Skuldig

Skuldig

Deur Kaitlyn / 23 Maart 2020 / Opgestaan

Ek sal nooit die eerste keer vergeet wat ek ware skuldgevoelens beleef het nie. Ek was in die laerskool, en ek en ‘n maatjie het een van ons klasmaats geterg deur sy waterbottel te steel en in die klas rond weg te steek. Mettertyd het hierdie seuntjie moeg geraak vir ons lawwe speletjie en het vir die juffrou gaan sê dat iemand sy waterbottel gesteel het. Ek en my maatjie het hart en mond belowe dat ons niks te doen gehad het met die saak van die raaiselagtige vermisde waterbottel nie. Ons onderwyser het ons geglo, en ons het gedink dat ons daarin geslaag het om straf te vermy. Daardie nag het ek vol skuldgevoelens in my bed gelê. Ek het só erg heen en weer gerol dat ek gevoel het ek het geen ander keuse as om te bieg nie. Ek het by die trappe afgesluip en het met oë vol trane vir my ouers vertel dat ek skuldig was.

Ek het al dikwels hierdie storie as ‘n komiese voorbeeld gebruik van hoe innig skuldig kinders kan voel oor “klein” sondes. Daar was iets ernstigs in my hartjie aan die gang: Ek het diep in my binneste geweet dat iets in my neig om verkeerd te doen.

Daar is iets ingebore in ons wat aanvoel dat die wêreld nie is soos dit veronderstel is om te wees nie: daar is duisternis, boosheid, mishandeling en onreg. Daar is ook iets in ons wat aanvoel dat ons is soos ons nie veronderstel is om te wees nie: ons begeer bose dinge, ons maak doelbewus slegte besluite, en ons doen dinge wat ander mense seermaak. Ons mag in verskillende omstandighede grootword, maar ons ken almal skuldgevoelens.

Sonder die belofte van die evangelie van Jesus Christus, is Openbaring 20:12-13 ‘n skrikwekkende profesie vir skuldige mense. Hoe jy ookal die gebeure in Openbaring 20 en 21 interpreteer, die waarheid is dat God belowe om alle boosheid in die wêreld te oordeel en te verslaan – en hierdie verse vertel ons dat ongelowiges geoordeel sal word op grond van wat hulle gedoen het. Selfs die “beste” onder ons behoort tereg die oordeel van God te vrees, aangesien die Skrif dit duidelik maak dat nie een van ons goed genoeg gedoen het om ‘n gunstige uitspraak te verseker nie.

Hierdie skrikwekkende belofte word egter fundamenteel verander vir diegene van ons wat op Christus vertrou: Hy het Homself onder oordeel geplaas en aan die straf vir ons sonde onderwerp.

Jesus is die enigste mens wat ooit ‘n lewe gelei het wat volgens sy dade waarlik as regverdig geoordeel kon word, en tog het Hy besluit om die oordeel wat ons verdien het, op te neem. Omdat Jesus geoordeel is vir wat Hy nie gedoen het nie, word ons gered van die oordeel vir wat ons wel gedoen het.

In die Skrifgedeelte uit Matteus wat ons gelees het, word klem gelê op Barabbas se menslikheid en sy skuld. Hy was ‘n “berugte gevangene” (27:16), skuldig aan baie misdade. Hy was ook ‘n gewone man: sy naam beteken “seun van ‘n vader,” ‘n generiese beskrywing wat op enigiemand van toepassing kan wees. Jesus word in sy plek gestraf: die een wat so onskuldig is dat selfs Pilates se vrou dit geweet het (27:19), en die een wat nie net enige “seun van ‘n vader” is nie, maar die Seun van die Vader God. Barabbas was ‘n geskiedkundige figuur wat straf ontsien is omdat die skares vir Jesus wou hê. Hy is ook die toonbeeld van die posisie waarin ons almal onsself bevind: gespaar van straf, want Jesus het in ons plek kom staan.

Baie van ons worstel met oorweldigende skuldgevoelens vir sondes wat baie anders is as om ‘n waterbottel te steel. Ons rol rond in die nag omdat ons ander mense seergemaak het of onsself op sulke ernstige maniere leed aangedoen het dat ons ons nie eers kan indink hoe vergifnis sal lyk nie.

Sommige van ons worstel met die leed wat ander ons aangedoen het: hoe kon Jesus die mense vergewe wat ons mishandel of uitgebuit het? Die evangelie lyk nie soos goeie nuus as dit aaklige sondes teen ons verontskuldig nie.

Die spanning tussen hierdie perspektiewe is wat Openbaring 20:12-13 sulke verbasende goeie nuus maak: ons is vry van die oordeel van ons sondes omdat Jesus daardie oordeel op Hom geneem het. Ons God neem nie boosheid ligtelik op nie. Hy het ons bevryding verlang, nie deur ons sonde te ignoreer nie, maar deur ons pyn en straf op Homself te neem.

Ons het ons Matteus skrifgedeelte vandag geëindig met die woorde, “en lei Hom weg om gekruisig te word” (27:31). Ons aanbid nie ‘n God wat boosheid en lyding ignoreer nie, ons aanbid ‘n God wat ons so graag wou bevry dat Hy die gevolge van sonde op Homself geneem het.

Kaitlyn Schiess

 

One thought on “Skuldig

  1. Baie dankie, Here Jesus dat U my skuld en sonde op Uself geneem het deur U kruisdood, sodat ek deur U vergewe en vry verklaar kan word om die Ewigheid saam met U in die hemelwoning tegemoet te kan gaan. Amen 🙏🙏🙏

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s