Aanvaar Die Harde Waarheid

Aanvaar Die Harde Waarheid

Deur Jen | Augustus 28, 2019 | Woorde Maak Saak

Ons dink dikwels dat om die waarheid met mekaar te praat, beteken om woorde vir mekaar te sê wat ons goed laat voel, woorde wat ons laat glimlag en iemand se dag ophelder. Ons dink dat dit daarom gaan om iemand se geloof op te bou deur mekaar te herinner aan die waarheid in God se Woord. En dit is alles belangrik.

Maar daar is ook ‘n ander soort waarheid wat ons bereid moet wees om te deel. Dit is ‘n waarheid wat op daardie oomblik dalk nie so lekker voel nie. Dit is moeilike woorde om te hoor en nog moeiliker om te sê. Dit is woorde van teregwysing.

Op ‘n vriend wat jou seermaak, kan jy reken. Spreuke 27:6

Dit klink nie eintlik lekker of aangenaam nie. Wat is die wonde van ‘n vriend?

Waarvan hierdie vers in Spreuke praat, is teregwysing en berisping.

Die harde waarheid wat ons soms vir mekaar moet sê, handel oor sonde. Soms dwaal ons weg van die regte pad af. Ons kom dit agter wanneer ons gesindheid sleg is, of ons tree selfsugtig op en is hoogmoedig. Soms gee ons ‘n wanvoorstelling van God en glo dinge wat nie ooreenstem met die Skrif nie. In sulke gevalle het ons iemand nodig om die harde waarheid in ons lewens in te spreek sodat ons kan verander en verbeter.

Ons moet vroue wees wat bereid is om ons vriende seer te maak, vir hul eie beswil, en ons moet vroue wees wat bereid is om deur ‘n vriend of vriendin seergemaak te word.

“Ware vriende is nie rampokkers wat ons met hulle woorde slaan om ‘n punt te bewys of iemand op sy plek te sit nie. Maar goddelike vriende is niks minder nie as NMT’s (nood mediese tegnici) wat ons sorgvuldig uitgewerkte verskonings sal oopruk en ons terugskok na die lewe. Hulle verwond ons vir ons eie beswil.” – Greg Morse

Ons het iemand nodig wat bereid is om te sê: “So ‘n gemor pas nie by iemand wat ‘n koninryk gaan erf nie.”

Ons het iemand nodig om vir ons te sê: “Geestelike luiheid is nie aanvaarbaar nie.”

Spreuke 27:17 sê vir ons “Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.”

Om yster skerp te maak, moet dit met yster bots. Staal moet teen staal geskuur word. Daar moet ‘n mate van wrywing wees. Jy moet ‘n vriend hê wat bereid is om met jou te bots, maar hierdie botsing maak ons beter, nie slegter nie. So ‘n botsing maak mense skerper en meer bruikbaar. Bowenal verdiep dit ‘n vriendskap want waar die harde waarheid gepraat word, openbaar dit ware liefde.

Hoe gaan ‘n mens te werk om so ‘n waarheid vir iemand te sê?

  1. Altyd in liefde. Altyd met vriendelike woorde.
  2. Die harde waarheid moet altyd opbouend wees, nooit venynig nie.

Jesus is ons volmaakte voorbeeld hiervan. Hy was die verpersoonliking van vriendelikheid, Hy was liefde in lewende lywe, Maar Hy was nie bang om sonde by die naam te noem nie. Hy was nie skaam om die waarheid uit te wys nie. En Hy het dit altyd in liefde gedoen, altyd met sorg, en nooit in oomblikke van frustrasie of met venyn nie.

  1. Praat altyd met nederigheid en nooit met ‘n hooghartige of ‘n heiliger-as-jy-houding nie.
  2. Moenie foutvind en dit nodig ag om elke klein swakheid van jou vriend of vriendin uit te wys nie. Dit is nie waartoe jy geroep is nie.

Laat 1 Tessalonisense 5:14 jou riglyn wees – Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig.

Hoe moet ons reageer wanneer ‘n vriend of vriendin na ons toe kom en harde woorde met ons praat?

  1. Ons moet ons trots sluk en nie verdedigend wees nie.
  2. Ons moet luister en nie verskonings maak nie.
  3. Ons moet daaroor bid en God vra om ons te wys of daar enige waarheid is in wat gesê is.
  4. Ons moet berou hê en God vra om ons te help om dit te bowe te kom.

‘n Vriend of vriendin wat bereid is om die harde waarheid te praat is skaars, maar wees dankbaar as jy so ‘n vriend of vriendin kry want jy sal iemand hê wat jou waarlik liefhet en jou in jou Christelike wandel wil sien floreer.

“Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar.” – Sagaria 8:16

Kyk na Jesus.