(Week 1) God Het Jou Persoonlikheid Vir Jou Gegee Vir ‘n Groter Doel

Deur Angela | Junie 19, 2017

Ek was van kleins af al lief vir flieks en vertonings oor tydsreise. Ek hou daarvan om te dink hoe dit sou wees om een van die duisende mense in die skare te wees toe Jesus die 5000 mense gevoed het en om Hom te kon hoor praat. Ek hou daarvan om myself in te dink oor hoe dit gelyk het met al die kleure en teksture van die veld, die reuk van die seewater en gevoel van die bries op my gesig.

Dit is wat ek wil hê ons moet doen hierdie volgende ses weke.

Ek wil hê ons moet terugreis na die tyd toe die twaalf dissipels op die aarde gewandel het. Ek wil hê dat julle hulle moet sien met nuwe oë – hierdie gewone mans met hulle gewone gewoontes en hulle gewone agtergronde; hierdie mans, wat sonder Christus se belegging in hulle, presies net so sou gebly het… gewoon.

Maar Jesus het hierdie dissipels gekies, en daardeur het Hy hulle geneem van gewoon na uitsonderlik.

Hierdie week fokus ons op Petrus, wat ‘n gewone visserman was, wat ‘n uitsonderlike leier geword het.

Ek dink Petrus was ‘n bietjie onafgerond – ‘n man met ‘n groot hart, rou leierskapvermoë en ‘n ton energie. Ek is seker dat hy nogal ‘n handvol was toe hy klein was, dat hy sy ma besig gehou het met vrae, dat hy baie aktief was en ondeundheid in die vonkeling in sy oë gehad het.

Petrus was ‘n man wat dinge in swart en wit gesien het, met bitter min grys. Hy was geheel en al geesdriftig oor sekere sake en kon nie sy opinie terughou nie, ongeag of die ander persoon dit wou hoor of nie.

Terwyl ek ons verse vir vandag gelees het, het ek gewonder of Hy ooit gevoel het dat hy te veel was; te veel vir diegene rondom hom; te veel vir sy eentonige werk van visvang, dag na dag. En ek wonder of hy ooit gewonder het hoekom God hom gemaak het met sy sterk persoonlikheid en met sy passie vir die lewe. Ek wonder of hy ooit, voordat Jesus hom geroep het, gewonder het of daar meer in die lewe is.

Ek vra dit, want ek weet dat ek al somtyds gewonder het hoekom God my gemaak het soos Hy het. Daar is dae wat ek voel asof ek te veel is, maar baie meer dae wanneer ek voel ek is nie genoeg nie.

Soos ons hierdie week dieper na Petrus se lewe kyk, sien ons ‘n man wat impulsief en emosioneel is, iemand wat praat voordat hy dink… ‘n man wat werklik meer verfyning nodig het. Van al die dissipels, berispe en wys Jesus Petrus die meeste tereg, maar Jesus bou hom ook op deur hom “Die Rots” te noem. Jesus spreek in Petrus se toekoms in oor wat Hy weet Petrus in staat is om te word: ‘n ongelooflike leier wat eendag die kerk van die eerste eeu sal lei deur baie moeilike tye.

Petrus is ‘n man wat gegaan het van iemand wat Christus verloën het, tot iemand wat vir Hom gesterf het.

God het vir Petrus die presiese persoonlikheid gegee wat Hy geweet het Petrus sou nodig hê om die roeping op sy lewe te vervul. Petrus het nie oornag ontwikkel in ‘n ongelooflike leier nie. O nee. Petrus het geleer deur foute, teregwysing en woorde van aanmoediging. Petrus het ‘n beter leier geword omdat hy saam met Jesus was. Deur die jare wat hy met Jesus gespandeer het, het hy geleer om sy wil oor te gee en ander te dien, eerder as om gedien te word.

Die verandering het nie oornag plaasgevind nie.

Jesus het alles van Petrus gebruik – sy vorige foute, sy swakhede, sy oordrewe persoonlikheid, en sy ongelooflike geesdrif, om hom te vorm in die man wat ten volle TOEGEWY en verbind daartoe was om Christus se boodskap na alle mense toe te neem… ongeag die koste.

Wat God in Petrus se lewe gedoen het, is Hy gewillig om in jou lewe ook te doen.

Met tye mag jy dink dat jou persoonlikheid té veel is, té sterk, té geesdriftig of selfs té gematig. Jy mag vra hoekom God jou so gemaak het en hoekom Hy jou geplaas het waar Hy het. Maar maak geen fout nie, God het vir jou alles gegee wat jy nodig het om die roeping op jou lewe te vervul, net soos wat Hy vir Petrus gedoen het.

Maar ons moet tyd saam met Hom spandeer in Sy Woord en in gebed. Ons moet gewillig wees om ons wil oor te gee aan Sy wil. Ons moet gewillig wees om soos Jesus te wees en diegene wat Hy om ons geplaas het, te dien. Ons moet leer om laag te buig en mekaar se voete te was.

Ons is almal ‘n onvoltooide werkstuk. Maar loof God dat Hy daagliks ons lewensomstandighede, Sy Woord en gebed gebruik om ons meer en meer te vorm na Sy beeld, en ons toerus vir die roeping wat Hy op ons lewens het.

Onthou die ongelooflike werk wat God in Petrus se lewe gedoen het en neem die werk wat Hy in jou lewe doen met op arms aan.

Kom ons Praat: Waar woon jy en watter werk doen God tans in jou lewe?

Hê God Groots Lief!

 

 

 

 

 

 

 

 

Week 1 Uitdaging: Neem hierdie week die tyd en dank God vir die unieke manier hoe Hy jou gemaak het.

Week 1 Leesplan:

 Week 1 Memoriseervers

 

 

Advertisements

1 thought on “(Week 1) God Het Jou Persoonlikheid Vir Jou Gegee Vir ‘n Groter Doel”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s