Die Vreugde Van Ons Toekoms

Die Vreugde Van Ons Toekoms

Deur Jen | Miga | Mei 20, 2019

Die eerste 3 hoofstukke van Miga is gevul met harde woorde van teregwysing en oordeel teen verskeie sondes wat die mense van God gepleeg het. Miga het spesifiek hulle sondes van afgodediens en gierigheid aangespreek. Hierdie twee sondes het aanleiding gegee tot ‘n magdom van ander sondige gedrag en probleme.

Terwyl hierdie waarhede is wat ons moet hoor (soos die Israeliete in daardie tyd), is Miga se tweede preek meer hoopvol. Sy boodskap in hoofstukke 3-5 is dat daar ‘n Redder is wat gaan kom en Hy gaan vrede en regverdigheid bring. Wie smag nie daarna nie?

Ons verse vir vandag fokus op ‘n toekomstige hoop. In Miga se tyd was die mense van God swak, vol pyn, eiesinnig en verspreid. Maar die profeet belowe dat daar ‘n tyd sal kom wanneer God sy skape byeen sal bring en hulle sterk maak.

Dit is ook waar van Christene vandag. Ons is swak, gewond, verspreid, en met tye, opstandig. Maar hierdie toekomstige hoop is vir al God se mense. God sal al sy skape bymekaarmaak en hulle genees. Hy sal jou heelmaak, Hy sal jou pyn wegneem, jou trane afdroog en saam met jou in die paradys wandel.

Dit is slegs moontlik as gevolg van Jesus. Hy is die Verlosser wat ons uit die slawerny van sonde vrygekoop het. Hy is die Verlosser wat ons red van die regmatige oordeel van God. Hy is die Hersteller wat daagliks werk om die beeld van God in ons te herstel en Hy sal dit eendag tot voltooïng bring. Hy is ons Geneser wat al ons gebroke dele sal neem en dit sal herstel sodat ons nie net heel nie, maar ook perfek sal wees. Hy is ons Voorsiener wat ons alles sal gee wat ons nodig het om sonde te oorkom en in regverdigheid te groei.

Dit is as gevolg van Jesus dat jy vreugdevol, dankbaar en tevrede in hierdie lewe kan wees, wetende dat jy ‘n beter lewe het wat vir jou wag

Hy is ons alles!

Ongelukkig kan die lokstem van die wêreld, die bedrieglikheid van sonde, en die lyding in ons lewens veroorsaak dat ons vergeet, of selfs twyfel, dat God alles nuut sal maak. Ons oë is té dikwels gefokus op die tydelike, in plaas van op die ewige.

Wat kan jy doen om die lewe ten volle te leef en tog gegrondves te wees in die toekomstige hoop wat jy het as gevolg van Jesus?

Bly vas in God se Woord. Dit is jou anker in alle lewensomstandighede. Dit korrigeer jou foutiewe menings, dit kalmeer jou hart en troos jou siel. Die Skrif is ‘n konstante herinnering aan God se omvangryke liefde vir jou en die omvang waartoe Christus gegaan het om jou te red.

Uitdaging: Dink hierdie week aan al die dinge wat jou daarvan weerhou om vreugde te hê in die toekomstige hoop wat aan jou belowe is. Wat kan jy doen om die vlam van vreugde en dankbaarheid aan te vuur?

Kyk na Jesus

 

Week 3 – Leesplan

Week 3 – Memoriseervers

 

 

 

Advertisements