Aanlyn Stemme

Aanlyn Stemme

Deur Angela | Augustus 30, 2019 | Woorde Maak Saak

Ek bevind myself elke paar maande in die versoeking om al my sosiale media-rekeninge uit te vee. Die negatiewe energie oorweldig my. Facebook suig al my geluk weg, en ek word moeg daarvoor om deur oppervlakkige Instagram-selfies te blaai en myself sleg te laat voel omdat ek nie ‘n perfekte Pinterest lewe het nie. Sosiale media kan ‘n teelaarde vir ontevredenheid wees. Mense deel heeltemal te veel intieme besonderhede oor hulle persoonlike lewens en wrede oorloë word gevoer deur vriende met verskillende politieke ideologieë. Waarom kan ons nie net almal saamstaan nie?

Ek wil terugkeer na die die dae toe ek in stilte ‘n boek kon lees en na musiek luister.

Maar voordat ek op die uitvee knoppie op my sosiale media-lewe kan druk, stuur God vir my ‘n herinnering. Hy fluister stil tot my hart: “My dogter, jy word geroep om ‘n lig in ‘n donker plek te wees.”

Daardie gebroke mense op sosiale media het seer, en ek het ‘n vaste hoop in Jesus wat ek met hulle móét deel. Ek kan my Facebook nuusvoer gebruik om kontak te maak met mense wat ernstige vrae het oor die lewe en geloof. Ek kan fundamentele waarhede uit die Skrif kommunikeer en hoop én genesing bied aan ‘n verlore siel.

In plaas daarvan om tyd op sosiale media te mors, gaan ek nou doelgerig op sosiale media om lewe aan mense te spreek.

Vriende, Jesus is die Woord wat vlees geword het. Sy magtige naam is lewe én vrede, selfs op Instagram. Hy praat en die storm van negatiewe woorde in ons nuusvoer moet gehoorsaam. Die Here wil deur ons verlossing op sosiale media bring.

Laat ons vir ‘n oomblik net stil word en bid voordat ons iets op sosiale media plaas, sodat ons verstandige woorde kan gebruik:

  • om na Jesus te wys deur gesprekke wat vrug dra en bemoedig.

“Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.” – Efesiërs 4:29

  • om vrede te bevorder deur genade gevulde reaksies en nederige harte.

“Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.” – Kolossense 3:12-14

  • om die goeie in ander te prys en God se liefde te deel in ‘n wêreld vol haat.

“Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.” – Kolossense 4:5-6

  • om die boeiende boodskap van verlossing in Christus te verkondig met elkeen wat gewillig is om te luister.

“In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God.” – 1 Petrus 3:15-16

Jy word geroep om jou lig op sosiale media te laat skyn. Jou volgende sosiale media inskrywing kan iemand bevry van twyfel en vrees en ‘n vaste plek bied om in Christus te staan.

Aanvaar Die Harde Waarheid

Aanvaar Die Harde Waarheid

Deur Jen | Augustus 28, 2019 | Woorde Maak Saak

Ons dink dikwels dat om die waarheid met mekaar te praat, beteken om woorde vir mekaar te sê wat ons goed laat voel, woorde wat ons laat glimlag en iemand se dag ophelder. Ons dink dat dit daarom gaan om iemand se geloof op te bou deur mekaar te herinner aan die waarheid in God se Woord. En dit is alles belangrik.

Maar daar is ook ‘n ander soort waarheid wat ons bereid moet wees om te deel. Dit is ‘n waarheid wat op daardie oomblik dalk nie so lekker voel nie. Dit is moeilike woorde om te hoor en nog moeiliker om te sê. Dit is woorde van teregwysing.

Op ‘n vriend wat jou seermaak, kan jy reken. Spreuke 27:6

Dit klink nie eintlik lekker of aangenaam nie. Wat is die wonde van ‘n vriend?

Waarvan hierdie vers in Spreuke praat, is teregwysing en berisping.

Die harde waarheid wat ons soms vir mekaar moet sê, handel oor sonde. Soms dwaal ons weg van die regte pad af. Ons kom dit agter wanneer ons gesindheid sleg is, of ons tree selfsugtig op en is hoogmoedig. Soms gee ons ‘n wanvoorstelling van God en glo dinge wat nie ooreenstem met die Skrif nie. In sulke gevalle het ons iemand nodig om die harde waarheid in ons lewens in te spreek sodat ons kan verander en verbeter.

Ons moet vroue wees wat bereid is om ons vriende seer te maak, vir hul eie beswil, en ons moet vroue wees wat bereid is om deur ‘n vriend of vriendin seergemaak te word.

“Ware vriende is nie rampokkers wat ons met hulle woorde slaan om ‘n punt te bewys of iemand op sy plek te sit nie. Maar goddelike vriende is niks minder nie as NMT’s (nood mediese tegnici) wat ons sorgvuldig uitgewerkte verskonings sal oopruk en ons terugskok na die lewe. Hulle verwond ons vir ons eie beswil.” – Greg Morse

Ons het iemand nodig wat bereid is om te sê: “So ‘n gemor pas nie by iemand wat ‘n koninryk gaan erf nie.”

Ons het iemand nodig om vir ons te sê: “Geestelike luiheid is nie aanvaarbaar nie.”

Spreuke 27:17 sê vir ons “Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.”

Om yster skerp te maak, moet dit met yster bots. Staal moet teen staal geskuur word. Daar moet ‘n mate van wrywing wees. Jy moet ‘n vriend hê wat bereid is om met jou te bots, maar hierdie botsing maak ons beter, nie slegter nie. So ‘n botsing maak mense skerper en meer bruikbaar. Bowenal verdiep dit ‘n vriendskap want waar die harde waarheid gepraat word, openbaar dit ware liefde.

Hoe gaan ‘n mens te werk om so ‘n waarheid vir iemand te sê?

  1. Altyd in liefde. Altyd met vriendelike woorde.
  2. Die harde waarheid moet altyd opbouend wees, nooit venynig nie.

Jesus is ons volmaakte voorbeeld hiervan. Hy was die verpersoonliking van vriendelikheid, Hy was liefde in lewende lywe, Maar Hy was nie bang om sonde by die naam te noem nie. Hy was nie skaam om die waarheid uit te wys nie. En Hy het dit altyd in liefde gedoen, altyd met sorg, en nooit in oomblikke van frustrasie of met venyn nie.

  1. Praat altyd met nederigheid en nooit met ‘n hooghartige of ‘n heiliger-as-jy-houding nie.
  2. Moenie foutvind en dit nodig ag om elke klein swakheid van jou vriend of vriendin uit te wys nie. Dit is nie waartoe jy geroep is nie.

Laat 1 Tessalonisense 5:14 jou riglyn wees – Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig.

Hoe moet ons reageer wanneer ‘n vriend of vriendin na ons toe kom en harde woorde met ons praat?

  1. Ons moet ons trots sluk en nie verdedigend wees nie.
  2. Ons moet luister en nie verskonings maak nie.
  3. Ons moet daaroor bid en God vra om ons te wys of daar enige waarheid is in wat gesê is.
  4. Ons moet berou hê en God vra om ons te help om dit te bowe te kom.

‘n Vriend of vriendin wat bereid is om die harde waarheid te praat is skaars, maar wees dankbaar as jy so ‘n vriend of vriendin kry want jy sal iemand hê wat jou waarlik liefhet en jou in jou Christelike wandel wil sien floreer.

“Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar.” – Sagaria 8:16

Kyk na Jesus.

 

 

 

Laat Jou Woorde Min Wees

Laat Jou Woorde Min Wees

Deur Terria Moore | Augustus 26, 2019 | Woorde Maak Saak

Ons lewe in ‘n tyd waar ons woorde en opinies in ‘n oogwink reg oor die wêreld gedeel kan word, met min of geen aanspreeklikheid. Ons vergeet maklik dat ons rekenskap sal moet gee vir elke leë woord wat ons geuiter het.

“Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of geoordeel word.” – Matteus:36-37 

Wanneer ek kyk na die feit dat, in Johannes 1:1, Jesus beskryf word as die Woord, laat dit my nadink aan hoeveel kere ek my woorde veroordelend, haastig en onverskillig gebruik het.

Ons spandeer baie tyd daaraan om te oorweeg watter woorde reg is om te sê, wat die regte toon is om te gebruik en wanneer dit die regte tyd is om te praat. Die Woord van God sê vir ons dat dit nie net is wát en hóe ons dinge sê, wat belangrik is nie, maar dat dit wat ons kies om nie te sê nie, net so belangrik is.

Moenie te gou praat nie, moenie oorhaastig ‘n belofte aan God maak nie, want Hy is in die hemel en jy op die aarde. Laat jou woorde daarom min wees. – Prediker 5:1

Ek is skuldig daaraan dat ek ‘n ‘probleem-oplosser’ is. Om sin te maak van die lewe, is ek gereeld in die versoeking om dinge mooi toe te draai, ‘n strik om te bind en maklike antwoorde te gee vir moeilike probleme. Ongelukkig het dit my gelei om soms onverskillige en haastige standpunte te maak sonder om regtig te dink oor hoe dit deur ander mense ontvang sal word.

Op hul eie mag die volgende standpunte goed bedoeld en skadeloos klink:

  • ‘God sal nie dinge oor jou pad stuur wat jy nie kan hanteer nie.’
  • ‘God doen alles met ‘n rede.’
  • ‘God is in beheer.’

Maar:

  • vir die vrou wat sopas gediagnoseer is met kanker…
  • vir die vrou wat besig is om haar man of haar kind se begrafnis te reël…
  • vir die vrou wat haar derde miskraam gehad het…
  • vir die vrou was sopas seksueel aangerand is…

kan hierdie goedbedoelde woorde hartverskeurend en verwoestend wees.

“Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê.” – Spreuke 12:18

God spreek doelgerig tot ons lewens. Hy gebruik nie onbenullige woorde of praat sonder rede nie. Elke woord in die Skrif het betekenis en mag. Ons moet nooit die krag van ons woorde om te dreineer, eerder as om lewe te gee, onderskat nie. Omdat God ons Trooster is, en ons na Sy beeld geskape is, het ons ‘n sterk, natuurlike begeerte om ander te troos. Vir baie van ons sluit dit in om bemoedigende woorde te spreek.

Maar wanneer mense in die middel van ‘n tragedie staan en oorweldigende pyn ervaar, is dit dikwels ons Geesgedrewe aksies wat harder spreek as ons woorde.

Jesus het Sy woorde gebruik om lewe en hoop na die mense te bring. Wanneer daar geen woorde was om te spreek nie, het Jesus geluister. Hy het saam met die bedroefdes gehuil; dié wat honger was, het Hy bedien; saam met dié wat verwerp en vervolg was, het Hy geëet; en dié wat stukkend was, het Hy genees.

Ons moet Jesus se voorbeeld volg. Ons kan in stilte lewe gee aan mense deur hulle te bedien met ‘n drukkie, ‘n oor wat luister, ‘n helpende hand of net eenvoudig ons teenwoordigheid.

“’n Regverdige mens dink voor hy antwoord; goddelose mense sê net slegte dinge.” – Spreuke 15:28

Ons vra dikwels die Heilige Gees om die woorde wat ons spreek, te lei, maar ons moet ook vra vir leiding wanneer ons moet luister. In die laaste paar maande het ek Psalm 141:3 begin bid: “Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê.” Die Heilige Gees het gereageer deur my te lei na volwassenheid om aktief te kan luister. Dit het ‘n beduidende impak op my verbintenisse met mense. My swye was ‘n geskenk van God. Mag God ons seën in ons strewe om Hom te eer met ons woorde, sowel as met ons swye.

Hoe kan ons vir jou bid in jou soeke by die Heilige Gees vir hulp om jou te verhinder om leë woorde te spreek?

Vrede en genade vir jou

 

Week 3 Uitdaging: Dit is belangrik dat ons leer om die woorde wat ons spreek, te beheer. Gee aandag aan die woorde wat jy hierdie week gebruik, maak seker dat dit tot eer van God is. Reik uit na ‘n vriendin om vir jou te bid en jou daarvoor aanspreeklik te hou.

Week 3 Leesplan

Week 3 Memoriseervers

Wat God Vir Ons Sê

Wat God Vir Ons Sê

Deur Angela | Augustus 23, 2019 | Woorde Maak Saak

Die gemiddelde persoon oorweeg tussen 12,000 en 70,000 gedagtes op een dag, en sielkundiges skat dat meer as 70% daarvan negatiewe gedagtes is.

Donker gedagtes kan ons ontspoor. Sommige dae voel dit asof ek op ‘n wegholtrein vol verkeerde woorde is wat my op ‘n lang, kronkelende spoor tot vernietiging laat afstuur. Ek maak myself moeg deur alles oormatig te oordink.

Ek kan nooit iets reg doen nie.

Ek is onaantreklik.

As mense die ware ‘ek’ geken het, sou niemand van my hou nie.

Ek sal nooit goed genoeg wees nie.

Die slegste deel hiervan is dat ek nie my aaklige gedagtes vir God kan verberg nie. Hy hoor elke wisselvallige idee in my kop. God ken my deur en deur, en ek wonder soms waarom Hy steeds met my bemoeienis maak. Skaam-gevulde woorde vloei uit my gewonde siel, en ek wil ‘n prop in my mond druk om dit te keer.

Ek is so dankbaar dat God se gedagtes hoër is as my gedagtes, en sy weë bo my weë is. (Jesaja 55:8-9). Hy is die Magtige Een wat ‘n woord spreek en orde roep oor die aarde, van die opkoms van die son tot sy ondergang. (Psalm 50:1) Sy stem is harder as alle ander stemme, en Hy spreek vrede oor sy kinders.

Die God van vrede spreek ‘Vrede, wees stil’ oor my.

Die Woord van die Here is sterker as die leuens van die vyand. Sy Woord spreek harder as my onsekerhede. Sy Woord is altyd waar en beskerm diegene wat by Hom skuil. (Psalm 18:30)

Ek het nodig dat God se Woord my denke vernuwe en my met ‘n geestelike woordeskat salf. Soos ek die Woord van die Here toelaat om oor my te gaan, verander al my bekommernisse en twyfel in aanbidding.

Is jou woorde buite beheer? Spring van die wegholtreintrein af vriendin. Bring jou wisselvallige woorde en gedagtes in lyn met die Waarheid.

Maak jou hart stil en asem vandag God se genade in. Jou Abba-Vader het jou innig lief, en Hy spreek vir ewig lewe oor jou. Luister hoe Hy hierdie woorde vir jou fluister:

My onvoorwaardelike liefde vir jou is standvastig en sterk. Skuil onder my vleuels, weg die woorde van ander. (Psalm 36: 7-10)

Ek het jou gevorm as ‘n wonderlike skepping. Ek het gespreek en jou my meesterstuk gemaak. (Psalm 139:14; Efesiërs 2:10)

Jy is kosbaar in my oë. Ek sal jou altyd eer en vir jou veg. (Jesaja 43:4)

Ek het groot planne vir jou geformuleer. Jy stap na ‘n gunstige toekoms vol hoop. (Jeremia 29:11)

Jy is vir my waardevol. Ek kan mondelings elke ingewikkelde stukkie detail oor jou identifiseer. (Lukas 12:6-7)

Jy is myne, my kind. Jy dra my naam. (Romeine 8:16)

Jy maak saak, vriendin. Jy maak saak, want jou Verlosser het harder as die dood gespreek om jou te red. Jesus spreek verlossing reg daar waar jy vandag is. Sy onfeilbare Woord van verlossing hou jou vir altyd veilig.

Hou die Geloof,

 

 

 

Al Jou Woorde Maak Saak

Al Jou Woorde Maak Saak

Deur Angela | Augustus 21, 2019 | Woorde Maak Saak

Jou woorde maak saak. Die woorde wat jy vir jouself en ander sê maak almal saak.

As jy soos ek is, bêre jy jou mees ongevoelige woorde vir jouself. Die woorde wat met gif belaai is, wat niemand anders kan hoor nie. Hulle herhaal oor en oor in die begrensde binnemure van jou gedagtes. Jy dink dat dit nie saakmaak nie, omdat niemand anders dit kan hoor nie. Dit is net jou “gedagtes,” watter skade kan dit werklik doen? Maar, met die verloop van tyd word skade berokken en wat eers ‘n onsigbare wond was, word sigbaar — jou selfvertroue kwyn. Jou angs versleg. Jy begin om tevrede te wees met minder as jou beste.

Ons moet ophou met hierdie negatiewe selfspraak. Wees jouself goedgesind. Begin om jou gedagtes gevange te neem (2 Korintiërs 10:5) en as jy dit nie vir jou beste vriend sal sê nie, moet dit definitief nie vir jouself sê nie.

Jesus vertel ons in Matteus 22:39 om ons naaste lief te hê soos onsself. Dink terug aan die woorde wat jy hierdie week vir jouself gesê het. Was dit liefdevolle woorde? Was hulle vol van genade en bemoedigend? Of was dit woorde van aantyging, bespotting en skaamte? As ons ons naaste soos onsself moet liefhê, moet ons onsself eerste liefhê. ‘n Goeie plek om te begin is om te leer om bemoedigende woorde te spreek en doelgerig die negatiewe selfspraak te stop.

As Jesus nie so met jou sal praat nie, hoekom doen jy dit? Wees goedgesind teenoor jouself. Moenie net ‘n punt daarvan maak om lewe-gewende woorde tot jou vriende, kollegas, familie en bure te spreek nie – maak ‘n punt daarvan om dit teenoor jouself ook te spreek.

Kom ons maak ‘n ooreenkoms. Ek moet groei in hierdie area van my lewe, en ek dink dat ek nie die enigste een is nie. Sal jy dit saam met my doen? Ek gaan begin om met myself te praat as ‘n vriend. Ek gaan:

  1. Elke dag begin met ‘n gebed van dankbaarheid vir die manier hoe God my geskape het.
  2. Ek gaan 2 Korintiërs 10:5 memoriseer en dit in my lewe toepas. Ek gaan doelgerig die negatiewe gedagtes stop en dit met positiewe gedagtes vervang.
  3. Ek gaan uitreik na ‘n boesemvriendin en haar vra om vir my te bid vir hierdie area van my lewe. Ek dink om openlik te wees en te praat oor die stryd, help om die krag van die negatiewe woorde wat ek hoor, te verminder.
  4. Ek gaan fokus op die waarheid dat God my liefhet, altyd met my is en ‘n plan het vir my lewe. Daar is niks wat ek kan doen wat sal veroorsaak dat God meer of minder lief vir my sal wees as wat Hy reg nou is nie.

Wat van jou liewe vriendin? Sal jy dit saam met my doen?

Kom ons gesels: Watter ander items sal jy byvoeg by ‘n “praat met jouself soos ‘n vriend” lys?

Hê God Groots Lief,

 

Die Woorde Wat Ons Praat – ‘n Gebed Geinspereer deur Efesiër 4:29-32

Die Woorde Wat Ons Praat – ‘n Gebed Geinspereer deur Efesiër 4:29-32

Deur Whitney | Augustus 19, 2019 | Woorde Maak Saak

Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is…

God, U sê dat met baie praat bly die sonde nie uit nie (Spreuke 10:19). Ek het té veel woorde gespreek vandag – harde woorde wat afbreek – en ek kan hulle nie terugtrek nie. Wat my hart van vol is, het my mond van oorgeloop, voordat ek die verpletterende gewig van hul impak kon bereken het. Dit het in ‘n oomblik uitgevloei, en die vertroue wat soveel genade, tyd en doelgerigdheid geneem het om op te bou, vernietig. Liewe Vader, vergewe my dat ek te gou praat en nie gewillig is om te luister nie (Jakobus 1:19). Ek bid vir u krag om my te help om stil te bly, totdat ek goedgunstiglik kan reageer. Wanneer my woorde kom, help my om nie die gees van die ontvanger van my woorde te breek nie, maar om met kalmerende woorde wat lewe bring, te praat (Spreuke 15:4).

…volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, wat Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.

Jesus, U het gekom en Uself gegee en aan my genade geskenk, ver bo wat ek verdien. Daar was tye wat U Uself kon verdedig het, maar wat U niks gesê het nie (Matteus 26:63); tye waar U mishandel is, maar geduldig gebly het en nie gekla het nie (Jesaja 53:7). Help my om U voorbeeld van diensbaarheid en genade-vervuldheid te volg wanneer ek praat, want U weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee U genade (Jakobus 4:6). Liewe Here, ek is so jammer, dit breek my hart dat my woorde U Gees bedroef. Skep in my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig (Psalm 51:12).

Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie.

God, ek het té lank aan bitterheid vasgehou. Ek wil nie hê dat woede en bitterheid in my hart moet wortel skiet en die vrug van U Gees in my moet verdring nie. Deurgrond my, o God, deurgrond my hart; ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! (Psalm 139:23-24). In plaas van woede in my, laat daar liefde wees. In plaas van wanhoop, laat daar vreugde wees. In plaas van konflik, laat daar vrede wees. In plaas van frustrasie, laat daar geduld wees. In plaas van haat, laat daar vriendelikheid wees. In plaas van euwel, laat daar goedhartigheid wees. In plaas van bedrog, laat daar getrouheid wees. In plaas van felheid, laat daar nederigheid wees. In plaas van chaos, laat daar selfbeheersing wees (Galasiërs 5:22-23). In plaas van myself, laat daar meer van U wees.

Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

Vader, dankie dat U my vergewe en my verander om meer soos U te wees! In hierdie koue en onvergewensgesinde wêreld, hou my hart teer teenoor U. Deur die krag van U Gees in my, laat my mond met wysheid praat en laat ek met liefde leiding gee (Spreuke 31:26). Jesus, U geduld en barmhartigheid teenoor my is verstommend. Dit is U goedheid wat tot bekering lei (Romeine 2:4). Mag my woorde u liefde, hoop, genesing en versoening bring aan diegene wat vandag oor my pad kom.

 

By sy voete,

*Kom ons gesels: Ons woorde maak saak. As jy vandag hierdie gebed gebid het, tik “Amen” in die kommentaar hier onder. Kom ons nader saam tot God in gebed.

Week 2-Uitdaging: Let hierdie week op na die woorde wat jy in jou gedagtes herhaal en praat met jouself. Fokus daarop om selfgesprekke te voer wat liefdevol en gerig is op Filippense 4: 8.

Week 2 Leesplan

Week 2 Memoriseervers

 

 

 

 

 

Let Jy Op Na Jou Woorde

Let Jy Op Na Jou Woorde

Deur Jen | Augustus 16, 2019 | Woorde Maak Saak

Ons almal worstel met ons tonge. Jy gebruik miskien nie slegte woorde nie, miskien sê jy nie eers enige onsmaaklike woorde nie, maar jy worstel met jou tong. Woorde wat gebruik word om te kla, te skinder, sleg te sê, woede uit te spreek, om jouself te bejammer of om frustrasie uit te spreek is alles wyses waarop ons die tong wat God vir ons gegee het, misbruik.

Dink aan die doel van jou tong, of die God-gegewe vermoë om woorde te gebruik. Die doel van jou woorde is om God te eer deur woorde te spreek wat vir ander waardevol is. Jy kan God nie eer as jy jou woorde gebruik om te kla, te vloek of ander mense af te breek nie.

Nie net dit nie, maar wanneer ons ons tonge te gebruik om te seën en dan gebruik om te vervloek, openbaar ons ons skynheiligheid. Ons praat van om ons naaste lief te hê en liefdevol teenoor die mense rondom ons te wees, en dan draai ons om en spuug gif en pyn oor ons familie. Ons kan praat hoe God in beheer van alle dinge is, maar wanneer ons dag nie verloop soos ons dit wou gehad het nie, gebruik ons woorde wat wys dat ons regtig glo dat ons planne beter is as God s’n.

As ons verby die woorde wat ons gebruik kyk, sal ons sien dat dit nie die woorde is wat die groot probleem is nie, maar ons harte. Lukas 6:45 sê vir ons waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Jou woorde openbaar wat in jou hart aangaan. Johannes Calvyn het gesê dat, “die tong bestaan om ons harte te openbaar.” Hoe ons praat wys of ons selfgesentreerd of Christus-gesentreerd is. Dit wys wat na aan ons harte lê, wat ons vrees en wat ons beheer. Ons tonge vertel ander wat ons aanbid en wat ons waardes is, wat ons haat en wat ons liefhet. Wat openbaar jou woorde en jou stemtoon oor jou?

“Daar is geen beter toets vir die gesondheid van jou siel, as om te sien wat op die tong is nie!” -C.H. Spurgeon

Ons tonge het ons veroordeel, maar Christus het ons gered. Net Jesus kan ons red van die korrupsie van ons harte, en die bewys wat uitvloei uit ons monde uit. Net Jesus kan ons harte verander.

Deur daardie verandering kom die vermoë om wysheid te leer en selfbeheer uit te oefen, sodat ons woorde God eer en ander opbou.

“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” – Spreuke 4:23

Kyk na Jesus,