Die Vrees Om Nie In Beheer Te Wees Nie

Die vrees om nie in beheer te wees nie

Deur Angela / 1 Mei 2020 / Vrees en Angs

Van kleins af sukkel ek al met die vrees dat ek nie in beheer is nie. Ek dink my ouers se egskeiding het hierdie saadjie van vrees in my hart geplant. Om te sien waardeur my ma as enkelouer moes gaan het ‘n begeerte in my aangewakker om só in beheer van my eie lewe te wees dat ek nooit van iemand anders afhanklik hoef te wees nie. My naïwiteit het my laat glo dat, as ek van niemand afhanklik is nie, sou ek ook nie kwesbaar wees nie en daarom dan ook nie seerkry nie.

Hierdie vrees om nie in beheer te wees nie, het elke stadium van my lewe oorheers. Van watter universiteit om by te studeer, wie my toekomstige man moet wees, watter beroep ek moes volg en veral nou as ‘n ma. Die vrees om nie in beheer te wees nie, kan by tye amper verlammend wees as ek dink oor watter soort wêreld my kinders eendag gaan erf. ‘n Wêreld van …

Geweld in skole

Terrorisme

Selfmoord

Dwelms

Chaos

Onmin

Wetteloosheid

Die minagting van waarheid

En die lys gaan voort …

Soveel in die lewe is buite ons beheer en dit is genoeg om ons op ons knieë te dwing …

Dit is presies wat ons moet doen … op ons knieë gaan in gebed.

In Lukas 12:22, herinner Jesus in Sy liefde ons dat om ons te bekommer nie die antwoord is nie. Ons moet ons nie bekommer oor daaglike dinge soos wat ons gaan eet of wat ons gaan aanttrek nie. Hy verwys na Sy skepping om nie net vir ons te sê dat ons onsself nie moet bekommer nie, maar Hy gaan ‘n stap verder om ons te help om Sy liefde in aksie te sien. Moenie bekommerd wees nie. Hoekom? Want selfs die kraaie word deur God versorg. Hy sorg vir hulle en voed hulle … en geliefde, jy is baie belangriker en meer waardevol vir God as die kraaie. As Hy dit vir hulle doen, dink net hoe Hy vir jou in jou lewe voorsien!

Ek sal eerlik met julle wees en sê ek is nie 100% vry van my vrees om nie in beheer te wees nie, maar ek het die afgelope jare ‘n paar dinge geleer wat ek graag met julle wil deel. Hierdie waarhede het my gehelp om meer oorwinnings oor vrees te hê oor die jare en ek bid dat hulle dieselfde vir julle sal doen.

  1. Dit gaan oor oorgawe – ons is nie God nie.
  2. Dit gaan oor gebed – bid eerder as om bekommerd te wees.
  3. Dit gaan daaroor om God se waarheid jou eie te maak – God se Woord is KRAGTIG!
  4. Dit gaan daaroor dat ek God se waarheid in my lewe in werking moet bring – moet dit nie net lees nie, LEEF Sy Woord, pas dit prakties toe in jou lewe!
  5. Dit gaan oor vertroue in God. Hy is goed. Hy het jou lief. Hy kyk uit vir jou en sal jou nooit verlaat nie. Daar is nie ‘n pad wat jy alleen hoef te loop nie.
  6. Erken dat dit oor Sy koninkryk hier op aarde gaan – ons lewens gaan nie oor ons, ons eie klein koninkrykies of ons glorie nie.
  7. Dit gaan daaroor om ons geloof te vermeerder, nie ons bekommernisse nie – voed dit wat jy wil laat groei!
  8. Dit gaan daaroor om die verskil tussen behoeftes en begeertes te onderskei. God beloof nie dat Hy ons al ons begeertes sal gee nie, maar Hy sal wel in al ons behoeftes voorsien. Vertrou Hom vir hierdie belofte.

Fokus vandag op hierdie waarheid: Moenie angstig wees oor jou lewe nie … in plaas daarvan om jou te bekommer, kies om te vertrou … selfs al verstaan jy nie ​​wat God doen nie.

En onthou … die beste moet nog kom. Hierdie wêreld is nie ons tuiste nie, ons het die hemel om na uit te sien!

Hê God Groots Lief,