Alle Sonde Het Nagevolge

Alle Sonde Het Nagevolge

Deur Jen | Junie 28, 2019 | Josua – Wandel In Oorwinning

Daar is gevolge vir alle keuses wat ons in die lewe maak, of dit groot of klein is. Een klein ondeurdagte besluit kan in ‘n oogwink ‘n hele familie verwoes of iemand se lewe red. Die keuse wat ons maak, mag dalk klein wees, maar dit kan baie groot gevolge hê. Dit is dieselfde met sonde. Ons sonde, groot en klein, het nagevolge wat kan sloer, somtyds vir ‘n leeftyd en selfs tot in ewigheid.

Sonde het nagevolge

Ons mense is geneig om twee kategorieë vir sonde te maak. Klein sondes en groot sondes. Die “nie-so-ernstige” sondes wat ons nie in verleentheid stel nie tot die hoogs-sensitiewe sondes waarvan ons hoop niemand ooit van uitvind nie.

Ons dink aan die klein sondes as minder ernstig. Die halwe waarheid, die lelike gedagte, die snedige opmerking. Miskien ook padwoede, frustrasie met ‘n kind of ons stille oordeel van andere voel vir ons na klein sondes omdat dit ons nie pla nie en ons nie dink aan hoe dit ons of ander affekteer nie. Maar hierdie “klein” misstappies is net so boos as die groot sondes. Hulle is net meer subtiel.

Die mense van Israel het nie gedink dit was so ‘n groot misstap om van die oorblyfsels van die oorlog vir hulself te hou nie. Watter skade kon dit nou doen? Maar om ongehoorsaam aan God te wees, is altyd ‘n groot sonde.

Alle sonde sal jou seermaak. Alle sonde sal vreet aan jou liefde vir God en jou liefde vir ander. Elke sonde sal veroorsaak dat jou vreugde agteruitwyk en jou gemoedsvrede versteur word.

Maar selfs al voel ons nie daardie effekte nie, die feit is dat alle sonde (groot en klein) in hoofsaak rebellie teen God is en ‘n geveg met Hom oor wie werklik Heer is in jou lewe.

God roep ons om ‘n heilige lewe te leef, om Hom te volg en ons te verheug in sy Woord, alles tot Sy eer. Daarom is sonde ‘n aanval op heiligheid, volmaaktheid en God Homself. Omdat God heilig is, kan Hy nie net sonde ignoreer nie. Dit sou nie regverdig wees nie Sonde moet gestraf word (Rom. 6:23) Dit laat ons met twee keuses. Of ons moet betaal vir ons sondes of iemand anders moet betaal in ons plek.

Sonde het ‘n oorwinnaar

Terwyl daar gevolge is vir alle sonde en God dit moet straf op een of ander manier om regverdig te bly soos dit Sy aard is, het God ‘n plan voorsien hieruit. Jesus Christus, die seun van God, het sonde en dood kom oorwin. Deur Sy dood aan die kruis, het Hy gewillig die straf op Hom geneem wat ons verdien het vir ons sondes. Deur Sy opstanding, het Hy die dood oorwin en die ewige lewe verkry vir almal wat glo.

As ons opkyk na Jesus, sal ons nie net die straf vryspring wat ons verdien vir ons rebellie nie, maar Hy sal ook daardie sondes en hulle gevolge neem en dit gebruik op ‘n manier wat vir ons goed is.

Asof dit nie genoeg is nie, deur ons geloof in Jesus, word ons ook versterk om versoekinge te weerstaan en weg te draai van die sonde af.

God het letterlik alles voorsien wat ons nodig het om gered te word en om heilig te lewe. Ons moet Hom net vertrou, veg teen die sonde en vol vertroue te wees dat ons, mettertyd, oorwinning sal smaak.

Kyk na Jesus,

 

 

 

 

 

 

 

 

Veg Vanuit Oorwinning, Nie Vir Oorwinning Nie

Veg Vanuit Oorwinning, Nie Vir Oorwinning Nie

Deur Angela | Junie 26, 2019 | Josua – Wandel In Oorwinning

Nog voor die stryd begin het, het God vir Josua gesê dat HY Jerigo aan Josua gaan oorlewer.

Ek weet ons hou nie daarvan om oor stryd en oorloë te praat nie. Die idee dat almal in vrede saamleef, klink ideaal. In die stad en op die snelweë sien mens baie keer ‘n plakker of twee op die karre se buffers wat sê: “lewe saam,” wat uitgespel is met simbole van verskeie gelowe en kultes.

Maar dit gaan nooit gebeur nie.

Totdat Jesus terugkeer en Sy oordeel oor die aarde bring, sal daar altyd oorloë en gevegte wees. So dit maak nie saak hoe baie ons wens ons in vrede saam kan leef nie, die waarheid is dat ons lewens, aan dié kant van die hemel, altyd met konflik besaai sal wees.

Vir baie van ons, is daar alreeds ‘n onsigbare oorlog wat teen ons woed. Die bose magte wat teen ons veg en ons probeer keer om nie ons identiteit in Christus te vind nie.

Ons word in Efesiërs 6:12 herinner:

“Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke gees in die lug.”

Al is dit waar, moet ons nie mismoedig word of verslaan voel nie. Jesus het klaar die grootste stryd aan die kruis beveg en GEWEN! As gevolg van Christus, veg ons hierdie oorloë vanuit ‘n plek van oorwinning en nie vanuit ‘n nederlaag nie.

As meer Christene in ons land en oor die wêreld net hierdie waarheid hul eie wil maak.

In verse 2-6 van Josua 6 sien ons ‘n paar gedetailleerde opdragte wat God vir Josua gee.

Die eerste ding wat ek raaksien is dat God se manier van oorlog voer nie soos ons s’n is nie. God sê basies vir Josua om Jerigo aan te val met ‘n paar manne wat marsjeer, priesters wat trompette dra, die Ark van die Here, en uiteindelik op die laaste dag, al die mense wat skreeu.

En weet jy wat? Josua was gehoorsaam, ongeag van hoe vreemd God se militêre taktiek vir hom geklink het.

Hoekom? Want hy vertrou God. Hy weet God sal doen wat Hy gesê het.

God kom altyd Sy beloftes na.

Deur daardie vreemde militêre taktiek, word God se wonderlike krag vertoon aan ‘n bose nasie…en aan Sy eie kinders.

As Josua vir Jerigo aangeval het deur van konvensionele militêre wysheid gebruik te maak en dit was ‘n sukses, sou God se hand nie so duidelik sigbaar gewees het in die oorwinning nie, en sou Hy nie op dieselfde manier verheerlik word nie.

Die onkonvensionele militêre taktiek was nie net bedoel vir die bose nasie nie, maar ook vir God se eie kinders.

God doen vandag nog dieselfde vir ons deur sy Woord.

Wat sal ons dan sê van hierdie dinge? As God vir ons is, wie kan dan teen ons wees? Romeine 8:31

Vriendin, God is vir jou.

Dalk is jou stad van “Jerigo” in jou lewe om vir jou en die ongelowige wêreld om jou, te wys hoe almagtig God is.

Wees ‘n “Josua” en gehoorsaam God se Woord. Doen wat Hy sê en kyk hoe God die mure van “Jerigo” voor jou oë laat omval. Daar is geen situasie, geen pyn, geen sonde té groot vir God om te hanteer nie. Daar is geen probleem te groot vir Sy almagtige hande nie.

“Die muur van die stad sal dan inmekaar stort” (Josua 6:5) was God se belofte, en sy beloftes misluk nooit (21:45; 23:14). God se mense veg nie net vir oorwinning nie, maar vanuit oorwinnig, want die Here het klaar die stryd gewen. Reken op sy beloftes en wees gehoorsaam aan wat Hy vir jou sê om te doen en jy sal die oorwinning behaal.” – Warren Wiersbe

Hê God Groots Lief!

God Se Magtige Hand In Elke Seisoen

God Se Magtige Hand In Elke Seisoen

Deur Whitney | Junie 24, 2019 | Josua – Wandel In Oorwinning

Hoe ouer ek word, hoe meer kan ek terugkyk en God se hand in elke seisoen sien.

Party seisoene is stadig en eentonig.

Ek onthou die beginjare van moederskap. “Die dae is lank, maar die jare kort,” het hulle gesê. Daardie jare was beslis vol eenvoudige vreugdes.  Maar, genade, party dae was ook lank en sieldodend.

Daardie dae het baie soos woestynlewe gevoel.

Daar was slapelose nagte en hospitaalverblywe en grondboontjiebotter-en-strooptoebroodjies en lewenslustige kinders en dissipline waarmee ons net mooi nêrens gekom het nie. Daar was dae toe ek verlore, rebels en vergete gevoel het en gesmag het na iets meer as net dieselfde gewone ou dinge. Daar was tye toe ek God se goedheid bevraagteken het; tye dat my siel verdroog in ‘n dor land gevoel het. Ek kon dit nie toe sien nie, maar God was in elke detail aan die werk. Hy was besig om te voorsien, nederig te maak, te heilig, te vergewe en op die noodsaaklikste en pragtigste maniere ons harte nader aan syne te trek. Wanneer ek myself toelaat om te ver van daardie tye verwyder te raak, dan vergeet ek van die duisende maniere wat God in daardie tyd vir ons gesin voorsien het.

__________

Die Israeliete het stadige, eentonige jare gehad.

40 daarvan, om presies te wees.

Dit was jare van woestynlewe, manna eet, agter ‘n wolk- en vuurkolom aanloop, oorloë voer, jare van opstandigheid. Daar was dae wat hulle verlore, rebels en vergete gevoel het, smagtend na iets meer as die gewone. O, hoe het hulle nie God se goedheid bevraagteken nie – oor en oor – in so ‘n mate dat hulle gesê het dit sou vir hulle beter gewees het om die Egiptenare se slawe te wees as om in die woestyn om te kom (Eksodus 14:12). Hulle kon dit nie toe altyd sien nie, maar God was besig om in elke detail te werk. Hy was besig om te voorsien, nederig te maak, te heilig, te vergewe en op die noodsaaklikste en pragtigste maniere hulle harte nader aan syne te trek.

__________

Ander seisoene verloop weer vinniger en is vol verwondering.

Ons gesin is pas deur so ‘n seisoen – ‘n warrelwind van dertig dae en die onwaarskynlikste gebeure – en ek is nog steeds verwonderd oor die wonderwerkende krag van ons God.

In ‘n versadigde mark is ‘n werk bekom. Toe die kinders gevra is om die enigste Indiana-huis wat hulle ooit geken het, te verlaat, was al vier wonder bo wonder daarvoor te vinde. ‘n Koper en verkoper – twee gesinne met ‘n liefde vir Jesus – het saam rondom ons kombuistafel gebid, en ons huis was verkoop nog voordat dit gelys was. Vervoerondernemings het onverwagte bedieningkortings toegestaan. Te midde van ‘n historiese regeringsineenstorting het gelowige eiendomsagente ongelooflike welslae behaal. Ons is ‘n pragtige tussentydse huis gratis aangebied. Toe twee van ons voertuie onklaar raak, het familie en vriende voertuie aan ons geleen. Nuwe skole het ons tegemoet gekom en uitsonderings gemaak sodat ons kinders heeltemal op datum kon kom. Huiseienaars wat byna twee jaar lank goeie aanbiedinge van die hand gewys het, het ons nuwe Texas-woning binne ‘n dag aan ons verkoop, ver onder hulle oorspronklike verkoopsprys.

Wat in die wêreld se oë padblokkades was, was opritte in God se ekonomie.

Soortgelyk aan die Moses-redding, die loslating van plae, die splyting van die Rooi See, manna wat val, water wat uit die rots vloei, oorwinning oor die vyand, deurgang deur die Jordaan, die glansryke teenwoordigheid van God tydens die Israeliete se reis na die Beloofde Land. God het voorsien, nederig gemaak, geheilig, vergewe en op die kragtigste en wonderbaarlikste maniere harte na syne aangetrek.

__________

Josua het twaalf klippe opgerig om te onthou. Net so moet ons ook doelgerig stappe doen om te onthou.

Daarom skryf ek.

Ek vertel stories vir my kinders – soms dubbeld gevou van die lag, en ander kere met ontsag en trane van eerbied.

Ons nooi drie tieners en ‘n dogtertjie om saam te bondel op ons te klein woonkamermeubels, om mekaar te herinner dat dieselfde God wat in die verlede getrou was, saam met ons die onbekende van môre tegemoetgaan. Daardie slapelose nagte, hospitaalverblywe, grondboontjiebotter-en-stroop-toebroodjies, lewenslustige kinders en herhaalde dissiplines gee vir ons rede om te praat oor God se rus, vrede, genade en krag in ons swakheid. En die wonderbaarlike oomblikke van ongelooflike oorwinning laat ons in aanbidding neerkniel voor ons magtige en oorwinnende God wie se planne en doelwitte in elke seisoen seëvier, ongeag wat oor ons pad kom.

“Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien.” – Josua 4:24

Kan die mense om jou God se krag in jou lewe sien werk?

Hulle neem ons gesindhede waar terwyl ons op God wag om vir ons sy tyd en rigting aan te dui.

Hulle luister na ons stemtoon wanneer dinge warm raak en die lewe druk.

Hulle wag vir ons om te reageer – in vreugde én beproewings – en sal aan ons woorde en aksies weet aan wie ons getrou is.

Sal hulle my sterk geloof en onwrikbare vertroue in my groot God onthou? Of sal hulle ‘n brommende, wankelende vrou onthou wat in vrees vir die onbekende geleef het?

Wanneer hulle terugkyk, kan hulle sien dat God in elke detail aan die werk was.

Aan sy voete,

*Kom ons praat oor: Vertel van ‘n tyd toe God kragtig in jou lewe gewerk het.

Week 2 Uitdaging: Begin hierdie week met ‘n joernaal om al die maniere waarop God deur die jare aan jou en jou gesin getrou was, aan te teken.

 Week 2 Leesplan

Week 2 Memoriseervers

Leer Om Te Onthou

Leer Om Te Onthou

Deur Jen | Junie 21, 2019 | Josua – Wandel In Oorwinning

Die ervaringe wat ons met ons geliefdes het, is vir ons belangrik en daarom koester ons die herinneringe. Ons neem foto’s, hou dagboeke, en maak video’s omdat ons nie die mense of ervaringe wil vergeet nie.

Jare gelede het ek en my man ‘n gebedsjoernaal begin. Ons het allerhande gebedsversoeke daarin geskryf en wanneer die gebed beantwoord is, het ons die datum en die antwoord neergeskryf. Hierdie joernaal het dit vir ons moontlik gemaak om terug te kyk op alles wat die Here gedoen het, selfs al was die antwoorde nie waarvoor ons gehoop het nie.

Die verhaal van Israel is een van God se magtige werke. Hy het op wonderbaarlike maniere Sy mense beskerm en vir hulle voorsien. God het geweet dat Sy mense se geheues kort was. Hy wou hê dat hulle iets tasbaars moes hê (die twaalf klippe), wat hulle sou help om Sy getrouheid, krag en sorg te onthou. En dit sou nie net iets wees vir die mense wat daar was nie. God wou hê hulle moes hul geheues skerp hou, sodat hulle aan hul kinders en kleinkinders kon getuig van God se wonderlike werke om hulle onthalwe.

Ons sukkel almal om te onthou wat God vir ons gedoen het, en geestelike geheueverlies wys dikwels in die vorm van klagtes. Om te kla openbaar ‘n hart wat vergeet het waarvan God jou gered het en waarheen Hy jou neem.

Ons moet weer onthou.

Onthou waar jy vandaan kom.

Wanneer ons kla, sê ons eintlik dat ons nie tevrede is met dit wat God vir ons lewe of ons dag inhou nie. Ons sê dat ons beter verdien, wat dan beteken dat ons vergeet het wat ons eintlik verdien. Ons sonde verdien niks behalwe oordeel nie, maar God het in daardie put van ons vuilheid ingereik en ons uitgetrek. Jesus het ons nie net gered uit die mag van die sonde nie, maar ook van die toorn van God. Maar God stop nie daar nie. Dag in en dag uit werk die Here in jou lewe. Hy is genesend, versag harte en orkestreer alles tot jou beswil. Ongelukkig is ons te onbewus daarvan en vergeetagtig.

Ons moet ‘n poging aanwend om op te let wat God alles vir ons doen en hoe Hy vir ons voorsien. Een manier om dit te doen is om ‘n joernaal te hou. Skryf neer wat jy voorheen was en wat jy nou is. Skryf neer hoe  jy gegroei het deur moeilike tye, skryf antwoorde op gebede neer, selfs al is die antwoorde nie waarvoor jy gehoop het nie. Skryf neer hoe jy dit deur moeilike tye gemaak het. Soos die jare verbygaan, sal daar iets wees om na terug te kyk wat jou sal help om die getrouheid van jou God te onthou en dit sal ‘n getuienis wees wat jy met jou kinders kan deel.

Onthou waarheen jy gaan.

Of jou lewe maklik en kalm of moeilik en chaoties is, onthou waarheen God jou neem. Jy is op pad na ‘n ewige koninkryk. Alhoewel hierdie pad soms moeilik is om te volg en vol harde ervarings en keuses is, kan jy vol vertroue wees dat al die swaarkry en hartseer uiteindelik weggeneem sal word. Jy sal ‘n ewige lewe kry wat gevul is met ware geluk, ongekende vrede en tevredenheid, vreugde wat jy jou nie kan indink nie, en ‘n volmaakte verhouding met almal rondom jou, veral met jou Verlosser.

Dit is waarom Paulus na sy swaarkry verwys as “ligte tydelike ellende.” Hoe kan hy dit sê? Omdat hy ‘n groter perspektief op die lewe het as net die hier en nou. Hy onthou daagliks waar God hom, en alle gelowiges heen neem. Ons moet ook probeer om te onthou dat “die dinge wat gesien word, verby is, maar die dinge wat onsigbaar is, vir ewig is.” (2 Korintiërs 4: 17-18)

Om ‘n joernaal te hou kan ‘n groot hulp wees om te onthou waarheen God jou neem. Wat wag vir jou in die ewigheid? Hoe maak hierdie kennis die lewe helderder en jou verdrukkinge ‘n bietjie ligter?

Vind maniere om te onthou hoeveel God jou liefhet en die maniere waarop Hy daardie liefde vir jou bewys. Dit sal ‘n groot aanmoediging wees in jou geloof.

Kyk na Jesus,

 

Leef Soos ‘n Oorwinnaar

Leef Soos ‘n Oorwinnaar

Deur Whitney | Junie 19, 2019 | Josua – Wandel In Oorwinning

Ek was 23 jaar oud in die Lente van 1997. Ek het ‘n groot haredos gehad … en ‘n kuif. ‘n Welige kuif. En groot drome. Ek het baie drome ook gehad. Om te gradueer van kollege het op die horison gewink en daar was selfs trouplanne. As daar ooit ‘n tyd was wat ek deur ‘n rooskleurige bril gekyk het, was dit toe. Daar was wel afleidings, ompaaie en vertragings op my pad, dis verseker, maar so baie van my “in watter rigting nou” uitdagings en “wat volgende” vrae is uiteindelik beantwoord. My dae was gevul met positiwiteit en opwinding terwyl ek my voorberei het om die volgende seisoen van my lewe aan te pak.

Dit het gevoel asof ek “gearriveer” het in my eie klein Beloofde Land, as jy weet wat ek bedoel.

Maar as ek kon voorspel wat hierdie landskap vir my sou inhou, sou ek meer reuse raakgesien het wat vir my gelê en wag het.

Dit is maar hoe die lewe is, nie waar nie?

Soveel as wat ons uitsien na ons “aankoms” in hierdie wêreld, dit gebeur nooit. Daar is konstante ebbe en vloede, oppe en affe, die oorgang van seisoene… en daar sal altyd die een of ander stryd wees om te veg – innerlik of uiterlik – totdat ons Jesus van aangesig tot aangesig sal sien. Soos die Israeliete gee ons gereeld oor aan sondige afleidings en ompaaie; ons emosies reageer op uiterstes en ons word so verskans in en oorweldig deur die reuse wat ons omring dat ons vergeet om alles op te eis wat God reeds in Jesus Christus vir ons hier en nou gegee het.

Maar volgens Josua, Hoofstuk 2, het die Israelitiese spioene die oorwinnings-posisie ingeneem:

Hulle het vir Josua gesê: “Die Here gee die hele land oor in ons mag. Al die inwoners van die land bewe van vrees vir ons.” – Josua 2:24

Hulle het op die rand gestaan met die wete dat hulle gereed was om die stryd van hulle lewens te betree. Maar hulle het ‘n keuse gemaak. Hulle het OORWINNING in die Here geëis nog VOORDAT die stryd begin het.

Is jy gereed vir hierdie verandering in spel?

As ‘n kind van die lewende God – die gekose en aangenome dogter van die Een wat al die gesag het in die Hemel en op die Aarde – jy kan op hierdie oomblik besluit dat jy ‘okay’ gaan wees.

Wat as ons nie nodig het om net te oorleef van beproewing tot beproewing of van emosie tot emosie nie.

Wat as ons pro-aktief is eerder as reaktief?

Selfversekerd eerder as verslaan.

Vreugdevol eerder as brommend.

Voorbereid eerder as verskrik.

Verwagtend eerder as bitter.

Hoe anders kan ons lewens lyk as ons eerder begin om onsself te leer om te onthou, te herhaal en konstant die waarheid van WIE GOD IS in elke situasie toe te pas, sodat ons altyd funksioneer vanuit ‘n posisie van OORWINNING in plaas van verloor.

“Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld waaksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.” – 2 Petrus 1:3-4

Dit was die teks wat ek en my man gekies het tydens ons voorhuwelikse berading reeds in 1997, en min het ek geweet hoeveel keer in die daaropvolgende twee-en-twintig jaar sou dit vir ons nodig wees om daardie woorde aan ons gevegs-voos harte te preek:

Sy goddelike krag het vir ons alles gegee wat ons nodig het…

Alles vir die lewe, ja… maar ook alles wat ons nodig het om uit die spervuur te kom en meer soos Hy te lyk.

Deur ons kennis van Hom.

Hy is ‘n baie goeie Vader. Ons moet deel word van die Woord en onthou wie Hy is en wat Hy reeds vir ons gedoen het.

Hy het vir ons Sy baie groot en kosbare beloftes gegee.

Kom ons begin deur met daadwerklikheid sy beloftes uit te roep en daarop vas te staan (indien jy ‘n paar herinneringe nodig het, is hierdie studie ‘n goeie plek om te begin.)

Wat as ons vandag begin leef soos meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons lief het… want dit is wie ons is (Romeine 8:37)?

Daarom vriendinne, kom ons doen dit.

Kenne op.

Wapenrusting aan.

Voete voorwaarts.

Oorwinningskrete gereed.

Kom ons leef vandag soos oorwinnaars, met die krag van God agter ons.

By Sy voete,

Kom ons gesels: Wat is een waarheid uit God se Woord wat jy vandag in jou stryd kan toepas? Kom ons bemoedig mekaar in die kommentaar.

 

Die Geheim Tot Sukses

Die Geheim Tot Sukses

Deur Angela | Junie 17, 2019 | Josua – Wandel In Oorwinning

Met Moses se afsterwe het Josua ‘n groot paar skoene gehad om vol te staan. Die groot verantwoordelikheid om die Israeliete die Beloofde Land in te lei, was genoeg om enigiemand snags wakker te hou. Hoewel die nasie volgens die meeste standaarde as klein beskou is, het Josua hom nou in ‘n situasie bevind waar hy TWEE miljoen mense in ‘n onbekende gebied moes inlei.

Ons kan baie leer uit hierdie opwindende ware verhaal wat in die boek Josua gevind word.

Hoewel ons nie twee miljoen mense hoef te lei nie, bevind baie van ons onsself in ‘n situasie waar ons geroep is om die voortou te neem in gebiede waar ons sterk en moedig behoort te wees, terwyl ons alles behalwe moedig voel.

  • Dalk is jy vir die eerste keer ‘n mamma, en jy voel nie goed toegerus om die baba in jou arms te versorg nie.
  • Dalk is jy die verantwoordelikheid opgelê om ‘n span by jou nuwe werk te lei, en jy weet nie waar om te begin nie.
  • Dalk is jy ‘n enkel ouer wat nou jou gesin die onbekende toekoms in moet lei.
  • Dalk het jy bitter slegte nuus gekry, en jy weet nie eers hoe om vorentoe te beweeg nie.

Ek vind dit interessant dat die heel eerste ding wat God vir Josua sê, nadat hy aangekondig het dat Moses dood is, is om “te begin beweeg.”

“Na die dood van Moses, die dienaar van die Here, het die Here vir Josua, seun van Nun en assistent van Moses, gesê: “Moses my dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en hierdie hele volk. Gaan na die land toe wat Ek aan hulle, die Israeliete, gee.” – Josua 1:1-2

God kom tot die punt. “Moses is dood; Ek het jou nou in beheer gestel … kry jou mense aan die beweeg.”

Net soos Josua het God ‘n missie en ‘n doel vir elkeen van ons, en Hy is ook gereed om ons in beweging te bring!

So baie van ons, myself ingesluit, spandeer te veel tyd in die woestyn van ongeloof en vrees. Ons neem God nie op sy Woord nie en ons glo nie die belofte dat Hy altyd met ons is nie.

Ons staan gevries in wildernisse van skaamte, spyt en onvergewensgesindheid, en maak nie saak hoe hard ons probeer nie, ons kan nie vorentoe beweeg nie.

Wat ek van vandag se skrifgedeeltes hou, is God se voortdurende herinnering dat:

  1. Hy altyd by ons is.
  2. Ons kan kies om dapper en moedig te wees

Ek weet dis moeilik om die bekende agter te laat – selfs al is dit sleg vir ons – vir die nuwe onbekende land. Ek verstaan regtig. Ek was ook al daar.

Maar ons moet.

Ons moet die ou dinge agterlaat en die nuwe gebiede, nuwe geleenthede … en die nuwe land waarheen God ons roep om na te reis, omhels.

Ons moet geloof bo vrees kies – gehoorsaamheid bo selfvoldoening.

Die nuwe gebiede, nuwe lande, nuwe horisonne waarheen God elkeen van ons roep beteken dat ons sy weë moet kies oor ons eie. Sy aanwysings oor ons eie. Dit sal moed verg om God te vertrou, en dit sal van ons vereis om dapper te wees wanneer ons wil wegkruip.

En in daardie oomblikke, wanneer ons harte swak voel, en die vrees begin styg in ons … dis wanneer ons God se belofte moet onthou … Hy is altyd by ons.

ALTYD.

Waar ookal God ons heen roep om te gaan, moet nooit vergeet dat Hy jou ook sal lei nie … as jy Hom toelaat.

So, wat het Josua gedoen om God se leiding te volg? Wat was sy geheim tot sukses terwyl hy moedig sy twee miljoen plus mense in die Beloofde Land ingelei het?

Ons vind die geheim in vers 8 van Josua 1.

“Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.” Josua 1:8

Die geheim is om God se Woord te ken en dit te doen! Om in sy Woord te wandel, en toe te laat dat dit ons gedagtes vul en dan doen wat die Bybel sê, is Josua se geheim tot sukses!

  • Om te kies om dapper te wees ten spyte van wat ons met ons oë sien.
  • Om te kies om moedig te wees, selfs wanneer ons onsself in die minderheid bevind.
  • Om te kies om lief te hê soos Hy liefhet.
  • Om te kies om te dien soos Hy gedien het.
  • Om te kies om belangrik te ag wat Hy belangrik ag.
  • En om God se Woord toe te laat om alle areas van ons lewens te beïnvloed. Laat toe dat sy Woord jou gids wees.

Dit is hoe werklike sukses lyk in God se oë.

Nou is die tyd vir ons om op te staan. Ons moet die kerk wees wat God ons roep om te wees. Ons moet sterk wees, ons moet moedig wees, en ons moet bereid wees om in die duisternis in te gaan. Ons is immers ligte wat helder moet skyn vir ons Here. Ons is nie bedoel om onder ‘n emmer weggesteek te word nie, maar op “heuwels” in ons woonbuurte, skole, werkplekke, regering en ja, selfs kerke.

Ons moet ligdraers wees in ‘n wêreld wat in desperate nood is – hulle het nodig om Jesus in ons te sien.

Ons moet vroue wees wat God se Woord na die eindes van die aarde en ook in ons straat af sal neem.

Soos Josua, wanneer ons moedig lewe en dapper God se Woord uitleef in ons lewens en dit toelaat om alle aspekte van ons lewens te beïnvloed, dis wanneer ons werklike sukses sal beleef, nie wêreldse sukses nie.

Nou is die tyd, liewe vriendin, om vorentoe te beweeg in die nuwe gebied in wat God vir ons voorberei het. Mag ons God se Woord naby ons harte hou en dit dag en nag oordink, nie aan die druk van ons samelewings toegee nie, maar dapper en moedig alles doen wat daarin geskryf staan.

Een tree op ‘n keer met God wat die weg lei … kom ons begin!

Hê God Groots Lief!

 

Uitdaging: Hoe kan jy dapper en moedig wees, ‘n ligdraer in jou wêreld? Watter stappe moet jy vandag neem?

Week 1 – Leesplan

WwEww

Week 1 – Memoriseervers

Wandel In Oorwinning – Inleiding

 

Wandel In Oorwinning – Inleiding

Deur Angela

Sommige van ons leef in vrees vir die toekoms. Ons is vasgevang in “wat as” denke, eerder as om te fokus op die dinge wat God reeds vir ons gegee het. Ons het ‘n erfenis in Christus wat niemand van ons kan wegneem nie. Ons het ‘n belofte van ‘n oorvloedige lewe, maar ons leef steeds van krummels. Hoekom? Omdat ons nie besef dat ons hierdie stryd, genaamd ‘die lewe’ vanuit ‘n posisie van oorwinning veg nie.

Die boek Josua leer ons om die beloftes wat God ons gegee het, te onthou en om God te vertrou in alles wat Hy aan ons toevertrou het. Josua wys ons hoe om in oorwinning te wandel.

Wanneer Moses sterf kort voor die Israeliete die Jordaan oorsteek, word Josua die taak opgelê om die volk die Beloofde Land in te lei. Hy het nie tyd gehad om te oorweeg of hy die werk wil hê en of hy opgewasse was vir die taak nie. Hy het ‘n opdrag van God ontvang en dit gehoorsaam.

God het Josua gestuur met die belofte dat Hy die land Kanaän reeds aan Israel gegee het (Josua 1:2). En Josua het die Jordaan oorgesteek terwyl hy aanspraak gemaak het op daardie belofte, met die wete dat God elke tree van die weg met hom sou wees en dat Hy hom nie sou versaak nie.

Die belofte van die land Kanaän het sy oorsprong in God se belofte aan Abraham (Genesis 12:1-3). God het Abraham uit die nasies geroep en aan hom verskeie beloftes gegee, insluitende ‘n land, ‘n volk en God se seën aan die res van die nasies deur hom. Die verhaal van Josua vertel van elkeen van hierdie beloftes, maar die fokus en klem is duidelik op God se belofte van land.

“Die Here het aan Israel die hele land gegee wat Hy met ‘n eed aan hulle voorvaders beloof het. Hulle het dit in besit geneem en daar gaan woon.” (Josua 21:43)

Na veertig jaar se omswerwinge in die woestyn het Israel aanspraak gemaak op hul erfenis en die seëninge van die land wat God vir hulle voorberei het, geniet.

Die land was reeds hulle s’n, maar daar was steeds ‘n paar dinge wat Josua nog moes doen:

Josua moes dapper en moedig wees.

Josua moes versigtig wees om God se Woord te leef.

Josua moes dag en nag op God se Woord mediteer.

Josua moes God se beloftes vertrou.

Om in oorwinning te wandel, is geskoei op God se beloftes, maar dis nie ‘n passiewe handeling nie. Dit vereis ‘n spesifieke optrede van ons om daardie beloftes met ope arms aan te neem en elke dag daarin te leef. Israel het die land besit weens God se genadige verbond met Abraham (Genesis 12:1-5), maar hulle genot daarvan was afhanklik van hulle getroue gehoorsaamheid aan God.

Dieselfde God wat met Josua en die Israeliete was, is vandag ook met ons. Hy het vir ons dieselfde beloftes gegee en Hy wil hê dat ons aanspraak moet maak op ons erfenis. Dis ons gebed dat hierdie studie jou sal help om in oorwinning te begin wandel!