Om Die Wêreld Te Verander Een Lewe Op ‘n Slag

Deur Angela | Julie 5, 2017

 

Al wat nodig was, was een man.

Sy naam is nie baie bekend nie. Hy was nie ‘n skrywer, ‘n spreker of iemand wat ‘n groot platform gehad het nie.

Wat hy gehad het, was ‘n klein gehoor by sy kerk waar hy elke Sondagoggend ‘n klas aangebied het vir ‘n groep jong mans.

Sy naam was Edward Kimball.

Edward was ‘n saggeaarde, skugter man wat senuweeagtig geword het wanneer hy vir ander van Jesus vertel het. Wanneer jy dink aan ‘n dinamiese, sterk evangelis, was Edward die teenoorgestelde. Maar ten spyte van wat die wêreld gesê het hy kortkom, het God dít wat hy wel gehad het, gebruik om duisende – miskien selfs miljoene – lewens te verander.

Hy het ‘n begeerte gehad om ander van Jesus te vertel.

Een spesifieke dag, op ‘n besige straat in Boston, het Edward senuweeagtig geloop na die plaaslike skoenwinkel, waar een van die seuns wat sy klas op ‘n Sondagoggend bygewoon het, gewerk het. Hierdie spesifieke seun was kru, ongeletterd en het niks van die Bybel geweet nie. Maar ten spyte van dit het God ‘n begeerte geplaas in Edward se hart om die evangelie met hom te deel. En hy het dit gedoen.

“Ek kon nooit onthou presies wat ek gesê het nie; iets oor Christus en Sy liefde; dit was al.” – Edward Kimball

Maar dit is al wat nodig was: die plan van verlossing, verduidelik in eenvoudige taal.

Daardie dag in die agterste kamer van ‘n skoenwinkel in Boston, Massachusetts, het D. L. Moody sy hart aan Christus gegee en die res is geskiedenis.

D.L. Moody het ‘n ongelooflike evangelis in Amerika en in Engeland geword tydens die tweede helfte van die 19e eeu. Hy het die Moody Bible Institute begin, ‘n ongelooflike bydrae vir ‘n man wat eers ongeletterd was en nie die Bybel kon lees nie. Deur die Moody Bible Institute is duisende sendelinge, predikante en Christelike werkers opgelei en in die wêreld uitgestuur om ‘n impak vir Christus te maak.

En dit alles as gevolg van ‘n man wat ‘n begeerte gehad het om ander van Jesus te vertel.

Edward Kimball was baie soos Andreas.

Net nadat Andreas vir Jesus ontmoet het, het hy gegaan om sy broer, Simon (Petrus) te vind en hom aan Jesus voor te stel. Die begeerte om ander te vertel van Jesus is alreeds in Andreas se hart aangesteek.

“Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Hy het hom na Jesus toe gebring.” – Johannes 1:41-42

Andreas het ‘n eenvoudige uitnodiging uitgereik.

Hoeveel keer kompliseer ons die proses deur onnodige druk by te voeg, wanneer al wat ons werklik hoef te doen is om ander na Jesus toe te bring? In plaas van om staat te maak op die Heilige Gees om in hulle harte te werk wanneer ons hulle vertel van Christus, voel ons foutiewelik dat ons al die regte antwoorde moet hê of oorredende woorde moet gebruik as ons ander van Jesus vertel.

Maar ons sien dit nie in Andreas se lewe nie. Andreas wys vir ons die krag van om ‘n Toegewyde lewe vir Christus te leef en ander langs die pad uit te nooi.

“Petrus het op Pinkster gepreek en drieduisend mense is by die kerk bygevoeg. Daar is geen aanduiding in die Bybel dat Andreas ooit vir ‘n skare gepreek het nie of massas mense aangeroer het nie. Maar onthou dat dit hy was wat Petrus na Christus toe gebring het. In die soewereine voorsiening van God, was Andreas se daad van getrouheid om sy eie broer na Christus toe te bring, die enkele aksie wat gelei het tot die bekering van die man wat daardie wonderlike preek op Pinkster sou preek. Al die vrug van Petrus se bediening is uiteindelik ook die vrug van Andreas se getroue, individuele getuienis. – John MacArthur

Omdat een man sy broer na Jesus toe gebring het, is duisende lewens vir ewig verander.

Moet nooit die krag om uit te reik en ander na Christus toe uit te nooi onderskat nie…

Dit het alles begin met Edward Kimball wat D.L. Moody na Jesus toe gebring het.

Jare later het D.L. Moody vir J. Wilbur Chapman na Jesus toe gelei.

Deur J. Wilbur Chapman, het Billy Sunday Jesus ontmoet en deur Billy Sunday is Mordecai Ham aan Jesus bekendgestel.

In 1936, het ‘n skraal sestienjarige seun met sy vriend by ‘n herlewingsdiens in Charlotte, North Carolina ingestap. Dit was by hierdie diens waar Mordecai Ham gepreek het, wat ‘n jong seun, Billy Graham, sy hart aan Jesus Christus gegee het.

Hierdie ongelooflike evangelie kabbeling het alles begin as gevolg van ‘n dissipel soos “Andreas” … een persoon wat ‘n ander persoon na Jesus toe lei.

En die kabbeling gaan steeds vandag voort.

Bid saam met my vir meer “Andreasse” in ons generasie…

Kom ons Praat: Het jou familie enige verbintenisse met Billy Graham? Het jy ‘n kabbeling soos hierdie in jou familie?

 

Hê God Groots Lief!

 

 

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s