Die Belangrikheid Daarvan om Net Een te Bereik

Die Belangrikheid Daarvan om Net Een te Bereik

Deur Whitney / 30 September 2019 / Ester

Ek het baie om te leer van ouerskap, maar een ding wat ek seker van is, is Taco Vrydae by die middelskool.

Ek spring Vrydag in my ou minibus, tel vinnig ‘n ‘twaalf-stuk’ by die kitskosrestaurant op en bid hard vir die gesprekke wat vir my voorlê. Jy kan baie leer in dertig minute aan die etenstafel van ‘n middelskool.  Jy kan selfs meer leer as daar taco’s by is. Hulle gesels oor gisteraand se sokkerwedstryd, hulle wiskunde opdrag en hoe sleg kafeteria-kos is.  En hulle hou nie op praat nie, want iemand luister regtig.

En dan is daar die seun wat ek Max sal noem.

Die eerste keer dat ek vir Max ontmoet het, het hy na my toe gestap en my bedank vir sy taco. Hy het vir my uit die bloute ‘n drukkie gegee en toe skielik kom dit uit sy mond – asof dit niks groots is nie – “het jy geweet ek is aangeneem?” En voordat ek ‘n woord kon inkry, het hy onophoudelik vir die hele dertig minute met my gesels.  Hy het in daardie tydjie ‘n klomp goed gesê, maar wat hy eintlik bedoel het om te sê, was…

“Sien jy my raak? My storie verskil van joune, maar is ek nogtans werd om liefgehê te word?”

     ***

Dit was in 2010 en ek onthou die Haiti aardbewing asof dit gister gebeur het. Foto’s van die verwoeste hoofstad het oor die skerm geflits en ek was diep geraak. Ek was daar op kollege gewees. Ek het in daardie strate gestap. Ek het daar verlief geraak op die mense en ek het namens hulle oor en oor tot God uitgeroep. En nou – al daardie jare later – was ek ‘n ma en ek kon nie wegkyk van hulle diep bruin oë nie. Weeskind-oë wat van hulle seer vertel het.

Hul ondenkbare verlies.

En op daardie stadium wou ek die wêreld red.

Max het dieselfde kyk in sy diep bruin oë gehad. Hy was nie meer ‘n weeskind nie, maar sy woorde en sy sprekende oë was nog steeds leeg.

Hy het teruggestap na sy tafel toe – jy weet, die een waarby hy heeltemal alleen gesit het – my hart nou op ‘n oorweldigende manier aan hom verbind. Ek het God net daar gevra hoe ek iemand kan wees wat ‘n verskil in sy lewe kan maak? Hoe ek God se liefde aan Max kon wys.

Want ek mag dalk nie die hele wêreld bereik nie, maar ek kan een mens bereik.

Soos ek deur die bladsye van die Boek Ester lees, is ek verbaas oor hoe God se voorsienigheid elke enkele skewe draai verlig. ‘n Pragtige meisie word ‘n weeskind en haar oom neem haar onder sy sorg.

Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die bemetting van die wêreld. ~ Jakobus 1:27

‘n Uitgestrekte hand.

 ‘n Onbaatsugtige daad.

 ‘n Tree in geloof.

‘n Daadwerklike besluit wat aan een wees-dogtertjie gesê het,”Jou storie verskil van myne maar jy is absoluut werd om liefgehê te word.” Min het Mordegai geweet dat, toe hy uitreik na die behoeftes van een, hy ‘n impak sou hê op ‘n hele nasie.

Jy weet wanneer God aanhou om iets – of iemand – reg voor jou te plaas en jy kan dit – hulle – nie langer ignoreer nie?

Wel, in my lewe – in hierdie seisoen – is sy naam Max.

Toe ek die Here gevra het hoe ek ‘n verskil kon maak in Max se lewe, het ek regtig nie in my kleingeloof gedink dat dit veel sou kon wees nie.  Maar net in geval: elke Taco Vrydag – voordat die seun-plunderaars na die middel van die tafel duik en op die gesogte bruin boks afstorm, ek het reeds een taco spesiaal vir Max gebêre. En omdat God diep in daardie seun kan sien en weet dat sy siel meer voeding nodig het as sy maag, het Hy nie daar gestop nie.

Net verlede week het Hy Max laat intrek in ‘n huis presies in ons straat.

Ek sit hier en skud my kop met ‘n glimlag op my gesig, want ek kan dit skaars glo. Maar tog moes ek nie verbaas wees nie. Is dit nie presies soos God is nie?

Om ons broodjies, vis … en ons taco’s te vat … en dit te verander in iets so.veel.meer?

 ‘n Uitgestrekte hand.

 ‘n Onbaatsugtige daad.

 ‘n Tree in geloof.

Self wanneer daardie geloof baie kleiner was as wat dit moes wees.

Verlede week ry ek op ‘n sonnige dag met vensters afgedraai, musiek wat blêr en spontaan al singende in die ou minibus, oppad huis toe.  En toe sien hy my.

“Haai, Jack se ma!”

Maar wat Max regtig bedoel het om te sê, was…

“Ek is hier. Sien jy my raak? My storie verskil van joune, maar is ek nogtans werd om liefgehê te word?”

 Reg in my straat. Weereens reg voor my gesig, smekend om liefgehê te word. En op daardie oomblik word ek herinner daaraan dat ek ook aangeneem is. Nee, nie deur ‘n aardse familie soos Max nie, maar deur ‘n Hemelse Vader wat my in al my sonde raakgesien het en tog neergedaal het en my in elk geval liefgehad het. En as Jesus net daar in my hart kon fluister, dink ek dit sou iets gewees het soos;

“Whitney, Ek sien jou raak. Ek weet jou storie verskil van Myne, maar kan jy nie sien nie… dit is hoekom Ek gekom het. Gaan dan en reik uit na net éen in My Naam en kyk wat my krag kan doen.”

Sê my, wie staan voor jou … wagtend om raakgesien te word en om liefgehê te word met die liefde van Christus?

Jou kind… wat wil hê dat jy jou foon moet neersit en in hulle oë kyk en regtig hoor wat hulle wil sê?

Jou vriendin… wat smag na iemand om haar te vra hoe dit regtig met haar gaan?

Jou familielid… wat nie haar leegheid kan beskryf nie, maar tog weet dat daar soveel meer is om voor te lewe?

Jou man… wat smag na jou glimlag, jou respek en die ondersteuning wat jy eens so vrylik vir hom gegee het?

Die weduwee. Die weeskind… wat desperaat wil weet dat hulle nie alleen in hierdie wêreld is nie?

Die verlore siel… wat nooit heel sal voel totdat sy voorgestel is aan die Een wat sien en weet en perfek liefhet, maak nie saak wat sy gedoen het nie?

En die koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’ ~ Matteus 25:40

‘n Uitgestrekte hand.

‘n Onbaatsugtige daad.

‘n Tree in geloof.

Sal jy die een wees, in Jesus se naam? Want jy sal nooit weet wanneer jy, deur éen te bereik, dalk die hele wêreld bereik nie…

By Sy voete,

Kom Ons Gesels: Is daar iemand wat God op jou pad geplaas het, wat wag om raakgesien te word? Watter eerste stap kan jy hierdie week neem om uit te reik na daardie persoon met God se liefde?

Week 2 Uitdaging: Wie is die een persoon na wie toe jy kan uitreik hierdie week? Vind maniere om daadwerklik op te tree en jou hand uit te steek, in geloof uit te stap en soos Jesus te dien.

 

 

Hoe om verstandig te leef

Hoe om verstandig te leef

Deur Jen / 27 September 2019 / Ester

 

Vandag se vers kom uit Efesiërs 5. Ek dink nou al vir ‘n rukkie oor die vers na en ek wil graag die volgende met julle deel.

Efesiërs 5:15 sê “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges.”

Hoekom moet ons verstandig lewe? Paulus sê vir ons in vers 16, “want ons lewe in ‘n goddelose tyd.”

Daar was baie onheil in Ester se tyd… net soos daar vandag ook is. Hierdie week word Ester geroep na die hof van ‘n koning wie se leefstyl buitensporig en luuks is. Ons sal dit duidelik sien wanneer ons bestudeer hoe hy te werk gaan om ‘n nuwe koningin te soek. Ester sal moet lig loop en baie verstandig lewe om haar mense te red.

Wanneer dit by onheil kom is ons kultuur nie veel anders nie. Jy kan nie die TV aansit sonder om van die aaklige goed wat in die wêreld gebeur, te sien nie. Party van dit is hartseer en ander is skrikwekkend. Ek is ook positief dat daar onheil in ons eie tuisdorpe is, of jy nou in ‘n klein dorpie woon of in ‘n groot stad. Onheil is oral.

Paulus herinner ons om versigtig te lewe, omdat daar sondes en onheil in die wêreld is.

Hoe kan ons dan ons kultuur, waarin daar soveel onheil is, betrek? Hier is ‘n paar punte wat ons sal help om oor ons kultuur na te dink.

Verwerp wat sleg is.

Daar is baie verskriklike dinge in ons wêreld. Onheil soos mensehandel, pornografie en rassisme is ‘n paar wat voor die hand liggend is. Maar daar is ook ander wat nie so opsigtelik is nie. Materialisme, ontevredenheid, selfsugtigheid, luiheid en geregtigheid is ook van die euwels wat ons moet verwerp en teen baklei.

Neem dit wat goed is aan

Daar is baie skoonheid en waarheid in hierdie wêreld. Alle mense is na die beeld van God geskape, wat aan elke mens waarde en betekenis gee. Kreatiwiteit is een van die karaktereinskappe wat ons het omdat ons in God se beeld geskape is. Daarom kan ons wonderlike musiek en kunswerke waardeer. Ons kan ook humanitêre veldtogte, ramphulp, lukrake goedhartigheid en baie van die feeste wat ons gemeenskappe aanbied, ondersteun.

Herbou wat gebroke is

Daar is sommige goed in ons kultuur wat gebroke is wat ons nou moet herbou. Dinge soos die onderwysstelsel, die regering, families en huwelike, mense se lewens en woonbuurte, om maar net ‘n paar te noem.

Die wêreld is ‘n gevaarlike plek, maar ons is hierheen gestuur. Alhoewel ons nie die wêreld as ons tuiste moet beskou nie, moet ons hier wees, maar ons is nie van hier af nie… en dit verg wysheid. Dieselfde wysheid wat Ester nodig gehad het om die Jode te red.

Kyk na Hom,

 

 

 

 

 

 

 

God is altyd aan die werk

God is altyd aan die werk

Deur Jen / 26 September 2019 / Ester

Een van my gunsteling karaktertrekke van God is sy sorgsaamheid. Ek kan heeldag daaroor lees en praat, want as ek maar net om my kyk, besef ek gou hoe min beheer ek oor my lewe het. My gebrek aan wysheid laat my soms swak besluite neem, en dis ‘n feit, maar die waarheid dat my God nie net oor alle mag beskik nie, maar dit gebruik om alles tot sy eer en my beswil te orkestreer, het ‘n kalmerende en bevrydende uitwerking op my en gee vir my vrede.

Die sorgsaamheid van God is die voortdurende werksaamheid van die Skepper waardeur Hy in oorvloedige rykdom en welwillendheid sy skepsels in ‘n geordende bestaan onderhou en lei; alle gebeure, omstandighede en vrye dade van engele en mense beheer; en alles volgens hul bepaalde doel en tot sy eie glorie rig.
J.I. Packer

In ons studies hierdie week maak ons alreeds kennis met God se voorsiening wat begin met Koning Ahasveros se uitspattige onthaal.

Koning Ahasveros was ‘n baie trotse man. Hy was veral trots op sy koninkryk en het besluit om te wys presies hoe belangrik hy was. Hy het begin deur 180 dae lank sy rykdom ten toon te stel en toe afgesluit met ‘n week lange onthaal en ‘n ongelooflike oordadige ete.

Die skrywer wys daarop dat wyn vrylik gevloei het en dat almal soveel kon drink as wat hulle wou (vs. 7-8). In hierdie konteks het die koning besluit om ten slotte, sy koningin te vertoon. Sy weier egter om te kom. Ons word nie vertel waarom sy so blatant sy wense verontagsaam het nie. Die rede maak nie regtig saak nie. Die punt is dat sy verseg het om te kom en die koning is briesend (vs. 12).

Hy is so woedend oor haar hardnekkige weiering om sy opdrag te gehoorsaam dat sy haar posisie en titel as koningin ontneem is. ‘n Bevel word aan die hele land uitgevaardig dat vroue hul mans moet eerbiedig (vs. 20).

Dis moeilik om uit te maak of Vasti verkeerd was of nie. Party spekuleer dat sy naak sou moes paradeer, ander dink sy kon een of ander mismaaktheid gehad het; sommige meen dat sy haar nie wou blootstel aan die opmerkings en aangapery van honderde mans in verskillende grade van dronkenskap nie. Wat die rede ook al was, haar besluit is as disrespek beskou.

Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ‘n vrou moet aan haar man eerbied betoon.Efesiërs 5:33

Efesiërs 5:33 sê dat vroue hul mans moet respekteer, maar wat beteken dit en in watter mate moet ‘n vrou haar man respekteer? Is dit disrespekvol om te weier om sy sondige raad en opdragte te volg? Natuurlik nie. ‘n Vrou wat weier om die sonde van haar man na te volg eer die Here en respekteer haar man deur hom minstens van potensieel meer sonde en moeilikheid weg te lei. Maar niks hiervan is ter sake in die teks nie.

Ester is ‘n historiese verhaal van God se diepe liefde en soewereine beskerming van sy volk. Die Jode sou hul in groot gevaar bevind maar nog voordat dit gebeur, is God alreeds aan die werk, besig om gebeure te orkestreer om mee te werk tot sy glorie en sy volk se veiligheid. Die feit dat Vasti die opdrag van die koning verontagsaam het, was deel van God se voorsorgplan om vir Ester plek te maak na die kroon.

Jy kan gerus wees dat wat ook al in jou lewe aan die gebeur is, God alreeds besig is om die stukkies saam te voeg.

Jy weet nie hoe jou verhaal gaan ontvou nie, maar wat ook al gebeur, God het ‘n plan en hiervan kan jy seker wees: dié wat hulle hoop in Christus alleen stel, sal in geloof deur God se Gees bewaar word, en eendag volkome van sonde en die dood verlos word, ‘n koninkryk en ‘n kroon beërf en hulle Verlosser tot in alle ewigheid van aangesig tot aangesig sien.

Moenie op swak oordeel die Here beoordeel nie,
Maar vertrou Hom vir sy genade;
Agter ‘n besorgde frons
Verberg Hy ‘n glimlaggende gelaat.

Sy planne sal gou ryp word,
En elke uur ontvou;
Die knop mag dalk bitter smaak,
Maar die blom sal soet wees.

William Cowper

Kyk na Jesus,

 

 

 

Ken jouself

Ken jouself

Deur Terria / 25 September 2019 / Ester

Hoofstuk 1 van die boek Ester is ‘n verhaal wat ons waarsku oor die gevolge van slegte besluitneming. In Ester 1:13-18 is daar baie lesse wat ons kan leer uit die dwase besluite wat Koning Ahasveros gemaak het.

Koning Ahasveros, beledig en verneder deur Koningin Vasti, laat sy raadgewers toe om sy leiding en sy aksies te bepaal. Die hoofamptenaar, Memukan, gemotiveer deur sy eie selfsugtige begeertes, stel voor dat hy die koningin verban. Dit was ‘n dwase besluit.

In die koning se verwronge gemoedstoestand, wat ‘n draaikolk was van alkohol, trots, woede en gegriefdheid,

het hy gefaal om homself te herken. Hy was nie in staat om op daardie tydstip sy eie rasionele besluit te neem nie. Inteendeel, Koning Ahasveros het sy outoriteit oorgegee aan raadgewers wat verkies het om hulself te bevoordeel, terwyl hulle essensieël sy huwelik beeëindig het.

Soos Koning Ahasveros, word dwase mense dikwels gelei deur hulle emosies. Dwase luister na die stemme wat pas by hulle emosionele intensiteit, en dit lei dikwels tot impulsiewe emosionele reaksies

Die wysheid van ‘n verstandige mens wys vir hom ‘n duidelike koers aan; die dwaasheid van ‘n dwase mens maak alles vals. – Spreuke 14:8

Dit is ‘n waardevolle les vir gelowiges. Dit is maklik om haastige besluite te neem gebaseer op ons self-gefokusde begeertes, ons wispelturige emosies en konstante groepsdruk.

Spreuke 14:8 leer ons dat die wyse mens sy weg verstaan.

Die wyse persoon weet wie sy is met Christus, maar sy is ook intens bewus van wat sy kan word sonder Christus.

Soos sy nader aan God beweeg, verkry sy nederige duidelikheid oor haarself.

‘n Wyse persoon identifiseer daardie kwesbare areas en blinde kolle in haar lewe en in haar gedagtes. Sy verstaan daardie swak areas waar sy verlei, gemanipuleer of mislei kan word.

As ons hierdie wysheid begeer, is die enigste plek waar ons dit ooit sal vind, by die bron van alle wysheid – God alleen.

Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? – Jeremia 17:9

Die sleutel om misleiding in ons lewens te vermy, is om elke gedagte, elke ervaring en elke besluit te filter deur die lig van God se Woord. In donkerte, besluiteloosheid, vrees of frustrasie, streef niks en niemand anders as God na nie.

Om God se Woord te ken en te glo, beskerm ons van misleiding en help ons van die versoeking om ons toewyding aan Hom op te gee.

Met baie hulp van die Heilige Gees en deur dit herhaaldelik toe te pas, sal ons vermoë om God en ons sondigheid duidelik te sien, met tyd meer sensitief word. Soos ons beter word om misleiding in ons lewens raak te sien, sal ons die vermoë hê om vinnig daardie dinge gevange te neem voor die waarheid van God. Donkerte kan nie voor die lig van God staande bly nie.

Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur. – Psalms 26:2

Hoe goed ken jy jouself?

  • Wat veroorsaak dat jy van God afdwaal of in sy goedheid twyfel?
  • Watter omstandighede het jou verlei om ‘n vinnige of desperate besluit te neem?
  • Het jy ‘n akkurate bepaling van wie jy is met en sonder God?

As ons nie oop is om die volle omvang van ons kleinheid en ons sondigheid te besef nie, sal ons nooit die omvang van God se grootheid en sy heiligheid besef nie.  

Hierdie kennis en begrip van onsself kan slegs gevind word in God alleen, want Hy is die Een wat ons innerlike wese ken en wat ons geskape het.

Ons moet nie vergeet dat God meesterlik die koning se dwase besluit georkestreer het sodat sy soewereine plan sou seëvier. Maak nie saak wat gebeur nie, God se planne kan nie gestop word nie.

Dit is bemoedigend om te weet dat wanneer ons faal in ons besluitneming – en ja, ons sal dikwels faal – God is steeds in staat om ons mislukkings te gebruik om ons geloof te versterk, ons nader na Hom te trek en ons selfs meer van sy genade, barhartigheid en vergifnis te leer.

Hoe kan ons vir jou bid vir leiding en wysheid met besluitneming?

Genade en vrede vir jou,

 

 

 

 

 

 

 

 

Wanneer planne nie uitwerk soos ons dit wil hê nie

Wanneer planne nie uitwerk soos ons dit wil hê nie

Deur Whitney / 24 September 2019/ Ester

Ek het ‘n jonger sussie.

Sy is pragtig, ruimhartig, skreeusnaaks en sy het die mooiste hare. Haar hare…regtig! Sy soek hoog en laag vir die perfekte geskenke vir haar vriende, sy sê amper nooit “nee” wanneer dit in haar vermoë is om te help nie, en sy het Jesus lief met alles wat sy het.

En haar somer het nie uitgedraai soos sy gedink het dit sou nie.

In April is haar ses-jaar oue seuntjie gediagnoseer met kanker. ‘n Kanker wat aggressiewe chemoterapie vir vier maande as ‘n binnepasiënt sou vereis. ‘n Kanker wat sou beteken om na ‘n ander provinsie toe te gaan om nader aan die behandeling en familie te wees. ‘n Kanker wat vereis het om ‘n balans te probeer vind tussen hospitaal, werk en twee ander kinders by die huis, op ‘n hoeveelheid slaap waarop niemand moet probeer oorleef nie. ‘n Kanker wat ‘n uitdaging sal wees op die gemak en stabiliteit van die lewe wat so baie mense as vanselfsprekend neem.

Ek sal nooit die dag vergeet toe sy my gebel het om my die nuus te vertel nie. Ek kon nie ophou huil nie, en sy was aan die anderkant van die lyn besig om my te troos. Om my te vertel dat God goed is. Dit is net wie sy is.

Sy kon toegelaat het dat vrees, wrokke, woede of selfsug die oorhand kry. En wie sou haar werklik blameer? Maar elke keer as ek met haar gepraat het, het daar iets heeltemal teenoorgesteld van die omstandighede uit haar mond gekom. Haar reaksie op die lewe wat sy nooit sou beplan nie?

Sy het God geloof en sy het ander gedien.

Sy het openlik haar geloof gedeel op baie dapper maniere, konsekwent die fokus van haarself afgeneem en mense na Jesus gewys. Sy het haar gedagtes gevul met die waarheid van God se Woord en het dank betuig in beproewing op beproewing. Haar wese was een van vreugde, wat haar volle vertroue in haar kragtige God getoon het. Sy het dag en nag opofferend gedien in die hspitaal en sy het die rare oomblikke wat sy vir haarself gehad het, gebruik om geskenkies bymekaar te maak om ander pediatriese kankerpasiënte en hulle families te bemoedig.

Sy het oor en oor van haarself gegee, omdat sy, as ‘n dienaar van Christus, weet dat haar lewe bedoel is om weg te gee.

Weet julle wat die mooiste deel van dit alles is? Toe ek haar vra of ek haar verhaal met julle almal kan deel, was haar enigste versoek, “Maak net seker dat dit nie oor my gaan nie. Maak dit alles oor Jesus. Hef sy naam hoog op.”

 Dit is nie oor my nie. Wow.

Ester, Hoofstuk 1 vertel ‘n verhaal wat baie anders is. Koning Ahasveros se lewe was alles oor hom.

“By dié geleentheid het die koning al die rykdom waarmee sy koninkryk kon spog, al die prag en praal daarvan, honderd en tagtig dae lank vertoon.” ~ Ester 1:4

Sy koninkryk.

Sy majesteit.

Sy naam.

En toe al Ahasveros se beplanning en krag en selfvertroue vir hom nie gee wat hy wou gehad het nie?

“Toe het die koning baie kwaad geword. Hy was woedend” ~ Ester 1:12

Ek verstaan dit.

Ek hou van orde. Ek hou van voorspelbaarheid. Ek hou daarvan wanneer ‘n goeie plan uitwerk.

Dit alles voel veilig in die oomblik. Dit voel verantwoordelik. In beheer. Dit laat my nie té ongemaklik voel nie en dit red so dikwels my reputasie.

Maar wat is my reaksie wanneer dinge nie uitwerk soos ek dit wil hê nie? Sal ek “God loof en ander dien?” Of sal ek“kwaad en woedend word?”

Die wêreld sal ons vertel dat ons verdien om vas te hou aan vrees, wrokke, woede, uitputting en selfsugtigheid. Dit sal ons vertel om te veg vir ons gemak en ons reputasies. Dit sal ons vertel om uit te kyk vir onsself en om ons “koninkryke” ten enige koste eerste te stel.

Maar as ‘n dienskneg van God, is ek geroep tot ‘n ander standaard. Ek is geroep om God se soewereiniteit met ope arms aan te neem, selfs in minder as ideale omstandighede. Om ‘n lig te wees in ‘n wêreld wat desperaat nodig het om Jesus te sien. Om my lewe neer te lê, sodat my Verlosser se naam verhef kan word.

God, help my om te fokus op Waarheid in plaas van die beproewing.

Help my om dank te betoon in plaas van om in te gee tot vrees.

Help my om vreugde in plaas van woede te kies.

Help my om te vertrou in u krag, in plaas van my plan.

Help my om u naam op te hef, in plaas van my eie.

Wanneer iemand my verhaal vertel… mag hulle sê dat dit nooit oor my was nie, en alles oor Hom was.

“Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe…” ~ Psalm 115:1

By sy voete,

 

Kom ons gesels: Gaan jy op die oomblik deur ‘n moeilike tyd wat jou reaksie beproef? Hoe kan jy reageer op ‘n manier wat God eer?

 

 

Die Keuse Is Joune

Die Keuse Is Joune

Deur Angela | September 23, 2019 | Ester

Liewe vriendinne,

Ek is so bly dat julle by ons aansluit vir ons studie van die ongelooflike boek, Ester. Dit is geen toeval dat ons vir die volgende ses weke deur hierdie kragtige boek gaan werk nie, “met die oog op ‘n tyd soos hierdie.” Voordat ons begin wil ek hê dat jy weet dat daar vir jou gebid is. Ongeag of jy ‘n Christen is vandat jy kan onthou en jou Bybel al ‘n bietjie stukkend raak, en of jy ‘n nuwe Christen is en dit die eerste keer is wat jy God se Woord lees… jy is welkom hier.

Vir diegene van julle wat nuut is en onbekend is met ons SOAP metode, dit word hier verduidelik.

Kom ons begin… ek kan eenvoudig nie langer wag nie!!!

God se Woord is waarlik ongelooflik! Ester is ‘n boek wat ongeveer 470 V.C geskryf is en dit gaan oor ‘n meisie wat ‘n weeskind was in antieke Persië, en haar ongelooflike reis om koningin van die kragtige Persiese Ryk te word. Deur God soewereiniteit en Ester se vasberade gehoorsaamheid, het Hy Ester gebruik om haar mense van uitwissing te red. Selfs al is God se naam nooit in die boek Ester geskryf nie, is sy Goddelike vingerafdrukke reg deur die boek sigbaar. Ons leer uit Ester dat daar niks soos “toeval” is nie, en alhoewel God met tye soms ver of selfs afwesig voel in ons lewens, is Hy nie. Moenie geflous word nie… dinge wat in ons wêreld gebeur is nie toevallig nie, en dit is ook nie lukraak nie… Alhoewel vrees met tye kan inkruip, moet ons onthou dat niemand: nie ‘n koning, president of terroris God se planne vir sy mense tot niet kan maak nie. Hierdie ongelooflike verhaal van ‘n “niemand” wat ‘n “iemand” word, is vir elkeen van ons… veral in die lig van die wêreld rondom ons.

Ons leef in ‘n tyd van onsekerheid. Maar, elke dag as ons ons oë oopmaak om die seën van nog ‘n sonsopkoms te verwelkom… het ons ‘n keuse. Ons kan kies om ons lewens in vrees te leef of ons kan kies om ons lewens in geloof te leef. Ester demonstreer hierdie keuse vir ons. Soos ons hierdie kragtige verhaal saam lees, wees bemoedig dat God in die besonderhede van Ester se lewe en ook in joune is. God se wil word volbring deur die goeie, die slegte, die gelukkige en die pynlike dae van ons lewens.

Ongeag van wie in beheer is in ons lande, God is steeds op die troon in die hemel.

Ons leef in moeilike tye. Net soos Ester, duisende jare gelede in antieke Persië, voel dit soms asof ons wêreld uit beheer uit spin… en dat die bose besig is om te wen. Maar skep moed my liewe vriendinne, en hou vas aan die versekering wat ons in Deuteronomeum 31:6 vind…

Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.

God is altyd met ons.

Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.

Ons word geroep om moed te hou en dapper te wees, wat vir my vertel dat daar tye in ons lewens gaan wees waar ons óf ‘n lewe van geloof óf vrees moet kies.

Hou moed, God sal dít wat Hy begin het, end-uit voer.

Filippense 1:6 herinner ons aan hierdie waarheid:

Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

Alhoewel hierdie lewe moeilik, teleurstellend en met tye hartverskeurend kan wees, hou ons aan die waarheid wat ons in Romeine 8:28 vind, vas:

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

Soos ons hierdie studie saam begin, bid ek dat jy bemoedig sal word deur Ester se voorbeeld en dat jy sal kies om doelgerig ‘n lewe van dapperheid, selfopoffering en vol geloof sal leef. Ons het nie al die antwoorde nie. Situasies in ons lewens mag buite beheer wees… maar ons kan kies om ons lewens op Hom, die Een wat al die antwoorde het en wat die hele wêreld “in sy hande” het, te fokus.

Ons vertroue en geloof is in Hom geanker.

Hê God Groots Lief,

Kom ons gesels:

Omdat vandag die eerste dag van ons studie is, sal ons graag wil weet van waar julle by ons aansluit en wat is een ding waarna jy uitsien om meer van te leer in die boek Ester?

Week 1 Uitdaging: Kies geloof bo vrees! Skryf in jou joernaal hoe jy hierdie week doelgerig gaan veg vir geloof en nie ingee tot vrees nie! Skryf sommige van die verse in vandag se bloginskrywing neer. Reik dan uit na ‘n vriendin en laat haar bid vir jou in hierdie area van jou lewe! Ons moet mekaar in gebed ondersteun!

Week 1 Leesplan

Week 1 Memoriseervers

Inleiding tot Ester

 

Inleiding tot Ester

Deur Angela | September 19, 2019

Die boek Ester is ‘n vreemde boek in die sin dat dit een van twee boeke in die Bybel is waar God nie by die naam genoem word nie. Hierdie feit hinder baie mense, sommige het selfs bevraagteken of dit in die kanon van die Skrif opgeneem moes word al dan nie.

“… alhoewel die naam van God nie daarin vermeld word nie, rig die vinger van God in baie fyn detail die gebeure om die bevryding van sy volk te bewerkstellig.’ ~ Matthew Henry

God hoef nie genoem te word nie, want sy werke is duidelik. Ons sien sy hand aan die werk deur al die besonderhede van hierdie fassinerende verhaal, reg van hoofstuk 1 af, met die verregaande partytjie van koning Ahasveros. Hierdie uitspattige gebeurtenis het die val van Koningin Vasti teweeggebring en die weg gebaan vir ‘n jong Joodse meisie om koningin te word. Deur Koningin Ester het God voorsien dat sy volk bewaar word.

Hierdie drama sal ons wegvoer na die Persiese hof van Koning Ahasveros, sestig jaar na die eerste terugkeer van die Joodse ballinge na Jerusalem, en nadat die tempel in Jerusalem herbou is. Ester vind plaas gedurende dieselfde tyd as die gebeure in Esra, wat die eerste en tweede terugkeer van die Jode uit die ballingskap in Babilon beskryf.

Op daardie tydstip is Ahasveros op die troon, en hy is ‘n magtige, welgestelde koning. Hy het hierdie rykdom van sy vader Darius geërf, en hy was nie skaam om daarmee te spog nie. Dis hier waar ons studie sal begin.

Die tema van die boek Ester is die sorgsaamheid van God vir sy mense.

Dit is ons hoop dat Romeine 8:28 ná ons studie van Ester lewend sal word vir ons. Ons bid dat die waarheid dat “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” vir ons meer betekenis sal hê en dat ons meer bewus sal wees van die sorgsaamheid van God in ons lewens. Ons verlang om volgelinge van Christus te wees wat vol vertroue is dat selfs wanneer God stil is, Hy steeds met doelgerigte presisie werk tot sy eer en ons beswil.

 Sluit by ons aan en leer saam met ons meer oor die karakter van God deur hierdie inspirerende boek. Mag ons die werking van God se hand in ons eie lewens sien en geïnspireer word om God des te meer lief te hê.

 

 

 

Moenie Dit Net Dink Nie, Spreek Dit Ook Uit

Moenie Dit Net Dink Nie, Spreek Dit Ook Uit

Deur Angela | September 4, 2019 | Woorde Maak Saak

Te midde van my soektog na ‘n manier om ons gesprek te begin oor hoekom bemoedigende woorde saak maak, en oor die noodsaaklikheid en dringendheid daarvan om dit te uit te spreek, het die ondenkbare gebeur. Ons geliefde vriendin, LGG-vertaler, leier en rolmodel Edurne, is oorlede. ·

Edurne was persoonlik ‘n aanmoediger. Gesprekke met haar was ’emmervullers’, en ek het altyd meer hoopvol en meer tevrede gevoel daarna.·

  • Sy was ‘n aanmoediger van ver af. Edurne het in ‘n afgeleë dorpie in Venezuela gewoon.
  • Sy het daagliks swaargekry en ‘n wisselvallige internetverbinding gehad, maar dit het haar nooit verhinder om bemoedigende aantekeninge en herinneringe te stuur dat sy ywerig bid nie.·
  • Selfs na haar dood leef haar bemoedigende woorde voort en is dit deel van haar nalatenskap.

Haar woorde het saak gemaak. En maak nog steeds saak. 

Vriende, die wêreld is moeilik. Op die beste voel dit onvoorspelbaar. Te gereeld voel dit verpletterend en aaklig. En in ‘n wêreld waar daar soveel “stemme” en soveel geraas is – sosiale media, TV, Twitter – is dit des te belangriker dat ons ware stemme gehoor word. Ons is so verbind, maar soveel mense voel waardeloos en alleen.

Laat ons nie deel uitmaak van die raserige, sekulêre chaos van die wêreld nie deur ons stilswye nie. Jou woorde maak saak.

Wat sê ons dan? Dit hoef nie gepoleer of profeties te wees nie, maar besef dat jou woorde kan bou of vernietig. Die Bybel het baie te sê oor die belangrikheid daarvan om ‘n aanmoediger te wees:

  • “Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.” – 1 Tessalonisense 5:11
  • “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.” – Hebreërs 10:24

Vertel mense die goeie wat jy in hulle sien. Voed die gees van jou kinders. Wys die aangename eienskappe van jou maat aan. Soek die mense wat te dikwels misgekyk word om hulle ‘n bemoedigende woord te gee. Wees opreg en wees doelgerig. ·

  • Moedig medegelowiges aan om die goeie stryd te stry totdat Christus weer kom.·
  • Moedig nie-gelowiges aan, sodat hulle deur jou onwrikbare hoop en vreugde verwonder sal wees (en dit ook sal soek).

Moedeloosheid is die werktuig van Satan, en die Skrif waarsku ons om ‘nie verhard te word deur die misleiding van die sonde nie’ (Hebreërs 3:13). Satan skep ‘n ontmoedigende siklus wat ontevredenheid kweek en ontnugtering skep.

Maar vriende, ons het die mees kragtige aanmoediging in Jesus. 

Wees die lig. Wees die een wat waarheid praat. Wees die stem wat genade betoon. Wees die lied van hoop. 

Jou woorde maak saak.

 

Jou Gebede Maak Saak

Jou Gebede Maak Saak

Deur Angela | September 2, 2019 | Woorde Maak Saak

“Ons gebede mag soms ongemaklik voel. Ons pogings soms flou. Maar omdat die krag van gebed lê in die Een wat dit hoor en nie die een wat dit sê nie, maak ons gebede ‘n verskil.” – Max Lucado.

Ek dink een van die grootse leuens waarna baie van ons in die kritiese tyd van vandag luister, is die leuen dat ons gebede nie saakmaak nie.

Die leuen dat ons gebede nie saakmaak nie en niks gaan verander nie, weerhou ons daarvan om doelgerig gebede te bid wat ons wêreld dramaties gaan verander.

Hierdie leuen weerhou ons daarvan om ‘n dieper verhouding met Jesus te ontwikkel en maak ons oneffektief. Hierdie leuen maak dat ons veilige gebede bid. Gebede waar die woorde generies is, en ons weet nooit of God dit beantwoord of nie. Hierdie gevaarlike leuen weerhou ons daarvan om uit te gaan in vaste vertroue en om God te vertrou met die onbekende.

En dit is presies wat satan wil hê.

Hy wil nie hê dat ons gebede bid wat ons geloof sal versterk nie – gebede waar die enigste antwoord tot hul vervulling, God is. Gebede, wanneer dit beantwoord is, help ons om God se kragtige werking in ons lewens te sien en laat ons geloof groei.

Daardie is die tipe gebede wat satan laat bewe en vlug. Daardie is die tipe gebede wat ons nodig het om kragtig te bid…gebede wat die wêreld sal verander.

Luister, maak nie saak hoe jy voel nie, jy MOET weet dat jou gebede saakmaak!

Een van my mees gunsteling voorbeelde van hierdie waarheid is in Daniël 10:12. Hier sien ons dat Daniel ernstig bid en ‘n paar dae later ‘n antwoord op sy gebede ontvang met die woorde: “Ek het gekom in antwoord op jou woorde…”

God stuur letterlik ‘n engel om Daniël se gebed te antwoord en hom te vertroos. Sy woorde het saak gemaak en joune maak ook saak.

So, in plaas daarvan om generiese, gemaklike gebede te bid, kom ons draai die geloof knop groter oop en stap kragtig vorentoe deur gebede te bid waar God die enigste antwoord is op die vraag: “Hoe is dit moontlik?”

Omdat, aan die einde van die dag, is ons lewens nie oor ons nie, maar oor Hom. Ons dae is nie vir ons glorie nie, maar Syne.

Watter tipe gebede antwoord God kragtig?

Ek is so bly jy het gevra!

Kyk vir ‘n oomblik na die Onse Vader. Jesus het met hierdie gebed vir ons gewys hoe om te bid. Die fokus is nie op pragtige woorde nie, of hoeveel woorde nie, maar eerder woorde vanuit nederige harte wat hulself in lyn met God se hart bring.

Dink net hoe ons wêreld sal lyk as ons almal meer bid, dit meer ernstig opneem en WEET dat die woorde wat ons bid, ‘n verskil gaan maak in mense se lewens en ewighede.

Onder is ‘n kort lys van gebede wat God belowe om te antwoord:

“Wat julle ookal in My naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.” (Johannes 14:10)

“As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.” (Johannes 15:7)

“Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.” (Johannes 15:16)

“Daardie dag sal jullle nie meer vrae aan My stel nie. Dit verseker Ek julle” ‘Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 16:23-24)

Vriende, God belowe antwoorde op hierdie gebede. Kom ons wees vroue wat dapper genoeg is om dit te bid!

Kom ons bestorm die hemel met kragtige gebede wat in lyn met God se hart is en Sy Koninkryk oor die hele aarde sal uitbrei. Dink net watter impak daardie gebede sal maak – nou en in die generasies wat kom! Dink net watter rimpel effek jou gebede kan maak in die jare wat kom!

“God gebruik gebed as ‘n manier om Hom te leer ken. Deur te bid en te kyk hoe God reageer, ontdek ons die passie van God se hart en die krag van Sy antwoorde op ons gebede. Gebede dat God se Koninkryk die aarde sal vul en die volle geesdrif van die hemel sal aantrek.” Dr. Greg Pruett.

Vriende, kom ons wees almal deel hiervan! Kom ons bid gebede wat die hemele laat prys en God se Koninkryk aarde toe laat kom! Jou woorde maak waarlik saak!

Hê God Groots Lief!

Week 4 se uitdaging: Gebruik jou woorde om goed te doen! Bid kragtige gebede, praat namens hulle wat nie vir hulself kan praat nie en dank God elke dag vir iets of iemand in jou lewe!

Week 4 Leesplan

Week 4 Memoriseervers