God Se Magtige Hand In Elke Seisoen

God Se Magtige Hand In Elke Seisoen

Deur Whitney | Junie 24, 2019 | Josua – Wandel In Oorwinning

Hoe ouer ek word, hoe meer kan ek terugkyk en God se hand in elke seisoen sien.

Party seisoene is stadig en eentonig.

Ek onthou die beginjare van moederskap. “Die dae is lank, maar die jare kort,” het hulle gesê. Daardie jare was beslis vol eenvoudige vreugdes.  Maar, genade, party dae was ook lank en sieldodend.

Daardie dae het baie soos woestynlewe gevoel.

Daar was slapelose nagte en hospitaalverblywe en grondboontjiebotter-en-strooptoebroodjies en lewenslustige kinders en dissipline waarmee ons net mooi nêrens gekom het nie. Daar was dae toe ek verlore, rebels en vergete gevoel het en gesmag het na iets meer as net dieselfde gewone ou dinge. Daar was tye toe ek God se goedheid bevraagteken het; tye dat my siel verdroog in ‘n dor land gevoel het. Ek kon dit nie toe sien nie, maar God was in elke detail aan die werk. Hy was besig om te voorsien, nederig te maak, te heilig, te vergewe en op die noodsaaklikste en pragtigste maniere ons harte nader aan syne te trek. Wanneer ek myself toelaat om te ver van daardie tye verwyder te raak, dan vergeet ek van die duisende maniere wat God in daardie tyd vir ons gesin voorsien het.

__________

Die Israeliete het stadige, eentonige jare gehad.

40 daarvan, om presies te wees.

Dit was jare van woestynlewe, manna eet, agter ‘n wolk- en vuurkolom aanloop, oorloë voer, jare van opstandigheid. Daar was dae wat hulle verlore, rebels en vergete gevoel het, smagtend na iets meer as die gewone. O, hoe het hulle nie God se goedheid bevraagteken nie – oor en oor – in so ‘n mate dat hulle gesê het dit sou vir hulle beter gewees het om die Egiptenare se slawe te wees as om in die woestyn om te kom (Eksodus 14:12). Hulle kon dit nie toe altyd sien nie, maar God was besig om in elke detail te werk. Hy was besig om te voorsien, nederig te maak, te heilig, te vergewe en op die noodsaaklikste en pragtigste maniere hulle harte nader aan syne te trek.

__________

Ander seisoene verloop weer vinniger en is vol verwondering.

Ons gesin is pas deur so ‘n seisoen – ‘n warrelwind van dertig dae en die onwaarskynlikste gebeure – en ek is nog steeds verwonderd oor die wonderwerkende krag van ons God.

In ‘n versadigde mark is ‘n werk bekom. Toe die kinders gevra is om die enigste Indiana-huis wat hulle ooit geken het, te verlaat, was al vier wonder bo wonder daarvoor te vinde. ‘n Koper en verkoper – twee gesinne met ‘n liefde vir Jesus – het saam rondom ons kombuistafel gebid, en ons huis was verkoop nog voordat dit gelys was. Vervoerondernemings het onverwagte bedieningkortings toegestaan. Te midde van ‘n historiese regeringsineenstorting het gelowige eiendomsagente ongelooflike welslae behaal. Ons is ‘n pragtige tussentydse huis gratis aangebied. Toe twee van ons voertuie onklaar raak, het familie en vriende voertuie aan ons geleen. Nuwe skole het ons tegemoet gekom en uitsonderings gemaak sodat ons kinders heeltemal op datum kon kom. Huiseienaars wat byna twee jaar lank goeie aanbiedinge van die hand gewys het, het ons nuwe Texas-woning binne ‘n dag aan ons verkoop, ver onder hulle oorspronklike verkoopsprys.

Wat in die wêreld se oë padblokkades was, was opritte in God se ekonomie.

Soortgelyk aan die Moses-redding, die loslating van plae, die splyting van die Rooi See, manna wat val, water wat uit die rots vloei, oorwinning oor die vyand, deurgang deur die Jordaan, die glansryke teenwoordigheid van God tydens die Israeliete se reis na die Beloofde Land. God het voorsien, nederig gemaak, geheilig, vergewe en op die kragtigste en wonderbaarlikste maniere harte na syne aangetrek.

__________

Josua het twaalf klippe opgerig om te onthou. Net so moet ons ook doelgerig stappe doen om te onthou.

Daarom skryf ek.

Ek vertel stories vir my kinders – soms dubbeld gevou van die lag, en ander kere met ontsag en trane van eerbied.

Ons nooi drie tieners en ‘n dogtertjie om saam te bondel op ons te klein woonkamermeubels, om mekaar te herinner dat dieselfde God wat in die verlede getrou was, saam met ons die onbekende van môre tegemoetgaan. Daardie slapelose nagte, hospitaalverblywe, grondboontjiebotter-en-stroop-toebroodjies, lewenslustige kinders en herhaalde dissiplines gee vir ons rede om te praat oor God se rus, vrede, genade en krag in ons swakheid. En die wonderbaarlike oomblikke van ongelooflike oorwinning laat ons in aanbidding neerkniel voor ons magtige en oorwinnende God wie se planne en doelwitte in elke seisoen seëvier, ongeag wat oor ons pad kom.

“Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien.” – Josua 4:24

Kan die mense om jou God se krag in jou lewe sien werk?

Hulle neem ons gesindhede waar terwyl ons op God wag om vir ons sy tyd en rigting aan te dui.

Hulle luister na ons stemtoon wanneer dinge warm raak en die lewe druk.

Hulle wag vir ons om te reageer – in vreugde én beproewings – en sal aan ons woorde en aksies weet aan wie ons getrou is.

Sal hulle my sterk geloof en onwrikbare vertroue in my groot God onthou? Of sal hulle ‘n brommende, wankelende vrou onthou wat in vrees vir die onbekende geleef het?

Wanneer hulle terugkyk, kan hulle sien dat God in elke detail aan die werk was.

Aan sy voete,

*Kom ons praat oor: Vertel van ‘n tyd toe God kragtig in jou lewe gewerk het.

Week 2 Uitdaging: Begin hierdie week met ‘n joernaal om al die maniere waarop God deur die jare aan jou en jou gesin getrou was, aan te teken.

 Week 2 Leesplan

Week 2 Memoriseervers

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s