daarvan om die tyd te neem om ‘n soliede fondasie te vestig.

My hart sal die waarheid verblind… want dit was té vasgevang in die emosie van die oomblik.

My hart sal verlei word om te leef soos die wêreld… want my hart is so swak en versoekings is altyd voor my.

HOE ONS HARTE WERKLIK IS

Hoekom? Want volgens die Woord is ons harte tot in die kern verrot, “bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik;” (Jer.17:9). Uit die hart kom bose gedagtes, moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery (Mat.15:19). En van die begin van tyd het die Here gesien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink (Gen. 6:5).

“Die Bybel het harde dinge te sê oor die toestand van ons harte. Dit kan pynlik wees om te lees en moeilik om te aanvaar, maar omdat dit die woorde van God is, moet ons dit glo, sodat ons kan weet wie ons regtig is en wat ons waarlik nodig het. Hierdie begrip sal in ons ‘n ontsag en dankbaarheid skep dat die God vir wie ons aanstoot gegee het en teen wie ons uitgevaar het, tot sulke groot lengtes gegaan het om ons te red.” – Jen Thorn

‘n HART WAT VERTROU KAN WORD

As ons nie ons eie harte kan volg nie, waarnatoe kan ons draai? Sy naam is die Groot Herder en Sy hart is ‘n hart wat vertrou kan word.

“My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My” (Joh. 10:27).

Volg God se Woord. My kinders het hierdie kernwaarheid geleer in Sondagskool vandat hulle van hulle eerste woorde kon sê, “Die Bybel is God se Woord en God se Woord is waar.” Dit is hoogtyd dat ons ophou om die onstabiele en altyd-veranderende toestand van ons harte te glo. Inteendeel, kom ons word geken as vrouens wat na God se Woord toe hardloop om die antwoorde op al die vrae van die lewe te vind.“Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil” (Spr. 30:5).

Volg God se leiding deur Sy Gees. As jy ‘n kind van God is, dan leef Sy Gees in jou! In plaas van om na die woorde van die wêreld te luister en toe te laat dat dit die begeertes van jou hart lei, begin om in God se Woord te bly, en leer om Sy stem te hoor, soos Sy Gees jou sagkens lei tot begrip. “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Joh. 16:13).

 Volg wyse raad. Die liggaam van Christus bestaan uit leiers wat ‘n sterk fondament in God se Woord het, en wat die gawe het om God se waarheid aan ander te kommunikeer. In plaas daarvan om in isolasie te leef, reik uit na goddelike raadgewers (‘n vroue mentor, ‘n ouer, ‘n predikant of ‘n Bybelse berader), wat nie bang is om jou die waarheid uit die Woord te vertel nie, in plaas van wat jy graag wil hoor. “In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het, luister na raad” (Spr. 12:15).

____________________________

Ons het saam gestaar na daardie drie glinsterende woorde, en nog voordat ek my mond kon oopmaak, het my dogter dít gesê wat ons albei geweet het waar was in ons lewens. “Mamma, my hart vertel soms vir my die verkeerde dinge, so ek moet eerder God se hart volg.”  Met ‘n bevestigende knik van my kop het ek laag gebuig en haar soete glimlag gesoen, en toe het ons hand in hand gekies om weg te loop van die blinkertjies en die glinster af. En soos ons saam geloop en gepraat het, het ek gebid en Jesus gevra om albei ons harte te vorm om meer soos Syne te wees.

Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” – Joh. 8:31-32

Kom ons wandel hierdie week in meer waarheid en vryheid. Jesus, vorm ons harte om meer soos U te wees…

By Sy voete,

Whitney

 

 

 

 

 

 

*Kom Ons Praat: Waar sien jy dat jou hart ‘n ompad neem van God en Sy weë af? Watter waarheid uit God se Woord kan jy voor jou hou hierdie week in daardie situasie?

Advertisements

2 thoughts on “‘n Hart Wat Vertrou Kan Word”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s