Leer Om Te Onthou

Leer Om Te Onthou

Deur Jen | Junie 21, 2019 | Josua – Wandel In Oorwinning

Die ervaringe wat ons met ons geliefdes het, is vir ons belangrik en daarom koester ons die herinneringe. Ons neem foto’s, hou dagboeke, en maak video’s omdat ons nie die mense of ervaringe wil vergeet nie.

Jare gelede het ek en my man ‘n gebedsjoernaal begin. Ons het allerhande gebedsversoeke daarin geskryf en wanneer die gebed beantwoord is, het ons die datum en die antwoord neergeskryf. Hierdie joernaal het dit vir ons moontlik gemaak om terug te kyk op alles wat die Here gedoen het, selfs al was die antwoorde nie waarvoor ons gehoop het nie.

Die verhaal van Israel is een van God se magtige werke. Hy het op wonderbaarlike maniere Sy mense beskerm en vir hulle voorsien. God het geweet dat Sy mense se geheues kort was. Hy wou hê dat hulle iets tasbaars moes hê (die twaalf klippe), wat hulle sou help om Sy getrouheid, krag en sorg te onthou. En dit sou nie net iets wees vir die mense wat daar was nie. God wou hê hulle moes hul geheues skerp hou, sodat hulle aan hul kinders en kleinkinders kon getuig van God se wonderlike werke om hulle onthalwe.

Ons sukkel almal om te onthou wat God vir ons gedoen het, en geestelike geheueverlies wys dikwels in die vorm van klagtes. Om te kla openbaar ‘n hart wat vergeet het waarvan God jou gered het en waarheen Hy jou neem.

Ons moet weer onthou.

Onthou waar jy vandaan kom.

Wanneer ons kla, sê ons eintlik dat ons nie tevrede is met dit wat God vir ons lewe of ons dag inhou nie. Ons sê dat ons beter verdien, wat dan beteken dat ons vergeet het wat ons eintlik verdien. Ons sonde verdien niks behalwe oordeel nie, maar God het in daardie put van ons vuilheid ingereik en ons uitgetrek. Jesus het ons nie net gered uit die mag van die sonde nie, maar ook van die toorn van God. Maar God stop nie daar nie. Dag in en dag uit werk die Here in jou lewe. Hy is genesend, versag harte en orkestreer alles tot jou beswil. Ongelukkig is ons te onbewus daarvan en vergeetagtig.

Ons moet ‘n poging aanwend om op te let wat God alles vir ons doen en hoe Hy vir ons voorsien. Een manier om dit te doen is om ‘n joernaal te hou. Skryf neer wat jy voorheen was en wat jy nou is. Skryf neer hoe  jy gegroei het deur moeilike tye, skryf antwoorde op gebede neer, selfs al is die antwoorde nie waarvoor jy gehoop het nie. Skryf neer hoe jy dit deur moeilike tye gemaak het. Soos die jare verbygaan, sal daar iets wees om na terug te kyk wat jou sal help om die getrouheid van jou God te onthou en dit sal ‘n getuienis wees wat jy met jou kinders kan deel.

Onthou waarheen jy gaan.

Of jou lewe maklik en kalm of moeilik en chaoties is, onthou waarheen God jou neem. Jy is op pad na ‘n ewige koninkryk. Alhoewel hierdie pad soms moeilik is om te volg en vol harde ervarings en keuses is, kan jy vol vertroue wees dat al die swaarkry en hartseer uiteindelik weggeneem sal word. Jy sal ‘n ewige lewe kry wat gevul is met ware geluk, ongekende vrede en tevredenheid, vreugde wat jy jou nie kan indink nie, en ‘n volmaakte verhouding met almal rondom jou, veral met jou Verlosser.

Dit is waarom Paulus na sy swaarkry verwys as “ligte tydelike ellende.” Hoe kan hy dit sê? Omdat hy ‘n groter perspektief op die lewe het as net die hier en nou. Hy onthou daagliks waar God hom, en alle gelowiges heen neem. Ons moet ook probeer om te onthou dat “die dinge wat gesien word, verby is, maar die dinge wat onsigbaar is, vir ewig is.” (2 Korintiërs 4: 17-18)

Om ‘n joernaal te hou kan ‘n groot hulp wees om te onthou waarheen God jou neem. Wat wag vir jou in die ewigheid? Hoe maak hierdie kennis die lewe helderder en jou verdrukkinge ‘n bietjie ligter?

Vind maniere om te onthou hoeveel God jou liefhet en die maniere waarop Hy daardie liefde vir jou bewys. Dit sal ‘n groot aanmoediging wees in jou geloof.

Kyk na Jesus,

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s