O, Hoe Lief Het Hy Jou Nie…

O, Hoe lief het Hy jou nie…

Deur Whitney / 13 Mei 2020 / Vrees en Angs

“Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” – Romeine 8:35, 37-39

Die huis is nog stil en die son moet nog oor die bome loer om die dag te verwelkom. En tog, hier in die duisternis is U reeds by my.

Terwyl ek wag vir die lig vul U Woord en U teenwoordigheid my, en dit herinner my dat dit nie saak maak wat vandag mag bring nie, U is my vaste fondament en ek is U verloste.

U liefde streef na my.

Vandag sal sekerlik gevul wees met beide vreugdes en beproewinge – vreugdes wat net ‘n voorsmakie is van U volheid totdat ons van aangesig tot aangesig ontmoet en beproewinge wat ongetwyfeld vrees in my swakste plekke sal influister. Dis hoe skelm die duisternis is.

Maar ek sal nie langer swig voor vrees wanneer dit my naam uitroep nie, want niks kan my van U skei nie.

Nie die uiterstes van dood of lewe nie.

Nie engele van bo of heersers op aarde nie.

Nie wat vandag kom of wat sal môre wees nie.

Nie magte wat fluister en versoek en dreig nie.

Nie die hoogste hoogtes of die laagste laagtes nie.

Niks.

[Ek sal dit herhaal totdat my hart oortuig is daarvan.]

Nee niks. Nie my verlede nie, nie vandag nie en nie die toekoms wat ek nog nie kan sien nie – niks kan my skei van die dieptes van U groot liefde nie.

Here, ek voel dit. As dit van my afgehang het, sou ek afdwaal.

My gedagtes – te vergeetagtig; my liefde – te verstrooid.

Maar U, Here. Daar is niemand soos U nie.

U is ewig.

U greep is te sterk. U liefde te diep. U uitgestrekte arms te wyd. U offer te groot. U oorwinning te veilig.

U maak van lafaards meer as oorwinnaars … nie as gevolg van dit wat ons gedoen het nie, maar as gevolg van wie U is.

As gevolg van U groot liefde …

___________________

Jesus, vir die een wat nie vandag geliefd voel nie – vir die een wat nie voel dat sy U liefde vandag kan vertrou nie, sal U haar herinner dat U steeds by haar is? Dat U vir haar is?

U liefde verander nooit nie – selfs nie in die duisternis nie.

Kind van God, het jy vergeet dat jy niks hoef te doen om God se liefde vir jou te verdien nie? Daar is niks wat jy kan doen wat ooit sal maak dat God jou meer liefhet as wat Hy jou reeds het nie. Daar is niks wat jy kan doen wat ooit sal maak dat God jou minder liefhet as wat Hy jou nou liefhet nie. Sy liefde vir jou is onvoorwaardelik, vol en voltooid. Jy is sy geliefde en niks kan jou skei van die liefde van Christus nie!

Hy het jou lief.

O, hoe lief het Hy jou nie!

En Hy sal jou nooit ooit laat gaan nie.

So vandag … asem diep in, spreek hierdie waarheid in jou hart en kyk hoe die Seun oor die duisternis opkom.

In watter situasies is jy in die versoeking om God se liefde vir jou te betwyfel? Hoe kan jy hierdie week hierdie waarheid van Romeine 8 voor oë hou?

By sy voete,