Die Geskenk van intimiteit met God in ons Gebrokenheid

Die Geskenk van intimiteit met God in ons Gebrokenheid

deur Angela | Maart 29, 2017

My pa het twintig jaar gelede vir my raad gegee waarna ek dikwels terugverwys. Hy het gesê, “As God ‘n roeping op jou hart lê, sal Hy ‘n weg vind om dit tot voleinding te bring.” Jy hoef nie bekommerd te wees dat die roeping sal verval of sal verdwyn nie. Dit mag dalk nie gebeur op die tyd wat jy gedink het dit sal gebeur nie, of dalk nie lyk soos jy gedink het dit gaan wees nie, maar as jy getrou en geduldig kan bly, sal die saadjies wat God in jou hart plant, groei tot dít wat Hy bestem het.

Hier is my verhaal van gebrokenheid en verlossing: van onvrugbaarheid en verlies, gepaard met om te leer om God se goedheid te vertrou.

Ek weet dit is ‘n cliché, maar van ‘n jong ouderdom af het ek geweet dat ek ‘n mamma wil wees. Dit was deel van wie God my geskape het om te wees – ‘n ouer. Jare later het ek getrou met ‘n wonderlike man, en ek het geweet dat ons saam pragtige kinders sal grootmaak. Maar, dit het nie gebeur soos ek gedink het dit sal nie. Inteendeel, terwyl al ons vriende baba’s gehad het, het ons maand na maand geworstel met negatiewe swangerskaptoetse, en die ontdekking dat ek vrugbaarheidsprobleme gehad het. Na toetse en behandeling en meer toetse en meer behandeling, het dit gevoel of ons drome om ouers te word verder en verder wegkwyn. Die donker leegheid van onvrugbaarheid het ‘n realiteit geword.

Alles het so hopeloos gevoel.

So gebroke.

So ongelooflik hartseer.

Dit het ook ons lewens beheer. Die behandelinge, die toetse, die medikasie, die skedules, die asems ophou om te sien of dit gewerk het — dit was al waaroor ons ooit gedink het. Ek het geweet dat God my geskape het om ‘n mamma te word. Hoekom het dit nie gewerk nie? Hoekom kon ek nie my roeping vervul nie? Ek het uiteindelik swanger geword. Ons was oorstelp van vreugde. Maar, gedurende die 9e week van my swangerskap het dinge vinnig verander toe ons uitgevind het dat ons perfekte klein babatjie – wie se ultraklank net twee weke gelede ‘n sterk hartklop gewys het – opgehou groei het. Terwyl ek na die skerm gestaar het, het die woorde van my dokter in my ore weerklink, “Ek is jammer. Daar is geen hartklop nie. Jou baba is dood.” Ek was buite myself van droefheid, en ek het die verlies van daardie baba so diep betreur dat ek in ‘n depressie verval het.

Onvrugbaarheid en verlies is sosiaal taboe – dit is nie onderwerpe wat meeste mense gemaklik voel om oor te praat in gewone gesprekke nie. Op ‘n sekere stadium, diep in die donkerte, het ek besef dat ek geïsoleerd geraak het – nie net sosiaal nie, maar ek het ook wegbeweeg van God af. Woede en pyn het ontspruit uit my obsessie om ‘n ouer te word. Sonder om dit te besef, het ek my pogings om ‘n kind te hê as die mees belangrikste ding in my lewe verhef, en dit het my verteer. Die emosies wat met die onvrugbaarheid en verlies gepaardgegaan het — droefheid, woede, ongeloof, jaloesie, depressie en isolasie – het onhanteerbaar geword. My dierbare man en familie het alles gedoen wat hulle kon om my te ondersteun. Maar dit was nie genoeg nie. Ek het besef dat ek volkome op die Here moet leun om deur hierdie donker tyd te kom. Ek het my begeerte om swanger te raak oorgegee. My gebed het verander van, “Here, gee my asseblief ‘n baba,” na “God, hou asseblief my hemelse baba in U arms, want ek kan nie.”

Die tyd na my miskraam het een van die rykste geestelike tye in my lewe geword. Ek het geleer om diep op God te steun en Hom te vertrou om vir my te sorg. Ek het begin om my energie te gebruik om te fokus op my verhouding met Hom, in plaas van om swanger te raak. My geloof het gegroei. My huwelik is versterk. My depressie het vervaag. Ek het begin om Sy goedheid oral om my te raak te sien. Dit is so ironies: my onvrugbaarheid het tot so ‘n geestelike vrugbare tyd gelei. Terwyl die persoonlike en geestelike verlossing wat ek ervaar het, op hulle eie ongelooflik was, eindig my verhaal nie daar nie. Ek het later swanger geraak – maar hierdie keer was dit anders – geen toetse, geen behandelings. Ek het geboorte gegee aan ‘n gesonde, perfekte, pragtige klein seuntjie. Toe ek my fokus verander het van my leë, kinderlose hande af, na om in die hande van my Skepper vasgehou te word, het my hele perspektief verander. Ek kon sien dat ek ‘n geskenk gegee is deur my gebrokenheid – God het my deur diep waters gelei, en my geloof laat groei op maniere wat my ‘n beter vrou, ma en persoon gemaak het. En getrou aan wat my pa my jare gelede geleer het, het God my toegelaat om die roeping wat Hy op my hart geplaas het om ‘n ouer te word, te vervul. Selfs al was dit nie volgens my tydsberekening nie en het die reis het nie gelyk soos ek gedink het dit sal nie, het dit gebeur.

God het my gebrokenheid geneem, en dit verlos. En dit was perfek.

“Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd.” – Psalm 73:26

Nederig Syne,

Greer

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s