Standvastig en Oorvloedig

Standvastig en Oorvloedig

Deur Brittany / 13 Maart 2020 / Opgestaan

Ek sit onlangs oorkant ‘n vriendin wat pas ‘n roudiens bygewoon het. Ons gesels en lag so ‘n bietjie voordat ek die gevreesde vraag vra: “Hoe gaan dit nou regtig met jou?” Sy sug effens en gee toe die vreemdste antwoord wat my bygebly het: “Ek is baie hartseer maar ek is altyd dankbaar vir die droefheid want dit herinner ‘n mens daaraan dat hierdie wêreld nie ons tuiste is nie.” Met trane wat langs haar wange afbiggel, haal sy die bekende woorde aan wat ons vandag in 1 Korintiërs 15 gelees het: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel? Die angel van die dood is sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.” Ons het die res van ons tyd saam gesit en ernstig besin oor nalatenskap en hoe ‘n lewe volkome gewy aan die koninkryk ‘n lewe is wat die moeite werd is.

Hierdie gedeelte in 1 Korintiërs 15 is kragtig omdat dit ons daaraan herinner dat hierdie wêreld nie ons tuiste is nie, en dat ook dié liggame wat ons ontvang het, sal vergaan en eendag nuutgemaak gaan word! Verse 50-57 sê vir ons dat selfs die vernietigendste ding wat op aarde met ons kan gebeur ─ dood ─ oorwin is en in oorwinning omskep is vir dié wat in Christus is.

Vriendinne, dit is wonderlike nuus! Vir iemand wat met siektes en krankheid worstel, is dit iets waarna ons uitsien. Vir die weduwees, die bedroefdes, die gebrokenes van hart, kan hierdie oorwinning wat ons in Christus het, ons droefheid in vreugde verander omdat dit ons heenwys na ‘n onveranderlike hoop wat ons in Christus het. Ons sien reikhalsend uit na die dag wanneer alle dinge (ons liggame, ons verhoudings, ons hartseer) heelgemaak en in Christus herstel is. Tot dan is ons hoopvolle mense wat vas in die beloftes van God se Woord gewortel is.

Waarna verwys hierdie gedeelte? Wat doen ons totdat daardie heerlike dag aanbreek?

Kyk na 1 Korintiërs 15:58: “Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.”

Vriendinne, ongeag ons voortdurend veranderende omstandighede, word ons geroep om standvastig en onwankelbaar te wees, altyd oorvloedig in die werk van die Here. Dit is ‘n heilige oproep tot getrouheid.  Dit is om te vertrou dat die Here verseker sal doen wat Hy beloof het. Dit beteken om siekte en dood in die gesig te staar, en hoewel ons treur en seer het en huil, doen ons dit as mense wat hoop op ‘n ewige lewe wat die dood oorwin het. Dit beteken om met vrymoedigheid te verkondig dat God eendag, wanneer die dooies in Christus opstaan, elke traan van ons oë sal afvee. Dit beteken dat ons, as mense met hoop, vir die Here en sy koninkryk werk – en nie strewe na ons eie koninkryke hier op aarde nie, maar om ‘n ewige een te bou. Ons doen dit deur ons tyd, bronne en verhoudings vir ‘n ewige heerlikheid te bestuur, in die wete dat ons inspanning (groot of klein, gesien of ongesiens) nie tevergeefs is as dit in Christus is nie.

Dit beteken nie dat ons nie seer het of treur, of dat ons die pyn ignoreer terwyl ons wag nie. Mense met hoop ignoreer nie smart, gebrokenheid en hartseer nie. Inteendeel, hulle worstel daarmee omdat hulle seker is van volkome oorwinning deur Jesus Christus ons Here. Mense met hoop weet dat die lewe, hoe mooi ook al, uiters hard kan wees, maar ons weet dat ons God se belofte dat elke onreg eendag reggestel sal word, goed en waar is. Terwyl ons op Hom wag, wy verbind ons ons tot die werk van die Here, in die wete dat hierdie sterflike liggame sal pyn en kwyn en uiteindelik sal vergaan. Ons vind nie ons hoop in aardse vertroosting nie, maar slegs in Christus.

Dink hierdie week na oor wat dit beteken om in jou eie lewe standvastig en oorvloedig in die werk van die Here te wees. Bid en vra God vir wysheid hoe hierdie waarheid daagliks jou gedagtes en dade kan transformeer. Onthou dat die oorwinning wat ons in Christus het, ons in staat stel om as geliefde broers en susters wat getrou vir die Here werk, te leef.

Brittany Salmon

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s