Om Hom te Ken

Om Hom te Ken

Deur Terria / 16 Maart 2020 / Opgestaan

Toe ons hierdie nuwe dekade binnegaan het, het meer as sestig persent van die mense oor die wêreld heen weereens voornemens vir die komende jaar opgestel en doelwitte vir hulself gestel.

As jy enigsins soos ek is, maak jy stilweg voornemens met die wete dat jy nie vir ‘n hele jaar daarmee sal kan volhou nie.

Toe ek nadink oor my voornemens vir hierdie jaar, het ek besef dat hulle almal grotendeels dieselfde besluite is as wat ek die afgelope paar jaar geneem het en nie daarin kon slaag nie: Eet gesonder; bespaar meer en spandeer minder; lees die hele Bybel binne ‘n jaar; verbind jou tot  daaglikse Bybelstudie.

Fillipense 3:10-11 sê: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”

Ek is verstom  oor die fokus en enkele doel van die apostel Paulus vir sy lewe: om Jesus Christus intiem en passievol te ken. Paulus se doel was nie net om Hom te ken nie, maar om soos Hy te wees.

Paulus het homself daartoe verbind om:

  • Die dinge te verduur wat Jesus verduur het.
  • Deel te hê aan die pyn wat Jesus beleef het.
  • Die las te dra vir die verlorenes wat Jesus gedra het.
  • Gewillig te wees om lyding te ervaar ter wille van Christus.
  • Aan die self te sterf; gefokus op die toekomstige seën van ‘n ewigheid saam met Jesus.

Soveel passie en toewyding!

Paulus was bereid om te ly en te sterf, sodat almal wat hy teëgekom het, gered kon word, maar ek kla dat ek elke dag ‘n liter water moet drink.

Terwyl ek hierdie verse in Filippense lees en oor Paulus se doel vir die lewe nadink, besef ek dat ons deurgaans in die Bybel dikwels dieselfde patroon sien: dood voor lewe.

1 Petrus 2:24 vertel vir ons dat Jesus eers die wêreld se sondes gedra het en die dood wat ons verdien het, gesterf het. Nadat Hy die boete vir ons sondes betaal het, het sy opstanding sy mag oor die dood geopenbaar en die weg gebaan vir ons redding.

Dood voor lewe.

Romeine 6:6 leer ons dat, om verlossing te ervaar, ons eers moet sterf aan sonde om weer in ‘n nuwe lewe met Christus gebore te word.

Dood voor lewe.

Gelowiges moet aanhou om aan die self te sterf as deel van ons voortdurende transformasie om meer soos Jesus te word. Jesus maak dit duidelik dat as ons Hom wil volg en meer soos Hy wil word, ons onsself moet verloën. Ons moet ons oorgee en leegmaak van ons selfgerigte begeertes, gewoontes en agendas, terwyl God Homself in ons stort. Ons moet die drange en versoekings om ons emosies te bevredig en om ons selfgesentreerde gedrag te hervat, weerstaan. Die belangrikste is dat ons op God vertrou.

Paulus het dit bemeester. Hy het homself oorgegee om te ly en die moeilikste dinge vir Jesus te verduur, wetende dat die beste nog sou kom. Paulus het sy vleeslike begeertes prysgegee om Christus te volg, en Hom vertrou met sy aardse lewe en sy ewige veiligheid.

Dieselfde godvrugtige beginsels wat Paulus gedemonstreer het, kan toegepas word op die klein, oënskynlik onbeduidende kwessies in ons lewens. Baie van die redes waarom my nuwejaarsvoornemens misluk, selfs dié wat rondom my geestelike lewe gesentreer is, is omdat ek probeer om God in my eie krag te behaag. Om meer van God in my lewe te hê, moet daar minder van my wees. As ek nie minder word nie, hoe kan God dan meer word?

Terwyl ek na die krag van Jesus se opstanding in my lewe kyk, het ek besluit om na ‘n enkele voorneme te verander. Dit sal nie meer op 1 Januarie begin nie. Dit sal elke dag nuut begin.

My enigste besluit is om ‘n lewe te leef wat smag daarna om Jesus te ken. ‘n Lewe waarin ek my selfgesentreerde gewoontes aan Hom oorgee, of dit nou te veel spandeer, of te veel eet is. ‘n Lewe waarin ek die dinge wat my van God aflei, of dit nou afkomstig is van werk, sosiale media of Netflix, geleidelik en stelselmatig verminder, sodat Hy meer kan word in my lewe. ‘n Lewe waarin ek my daartoe verbind  om Jesus so lief te hê dat ek nie anders kan nie as om meer oor Hom te leer, meer oor Hom te dink, Hom te prioritiseer, oor Hom te praat en te begeer om Hom beter te leer ken.

Tot watter mate is jy bereid om Jesus beter te leer ken?

Vrede en genade aan jou,

Week 2 Uitdaging:  Terwyl jy hierdie week die eerste helfte van die kruisigingsverhaal in Matteus lees, let op die manier waarop Jesus reageer as ander paniekerig raak of oorreageer. Wat leer hierdie dinge jou van sy karakter?

Memoriseervers:

 

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s