Niks kan ons skei nie

Niks kan ons skei nie

Deur Terria / 3 April 2020 / Opgestaan

Een van die grootste worstelinge wat ek tydens my Christelike lewenswandel gehad het, is om die waarheid te aanvaar dat God se liefde vir my onvoorwaardelik is. Dit is vir my so moeilik om te begryp hoe ver God sal gaan om ‘n intieme verhouding met my te hê. Jesus, my Messias, het gewillig en onbaatsugtig onverdiende pynlike lyding verduur sodat ek vrygespreek kan word. My siel sukkel met die feit dat elke keer as ek Hom teleurstel, God se liefde vir my nooit verander nie. Wat ‘n verwarrende, ongelooflike, wonderlike liefde! Een van die wonderlikste beloftes in die hele Bybel, omskryf die grootheid van God se liefde vir sy volk:

“Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Romeine 8:38-39)

 In Romeine 8 het die apostel Paulus konkrete redes uiteengesit waarom gelowiges absoluut veilig kan wees in God se liefde en in sy beloftes. Paulus het die hoofstuk afgesluit met ‘n belangrike geestelike waarheid: Niks het die mag om ‘n gelowige van die liefde van God te skei nie.

Dit maak nie saak wat ‘n gelowige ly of verduur nie, maak nie saak hoe ‘n gelowige struikel en misluk nie, God se liefde vir sy mense verander nooit.

Verlossing is God se plan om sy volk te verlos en ‘n innige verhouding met hulle te hê. Die dood, begrafnis en opstanding van Jesus omvat God se goddelike werk. God se plan van verlossing sal nooit misluk nie, omdat Hy nie kan misluk nie.

Jesus, wat vir ons gesterf het, leef nou vir ons! Op hierdie oomblik het Jesus ons lief, bid vir ons en praat met God oor ons. Jesus is aan die regterhand van God en sorg dat ons elke oomblik, elke fout, elke mislukking steeds deur sy bloed bedek word.

Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Romeine 5:8).

God se liefde is ‘n absolute weerspieëling van wie Hy is. God se liefde is volmaak, oneindig, eindeloos, oorvloedig en onvoorwaardelik. Sy liefde is vreesloos, konstant, betroubaar, onherroeplik en onwrikbaar. God se liefde is die sterkste, magtigste krag deur die ewigheid. God se liefde weerspreek alle logika, alle kennis en alle fisiese en geestelike hindernisse. God se liefde word alleenlik gemotiveer deur wie Hy is, nie deur wie ons is nie. 

God se belofte van sy liefde wat nooit faal en nooit eindig nie, as gevolg van Jesus Christus se dood en opstanding, is ons identiteit en ons versekering. Ons vertroue is geanker in God se absolute liefde vir ons.

As ek sukkel, kan ek onthou dat God styf aan my vasklou en my nooit sal laat gaan nie. As ek vertroue het in God se liefde vir my, hoef ek nie die toekoms te vrees nie. God se liefde is ‘n absolute belofte. Daar is niks wat ek kan doen om te veroorsaak God my minder of meer lief kan hê nie. Niks kan gelowiges van die ongelooflike liefde van God in Jesus skei nie! Hoe bring hierdie belofte van God se onvoorwaardelike liefde jou troos en vrede?

Vrede en genade vir jou,

Hoop vir wanneer dit seermaak

Hoop vir wanneer dit seermaak

Deur Brittany / 1 April 2020 / Opgestaan

“Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” (Romeine 8:18)

Net toe ek gaan sit om met hierdie inskrywing te begin, ontvang ek ‘n boodskap van my ma in verband met ‘n familievriendin wat na verwagting in die komende ure haar stryd teen kanker sou verloor. My hart het gebreek toe ek dink aan haar kinders, kleinkinders, haar man en die verlies wat hulle binnekort sal moet trotseer.

Terwyl ‘n hartseer oor my spoel, wend ek my na die Bybelteks byderhand (Romeine 8:18-25). Ek het vertroosting gevind in die wete dat hierdie huidige lyding sal verdof in vergelyking met die glorie wat aan haar geopenbaar sal word as sy die eerste keer die aangesig van Jesus sien. Ek het gedink aan hoe lief ons vriendin was om te sing, en hoe ek as kind graag in die kerkbank voor haar gesit het, sodat ek haar suiwer stem kon hoor. Ek kon my voorstel hoe sy die Here persoonlik prys met ‘n liggaam wat heeltemal genees en verlos is, en hoe dit verdof het in vergelyking met die prag wat ek as kind beleef het. Wat ‘n vreugdevolle oomblik sou dit tog wees!

Op hierdie oomblik weet ek dat die smart, hartseer en verlies tasbaar is vir ons vriendin se familie. Dit is swaar. Dit is verwoestend.

Die waarheid is dat lyding ‘n menslike ervaring is waaraan niemand kan ontsnap nie. Dit is deel van die lewe in ‘n wêreld waar sonde en gebrokenheid bestaan, maar die aangrypende verhaal van die Skrif vertel vir ons dat die God van die heelal gekies het om ‘n weg te vind om almal te verlos. Romeine 8 vertel dat ons saam met die hele skepping met gespanne verwagting uitsien daarna dat God bekend sal maak wie sy kinders is.

Wat doen ons terwyl ons wag om van hierdie gebrokenheid bevry te word?

Romeine 8:24-25 sê: “Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop.  Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie.  Wie hoop nog op wat hy reeds sien?  Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding” (klem bygevoeg).

Sien jy dieselfde as wat vir my uitgestaan het? Die Skrif sê vir ons dat ons sug terwyl ons wag, maar nogtans hoop ons ook.

Terwyl ek vandag hier skryf, bid ek vurig vir ‘n gesin wat afskeid neem en ek kan nie ophou om aan daardie hoop te dink nie. Die volgende dae en weke sal vir hulle vol versugting wees, maar selfs wanneer gelowiges treur, is ons ‘n volk wat nie sonder hoop treur nie (1 Tessalonisense 4: 13-18).

Hierdie teksverse vertel vir ons dat diegene wat deel is van die familie van God, aan ‘n hoop vashou wat weet dat hierdie lyding, hoewel baie erg en pynlik, sal verdof in vergelyking met die dag wat God belowe het om elke verkeerd reg te stel en elke traan van ons oë af te vee (Openbaring 21: 3-5). Hierdie glorieryke dag, wanneer Christus weer kom, is dit waarop ons op ons donkerste dae hoop. Ons hoop op ‘n dag wat nog moet kom, maar ons weet dat dit sal kom omdat ons God ‘n ware en betroubare God is. Hy hou Sy beloftes in stand en Hy is altyd betyds.

Wanneer ons wêreld uitmekaar val, ons ‘n skokkende diagnose kry, een van ons familielede ons seermaak, of wanneer ons afskeid moet neem van ‘n geliefde, weet ons dat ons huidige lyding sal verdof in vergelyking met die dag waarop Christus alles wat verkeerd is, sal regstel en elke traan van ons oë afvee. Dit verdof in vergelyking met wanneer ons ons groot Verlosser van aangesig tot aangesig sal sien en ons Hom vir ewig sal aanbid.

Alhoewel dit ‘n hoop is wat ons nie sien nie, word ons verseker dat dit ‘n ware en betroubare woord is (Openbaring 21: 5). My vriendin, waarmee jy ook al te kampe het vandag, mag jy vertroosting vind in ‘n God wat verlos en weer sal kom. Mag jy hoop vind in jou ewige verlossing terwyl ons wag op die onsienbare dinge.

Brittany Salmon

 

Oggendherinneringe

Oggendherinneringe

Deur Angela / 30 Maart 2020 / Opgestaan

Romeine 8:1-11 is van my gunsteling verse in die Bybel. Ek moet daagliks daaraan herinner word “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” En ook dat die “Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon.”

Ek moet gereeld hieraan herinner word omdat ek meer dikwels as wat ek graag wil erken, swak, gebroke en magteloos voel. Menige kere voel ek nie opgewasse vir die taak wat voor my lê nie omdat ek voortdurend aan al my vorige mislukkings dink en wonder of dit hierdie keer anders gaan wees. Baie dae moet ek daaraan herinner word dat dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het, my uit my bed kan laat opstaan. Party dae voel of net ‘n wonderwerk dit kan regkry om my voete op die grond te kry voordat die dag se stres my gedagtes begin oorheers. Mislukkings van die verlede en verbeurde kanse verdring mekaar in my hart en gedagtes. Maar wanneer ek daardie negatiewe gedagtes met Romeine 8:1 beveg, raak my gemoed weer rustig en dank ek God vir sy Woord terwyl ek by die deur uitstap met my dogters agterna.

Hierdie verse herinner my hoe nodig ek die werking van die Heilige Gees se krag in my lewe het indien ek my lewe vir sy naam en nie my eie nie, wil leef. Ek het Jesus se teenwoordigheid in my lewe nodig want ek word so dikwels, selfs onbewustelik, deur die begeertes van die wêreld verlei. Ek kom so maklik in die versoeking om te begeer wat ek nie nodig het nie, om te begeer wat ek nie het nie, om iemand anders te wees as die vrou wat God my gemaak het om te wees. My hart dwaal, en ek moet elke dag terug na die waarheid, terug na Jesus, terug huis toe herlei word.

Op my beste én slegste dae neem ek my toevlug na hierdie Skrifgedeeltes omdat ek daarin sien hoe lief God my het. In plaas van die oordeel wat ek verdien, gee God vir my genade. Ek hoef nie bang te wees om na my hemelse Vader te gaan nie, want Hy kyk na my met oë vol liefde, nie veroordeling nie. As gevolg van Jesus se ongelooflike werk aan die kruis vir my sondes, sal ek nooit vir my sondes veroordeel word nie. Gevolge ja, maar geen veroordeling nie. Jesus het die hoogste prys betaal vir my sondes van die verlede, hede en toekoms. As gevolg van daardie waarheid kan ek vir hulp en vergifnis na God toe hardloop, in plaas van in skuld en skaamte weg van Hom af.

Romeine 8:10-11 herinner my daaraan dat ek nie in my eie krag hoef sterk te wees nie. Ek het Jesus se krag wat in my leef. Sy krag woon in jou en my. Wat ‘n wonderke gedagte!

Dieselfde krag wat Christus uit die dood opgewek het, stel my in staat om sy wil te doen. Die herinnering aan daardie waarheid gee my krag. Ek is nie op my slegste of beste dae alleen nie; Jesus is altyd by my. Ongeag waardeur ek moet gaan, Hy gaan voor my uit.

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.” – 1 Petrus 1:3

Hê God Groots Lief,

Week 4 Uitdaging: Romeine 8:38-9 beloof dat niks ons van die liefde van God in Christus Jesus kan skei nie. Wat kan jy hierdie week doen om jou aan hierdie waarheid te herinner? Hoe kan jy hierdie week ander met hierdie waarheid bemoedig?

 

Wanneer ons weet wat die einde is

Wanneer ons weet wat die einde is

Deur Melissa / 27 Maart 2020 / Opgestaan

Ek het onlangs weer na ‘n televisie program begin kyk wat ek ’n paar jaar terug gevolg het. Ek het die eerste twee en ’n halwe seisoene gekyk en êrens in die middel van seisoen 3 gestop omdat ek verveeld was met die storie (dit was duidelik dat ek opgehou het voordat dinge interessant geword het). Ek het ’n episode of twee van seisoen 5 gesien, so ek het geweet dat die verhaal voortgaan en dat die hoofkarakters leef (die storie gaan oor massamoordenaars en FBI-raaisels, dus is die dreigement van die dood in elke episode).

Soos ek na die program gekyk het, reg in die middel van die derde seisoen, toe sterf die hoofkarakter!

Dood!

Ek was behoorlik deurmekaar, want ek het haar in latere episodes lewend en gesond gesien. (Sy het haar dood vervals om te ontsnap van die slegte ou, julle ken die storie.) As ek nie die latere episodes gekyk het nie, sou ek geglo het dat sy dood is. Ek sou met baie meer afwagting en baie meer angs, verward en onseker oor hoe dinge sou uitdraai, gekyk het. Omdat ek geweet het dat sy nie dood sou gaan nie, kon ek die kinkels en draaie in die verhaal sien en die leidrade en die vooruitskouing van die resolusie bespeur.

Ons het ’n drastiese ander perspektief as ons die einde weet voordat ons die begin of die middel ken. Die konflik lyk nie so ernstig nie, die tragedie sny nie so diep nie, en die vrees word altyd gerasionaliseer met: “Wel, ek weet dat sy die volgende seisoen nog leef, so hierdie kan nie haar dood veroorsaak nie. Al is daar wendings, al is ek verward of bang vir die uitkoms, weet ek dat my gunsteling karakter op die ou end sal bly leef.

Ons geloof is so. Alhoewel ons miskien nie die einde van die episode waarin ons onsself tans bevind kan sien nie, weet ons wat die uiteinde is. Ons weet dat ons ’n Verlosser het wat die dood oorwin het, opgewek is en wat kom om ons die ewige lewe te gee.

 Van die skepping van die wêreld af, was dit die verhaal van die geloof. God het die einde geopenbaar: dat Hy eendag ’n Messias, ’n Verlosser, sou stuur wat die wêreld van sonde en dood sou verlos en ons die ewige lewe sou gee. Die Israeliete het vasgehou aan hierdie hoop, verwagtend van ’n Verlosser en ’n Messias wat sou kom om hulle te red. Hulle het die begin en die einde geken, maar minder van die middel af geweet. Hulle het gesterf en geglo dat God eendag sy Verlosser na die wêreld sou stuur om hulle van hul sonde te red en te reinig. Hulle is gered deur hul geloof in wat sou kom. Hulle het hul lewens spandeer om offers aan God te bring, maar hierdie offers was slegs bedoel om hulle ’n tyd lank versoening te bied. Dit moes jaar na jaar aangebied word, en die mense voortdurend daaraan herinner dat hul verlossing sou aanbreek.

Jesus het dit alles verander. Sy kruisdood was die ewige offer wat nodig was om die mensdom van sonde te red. As gevolg van Jesus se ewige aard, dek sy offer sonde vir ewig, vir almal wat hul geloof in Hom plaas.

Terwyl die mense wat voor Christus geleef het, ook deur die geloof gered is (Hebreërs 11), het ons ’n groot voorreg om na die opstanding van Jesus te leef. Ons kan ons geloof in die lewe, dood en opstanding van Christus plaas. Die glorie van sy belofte en sy verlossing word aan ons bekend gemaak deur die Woord van God en deur die getuienis van gelowiges wat voor ons gekom het.

Ons weet wat die einde is! Meer as dit, die besonderhede van die middel is vir ons duideliker as wat dit was vir diegene wat voor ons gekom het. Ons ken die doel van ons geloof: Jesus Christus. Wat ’n wonderlike waarheid is dit dat, alhoewel Christus se werk voor die grondlegging van die wêreld bekend was, ons die voorreg het om aan hierdie kant daarvan te leef. Ons kan in God vertrou met die wete dat die verlossingswerk voltooi is.

Al is die werk van ons regverdigmaking voltooi, leef ons in die spanning van die “alreeds, maar nog nie.” Christus se werk van verlossing en genade is voltooi, maar tog is ons wêreld nog gebroke. Ons ervaar steeds pyn, vervolging, beproewings, swaarkry en die dood. Die finale werk van Christus moet nog kom. Die einde van die verhaal is verseker, dat Christus sal terugkeer, dat Hy Satan sal verslaan, en dat Hy sy koninkryk sal vestig in ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde, maar die besonderhede van ons lewens en omstandighede vind nog steeds plaas. Ons weet wat die einde is, dat ons ewigheid veilig is in Christus, maar ons weet nie hoe hierdie seisoen gaan eindig nie.

Ek vind dit baie makliker om God vir my ewigheid te vertrou as vir my huidige omstandighede. Ek dink dat die God wat die mag het om die hemel en die aarde te skep, die dooies op te wek en lewe te skep, nie kragtig genoeg is om in my finansiële behoeftes te voorsien of in seisoene van eensaamheid te voorsien nie. Ek word afgelei deur die huidige toestand van my lewe, sodat ek vergeet dat die oorwinning reeds gewen is!

Laat ons saam in hierdie Vasseisoen fokus op die krag van Christus se opstanding en wat dit elke dag vir ons beteken. Hy het opgestaan! Niks is vir hom onmoontlik nie! Ons vertrou Hom met ons ewigheid; laat ons Hom ook vertrou met ons hede.

 

 

 

 

 

Die Allerhoogste Offer

Die Allerhoogste Offer

Deur Ebos / 25 Maart 2020 / Opgestaan

‘Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.’ – Romeine 4:25

Tot op hierdie tydstip het die hele mensdom in duisternis en veroordeling rondgetas weens ons sondes. Die menigte opofferings in alle kulture van die wêreld en die primitiewe godsdiens dwarsdeur die nasies kon nie versoening doen vir die sondes van die mensdom of ‘n manier voorsien om van die sonde te ontsnap nie. Hoe groter die opoffering was, hoe meer het mense dieper en dieper in angs, pyn en verdriet weggesink sonder enige hoop in sig.

In sy goddelike alwysheid en plan het God ‘n oplossing gebied wat oor alle kulture strek; van primitiewe Afrika tot die mees beskaafde Amerika, tot die paleise van koninklikes in die Midde-Ooste, het God ‘n oplossing gebied. Hierdie oplossing het in die hemel ontstaan en is op planeet aarde uitgevoer. Dit het nog nooit die hart van enige mens binnegedring nie. Die oplossing was Jesus; die hoogste offer, die offer van alle offers.

Die idee kom van God, nie mense nie. Dit was nie godsdienstig of vanuit politieke rade nie. Dit was goddelik van aard en uitvoering. Dit was die enigste oplossing wat vir God aanneemlik was vir ons sondes. Dit was die hoogste prys, die offer van alle offers. Eenmalig betaal vir ons verlossing. Die doel van Jesus se dood is om ons te red.

Die finale resultaat is dat ons nie langer hoef te vergaan in ons sondes of daarmee hoef te worstel nie. Ons het nou die ewige verlossing. Geen regeringsbeleid of Verenigde Nasies-program kan dit bereik nie: slegs God in Christus Jesus het die hoogste prys betaal vir die ewige bevryding van die mensdom uit die ewige boeie van sonde, eens en vir altyd.

Hy het nie dood gebly nie, dus hoef ons nie in ons sondes te bly nie. Hy is verrese. Daardie selfde krag is beskikbaar om die slegste van alle sondaars op te wek. Daar is hoop om ons op te wek. Die krag wat Jesus opgewek het, leef nog om in ons te werk, waardeur alle sondaars tot die ewige lewe gebring kan word. Daar moet op gelet word dat manne en vroue voor Jesus pogings aangewend het om hulleself met God te versoen. Baie doen dit vandag nog, maar alles tevergeefs. Die enigste hoop is nie in menslike pogings nie, maar in die offer van God, Jesus Christus. Ek doen ‘n beroep op jou, as jy dit nog nie gedoen het nie, neem die stap om Jesus te aanvaar.

Ons kan vandag met vrymoedigheid sê dat hierdie krag wat God vertoon het deur Jesus uit die dood op te wek, beskikbaar is vir almal wat na Hom toe sal kom en sê: Here hier is ek, vergewe al my sondes, kom in my hart in en wees my Here en Verlosser.

Ebos Aifuobhokhan

 

 

Skuldig

Skuldig

Deur Kaitlyn / 23 Maart 2020 / Opgestaan

Ek sal nooit die eerste keer vergeet wat ek ware skuldgevoelens beleef het nie. Ek was in die laerskool, en ek en ‘n maatjie het een van ons klasmaats geterg deur sy waterbottel te steel en in die klas rond weg te steek. Mettertyd het hierdie seuntjie moeg geraak vir ons lawwe speletjie en het vir die juffrou gaan sê dat iemand sy waterbottel gesteel het. Ek en my maatjie het hart en mond belowe dat ons niks te doen gehad het met die saak van die raaiselagtige vermisde waterbottel nie. Ons onderwyser het ons geglo, en ons het gedink dat ons daarin geslaag het om straf te vermy. Daardie nag het ek vol skuldgevoelens in my bed gelê. Ek het só erg heen en weer gerol dat ek gevoel het ek het geen ander keuse as om te bieg nie. Ek het by die trappe afgesluip en het met oë vol trane vir my ouers vertel dat ek skuldig was.

Ek het al dikwels hierdie storie as ‘n komiese voorbeeld gebruik van hoe innig skuldig kinders kan voel oor “klein” sondes. Daar was iets ernstigs in my hartjie aan die gang: Ek het diep in my binneste geweet dat iets in my neig om verkeerd te doen.

Daar is iets ingebore in ons wat aanvoel dat die wêreld nie is soos dit veronderstel is om te wees nie: daar is duisternis, boosheid, mishandeling en onreg. Daar is ook iets in ons wat aanvoel dat ons is soos ons nie veronderstel is om te wees nie: ons begeer bose dinge, ons maak doelbewus slegte besluite, en ons doen dinge wat ander mense seermaak. Ons mag in verskillende omstandighede grootword, maar ons ken almal skuldgevoelens.

Sonder die belofte van die evangelie van Jesus Christus, is Openbaring 20:12-13 ‘n skrikwekkende profesie vir skuldige mense. Hoe jy ookal die gebeure in Openbaring 20 en 21 interpreteer, die waarheid is dat God belowe om alle boosheid in die wêreld te oordeel en te verslaan – en hierdie verse vertel ons dat ongelowiges geoordeel sal word op grond van wat hulle gedoen het. Selfs die “beste” onder ons behoort tereg die oordeel van God te vrees, aangesien die Skrif dit duidelik maak dat nie een van ons goed genoeg gedoen het om ‘n gunstige uitspraak te verseker nie.

Hierdie skrikwekkende belofte word egter fundamenteel verander vir diegene van ons wat op Christus vertrou: Hy het Homself onder oordeel geplaas en aan die straf vir ons sonde onderwerp.

Jesus is die enigste mens wat ooit ‘n lewe gelei het wat volgens sy dade waarlik as regverdig geoordeel kon word, en tog het Hy besluit om die oordeel wat ons verdien het, op te neem. Omdat Jesus geoordeel is vir wat Hy nie gedoen het nie, word ons gered van die oordeel vir wat ons wel gedoen het.

In die Skrifgedeelte uit Matteus wat ons gelees het, word klem gelê op Barabbas se menslikheid en sy skuld. Hy was ‘n “berugte gevangene” (27:16), skuldig aan baie misdade. Hy was ook ‘n gewone man: sy naam beteken “seun van ‘n vader,” ‘n generiese beskrywing wat op enigiemand van toepassing kan wees. Jesus word in sy plek gestraf: die een wat so onskuldig is dat selfs Pilates se vrou dit geweet het (27:19), en die een wat nie net enige “seun van ‘n vader” is nie, maar die Seun van die Vader God. Barabbas was ‘n geskiedkundige figuur wat straf ontsien is omdat die skares vir Jesus wou hê. Hy is ook die toonbeeld van die posisie waarin ons almal onsself bevind: gespaar van straf, want Jesus het in ons plek kom staan.

Baie van ons worstel met oorweldigende skuldgevoelens vir sondes wat baie anders is as om ‘n waterbottel te steel. Ons rol rond in die nag omdat ons ander mense seergemaak het of onsself op sulke ernstige maniere leed aangedoen het dat ons ons nie eers kan indink hoe vergifnis sal lyk nie.

Sommige van ons worstel met die leed wat ander ons aangedoen het: hoe kon Jesus die mense vergewe wat ons mishandel of uitgebuit het? Die evangelie lyk nie soos goeie nuus as dit aaklige sondes teen ons verontskuldig nie.

Die spanning tussen hierdie perspektiewe is wat Openbaring 20:12-13 sulke verbasende goeie nuus maak: ons is vry van die oordeel van ons sondes omdat Jesus daardie oordeel op Hom geneem het. Ons God neem nie boosheid ligtelik op nie. Hy het ons bevryding verlang, nie deur ons sonde te ignoreer nie, maar deur ons pyn en straf op Homself te neem.

Ons het ons Matteus skrifgedeelte vandag geëindig met die woorde, “en lei Hom weg om gekruisig te word” (27:31). Ons aanbid nie ‘n God wat boosheid en lyding ignoreer nie, ons aanbid ‘n God wat ons so graag wou bevry dat Hy die gevolge van sonde op Homself geneem het.

Kaitlyn Schiess

 

Nie meer vervreemd nie

Nie meer vervreemd nie

Deur Lyli / 20 Maart 2020 / Opgestaan

Ten minste een maal ‘n week sal ‘n baie kwaai fronsende kleutergesiggie my in die oë kyk en sê:  “Jy is nie my beste maatjie nie!”  Die klein mannetjie hou nie daarvan wanneer hy nie sy sin kry nie en hy sal altyd sy misnoeë kliphard te kenne gee.  Ek leuen altyd vooroor en gee hom ‘n groot, sopnat soen op sy voorkop en sê vir hom: “Jy sal altyd my beste maatjie bly!”  Ouma se liefde vir Mr. Crabby Pants sal nooit ophou nie.  Of hy soet of sommer hardkoppig en opstandig is, ek sal hom altyd beskerm en seker maak dat hy in elke opsig versorg is.

Terwyl ek die evangelies lees en sien hoe Jesus voor Pilatus staan, weet ek dat Sy hele wese gefokus was op die vreugde wat vir Hom voorafbestem was (Heb. 12:2).  My Redder het die skande ignoreer en verkies om nie Sy beskuldigers te antwoord nie om ‘n sondaar soos ek, te red.

Jesus het my liefgehad toe ek nog hardkoppig vas was in sonde.

As ‘n lydende slaaf, het Hy slae verduur om my vry te stel.

Nederig het Hy die kruis gedra om my vry te koop van die hel.

Jesus het aangehou om my te soek, as sy eie.

Ek was eens ‘n vreemdeling en vyand van God, toebestem vir die hel, maar die bloed van Jesus het al die skeidsmure van sonde en skande afgebreek en weer vrede gebring.  My beste vriend het wreed in my plek gesterf aan die kruis.

Wat ‘n liefde het Hy nie vir ons nie!

Verlossing is gratis en heeltemal volmaak vir enige een wat Jesus wil ontvang en gered word.  Dit is hartseer, maar Judas het nooit sy sonde bely nie.  Ja, hy het berou gehad oor wat gebeur het, maar nooit ten volle sy wil aan Jesus onderwerp as sy verlosser nie.

Wanneer ons daarop aandring om dinge op ons eie manier te doen, sal ons altyd opeindig met leë, selfsugtige hande.  Jesus wil graag ons skande afstroop en ons bedek met sy genade.  Hy wil ons bekroon met sy deernis en ons bedek met Sy geregtigheid.  (Ps. 103:4:  2 Kor. 5:21)

Vriendin, jy is nie langer vervreemd nie.  Jy word omhels deur die onvoorwaardelike liefde van ‘n Vriend en Redder wat jou nooit uit sy hande sal laat glip nie.

Herinner jouself vandag aan hierdie waarheid:  “Deur Jesus, is ek met Hom versoen en staan voor Hom as heilig, sonder smet en onberispelik.”

Stop eers en lees die laaste sin weer stadig en hardop vir jouself.  Jy is nie die vrou wat jy eens was nie.  Jou Verlosser het jou ten volle versoen en herstel.

Wat behoort ons reaksie te wees op sy ongelooflike liefde vir ons?  Kol. 1 gee aan ons ‘n padkaart:

  • Ons kan ons harte volledig aan Hom gee. Paulus moedig ons aan: “Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof.”
  • Ons kan ons denke hervorm na sy wil en sy Woord gehoorsaam. Eerder as om ons sondige natuur te wil soek, moet ons ons voorneem om ons nie “te laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie.”
  • Ons kan onselfsugtig dien as ambassadeurs van Sy versoening in hierdie sonde-deurdrengde wêreld. Elke dag is ons tussen mense wat nog vreemdelinge van God is. Dit is hartseer en ons werk as nederige dienaars van God is om die evangelie boodskap van hoop met hulle te deel.

Jesus is jou beste vriend.  Hou vol om die Goeie Nuus te verkondig dat Hy die Redder is wat elke mens nooi om Hom aan te neem en wat ons red van sonde.  Dit is net Jesus wat ons alles kan gee wat ons nodig het en ons beskerm teen die vyand wat ons wil vernietig.  Hy sal altyd hulle wat wegdraai van hulle sonde en sê:  “Jesus, ek glo,” omhels en aanneem.

Wie het jou nodig om hierdie week vir hulle te sê:  “Jesus het jou oneindig lief!”  Kyk hulle in die oë, glimlag en laat hulle weet dat Sy onvoorwaardelike liefde hulle nooit vervreemd en met leë hande sal laat nie.