Laat Jou Woorde Min Wees

Laat Jou Woorde Min Wees

Deur Terria Moore | Augustus 26, 2019 | Woorde Maak Saak

Ons lewe in ‘n tyd waar ons woorde en opinies in ‘n oogwink reg oor die wêreld gedeel kan word, met min of geen aanspreeklikheid. Ons vergeet maklik dat ons rekenskap sal moet gee vir elke leë woord wat ons geuiter het.

“Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of geoordeel word.” – Matteus:36-37 

Wanneer ek kyk na die feit dat, in Johannes 1:1, Jesus beskryf word as die Woord, laat dit my nadink aan hoeveel kere ek my woorde veroordelend, haastig en onverskillig gebruik het.

Ons spandeer baie tyd daaraan om te oorweeg watter woorde reg is om te sê, wat die regte toon is om te gebruik en wanneer dit die regte tyd is om te praat. Die Woord van God sê vir ons dat dit nie net is wát en hóe ons dinge sê, wat belangrik is nie, maar dat dit wat ons kies om nie te sê nie, net so belangrik is.

Moenie te gou praat nie, moenie oorhaastig ‘n belofte aan God maak nie, want Hy is in die hemel en jy op die aarde. Laat jou woorde daarom min wees. – Prediker 5:1

Ek is skuldig daaraan dat ek ‘n ‘probleem-oplosser’ is. Om sin te maak van die lewe, is ek gereeld in die versoeking om dinge mooi toe te draai, ‘n strik om te bind en maklike antwoorde te gee vir moeilike probleme. Ongelukkig het dit my gelei om soms onverskillige en haastige standpunte te maak sonder om regtig te dink oor hoe dit deur ander mense ontvang sal word.

Op hul eie mag die volgende standpunte goed bedoeld en skadeloos klink:

  • ‘God sal nie dinge oor jou pad stuur wat jy nie kan hanteer nie.’
  • ‘God doen alles met ‘n rede.’
  • ‘God is in beheer.’

Maar:

  • vir die vrou wat sopas gediagnoseer is met kanker…
  • vir die vrou wat besig is om haar man of haar kind se begrafnis te reël…
  • vir die vrou wat haar derde miskraam gehad het…
  • vir die vrou was sopas seksueel aangerand is…

kan hierdie goedbedoelde woorde hartverskeurend en verwoestend wees.

“Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê.” – Spreuke 12:18

God spreek doelgerig tot ons lewens. Hy gebruik nie onbenullige woorde of praat sonder rede nie. Elke woord in die Skrif het betekenis en mag. Ons moet nooit die krag van ons woorde om te dreineer, eerder as om lewe te gee, onderskat nie. Omdat God ons Trooster is, en ons na Sy beeld geskape is, het ons ‘n sterk, natuurlike begeerte om ander te troos. Vir baie van ons sluit dit in om bemoedigende woorde te spreek.

Maar wanneer mense in die middel van ‘n tragedie staan en oorweldigende pyn ervaar, is dit dikwels ons Geesgedrewe aksies wat harder spreek as ons woorde.

Jesus het Sy woorde gebruik om lewe en hoop na die mense te bring. Wanneer daar geen woorde was om te spreek nie, het Jesus geluister. Hy het saam met die bedroefdes gehuil; dié wat honger was, het Hy bedien; saam met dié wat verwerp en vervolg was, het Hy geëet; en dié wat stukkend was, het Hy genees.

Ons moet Jesus se voorbeeld volg. Ons kan in stilte lewe gee aan mense deur hulle te bedien met ‘n drukkie, ‘n oor wat luister, ‘n helpende hand of net eenvoudig ons teenwoordigheid.

“’n Regverdige mens dink voor hy antwoord; goddelose mense sê net slegte dinge.” – Spreuke 15:28

Ons vra dikwels die Heilige Gees om die woorde wat ons spreek, te lei, maar ons moet ook vra vir leiding wanneer ons moet luister. In die laaste paar maande het ek Psalm 141:3 begin bid: “Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê.” Die Heilige Gees het gereageer deur my te lei na volwassenheid om aktief te kan luister. Dit het ‘n beduidende impak op my verbintenisse met mense. My swye was ‘n geskenk van God. Mag God ons seën in ons strewe om Hom te eer met ons woorde, sowel as met ons swye.

Hoe kan ons vir jou bid in jou soeke by die Heilige Gees vir hulp om jou te verhinder om leë woorde te spreek?

Vrede en genade vir jou

 

Week 3 Uitdaging: Dit is belangrik dat ons leer om die woorde wat ons spreek, te beheer. Gee aandag aan die woorde wat jy hierdie week gebruik, maak seker dat dit tot eer van God is. Reik uit na ‘n vriendin om vir jou te bid en jou daarvoor aanspreeklik te hou.

Week 3 Leesplan

Week 3 Memoriseervers