Waar Is Jou Geloof?

Waar is jou geloof?

Deur Sara / 4 Mei 2020 / Vrees en Angs

Vir diegene van ons wat in die kerk grootgeword het, mag die bespreking van vandag se vandag se verse soos ‘n verbode onderwerp lyk. Ons glo. Ons is gered. Ons ken al die ‘Sondagskool-antwoorde’. Maar as ons eerlik moet wees, het ons tog nog oomblikke – miskien weke, selfs seisoene – van twyfel en ongeloof.

Soms voel ons geloof klein.

“As julle maar geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan.” Matteus 17:20

Soms voel ons geloof baie klein.

Gelukkig is ons nie alleen nie. Die Bybel is besaai met verhale van mense wat net soos ons getwyfel het. In vandag se verse sien ons hoe die dissipels se geloof gewankel het in die skuit op die See van Galilea. Hierdie manne was ooggetuies van die wonderwerke wat Jesus verrig het, tog het hulle steeds getwyfel in Sy vermoë. In die Ou Testament het Moses die Israeliete uit die slawerny in Egipte gelei, maar toe hulle ‘n verkenningsverslag kry oor wat hulle in Kanaän te wagte is (“… die mense wat in die land woon is sterk en die stede is versterk en baie groot.” Numeri 13:28) het die meerderheid dadelik paniekbevange geraak en gevra: “Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie?” Onthou, hierdie mense het onlangs gesien hoe hulle oudste seuns gespaar is voor die Pasga. Hulle het al die plae in Egipte gesien en letterlik deur ‘n verdeelde Rooisee geloop.

Twyfel is nie iets nuut of uniek nie.

‘n Storm is die perfekte analogie vir die vuurtoets van ons geloof. Dis maklik om God te loof en ons geloof uit te leef en te verkondig wanneer die lewe rustig en kalm is. Die vuurtoets van die lewe – die storms – is wanneer ons geloof werklik getoets word. Christene word nie ‘n rooskleurige pad belowe nie.  Die realiteit is dat ons geloof deur die druk van die lewe verfyn word.

Ek het gesien hoe vriende die ondenkbare verduur, maar aan God vasklou, en geskend, maar sterker anderkant uitkom. Ek het ook mense gesien wat afvallig geraak het van hulle geloof wanneer dinge nie maklik was nie. Ek het albei gedoen.

So, hoe groei ons in ons geloof? Hoe tem ons die twyfel binne ons?  Hoe maak ons die ongeloof in ons stil?

Ons vertrou dat God ons sal red en ons verander ons verwagtinge van hoe dit mag gebeur. God het belowe dat Hy ons nooit sal verlaat of in die steek laat nie.  (Hebreërs 13: 5). Soms lyk verlossing soos die storielyn wat ons in die midde van verdrukking sal skryf. Hy genees ons siekte, beskut ons teen natuurrampe, beskerm ons huwelike en voorsien finansieël vir ons. Soms lyk dit glad nie soos die plan wat ons in gedagte gehad het nie. Hierdie bevryding neem dan ‘n ewige perspektief aan wat ons van die wêreld bevry. (Paulus het gesê: “… om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” Fil. 1:21).

‘n Wyse vriendin het vir my ‘n gewoonte geleer wat van diepgaande en praktiese waarde is om my eie geloof te versterk. Sy het my geleer om baie spesifiek te bid en om daardie gebedsversoeke neer te skryf. Ons raak so besig dat dit verbasend maklik is om God se antwoorde op ons gebede mis te kyk. Ek het gevind dat om ‘n spesiefieke, kort lysie te hou, my help om te onthou en te waardeer watter magdom antwoorde God op my gebede gee en ook hoe Hy op ‘n deurlopende basis voorsien.

Ek wil nie ‘mooiweersgeloof’ hê nie. Ek verlang ‘n veerkragtige, sterk geloof wat diep gewortel en veilig is. My gebed is soos dié van die vader wat Jesus gesmeek het om sy seun van ‘n demoniese gees te genees: “Ek glo! Help my in my ongeloof.” Markus 9:24

Ons bid vir geloof dat Hy die storms sal kalmeer. En selfs as Hy dit nie doen nie, dat Hy ons sal bystaan wanneer die stortreën kom.

Hemelse Vader, gee my asseblief die geloof om meer op U te vertrou en help my in my ongeloof.

Genade en vrede,

 

Week 2 Uitdaging: Voltooi hierdie stelling in jou joernaal: “Ek sal God vertrou met …” Maak dan ‘n lys van drie tot vyf dinge wat jy kan doen om God in hierdie area te vertrou.