Aanlyn Stemme

Aanlyn Stemme

Deur Angela | Augustus 30, 2019 | Woorde Maak Saak

Ek bevind myself elke paar maande in die versoeking om al my sosiale media-rekeninge uit te vee. Die negatiewe energie oorweldig my. Facebook suig al my geluk weg, en ek word moeg daarvoor om deur oppervlakkige Instagram-selfies te blaai en myself sleg te laat voel omdat ek nie ‘n perfekte Pinterest lewe het nie. Sosiale media kan ‘n teelaarde vir ontevredenheid wees. Mense deel heeltemal te veel intieme besonderhede oor hulle persoonlike lewens en wrede oorloë word gevoer deur vriende met verskillende politieke ideologieë. Waarom kan ons nie net almal saamstaan nie?

Ek wil terugkeer na die die dae toe ek in stilte ‘n boek kon lees en na musiek luister.

Maar voordat ek op die uitvee knoppie op my sosiale media-lewe kan druk, stuur God vir my ‘n herinnering. Hy fluister stil tot my hart: “My dogter, jy word geroep om ‘n lig in ‘n donker plek te wees.”

Daardie gebroke mense op sosiale media het seer, en ek het ‘n vaste hoop in Jesus wat ek met hulle móét deel. Ek kan my Facebook nuusvoer gebruik om kontak te maak met mense wat ernstige vrae het oor die lewe en geloof. Ek kan fundamentele waarhede uit die Skrif kommunikeer en hoop én genesing bied aan ‘n verlore siel.

In plaas daarvan om tyd op sosiale media te mors, gaan ek nou doelgerig op sosiale media om lewe aan mense te spreek.

Vriende, Jesus is die Woord wat vlees geword het. Sy magtige naam is lewe én vrede, selfs op Instagram. Hy praat en die storm van negatiewe woorde in ons nuusvoer moet gehoorsaam. Die Here wil deur ons verlossing op sosiale media bring.

Laat ons vir ‘n oomblik net stil word en bid voordat ons iets op sosiale media plaas, sodat ons verstandige woorde kan gebruik:

  • om na Jesus te wys deur gesprekke wat vrug dra en bemoedig.

“Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.” – Efesiërs 4:29

  • om vrede te bevorder deur genade gevulde reaksies en nederige harte.

“Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.” – Kolossense 3:12-14

  • om die goeie in ander te prys en God se liefde te deel in ‘n wêreld vol haat.

“Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.” – Kolossense 4:5-6

  • om die boeiende boodskap van verlossing in Christus te verkondig met elkeen wat gewillig is om te luister.

“In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God.” – 1 Petrus 3:15-16

Jy word geroep om jou lig op sosiale media te laat skyn. Jou volgende sosiale media inskrywing kan iemand bevry van twyfel en vrees en ‘n vaste plek bied om in Christus te staan.