Blog

Lewensegte Geloof

Deur Whitney Daugherty | Februarie 16, 2018 | Jakobus

Die wêreld sal jou vertel dat jy kan leef met een voet in die wêreld en een voet in die lewe vir die Koninkryk.

Maar Jakobus wys ons die Weg, die Waarheid en die enigste pad na ware lewe.

Dit is ‘n alles-in verhouding met Jesus wat ons van binne af verander.

Dit is die volheid van Hom wat frustrasie en futiliteit vervang met vrede en ‘n doel.

Dit is ‘n hoop wat diep in ons siele afsink, en nie kan help om die aandag van die wêreld rondom ons te trek nie.

Ons is geskape vir net een Here, en Jakobus roep ons om die middelweg te los, en God alleen in algehele oorgawe te volg.

Mag ons gekonfronteer word met ons tekortkominge en dit bely, bemoedig word deur Christus se oorvloedige genade, en gemotiveer word om goddelike lewens te lei deur Sy krag en vir Sy glorie. – Jen Thorn (Jakobus Inleiding)

Wanneer ons onsself verdiep in die waarheid van die evangelie en ons swakheid verruil vir Christus se krag, sal ons vind dat ons voete ferm geplant in Koninkryks grond.

In hierdie laaste vier weke het Jakobus ons geleer:

  • VolhardWanneer ons beproewings ervaar. Om wysheid te bekom. Om nederigheid te ontwikkel. Om vrede uit te strooi. Om die liefde vir geld te weerstaan.
  • Wees geduldigIn lyding. Met ons woorde. Soos ons ander liefhet. Soos ons God met ons toekoms vertrou.
  • Projekteer die Vader – Om die wêreld te wys dat ons geloof werklik is, deur ons liefde, ons woorde, ons diens… ons getuienis.
  • Bid In tye van vreugde. In tye van teëspoed. Want gebed is kragtig. Want dit is effektief.
  • Streef na God in volle oorgawe. Bly in Hom. Met waarheid en in liefde, streef dié wat weggedwaal het na

en so. baie. meer.

Jy wat moeg is van die middelweg, hoor jy Hom roep?

Kom huis toe.

Moet nie nog ‘n dag wag om in te tree in ‘n alles-in, lewensegte lewe vir Jesus nie. Die Begin en Voleinder van ons geloof het belowe om Sy genade te voorsien vir die reis. Vat dit van Jakobus… dit is ver beter as enige iets wat hierdie wêreld kan bied.

By Sy voete,

 

 

 

 

 

 

 

 

Kom ons Praat: Watter van die vyf “P” woorde is vir jou die moeilikste? Wat is die een les van Jakobus wat jy nie wil vergeet nie? Hoe kan ons vir jou bid soos jy jouself daartoe verbind om lewensegte geloof na te streef?

Vandag is die laaste dag van vier wonderlike weke in die boek van Jakobus! Ons het elke minuut geniet om te sien hoe God vroue uit alle hoeke van die aarde nader trek in een pragtige gemeenskap!

Here, dankie vir hierdie gemeenskap van vroue wat die Bybel in die hoogste agting hou. Dissipels word gemaak deur die lees en leef van God se Woord … en ons is so trots op julle!

Ons gebed moet altyd deur die Skrif getransformeer word. Is jy deur ons Jakobus studie verander? Het jy opgehou om te wag dat vye van ‘n olyfboom val? Neem jy jou roeping aan om meer ernstig te leer? Is dit makliker om in beproewinge te volhard wanneer jy weet dit is vir Sy glorie?

Deel asseblief vandag jou Jakobus getuienis met ons en hoe God deur hierdie studie in jou lewe gewerk het.

 

Sluit by ons aan vir ons nuwe studie Angs en Vrees wat 5 Maart begin

 

Advertisements

Hardloop die Genadewedloop

Deur amandacunningham | Februarie 14, 2018 | Jakobus

Wanneer jy in een fase van jou lewe is, is dit so maklik om te wil jaag na die volgende fase. ‘n Onderhoud mag dalk lei na ‘n nuwe werk, wat hopelik sal help om ‘n nuwe kar te kan bekostig, en daardie kar sal perfek wees vir daardie vakansie wat ons wil neem. Dit is moontlik dat ons, selfs voordat ons nog die onderhoud het, alreeds beplan het watter plekke ons graag op daardie reis sal wil besoek. Maar hierdie wedloop wat ons met die Here hardloop, gaan nie oor wat ons wil doen nie. God wil nie hê dat ons onsself vooruit moet hardloop nie, en Hy beveel dat ons Hom ook nie vooruit moet hardloop nie.

“Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here.” Jakobus 5:7-8

My oudste dogter is nege en het definitief ‘n desperate behoefte om betyds te wees van my man geërf. (Hy het opgegroei in ‘n militêre gesin; ek het opgegroei in een wat nie streng was nie.) Ons bly ver van die skool af, so ek weet ons sal elke dag voor skool ongeveer 30 minute in die kar spandeer. Die verkeer is onvoorspelbaar, en so ook my jongste dogter se oggend roetine, wat groot stres vir my oudste dogter veroorsaak. Vanoggend was die paaie nie baie besig nie, en ons was op skedule om betyds te wees. Maar dit was nie goed genoeg vir my dikwels angstige, meestal verantwoordelike nege jaar oue dogter nie.

“Mamma, ons gaan laat wees.”

“Nee, my liefste, ons gaan nie laat wees nie. Probeer om te ontspan. Bid jou stres weg.”

“As ek net vooruit kon gedink het. Dan kon ek gisteraand die tyd op al die horlosies by die skool verander het! As ek hulle elkeen 10 minute teruggestel het, dan sou ons nie so op die nippertjie daar aankom nie!”

Hoe dikwels doen ons dit nie met God nie? Ons wil bo Sy troon uitreik om die arms op Sy heilige klok te verstel, om Sy planne te verander om ons onmiddelike behoeftes te bevredig, om Sy Heilige tydsberekening te ontheilig, in plaas van om daarin te vertrou. In goeie oomblikke of slegte oomblikke neig ons om vooruit te wil hardloop. O, hoe roep Hy ons om ons pas te verstadig, en eerder aan Hom onderworpe te wees. Die pad van ons na Hom is nie ‘n dolle gejaag nie, dit is ‘n genade reis.

  • Wanneer ons moeg is en fokus verloor, ken ons die krag van ons God om die hele wêreld van hul  sondes te vergewe met Sy een en enigste Seun. Om ons Almagtige Vader te ken, bring ons bonatuurlike krag.
  • Wanneer ons seer het en wil tou opgooi, weet ons dat ons God nie pyn sal toelaat as dit nie tot vryheid lei nie. Om te weet dat Sy plan van verlossing alreeds voltooi is, gee ons vrede wat alle verstand te bowe gaan.
  • Wanneer iemand anders langs ons struikel, onthou ons al die tye wat God se medelye langer as ons eie foute geleef het. Om Sy oneindige liefde te ken, inspireer ons om ander op hulle wedlope te help, in plaas van om hulle agter te laat.

 God nooi ons uit op die wedloopbaan vir ‘n genadewedloop. Dit begin met alles van ons, en dit eindig met alles van Hom. As ons as Christene geduldig, nederig, eerlik en gehoorsaam is, transformeer ons stadig langs die pad, om soos Hom te wees. Op die einde lig ons ons harte en ons arms op in seëviering van God en al Sy glorie, nie ons s’n nie.

Alles vir SY glorie,

 

As Die Here Wil

Deur SaraLindsey | Februarie 12, 2018 | Jakobus

Ek het hierdie blog twee dae na Kersfees begin skryf, op ‘n ysige Wes-Texas oggend, terwyl ek langs die kant van ‘n snelweg gesit het. Ons het net klaar hulp verleen by twee verskillende ongelukke wat ons sien gebeur het.

Die verse het in my gedagtes gebly – en my weer nederig gemaak – soos ek langs die bed gesit het van een van my eerste familievriende wat op 35 sterwend aan kanker was.

Niemand is seker dat môre gaan kom nie. Dit is iets wat ons weet, reg? Ons weet dit, maar ons glo dit so dikwels nie totdat iets tragies gebeur. Totdat daardie vragmotors in stadige aksie reg voor ons omkantel. Totdat iemand wat ons liefhet, onverwags sterf. Totdat iets ondenkbaar, werklikheid word.

As ek eerlik moet wees, is daar ‘n gebroke deel van my wat angs en vrees laat kop uitsteek wanneer ek dink aan die onsekerheid van die lewe. Ek wil my kinders sien grootword. Ek wil dekades lank saam met my wederhelf spandeer. Ek hou daarvan om te beplan. Ek hou daarvan om in beheer te voel.

Vandag se verse sê, “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. “Jakobus 4:14

Hierdie is ‘n gedagte wat telkens in die Skrif herhaal word.

“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle . . . . wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? . . . Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis.” Matteus 6: 25-34

“Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie.” Spreuke 27: 1

Hierdie instruksies word in Jakobus gegee in die konteks van sakemanne wat beplan om te reis en geld in ander stede te maak. Maar die punt is nie spesifiek oor besigheid of geld of dood nie.  Jakobus se woorde spreek die gesindheid van ons gedagtes en die neiging van ons harte soos ons deur hierdie wêreld reis, aan.

Dit is arrogant en trots (“verkeerd” volgens Jakobus 4:16) om aan te neem dat ons in beheer is van die skryf van ons lewensverhale of om aan te neem dat ons met die uiteinde bekend is. Ons moet ons lewens en verwagtinge in eerbied en nederige gehoorsaamheid aan God se soewereiniteit wy.

Hierdie les gaan daaroor om waarlik in ons harte en gedagtes te glo – en met ons monde te bely – dat God in beheer is. Hy bepaal ons dae. Hy besluit hoe die besonderhede van ons individuele lewens inpas by die algehele plan vir die mensdom. En ten spyte van my aanvanklike huiwering oor die onsekerheid, is daar iets bevrydends hierin. Ek is nie in beheer nie – en dit is ‘n goeie ding. Ek verslaap en verbrand die roosterbrood en vergeet en verloor my humeur. Ek dank die Heer dat Hy hierdie hele gemors onder beheer het (selfs wanneer dit soos ‘n gemors voel).

Dit beteken nie dit is verkeerd is om te beplan of om geld te maak nie.

Dit beteken nie dit is verkeerd is om groot ambisies te hê of om God in gebed te smeek nie.

Dit beteken nie dat ons lukrake, onverantwoordelike swerwers moet wees nie.

Dit beteken dat ons die waarhede van God se soewereiniteit in die kern van ons wese moet behou. Dit moet ons gedagtes oorheers en uitvloei deur ons woorde.

As die Here wil.  As die Here wil.  As die Here wil.

Paulus het dit vir ons gedemonstreer toe hy gesê het: “Maar binnekort sal ek na julle toe kom, as die Here wil,” in 1 Korintiërs 4:19 en toe hy gesê het: “As God wil, kom ek na julle toe terug.” in Handelinge 18:21.

Hierdie woorde kom op ‘n goeie tyd vir my as ek dink oor die vars begin van ‘n nuwe jaar en alles wat ek hoop om te bereik. Ek bid dat my lewe ‘n knielende houding sal inneem, – nie net letterlik wanneer ek bid nie, maar ook simbolies wanneer ek planne maak en wanneer ek praat. Ons leef in ‘n eiegeregtige kultuur wat ons leer om op ons agtervoete te staan, maar ek bid dat mense deur my lewe sal sien watter groot eer dit is om ons Koning te dien deur te kniel en onder alle omstandighede onderdanig te wees.

Kom ons onderneem om ons gedagtes te rig en ons harte te fokus op God se wil. En kom ons kom saam by die voet van die Kruis in aanbidding en nederige gehoorsaamheid.

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” Filippense 4: 6-7

Deur God se genade gaan ek. En, as die Here wil, lê daar vir ons baie groei en avonture voor hierdie jaar.

Genade en vrede,

 

 

 

 

 

Sara is ‘n Wes-Texas-meisie, wat tans buite Dallas woon. Sy bewonder haar man van 14+ jaar en geniet die daaglikse chaos wat gepaard gaan met die grootmaak en opvoeding van hulle 3 jong dogters. Sy is ook ‘n dokter wat spesialiseer in MRI’s.

Sara is ‘n bemoedigende vriendin, wat daarop uit is om ware verhoudings te bou. Sy het ‘n hart vir die ondersteuning van vroue en gesinne, en sy is passievol oor Bybelvertaling.

Week 4 Uitdaging: Moenie vir môre wag nie, aan wie moet jy vandag uitreik en laat weet hoe lief jy vir hulle is? In plaas daarvan om vir volgende week, maand of jaar te wag … watter veranderinge het jy nodig om vandag te maak om jou lewe vir God te begin in plaas van vir jouself? Moenie jou gehoorsaamheid vertraag aan wat God jou roep om te doen nie … begin vandag

Week 4 Leesplan

 Week 4 Memoriseervers

 

 

Heelhartige Toewyding

Deur Terria Moore | Februarie 9, 2018 | Jakobus

Wat is na aan jou hart? Is dit jou familie, vriende, jou stokperdjies, beroep of selfs jou bediening? Miskien is dit ‘n passie vir kuns, reis, musiek, vermaak of kos. Dit is maklik om met halfhartige toewyding aan God te leef.

Jakobus spoor gelowiges aan om nederig aan God onderworpe te wees om sodoende versoeking te oorkom en Satan teen te staan. Hy gee ‘n uitnodiging en ‘n belofte van God se teenwoordigheid wanneer ons Hom heelhartig soek. God se liefde vir Sy mense is vir ewig onvoorwaardelik, onuitblusbaar en perfek. Gelowiges het God se bonatuurlike liefde nodig omdat ons daagliks bonatuurlike haat bestry.

“Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep.” Psalms 145:18

God nader tot ons in hartstogtelike strewe deur Jesus Christus. Die heilige bedek die onheilige. Die oneindige reik af na dié wat ‘n einde het. Perfeksie jaag aktief die onperfekte na.

Ons verhouding met God bestaan nie eenvoudig uit ‘n eenmalige belydenis van geloof in Christus Jesus nie. Op dieselfde manier wat ‘n huwelik soveel meer is as net die troue, eindig ons lewe in Christus nie op die dag van ons verlossing nie.

Die oomblik wat ons ons lewens aan God oorgee, is ons ‘n nuwe skepping met God se DNA. Ons is onmiddelik verenig as een in liefde, deur geloof met God Almagtig. Maar, hierdie geestelike verhouding moet versorg en ontwikkel word om te kan groei.

“Ons het soveel van God as wat ons werklik wil hê.” ~ A.W. Tozer

Ons verhouding met God word sterker soos ons elke dag ‘n verbintenis maak om Hom eerste te stel. God het alreeds die inisiatief geneem om ons eerste te stel – om ons Sy beste te gee – toe Hy die hoogste en uiterste opoffering om ons onthalwe gemaak het. God die Vader beklee ons met Sy liefde. God die Seun pleit en bid elke dag vir ons. God die Heilige Gees leef in ons en troos en help ons in ons swakhede.

Ons het alles van God, maar het Hy werklik alles van ons?

“Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.” Jeremia 29:13

Daar sal afleidings en versoekings kom. Ons harte sal aanhoudend weggetrek word van die goedheid van God af, na ons verpligtinge by die huis en by die werk. Ons sal verlei word deur die lokstem van alles wat hierdie wêreld bied. Ons sal verlei word om te twyfel aan die goedheid en die liefde van God, veral wanneer ons ly en wanneer ons harte gebroke is. Maar, ons moet nogtans veg om nader na God toe te kom.

Daar is niks van ons wat God verras nie. Hy ken al ons sondes, ons swakhede, ons foute, en ons mislukkings. God ken ons intiem, en is steeds lief vir ons. Selfs wanneer ons Hom faal, sal God nie faal in die beloftes wat Hy gemaak het nie. Hy bly toegewy wanneer ons afdwaal. Hy jaag ons na wanneer ons swerwe. Hy het ons lief, selfs wanneer ons Hom verontagsaam. God se liefde noodsaak Hom om vol medelye, barmhartigheid en genade na ons toe te kom.

“Die HERE het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.   

2 Kronieke 16:9

Jakobus leer ons in hierdie hoofstuk dat ware geloof versterk word wanneer ons onsself ywerig toewy aan God. Soos ons rus in God se oorvloedige genade, is ons vry om die mees radikale lewe van liefde en opoffering hier op die aarde te leef. Ons sal nie perfek wees nie. Ons sal struikel. Alle gelowiges is onvoltooide werke vir die ewigheid, en konstruksie terreine is dikwels morsig. Maar, ons volhard en leun op God.

Dit is nie ‘n passiewe verhouding waartoe ons geroep word nie. Gelowiges moet elke dag vir God kies. Ons moet elke dag aan Hom onderworpe wees. Ons hou aan om elke dag tot Hom te nader. Ons hou aan om onsself elke dag skoon te was en te reinig om meer en meer soos Jesus te word. Ons volhard hierin, want dit is die liefde van Christus wat ons noodsaak om dit te doen.

God red onverdienstelike en onwaardige gelowiges van die dood en die slawerny van sonde deur die opoffering van Sy Seun. God plaas oneindige en onmeetbare waarde op ons, so Hy kan absoluut met ons volle toewyding vertrou word. Ons kan nederig alles van onsself aan Hom gee, want Hy gee alles van Homself aan ons.

  1. Hoe doelgerig is jy om ywerig tot God te nader?
  2. Waar sukkel jy om jouself ten volle aan die Here oor te gee?
  3. Hoe kan ons vir jou bid soos jy daarna streef om jou heelhartige toewyding aan God te gee?

Genade en vrede vir jou,

Soek God Se Wysheid

Deur Angela | Februarie 7, 2018 | Jakobus

Voordat ek ‘n ma geword het, het ek gedink ek gaan ‘n wonderlike ma wees. Ek was seker daarvan, want ek het al die regte boeke gelees, ek het babas opgepas toe ek ‘n tiener was, ek het my Primêre onderwysgraad gekry EN ek het ervaring van skoolhou gehad. Uit my naïewe perspektief, het ek die kennis en die ervaring gehad… of so het ek gedink.

Toe is my eerste dogter gebore.

En vir die eerste keer in my lewe, het ek ware uitputting geken. Ek het slapelose nagte gehad, baie vroeë oggende, waar ek my baba wat nie wou ophou huil nie, vasgehou het en ek het – meer nagte as wat ek graag wil erken – saam met haar gehuil uit totale desperaatheid. En net toe ek gevoel het ek begin gewoond raak daaraan om ‘n ma te wees, het ek, tot my verbasing, baie vinnig weer swanger geraak, en 6 maande later nog ‘n dogter gehad. As ek nou terugkyk na daardie eerste paar slapelose jare, voel dit meer soos ‘n droom as realiteit.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, die lewe was goed. Ek het ongelooflik geseënd gevoel om my dogters te hê, veral nadat ek amper 7 jaar vir hulle gewag het…. maar om werklik eerlik met julle te wees, dit was baie moeilik. Dit was uitputtend, en glad nie soos wat ek verwag het dit sou wees nie. Dit was nie soos om vir ‘n klas kinders skool te gee nie, kinders wat na hulle ouers toe teruggaan aan die einde van die skooldag… my dierbare klein dogters was elke dag, heeldag saam met my.

Die perfekte ma wat ek in my gedagtes gesien het, was vinnig besig om nie deel van my realiteit te word nie, en dit het my hart verskeur.

Julle sien, ek het die kennis gehad van hoe om ‘n “super” ma te wees. Ek het “al die regte dinge geweet”, maar ek het die ervaring en Goddelike wysheid kortgekom.

Vers 13 herinner my aan myself en my pad van moederskap:

“Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag, en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig.

Dade wat van nederigheid en wysheid getuig…

Om vir die eerste keer ‘n ma te wees het my nederig gemaak… en dit doen dit steeds.

Deur die jare het ek geleer om nie te dink “as ek ooit ‘n kind het wat so gaan optree, dan sal ek…” Deur ‘n paar keer te faal, foute te maak, my humeur te verloor, te voel of ek gek raak… het my nederig gemaak. En dit is goed so. Dit blyk dat wanneer ek myself net wil gelukwens vir iets wat my dogters gedoen het, dan vind ek dat ek weer nederig gemaak word.

Dit was tot dusver die lewenservaring. Die daaglikse gebeurtenis van foute maak, en die poging om daaruit te leer, het my nie net die nederigheid gegee wat ek so nodig het nie, maar ook genade-vervulde wysheid.

God het genadiglik daardie pynlike oomblikke gebruik om my nie net nederig te maak nie, maar om my ook my behoefte aan Hom en Sy wysheid in my lewe te wys.

Omdat ek van aangesig tot aangesig met my tekortkominge as ‘n ma, vrou, vriendin, dogter gekom het… het God daardie ervaringe gebruik om my nader aan Hom te bring. Soos ek in nederigheid gegroei het, het ek besef hoe desperaat ek Sy wysheid in my lewe nodig het, in plaas van die wysheid wat in die wêreld gevind word.

In verse 14-18, praat Jakobus van twee verskillende tipes wysheid. Een is van die wêreld en een is van die hemel.

Die wysheid van hierdie wêreld bring aksies van hierdie wêreld voort. Karaktertrekke soos jaloesie, selfsugtige ambisie, spog en leuens.

Die wysheid van die wêreld fokus op my. Wat ek op my eie kan doen, in my eie krag, vir my eie eer. Ek is die fokus van die wysheid van die wêreld, nie God nie.

In kontras daarmee is die wysheid van die hemel suiwer. Dit is:

  • vredeliewend
  • bedagsaam
  • onderdanig
  • vol barmhartigheid
  • produseer goeie vrugte
  • onpartydig
  • opreg

 As ek terugkyk na die afgelope 11 jaar wat ek al ‘n ma is van nie net twee nie, maar drie dogters, verstaan ek dat om Goddelike wysheid te bekom nie net ‘n eenmalige gebeurtenis is nie, maar ‘n nederige Jesus-soekende keuse elke liewe dag.

Dit is die daaglike, doelgerigte eerste na Jesus gaan met my bekommernisse, seer, en uiterste desperaatheid. Dit is in die keuse om myself af te lê, my selfsugtige gedagtes, gedrag en opinies en om ‘n lewe te wil hê wat gekenmerk word met die kwaliteite van die lys hier bo. Kwaliteite soos om vol barmhartigheid, opregtigheid en bedagsaamheid te wees.

En ek het oor die jare geleer dat ‘n lewe vol van God se wysheid, baie soos Jesus lyk.

Vriende, as dit die lewe is waarna jy soek… moenie moeg raak of ontmoedig word nie. Soos God verskillende situasies in ons lewens toelaat, het ons ‘n keuse of ons onsself nederig wil maak en leer om te groei in God se wysheid, of ons het die keuse of ons wil luister na die wêreld en die teenstrydige insig wat dit verskaf.

Om lewens vol van Goddelike wysheid te leef, neem tyd en dit neem doelgerigdheid. Dit is ‘n proses wat geleer word deur ‘n leeftyd waarin jy Jesus dag na dag soek. Daar is geen towerstaf waarmee God ons sal aanraak en dan het ons dadelik die wysheid van die hemel sonder om dit daagliks eerste te kies nie.

Wat ons het, is ‘n belofte dat God ons nooit sal verlaat nie en dat Hy elke tree van die pad met ons sal wees soos ons meer van Hom en minder van die wêreld soek!

Hê God Groots Lief!

 

 

 

 

 

Kom ons Praat: Hoe soek jy doelgerig God se wysheid bo die wysheid wat in die wêreld gevind word?

Wees Versigtig Wat Jy Onderrig

Deur Jen Thorn | Februarie 5, 2018 | Jakobus

Vandag pak ons ‘n groot onderwerp aan wat na aan almal se harte is – die sonde van die tong.

Dit is ‘n universele sonde. Almal worstel daarmee en almal struikel. Daar is nie ‘n enkele persoon wat in staat is om hierdie klein deel van hul liggaam perfek te beheer nie.

Jakobus skryf in Hoofstuk 3, vers 1 woorde van waarskuwing vir diegene van ons wat worstel in hierdie area: ons moenie te gretig wees om onderwysers te word nie. Hy praat veral oor diegene wat onderrig gee oor God.

Diegene wat ander onderrig, besit groot krag. Hulle kan mense nader aan God bring of verder weglei. Hulle het die vermoë om ander te help om meer kennis van God te bekom en om hulle te help om volwasse te word in hulle geloof. Hulle het ook die vermoë om valse leerstellings, halfwaarhede en dwaalleer te onderrig, wat diegene wat na hulle luister, onvolwasse laat en laat glo in leuens.

Onderwysers hou groot verantwoordelikheid, en daarmee saam kom groter aanspreeklikheid en oordeel vir die rigting waarin hulle ander lei.

Dit is maklik om vinnig hierdie verse oor te slaan, omdat die meeste van ons nie die Bybel op ‘n formele manier as professionele opvoeders vir ander leer nie. Die meeste van ons reis nie oor die wêreld om by konferensies te praat nie. Maar laat ons nie te vinnig deur hierdie gedeelte gaan nie – daar is iets hierin vir ons almal.

  • As jy ‘n Bybelstudie lei, is jy verantwoordelik vir die onderrig of vir wat geleer word.
  • As jy ‘n ander persoon mentor of dissiplineer, sal jy aanspreeklik gehou word vir wat jy onderrig.
  • As jy ‘n ouer is en kinders het, het jy groot verantwoordelikheid omdat jy geroep is om jou kinders op te lei in die kennis van God (Deut. 6).

Die verantwoordelikheid wat ons as ouers het, is oorweldigend. Omdat ons die hele tyd by ons kinders is, onderrig ons dus ons kinders meer as ander mense. Wat onderrig ons? Watter waarhede leer hulle oor God? Maak ons ​​dinge op of sê ons dinge wat nie waar is nie, om ons kinders te kry om gehoorsaam te wees? Wys ons hulle die skoonheid van Jesus of net die streng “reëls” wat hulle moet volg?

Hoe weet ons dat die manier waarop ons ons familie en ander van Jesus leer, goed is?

Ons moet goeie studente wees. Meer spesifiek, ons moet ywerige studente van God se Woord wees, wat verstaan ​​dat die Bybel eerstens ‘n boek is oor God en nie oor die mens nie. Omdat die Bybel die manier is hoe God Homself aan ons openbaar, moet ons altyd vra: “Wat leer hierdie verse oor God?” Dan kan ons vra: “Wat openbaar hierdie waarheid oor my?” Of “Hoe moet hierdie gedeelte die manier waarop ek leef, beïnvloed? ”

Jakobus laat ons weet dat God van ons verwag om Hom getrou en reg uit te beeld. Dit is ‘n skrikwekkende roeping omdat ons aanspreeklik gehou sal word vir wat ons oor God en Sy woord aan ander leer.

Maar moenie te oorweldig raak nie! Ons het die Heilige Gees as ons onderwyser, ander gelowiges om mee te praat en ‘n oorvloed boeke met goeie Bybelse onderrig wat aan ons beskikbaar is.

En wanneer ons foute maak, het ons ‘n Verlosser wat meer as gewillig is om ons te vergewe en ons te help om ons tong te gebruik op ‘n manier wat ander opbou en aanmoedig.

Kyk na Jesus,

 

 

 

 

Week 3 Uitdaging: Bid hierdie week en vra vir God om jou te help om woorde te spreek wat die mense rondom jou aanmoedig en wat lewensgewend is. Gee doelbewus aandag aan die woorde wat jy praat en as jy vind dat jy ander of jouself kritiseer, vra vir God om jou te help om woorde te spreek wat opbou, eerder as woorde wat afbreek.

Week 3 Leesplan

Week 3 Memoriseervers

 

 

 

 

Geloof wat werk

deur Andrea | Februarie 2, 2018 | Jakobus

 

Wat ons doen, sê baie oor wat ons sê ons glo. Soos die spreekwoord lui: “daar lê baie myle tussen doen en sê”. “Dit is redelik maklik om te sê ons het geloof in ons harte, maar as daardie geloof nie tot uiting kom deur goeie dade of as mense nie die vrug in ons lewens kan sien nie, is dit regtig ware geloof?

Wat ons in ons harte glo, moet duidelik blyk uit die manier waarop ons ons lewens lei. Terwyl ons in ons harte in God glo en wil doen wat Hom behaag, is dit die bewyse en vrug wat voortspruit uit hoe ons leef, praat en wat ons doen wat die geloofwaardigheid van ons geloof toon.

Ek glo dit is waarom Jakobus die punt in Jakobus 2:14-26 maak dat dit nie veel help as ons daarop aanspraak maak dat ons geloof het en gelowiges in God is, as ons nie ook die woord by die daad sit in die uitleef van ons geloof en doen wat God ons beveel het in sy Woord nie.

Soos Jakobus in Jakobus 2:17 (’83 vertaling) sê, “So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie (werke en aksies van gehoorsaamheid wat as bewys dien), is dit sonder meer dood. (betekenisloos)”

God leer ons dat ons geloof lewendig word en groei in krag deur die Gees soos ons dit uitleef in ons lewens. Dit is soos om ‘n gehoorsame hart te kweek, liefdevol, een wat na ander se behoeftes omsien, om die regte ding te doen, selfs wanneer dit nie maklik of gerieflik is nie, en om die liefde, genade en barmhartigheid van Jesus aan mense in ons wêreld te betoon.

Soos ons deur die lewe gaan, sal ons baie situasies of behoeftes raaksien wat ons die geleentheid bied om ons geloof in aksie te laat oorgaan. En in daardie oomblikke wil God hê dat ons moet groei en volwasse wees, sodat ons geloof nie net ‘n regmerkie is wat ons ewige bestemming verseker nie, maar ons die geleentheid gee om ‘n lewende, kosbare, pragtige, vrugdraende beeld van God se getrouheid, genade, liefde en krag te wees vir ander om te sien.

Wanneer ons in gehoorsaamheid uitreik na ander in liefde en genade en hulp verleen aan iemand in nood, wanneer ons die regte ding doen, voer ons God se opdrag in sy Woord uit. En elke keer as ons dit doen, blaas dit die vlam van geloof in ons aan, wanneer ons sien hoe God werk deur ons eenvoudige dade van gehoorsaamheid. Dis dan wanneer dit nie meer net ‘n teorie of ‘n goeie idee vir ander is nie, maar dit begin vrug oplewer in ons lewens en dit bou en versterk ons geloof.

Ons hoef ons nie te bekommer daaroor om onsself aan Jesus te bewys nie – Hy sien ons harte, en Hy is getrou om langs ons te loop soos ons groei en leer. Hy verwag nie van ons om ewe skielik ‘n klomp goeie werke te doen om ‘goed genoeg’ te wees, verlossing te verdien of in Sy ‘goeie boekies’ te bly nie. Die soort goeie werke waarvoor ons geroep is, is dié wat aan die buitekant getuig van die geloof wat binne-in ons is.

Die meeste van die tyd maak God dit vir ons baie maklik, maar dit vereis wel dat ons iets moet doen van ons kant af. Dit mag wees dat God ons vra om iemand te help wat ‘n behoefte het, in plaas daarvan om hulle te systap wanneer dit in ons vermoë en krag is om hulle te help. (Vir ‘n goeie voorbeeld hiervan lees die verhaal die barmhartige Samaritaan in Lukas 10: 25-37.)

As ons kan leer om die geleenthede wat oor ons pad kom, te sien, nie net as ‘n geleentheid om ‘n goeie daad te verrig nie, maar ook as ‘n belangrike manier om ons geloof te versterk en te bou, sal ons begin om buitengewone wonderwerke in ons tyd te sien.  Dinge wat ons nooit sou gedink het God in en deur ons kon doen nie. Ons geloof sal sterker word, nie omdat ons optrede die verskil maak nie, maar omdat God in sy krag deur ons geloof optree en ‘n magtige werk deur ons doen, vir ons eie beswil, tot voordeel van ander en tot Sy verheerliking.

Ek hou van die geloofshoofstuk in Hebreërs (11) omdat ons sien hoe so baie helde in die Bybel, wat deur die geloof geleef het en God se bevele gehoorsaam het, as gevolg daarvan groot wonderwerke aanskou het.

Soos ons groei en leer om dieselfde te doen, sal ons wees soos diegene wat “deur dade van geloof, koninkryke verower het, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het … (Heb 11:33).

Ek glo dat ons almal daardie soort geloof wil ervaar, en ons kan groei deur die krag van Sy Gees wat in en deur ons werksaam is, in Jesus se naam.

Met liefde,

 

 

 

 

 

Andrea Howey is ‘n “hand lettering artist” van Dallas, Texas. Sy gebruik “hand lettering” om dit wat in haar hart lewe en die boodskap van hoop, waarheid en geloof in die Woord van God te deel. Haar doel is om mense in hulle harte aan te moedig, hulle geloof te versterk, en bo alles, om mense te lei tot op ‘n plek waar hulle Hom leer ken op ‘n persoonlike en intieme vlak.

Jy kan Andrea en haar pragtige handgeskrewe woorde van aanmoediging op Instagram vind: @andrearhowey.