‘n Vrou Wat Die Here Vrees

‘n Vrou Wat Die Here Vrees

Andrea Howey

Ek is seker baie van ons is bekend met Spreuke 31, selfs al het jy nog nooit hierdie hoofstuk in diepte bestudeer nie. Dalk het jy al gehoor hoe mense praat van ‘n “Spreuke 31-vrou” of iemand se sosiale media-gebruikersnaam as “prov31girl” gesien. Dalk het jy rondom Moedersdag groetekaartjies opgemerk wat ‘n deel van hierdie Skrifgedeelte insluit, wat die deugde en skoonheid van ‘n vrou, ma, eggenote, dogter verheerlik, want sy leef op ‘n manier wat hierdie hoofstuk blyk te beskryf.

Maar wat as jy nie ‘n eggenote of ma is nie? Of dalk is jy, maar dit is ‘n ‘n geruime tyd sedert jy iemand gehad het wat jou geprys het of opgestaan en jou geseënd genoem het.

Ek wil graag hê ons moet vir ‘n oomblik daaroor dink dat daar meer agter hierdie gedeelte is as om ‘n vrou te erken vir haar verhoudingstatus, daaglikse aktiwiteite, lewensprestasies of lewensfase.

Jy is dalk ‘n jong vrou wat nog op hoërskool is, jare weg daarvan om jouself in die rol van vrou of ma te bevind, en steeds is hierdie gedeelte relevant vir die stadium van die lewe waarin jy vandag is.

Of jy kan ‘n vrou wees wat haarself enkellopend bevind op ‘n ouderdom wat sy nooit gedink het sy sou enkellopend wees nie, of jy ervaar die pyn van om nie kinders te hê om in jou arms te hou nie. Dalk bied die seisoen waarin jy jou tans bevind,  jou nie nou die geleentheid of inkomste om sakeondernemings te begin nie of dalk het jy geen idee hoe om ‘n knoop aan ‘n hemp te werk nie.

Ek is seker jy kan my punt insien dat God nie bedoel het dat ons hierdie hoofstuk deurlees as ‘n letterlike kontrolelys vir wat ‘n persoon bekragtig en hulle as ‘n edele karakter onderskei nie.

Wanneer ons hierdie hoofstuk lees, gee God vir ons beelde waarin ons kan delf en ontdek dat, hoe ‘n edele karakter lyk meer oor ons hart se houding gaan as oor lewensmylpale of aksies. Omdat dit ‘n saak van die hart is, kan ons vroue van edele karakter wees op enige stadium of seisoen van die lewe.

‘n Vrou wat die Here vrees. Dit is waar ons begin. Deur te leer hoe dit lyk om die Here te vrees, vind ons dat wysheid in ons lewens begin vorm aanneem.

Om die Here te vrees begin in ons harte. Dit is om eerbied en ontsag vir God te hê wat die manier beïnvloed en lei waarop ons elke deel van ons lewe uitleef. Dit is hoe dit lyk as ons God respekteer en eer, ons sy Woord gehoorsaam, volgens sy weë leef en Hom met ons lewens aanbid.

Wanneer ons verstaan wie God is, wanneer ons tyd in sy Woord spandeer en in verhouding met Hom groei, ontwikkel dit ‘n eerbiedige begeerte binne ons wat Hom natuurlik wil behaag. Dit gee ons begrip en insig dat sy weë hoër is as ons s’n, sy weë is volmaak, sy weë bring lewe en lei ons in geregtigheid. Hierdie vrees van die Here is waarlik die begin van wysheid, onderskeidingsvermoë, kennis (Spreuke 1:7).

Ons luister na sy Gees om ons te lei in besluite. Ons leer hoe om verhoudings met ons geliefdes te bestuur. Ons is verstandig met ons tyd en hulpbronne. Ons spreek woorde wat lewe en vriendelikheid en genade bring. Ons lewens begin vorm aanneem met ‘n edel karakter wat uitstaan en die wêreld laat kennis neem. Dit is wat veroorsaak dat ander om ons begin sê: “daar is iets anders aan haar,” iets mooi en aantreklik wat verder gaan as oppervlakkige skoonheid of eksterne prestasies.

Om die Here te vrees, dring deur elke deel van ons lewens, beide ons geestelike wandel en deur die uitvloei van ons praktiese dag-tot-dag lewens op pragtige maniere.

Dit is die Volkome Oorgegewe lewe: leef met vrees vir die Here op so ‘n manier dat die mense naaste aan ons en diegene wat van ver af waarneem, geraak word deur ons lewens en ons liefde, en nie anders kan as om te sê: “Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal!” (Spreuke 31:29).

Wat Ons Gesien en Gehoor Het

Wat Ons Gesien En Gehoor Het

Lyli Dunbar

Ons sit in ons pajamas op die rusbank en stories lees en kraakbeskuitjies eet. “Was dit nou nie ‘n wonderlike storie oor Jesus nie? Ons is lief vir Jesus!” roep ek uit teenoor my kleinseun toe ek die Kinderbybel op die koffietafel sit.

Skielik lig die baksteengrootte evangelis wat tussen my en my man sit sy arms op, wys na die  hemel en begin die evangelie opsê: “Jesus is die Seun van God. Hy het uit die hemel aarde toe gekom. Hy het ‘n volmaakte lewe gelei. Hy het aan die kruis gesterf om vir ons sondes te betaal. Hy het uit die dood opgestaan. Hy is nou in die hemel besig om vir ons ‘n plek voor te berei.”

Ons het hom toegejuig en ‘n bietjie tranerig geraak na sy voordrag. Ek wens ek kon krediet daarvoor kry dat ek die outjie geleer het om die wêreld van Jesus te vertel, maar al die eer kom sy dagsorgjuffrou toe. Nadat ons in hom die bed gesit het, het ek en my man op die rusbank gesit en effens skuldig gevoel. ‘n Vyfjarige het so pas die Goeie Nuus baie beter oorgedra as die grootmense wat hom oppas. Hy was nie onseker wat om te sê of bang vir wat ons mag dink nie. Hy het ons bloot ingelig wie Jesus was en wat Hy gedoen het.

Ek dink ek maak dit soms moeiliker om die evangelie te deel as wat dit is. Dis glad nie vir my ‘n probleem om my foon op te tel, my kleinseun se manewales af te neem en vir enigiemand wat wil luister te vertel waarom ek so versot is op hom nie. En tog sukkel ek om my geloof met net soveel vrymoedigheid te deel.

Ek wil my lewe volmaak oorgegee aan Jesus leef en ‘n nalatenskap van geloof agterlaat. Ek wil nie met spyt terugkyk en wens ek het vertel wat op my hart is nie. My hart behoort aan Jesus en my Verlosser het die dood oorwin om my te red. Ek wil volkome toegewyd aan Hom lewe en my mond oopmaak om sy naam te sê. Ek is hier om teenoor dié wat in duisternis verlore is, te getuig dat Jesus die weg, die waarheid en die lewe is.

Tog voel ek soms asof ek nie die regte persoon is om die evangelie te deel nie. Netnou sê ek iets verkeerd of het ek nie al die regte antwoorde omtrent die Bybel nie. Ek is nie ‘n predikant of ‘n teoloog nie. Hoekom sou God my kies om sy getuie te wees?

Toe ek vanoggend my Bybel oopmaak en Johannes 20 lees, het God met my hart gepraat oor hoe Hy onwaarskynlike mense soos ek gebruik om sy boodskap te gaan vertel. Ons word almal geroep om te vertel wat ons gesien en gehoor het. Die opgestane Jesus kon aan die wetgeleerdes in die tempel verskyn het, maar Hy het nie. God het gekies om die grootste wonderwerk in die geskiedenis te openbaar aan ‘n vrou wie se hart deur haar liefde vir Christus verteer is. Jesus het haar voorheen uit gevangenskap uit die kloue van die vyand bevry (Lukas 8:2). Nou, al het Maria Magdalena gedink haar Verlosser het aan die kruis gesterf, het sy Hom steeds gevolg. Sy het na die graf gekom met ‘n hart wat bereid was om te dien, al het almal om haar uit vrees op die vlug geslaan. Haar liefde vir Jesus het haar die moed gegee om te doen wat sy moes doen.

Waarom het God vir Maria as die eerste getuie gekies? God het haar gewillige hart gesien. Dieselfde vrou wat in trane voor die leë graf gestaan het, het nou van vreugde opgespring en gehardloop om vir die dissipels te gaan vertel: “Ek het die Here gesien!”

Vriendin, as jy opdaag om Jesus te dien, sal Hy jou gebruik. Gaan vertel sy Goeie Nuus aan almal wat bereid is om te luister.

God Is Naby

God Is Naby

Sara Lindsey

Die geskiedenis herhaal homself. In hierdie geval, verskriklik. Die term volksmoord is eers in 1944 geskep, maar Oxford definieer dit as “die doelbewuste moord op ‘n groot aantal mense uit ‘n bepaalde nasie of etniese groep met die doel om daardie nasie of groep te vernietig.”

Sulke gruweldade het deur die geskiedenis heen plaasgevind. Die Holocaust is die bekendste en bestudeerde hedendaagse voorbeeld, waarby die massa-teregstelling van Europese Jode onder die Hitler-regime tydens die Tweede Wêreldoorlog betrokke was. Daar is te veel voorbeelde om op te noem, maar volksmoord, onpeilbaar, gaan voort tot vandag toe – kyk na die Uyghurs in China, kyk na Jemen.

Volksmoord is die ergste, die boosste van misdade. Ons gedeelte vandag uit Eksodus 1 beskryf hoe die Egiptiese Farao die vroedvroue beveel het om enige seuns wat vir die Hebreeuse vroue gebore is, dood te maak. Waarom sou hy dit doen? Die Hebreeuse nasie het gegroei en floreer ten spyte van die harde arbeid en onderdrukking wat deur die Egiptenare op hulle afgedwing is.

Twee van die vroedvroue word spesifiek genoem—Shiphrah en Pua—en vers 17 sê: “Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen wat die koning van Egipte vir hulle gesê het nie; hulle het die seuns laat lewe.”

Hierdie twee vroue het God meer gevrees as wat hulle die Egiptiese koning gevrees het. Hulle het God se gesag meer eerbiedig as wat hulle Farao se gesag gerespekteer het. Hulle was dapper. Stil aan die veg. Getrou.

Toe hulle later uitgevra is oor waarom hulle die seuns laat lewe het, het die vroedvroue kreatief gedeflekteer deur te beweer dat die Hebreeuse vroue selde hulle teenwoordigheid nodig gehad het. Farao was gefrustreerd en het sy plan uitgebrei en gesê: “Alle seuns wat gebore word, moet julle in die rivier gooi…” (Eksodus 1:22).

God het die geloof van hierdie vroue gesien, en Hy het dit geëer deur hulle huishoudings te gee, en Hy het dit geëer deur die Hebreeuse volk te laat vermeerder en baie sterk te word.

En miskien was God nie die enigste een wat die dapperheid van Shiphrah en Pua gesien het nie. Hulle het ‘n nalatenskap van moedige geloof geskep en het Moses se moeder en suster dalk direk of indirek die moed gegee om hom te probeer red. Stel jou voor hoe anders die geskiedenis van God se volk sou wees as jy Moses uit die storielyn verwyder.

Ek weet nie hoeveel lewens Shiphrah en Puah gered het nie, maar selfs een gespaarde kind sou talle afstammelinge in die geslagte toelaat om te volg.

Ek hou daarvan dat God gekies het om twee normale, werkende vroue te gebruik om sy mense te beskerm. Ek hou daarvan dat hulle spesifiek in die Bybel genoem en onthou word; hulle bydrae was betekenisvol en uniek. En ek hou daarvan dat hulle gehoorsaamheid aan God in plaas van mense gehelp het om die volksmoord van die Hebreeuse nasie te beperk.

God gebruik gewone mense, selfs in buitengewone tye. Hy kan wonderwerke van die alledaagse maak. Kom ons wees soos Shiphrah en Puah, dien stil en konsekwent getrou, ten spyte van die wêreld rondom ons.

Week 6 Uitdaging:

Ons moet ons geloof aan ons kinders en die volgende generasie oordra en ‘n goddelike nalatenskap nalaat vir diegene wat na ons kom. Wie in jou lewe het haar geloof goed uitgeleef en jou geїnspireer om dieselfde te doen? Maak seker jy deel hierdie week die verskil wat sy in jou lewe gemaak het. Na wie kan jy doelbewus uitreik en in belê? Daar is baie maniere om ‘n goddelike nalatenskap na te laat, maar hulle almal begin dieselfde: om te kies om die eerste stap te neem.

Week 6 Leesplan:

Week 6 Memoriseervers:

Heelhartige Aanbidding

Heelhartige Aanbidding

Katie Schott

My ma was ‘n stil dame; sy was sag en vriendelik en wys. Ek onthou hoe sy tydens my grootword jare altyd hierdie uitdrukking gebruik het: “Dade spreek harder as woorde.” Sy het dit gebruik om my die waarde te leer dat om te wys dat ek iets bedoel, meer outentiek is as om net die woorde te sê en dit dalk nie op te volg of uit te leef nie.

Dit het by my opgekom toe ek die vertellings in die evangelies van Maria van Betanië bestudeer het. Wat sy gedoen het, het meer impak gehad as wat sy gesê het, selfs vir ons vandag. Ons hoor net een keer dat sy gepraat het, naamlik toe sy Jesus na Lasarus se dood teëgekom het. Daar het sy gesê: “Here as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie” (Johannes 11:32 ). Maria se woorde het geloof en vertroue uitgespreek, selfs in haar hartseer en verdriet, en dit word ondersteun deur ‘n lewe wat in oorgawe en toewyding aan die Here geleef word.

Wanneer ons die verslag lees van hoe Maria die parfuum op Jesus se voete uitgegooi het, sien ons dat haar aanbidding doelbewus en duur was (Johannes 12:1–11). Sy het geweet sy sou in die teenwoordigheid van Jesus wees wanneer Hy kom vir ete, so sy het voorbereid gekom. Daar is ook ‘n les hier, as ons stilstaan ​​om te oorweeg hoe ons, soms, ons stiltetyd instorm om ‘n woord vir die dag te kry, ons versoeke in gebed voor te lê, en dan gaan ons terug na ons besige lewens. Miskien kom ons selfs by ons kerkdienste aan met harte wat nie bereid is om die lewende God te ontmoet en uit sy Woord te hoor nie.

Maria het iets vir haar aanbidding van Jesus gebring wat kosbaar en opofferend was. Johannes vertel ons dat sy Jesus se voete gesalf het met duur aromatiese olie wat van suiwer nardus gemaak was (Johannes 12:3). Dit sou omtrent ‘n jaar se lone werd gewees het! Toe lees ons dat sy sy voete met haar hare afgedroog het. Hierdie optrede sou baie onvanpas gewees het in die kultuur van daardie tyd, maar Maria het nie omgegee vir ander se opinies van haar of hoe hulle haar kan oordeel of kritiseer nie. Sy het geleef om Jesus heelhartig lief te hê en het haar alles voor Hom uitgestort.

Maria se aanbidding is ook aangevuur deur dankbaarheid vir die wonderlike, wonderbaarlike ding wat Jesus so pas gedoen het: Hy het haar broer Lasarus uit die dood opgewek! Dankbaarheid en lof is ‘n natuurlike reaksie op hierdie ongelooflike antwoord op haar hartskreet, terwyl sy slegs dae tevore gevul was met hartseer en verdriet.

Wat doen ons dan wanneer ons gebede nie beantwoord word soos ons gehoop het nie, wanneer die genesing nie kom nie, of wanneer dit lyk of Jesus nie opdaag nie? Is Hy enigsins minder waardig vir ons aanbidding? Nee, natuurlik nie. Dit is nie maklik nie, dit kom dalk nie vanself nie, maar wanneer ons ons harte uitstort in ware, rou, eerlike wanhoop en teleurstelling, word dit ‘n lofoffer aan die Een wat alles vir ons gegee het. En daar, in ons gebrokenheid, ontmoet Jesus ons en giet die genesende balsem van sy teenwoordigheid en vrede uit, en gee sy pragtige dogter die goddelike uitruiling van “’n kroon van skoonheid vir as, die olie van vreugde in plaas van rou en ‘n kleed van lof in plaas van ’n gees van wanhoop” (Jesaja 61:3)

Maria se daad van aanbidding het meer gesimboliseer as wat sy ooit op daardie oomblik besef het, aangesien sy Jesus gesalf het “vir die dag van my begrafnis” (Johannes 12:7), soos Jesus aan Judas, wat teen Maria se uitspattige optrede geprotesteer het, verduidelik het. Min het hulle geweet dat wat daardie einste week voorgelê het, sou lei tot die hoogste daad van opoffering en onderwerping, aangesien Jesus se lewe aan die kruis uitgestort is as gevolg van sy groot liefde vir jou en my.

Kom ons staan saam hier stil, vir ‘n oomblik, aan die voet van die kruis.

Gebuig in aanbidding en ontsag, ontvang sy vergifnis en reiniging, laat toe dat sy onvoorwaardelike, buitensporige liefde ons siele oorstroom en ons herinner dat ons Syne is. Gekies. Gered. Verlos. Herstel.

Mag ons soos Maria die beter deel kies en die teenwoordigheid van Jesus in ons lewens meer en meer najaag.

“Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ‘n offer wat vir God aanneemlik was.” Efesiërs 5:1–2

In God Se Hand Gehou

In God Se Hand Gehou

Grace Ann Hopkins

Die verhaal van Rut en Naomi is ‘n skat. Soms besef ek nie hoe moeilik dit vir beide hierdie vroue moes gewees het nie. Naomi het altwee haar seuns en haar man verloor, en Rut het haar man verloor. Vir vroue in daardie tyd het dit beteken dat hulle familienaam en eiendom dalk nie bewaar sou word nie en ook dat hulle dalk nie beskerm sou word nie.

Toe Naomi Rut aangeraai het om terug te keer na haar familie na haar man se dood, het Rut daarop aangedring om by Naomi te bly. Rut en Naomi het na Bethlehem, Naomi se tuisdorp, gereis. Terwyl Rut in Bethlehem hard in die veld gewerk het, het Boas, ’n familielid van Naomi se oorlede man, haar guns betoon. Boas het Naomi se grond gekoop en haar en Rut se beskermer geword. Boas het met Rut in die huwelik getree en Rut het geboorte geskenk aan ‘n seun met die naam Obed, wat die vader was van Isai, wat die vader van koning Dawid was.

Terwyl hierdie verhaal voor my geestesoog afspeel en ek dit in detail bestudeer, kan ek God se konstante en volgehoue ​​teenwoordigheid in die lewens van hierdie vroue sien. Ek kan sien dat Hy hulle van die begin af in sy hand hou – dat Hy hulle vashou midde in die verlies en trauma wat elkeen van hulle moes verduur. Ek kan myself indink dat dit moeilik was vir Naomi om nie net haar man te verloor nie, maar ook beide haar seuns; ook vir Rut wat haar man, een van Naomi se seuns verloor het. Ek kan myself indink dat Naomi baie eensaam moes voel toe sy vir haar twee skoondogters gesê het om haar te verlaat en terug te keer na hulle families; dit moes moeilik wees om sterk te bly vir hulle onthalwe. Ek dink ook dit was baie moeilik vir Rut om te kies om haar familie te verlaat om by Naomi te bly en saam met haar na ‘n vreemde plek te reis; dit moes moeilik wees vir Rut om in die veld te werk om hulle albei van kos te voorsien en ook vir Naomi wat bekommerd was oor wie haar man se naam sou voortdra. Tog, in al hierdie segmente van hulle verhale kan ek God se deernis en sy genade sien soos Hy voor hulle uit gaan en in elke behoefte van hulle voorsien.

Die woord waaraan God my herinner het nadat ek hierdie verhaal gelees het, was voorsiening. Volgens Oxford Languages beteken voorsiening “die aksie om iets vir gebruik te verskaf.” Ek sien hoe God vir Naomi, na die afsterwe van haar seuns, ‘n liefdevolle metgesel in haar skoondogter Rut voorsien het, sodat sy nie alleen op haar reis sou wees nie. Ek sien hoe God vir Rut die krag gegee het om haarself aan Naomi te verbind en hard vir haar te arbei en aan haar energie vir elke dag voorsien het. Ek sien hoe God vir Boas voorsien het as ‘n “voog-verlosser” om Rut en Naomi te red en te beskerm en in hulle fisiese en emosionele behoeftes te voorsien. Ek sien hoe God vir Rut voorsien het van ‘n seun, Obed, wat in die geslagslyn van Jesus sou wees, en in wie Naomi baie vreugde gevind en hom soos haar eie versorg het. Ek sien hoe God vreugde, doelgerigtheid en hoop in die lewens van twee vroue, wat groot pyn en verlies ervaar het, voorsien het.

Ons vind ’n soete beeld in vers 14 van hoofstuk 4, waar die vroue van Bethlehem God se hand in Rut en Naomi se lewens erken wanneer hulle sê: ”Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ‘n losser gegee het.” Wat ‘n prentjie van volkome vertroue in die Here en die blydskap wat kom wanneer ons sy karakter en voorsiening in ons lewens erken. Hierdie vroue het gesien hoe die hand van die Here vir Rut en Naomi voorsien het en hoe Hy hulle nie vergeet het in oomblikke van uiterste swaarkry nie. Hy was altyd met hulle, en altyd een tree voor.

Vriendin, wanneer ek hierdie verhaal lees, sien ek God se hart vir jou ook. Hy het jou geskep omdat Hy so graag ‘n verhouding met jou wil hê (Efesiërs 1:4–5). Hy het elke dag van jou lewe bepaal reeds voor jou geboorte (Psalm 139:16). Hy gaan voor jou uit en staan ​​langs jou as jou voortdurende metgesel (Jesaja 52:12). Hy sluit jou in van agter en van voor, en Hy lê sy regverdige hand op jou (Psalm 139:5). Hy beskerm jou en sorg vir jou (Psalm 46:1). Hy verlos jou uit die put en herinner jou aan jou waarde (Psalm 103:4). Hy gee vir jou ‘n nuwe naam as sy kind wanneer jy in Hom glo, ook die ewige lewe saam met Hom vir altyd (1 Joh. 3:1). Vriendin, jy word omring, ondersteun en onderhou deur God self. Hy sien jou huidige stryd, bevestig dit en is daartoe verbind om saam met jou te ly so lank as wat dit neem. Hy het ‘n beter einde vir jou in gedagte – een van volkome genesing, vreugde en ‘n ewige lewe.

Ek bid dat jy dit vandag weet: Jy maak saak vir God. Jou lewe maak saak vir Hom. Jy is nie vir ‘n enkele sekonde ongesien of oor die hoof gesien nie. Hy is saam met jou op jou reis op hierdie aarde, of jy nou in ‘n seisoen van diepe swaarkry of groot vreugde is. Jou verhaal is en sal ‘n getuienis wees van God se reddende krag, en wanneer jy dit deel, sal dit ander help om tot die kennis van die Een, ware God te kom. En jou liefde langs die pad kan ‘n beeld wees van Christus se liefde, net soos Rut vir Naomi was (‘n beeld van sy standvastige liefde), Naomi was vir Rut (‘n beeld van sy aanneemliefde), en Boas was vir Rut (‘n beeld van sy verlossende liefde).

Ek bid dat jy, terwyl jy op jou reis voortgaan, verseker sal wees dat God jou in sy hand vashou. Jy is veilig. Hy het jou lief, en Hy laat los jou nooit nie.

Sing Vir Die Here

Sing Vir Die Here

Crystal Stine

Ek hou van aanbiddingsmusiek. Sommige van my kragtigste oomblikke met God was tydens aanbidding, wanneer ek luister na die liggaam van Christus wat sy naam prys. Wanneer ek my oë toemaak en fokus op die woorde wat ek vir die Here sing, is ek meer bewus van die teenwoordigheid van die Heilige Gees.

God het my egter nie die vermoë gegee om mooi te sing nie. Ek is meer van ‘n “vrolike geraas” -aanbidder wat daarvan hou wanneer die volume van die musiek enigiets uitkanseller wat die mense om my kan ervaar. Dit was iets waaroor ek baie selfbewus was en ek sou terughou omdat ek nie wou hê dat iemand moet hoor hoe vals ek kan wees wanneer hulle probeer aanbid het nie. Ek weet nie wannneer dit gebeur het nie, maar iewers langs my reis met God het Hy my gewys dat ek aanbidding alles oor my gemaak het.

Ware aanbidding is pragtig as dit alles oor God gaan.

Toe ek my fokus verander van wat ek gedoen het en dit geplaas het op wie God is, het ek opgehou om bekommerd te wees oor wat ander mense sou dink. Ek het ook besef dat my dogter kyk en by my leer. Om haar stemmetjie te hoor aansluit – en die manier waarop dit my hart geraak het – het my laat verstaan, al was dit op ‘n klein manier, hoe God moet voel wanneer sy dogters Hom aanbid.

In ons Skrifgedeelte van vandag sien ons hoe Miriam, Aäron se suster en ‘n leier onder die volk, Moses se voorbeeld gevolg het en op sy loflied gereageer het met ‘n loflied van haar eie. Sy het die vroue in sang en dans gelei en die grootheid van God in die openbaar verklaar. Sy het die Rooi See oorgesteek. Sy het gesien wat God gedoen het en daar was geen ander reaksie vir ‘n vrou van geloof as om hardop die heerlikheid en majesteit van haar God te verkondig nie. Sy het wat sy gehad het en haar invloed  gebruik om ander vroue in aanbidding te lei.

Ons hoef nie perfekte stemme, verhoë om op te tree, ‘n spesiale titel of enigiets deftigs te hê om God te aanbid nie. Jy kan die vroue wat God in jou lewe geplaas het beïnvloed wanneer jy doelbewus verkondig wat Hy gedoen het, sy getrouheid onthou en ander aanmoedig om dieselfde te doen. Dink aan wie kyk en by jou leer. Vir hulle is jy ‘n aanbiddingsleier. Jy wys hulle wat dit beteken om God te eer en te verheerlik en leer hulle om hulle hele self, sonder skaamte of huiwering aan die voet van die kruis te bring.

Soos Miriam het jy ‘n sitplek in die voorste ry vir die groot werke wat God in jou lewe en die lewens van jou geliefdes doen. Sluit aan wannneer ander oor God se karakter en sy krag getuig. Wanneer ander lei en God met hul gawes eer, gebruik die gawes wat God vir jou gegee het om dieselfde te doen. Prys God nie net vir wat Hy gedoen het nie, maar wat Hy sal doen en mees belangrikste, vir wie Hy is.

Week 5 Uitdaging:

Wie in jou lewe het jy al gesien veg vir vreugde en loof God te midde van moeilike tye? Maak hierdie week ‘n punt daarvan om haar aan te moedig en te deel wat jy in haar lewe gesien het en hoe dit jou beїnvloed het.

Week 5 Leesplan:

Week 5 Memoriseervers:

Om Ons Alles Te Gee

Om Ons Alles Te Gee

Deur Julie McIlhatton

Deesdae is daar ‘n toename in die gewildheid van lukrake dade van goedhartigheid. Dit mag ‘n goeie daad vir ‘n vreemdeling wees, soos om vir die persoon agter jou in die ry te betaal of om vooruit vir koffie te betaal sodat die haweloses iets warms het om te drink. Ek ken ‘n vrou wat blomme hekel en dit op plekke los vir ander om te kry.

Ander goeie dade is meer intensioneel. Dit behels om te dink aan iemand wat jy ken en om iets vir hulle te doen, soos om ‘n bemoedigende boodskappie vir hul te skryf of om vir hul ‘n geskenk te gee sonder dat hul weet van wie af dit is.

Ek was al die ontvanger van ‘n goeie daad toe ek hoogswanger was met my tweede kind, en my oudste pas twee jaar oud geword het. Ek het ‘n moeilike dag gehad, daar was baie aan die gang op ‘n wyer familievlak, en my emosies was rond en bont. Ek het besluit om my seun uit te neem vir middagete. Toe ek gaan betaal, is daar vir my gesê dat die rekening reeds betaal is. Iemand het my gesien en het besluit om vir my en my seun met ‘n gratis maaltyd te seën. Ek het nog nooit hierdie goedhartigheid vergeet nie.

Net voor vandag se Skrifgedeelte in Markus 12:3-40, waarsku Jesus teen die skrifgeleerdes wat daarvan gehou het om rond te loop in hul swierige kyk-na-my klere, met hul uitvoerige kyk-na-my groete. Vir die skyn, het hulle lang gebede in publieke plekke opgesê sodat almal hulle kon hoor. Hulle het die voorste sitplekke in sinagoges en die ereplekke by feesmaaltye geneem. Hulle het daarvan gehou om raakgesien te word. Tog heeltyd “palm hulle die huise van die weduwees in” (Markus 12:40). Hulle het onregverdig van die armstes en die kwesbaarstes in die samelewing gevat. Jesus sluit af: “Hulle sal baie swaar gestraf word.”

Dit is in hierdie konteks wat ons vir Jesus en die dissipels aantref waar hulle sit en die offergawekis dophou. Daar was ryk mense wat groot bedrae gegee het. Toe kom die arm weduwee. Sy het so min gegee, maar Jesus het vir sy dissipels gesê: “Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het.” Ek kan hul verwarde gesigsuitdrukkings in my geestesoog sien: nee, sy het nie, sy het net twee koper muntstukkies gegee! Ons het haar gesien!

Jesus het egter hierdie vrou geken. Hy het haar gesien, en Hy het haar vrygewige hart geken. Sy het alles gegee wat sy gehad het om van te lewe! Sy het letterlik haar alles vir God gegee.

God se volk moet vrygewig wees, en die veel groter vrygewigheid weerspieël wat Hy aan ons betoon het. Wanneer ons van die vroeë kerk in Handelinge lees, is ons uit die veld geslaan deur die vrygewigheid van God se volk en hoe hulle na mekaar omgesien het. Selfs tóé was daar egter ‘n egpaar, Ananias en Saffira, wat selfsugtig probeer het om erkenning vir vrygewigheid te verkry, terwyl hulle skelm van die geld wat hulle gemaak het, vir hulself agtergehou het. Toe hulle gekonfonteer word en lieg, het God hul laat dood neerslaan. Die probleem is nie dat hul van die geld gehou het wat hul uit die verkoop van hul grond gemaak het nie. Die probleem is hul bedrog, om geprys te wil word vir hul vrygewigheid, terwyl hul harte nie vrygewig was nie (Sien Handelinge 5:1-11).

Ons moet eelik wees met onsself. Is ons waarlik vrygewig? Bereken ons wat die kleinste hoeveelheid is waarmee ons kan wegkom om te gee? Soek ons erkenning van ander vir alles wat ons doen om mense te help? Wanneer ons bedank word, hoe voel ons?

Hou ons liggies vas aan die tydelike dinge van die wêreld terwyl ons nastreef om vrygewig te wees met alles wat aan ons gegee is? Dit is nie net geld nie, maar ons tyd, woorde, huise, motors, kos, en selfs die beste sitplekke! Ons kan vrygewig wees in ons vergifnis van ander en in ons geduld met ander.

Hierdie vrae daag my uit. Te dikwels beywer ek my vir my eie gemak eerder as om uit my pad uit te gaan om vrygewig teenoor ander te wees. Ek word herinner daaraan dat dit nie is hoe Jesus werk nie. Ek bid dat die Here sal aanhou om aan my hart te sny, om toenemend soos Jesus te word.

Een van my gunsteling ou gesange is When I Survey the Wondrous Cross (Afrikaanse verwerking Liedboek 396 – Aanskou die Heiland, Sien die Kruis), geskryf deur Isaac Watts. Die laaste vers sê:

Were the whole realm of nature mine,

that were an offering far too small;

love so amazing, so divine,

demands my soul, my life, my all!

In die Afrikaanse lied, is die woorde:

Hom kan ek nou met vreugde dien

in ruimte deur sy kruis voorsien.

‘n Liefde so volmaak en vry

eis alles, alles ook van my

Ons hoef nie al ons besittings weg te gee nie. Maar ons word geroep om vrygewig te wees, wetend dat alles wat ons besit deur God aan ons gegee is om met wysheid te bestuur. God sien wat ons gee en wat ons kies om terug te hou. Hy ken ons harte. Ons word geroep om vroue te wees wat optree in antwoord op die groot vrygewigheid wat God teenoor ons bewys het, deur vrygewig teenoor ander te wees, om ons alles vir Christus te gee. 

Geloof Wanneer Jy Die Dood In Die Gesig Staar

Geloof Wanneer Jy Die Dood In Die Gesig Staar

Deur Lyli Dunbar

In Januarie 2021 het Forbes Tydskrif ’n ontnugterende artikel gepubliseer met die titel “Een Uit Agt Christene Wêreldwyd Woon In Lande Waar Hulle Vervolging Mag Ondervind.” Meer as 340 miljoen gelowiges bly getrou aan Jesus in lande waar hulle persoonlike aanvalle en diskriminasie verduur weens hul toewyding aan die evangelie. Duisende volgelinge van Christus word daagliks uit hulle huise verdryf, gevange geneem of vermoor.

Ek het hierdie artikel gelees terwyl ek gemalik en veilig by my kombuistefel hawermoutpap gesit en eet het. Die grootste vervolging wat ek nog ooit teëgekom het, was iemand wat woedend hul stem verhef het omdat hulle nie met my oortuigings saamgestem het nie. Ek het nog nooit vir my lewe gevrees of angstig gevoel om my vryheid te verloor nie. Ek kan nie help om te wonder hoe ek sou reageer in die aangesig van sulke verdrukking nie.

Ek weet daar is pragtige vroue regoor die wêreld wat hierdie woorde lees, wat daagliks onderdrukking in die gesig staar. Jy is deur jou familie uitgedryf omdat jy Jesus gevolg het. Jy het alles verloor wat in hierdie wêreld vir jou dierbaar is, maar jy het Christus gewin. Ek staan in verwondering oor jou geloof.

Jou geloof herinner my aan Ester, en ek bid dat God vir my die opofferende geloof sal gee wat sing, “I surrender all” maak nie saak watter teëspoed mag kom nie.

Die moed om die geloof te behou wanneer alles weggestroop is en jou lewe onvrugbaar is, kom nie van binne nie. Hierdie sterk geloof kom net van God af.

Ester het God geken. Sy het God meer gevrees as wat sy gevrees het om haar eie lewe te verloor. In plaas daarvan om haarself toe te laat om ongesiens te wanhoop, het sy vertrou dat God soewerein oor haar omstandighede is. Sy het vorentoe beweeg omdat sy geglo het God is getrou.

Vir die oë van die kykende wêreld het haar lewe dalk in die weegskaal gehang, maar sy was altyd veilig in God se liefdevolle hande. Elke oomblik van ons lewens is onder sy gesag, en Hy sal ons die krag gee wat ons nodig het as ons ons aan sy wil onderwerp. Ons Verlosser versuim nooit om op te daag en sy mense te red nie.

’n Les wat ons almal by Ester kan leer, is hoe om op die ondenkbare te reageer. Haar wêreld het skielik in as verander, en oral om haar het die mense vir wie sy lief was, gehuil. In plaas daarvan om toe te laat dat angs haar hart oorweldig, het sy haar tot gebed gewend. Sy het om God se genade gepleit en om wysheid geroep.

Wanneer die vyand probeer om jou ongedaan te maak, wend jou tot gebed. Gebed bewapen ons met die krag wat ons nodig het.

Wanneer jou twyfel harder praat as jou geloof, roep om God se hulp. As alles om jou padgee, kyk op na God. Hy sal jou onderhou. God is altyd vaste grond onder jou voete.

Die dood kry nie die laaste woord in ons lewens nie, liewe vriendinne. Jesus het die dood namens ons oorwin, en eendag sal Hy dit vir altyd uitwis. Tot dan, mag God ons geloof gee vir ’n tyd soos hierdie. As ons vergaan, sal ons Jesus van aangesig tot aangesig sien.

Jou wêreld is veilig in God se magtige hande. Jy behoort aan die Koning van die Konings. Jou Hemelse Vader sit op sy troon in die hemel, en jy kan vandag met vrymoedigheid voor sy troon van genade kom om hulp te kry in jou tyd van nood.

Volkome Oorgegee

Volkome Oorgegee

Deur Angela Perritt

Maria was net ‘n jong meisie.

Sy was nie hoog geskool nie. Sy was nie ryk nie. Sy was nie perfek nie. Maria was op baie maniere ordinêr, behalwe op een manier: sy het God heelhartig liefgehad.

Van al die jong meisies deur al die eeue heen, het God vir Maria gekies om die moeder van Jesus te wees. Wat ‘n ongelooflike eer. En tog, met hierdie groot eer het skinderpraatjies, misverstande en pyn gekom. Niemand kon verstaan waardeur sy gegaan het nie. Ek kan my indink dat sy van tyd tot tyd met eensaamheid geworstel het terwyl sy die gewig van uitsonderlike eer en dít wat daaruit gevolg het, gedra het.

Nietemin was een van Maria se baie sterk punte, haar geloof. Ons sien dit in vandag se verse. Alhoewel sy nie presies die engel se aankondiging verstaan het nie, het sy nederig en gewilliglik “ja” gesê vir die taak.

“Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” – Lukas 1:38

Haar “ja” in daardie oomblik het eer beteken.

Haar “ja” in daardie oomblik het beteken dat sy haar wil oorgegee het aan God se wil en ‘n lewe van opoffering.

Haar “ja” aan God het nie net een keer gebeur nie. Maria het voorrtgegaan om vir die res van haar lewe “ja” te sê aan God.

En in daardie “ja”, te midde van die onbekende, in die besonderhede wat sy nie verstaan het nie en die toekoms wat onbekend was, het Maria voortgegaan om God te vertrou en haar gesindheid van oorgawe en opoffering te behou. Om die moeder van die Uitverkore Een, die Verlosser van die wêreld te wees, was nie ‘n maklike taak nie. Tog het sy voortgegaan om haar krag van God te verkry. Sy het aangehou om God heelhartig lief te hê, sy het voortgegaan om geloof te hê te midde van haar hartseer.

Liewe vriendin, somtyds sal jou taak deur ander verkeerd verstaan word. Wees steeds gehoorsaam. Somtyds sal jou missie jou baie kos. Offer steeds op.

Maria het nie die volle beeld gehad van wat God sou doen nie en ons het ook nie. Maar, soos Maria, moet ons toelaat dat ons geloof die gapings van wat ons nie verstaan nie, vul. Om Jesus te volg is nie maklik nie. Om die moeder van Jesus te wees was ook nie. Maria moes ‘n lewe van oorgawe en opoffering leef. Dit was God se wil vir haar. Ja, sy was begunstig, maar tesame met daardie begunstiging, was die keuse om ‘n lewe van oorgawe en opoffering te leef.

Ons word nie geroep om maklike lewens te leef nie. Ons is vroue wat deur God gekies is om lewens te leef wat ons Here eer. Vir Maria het dit oorgawe en opoffering beteken. Vir ander mag dit iets anders beteken. Maar ons is almal geroep om God met die dae, talente en gawes wat Hy vir ons gegee het, te verheerlik.

Ek hou van die vreugde wat ons in Handelinge 1:13-14 sien:

In die stad aangekom, is hulle na die bovertrek toe waar hulle gewoonlik vertoef het. Dit was Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Siloot  en Judas die seun van Jakobus. Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met ‘n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by. (Beklemtoning my eie).

Te midde van die dissipels se opgewondenheid om Jesus na sy opstanding te sien, het hulle in Jerusalem bymekaargekom, en daar, te midde van alles, was Maria! Ek kan my nie die vreugde indink wat sy moes voel na Jesus se opstanding nie!

Was haar lewe van oorgawe en opoffering moeilik? Ja.

Was haar lewe van oorgawe en opoffering die moeite werd? Absoluut! En net so is joune!

Hier in Amerika sê ons: “Vryheid is nie gratis nie.” Dit is ook waar van ons verlossing. Die pad van gehoorsaamheid wat Jesus gevolg het om vir ons sondes te betaal, het Hom sy lewe gekos. Die pad van gehoorsaamheid wat Maria as sy moeder moes gevolg het, het haar ook baie gekos. En tog het beide aan die ander kant van gehoorsaamheid, oorgawe en opoffering, geweet dat dit alles die moeite werd was.

Liewe vriendin, ek weet nie waardeur jy op die oomblik wandel nie. Maar laat ek jou hiermee bemoedig: eendag sal hierdie oorgawe, hierdie opoffering, hierdie hartseer eindig. Hierdie wêreld is tydelik, maar die hemel is vir ewig. Maak vandag, soos Maria, keuses wat ‘n invloed op die ewigheid sal hê.

Wees Heelhartig Lief Vir God!

Week 4 Uitdaging:

Oorgawe kan terselfdertyd moeilik en tog mooi wees. Ons sien dit in die lewens van die vroue wat van wie ons hierdie week lees. Wie in jou lewe is ‘n goeie toonbeeld daarvan? Neem hierdie week tyd om haar met jou woorde aan te moedig en haar te laat weet dat haar getrouheid jou lewe beїnvloed het.

Week 4 Leesplan:

Week 4 Memoriseervers:

Geloof By Die Put

Geloof By Die Put

Deur Brittany Salmon

Terwyl ek in die kweekskool was, het ek in ‘n sendingkantoor gewerk. Een van die voordele van my werk was om internasionaal te reis en te sien wat ons sendelinge in hul gemeenskappe doen. Op een reis was ek in ‘n plattelandse gemeenskap waar die plaaslike sendelinge en pastore na dorpe gegaan het en storievertelling gebruik het om Jesus aan die mense bekend te stel.

Terwyl ons deur een dorpie gestap het, het die leier van ons groep gesê: “Brittany, ons nader ‘n dorpie met vroue en kinders, en ek het gehoop dat jy dalk die verhaal van die vrou by die put met hulle sou deel.” Ek was jonk en onervare, bekommerd dat ek die storie verkeerd sou vertel. Ek was bekommerd dat ek iets sou doen wat hulle kultuur sou oneer of dat ek Jesus dalk op een of ander manier verkeerd sou voorstel. Maar, senuweeagtig het ek ja gesê, met hul versekering dat as ek verkeerd trap, hulle daar sou wees om te help (en ook het hulle my ‘n bemoedigende herinnering gegee dat die Here in beheer is van die vroue se reaksie; dit was bloot my taak om te deel).

Terwyl ons in ‘n kring in die skaduwee van ‘n pragtige boom gesit het, het ek die storie gedeel wat ons vandag in Johannes lees. Ek het vertel van ‘n vrou wat baie van die lewe se hartseer ervaar het, en hoe sy, terwyl sy na die put gegaan het om water te kry, die Verlosser van die wêreld ontmoet het. Deur middel van ’n vertaler het ek hulle gevra of hulle weet hoe dit voel om skande van hul gemeenskappe te ervaar en baie van die vroue het geknik. Ek het hulle gevra of hulle hulle kan voorstel om so skaam en uitgeworpe te voel dat hulle nie meer die veiligheid gesoek het om saam met ’n groep vroue na die put te gaan nie, maar verkies om alleen te gaan. En toe vra ek vir hulle: “Kan julle dink dat die God van hierdie wêreld gekies het om die Goeie Nuus van Jesus te deel met niemand minder nie as ‘n uitgeworpene, ‘n skandalige vrou?” En sommige van hulle het met ‘n tongklap, hul misnoeë aangedui.

En tot hul ongeloof kon ek toe die goeie nuus met hulle deel dat dit nie een of ander sprokie was nie. Ek het verduidelik dat die storie in Johannes nie ‘n mite of ‘n legende was nie, maar dit was so waar en betroubaar soos die grond waarop ons gesit het. Ek kon met hulle deel dat Jesus nie net ‘n “goeie man” was nie, maar die lewende water wat Hy vir die vrou by die put aangebied het, bied Hy vandag ook vir hulle aan.

En dit is die boodskap wat ek ook aan jou bring.

Jy sien, ek dink dat ons dikwels te vertroud raak met gedeeltes in die Skrif. Sommige verhale, meer as ander, word soos volksverhale oorgedra eerder as kragtige verhale wat die manier waarop ons onsself en ons God beskou, vorm. En ek moet bieg dat, toe ek die dorpie binnegestap het om hierdie gedeelte in Johannes te deel, ek daaraan skuldig was. En tog, toe ek daardie dorpie verlaat het, het ek in trane weggestap, nie weens die reaksie van die vriendelike en vrygewige vroue wat ek ontmoet het nie, maar omdat ek gesien het hoe hulle die storie vir die eerste keer verstaan, het dit my gehelp om met nuwe oë na die verhaal te kyk.

En dit is wat ek vandag ook vir jou hoop. As jy vandag jou Bybel oopgemaak het en vinnig deur die storie gesnel het as gevolg van sy bekendheid, mag ek jou aanmoedig om terug te gaan en weer te lees:

“maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” – Johannes 4:14

Dit is goeie nuus, nie net vir die vrou by die put nie, maar vir ons vandag. Dit is goeie nuus, want die God van die heelal bied ons die ewige lewe in Hom. En meer as dit, Hy het gewys dat hierdie ewige lewe nie vir die godsdienstige elite gereserveer is nie, maar dit is vir die uitgeworpenes en verdruktes. Dis vir die vrou wat oor die hoof gesien is, eenkant toe gegooi en geïgnoreer is. Dit is vir die Jood en nie-Jood, vir mense in stede en dorpe, en dit is vir jou en vir my.

Die vrou by die put is ‘n kragtige verhaal omdat dit ons herinner dat niemand te gebroke is vir die verlossende liefde van die almagtige God nie. Alhoewel ons aan hierdie kant van die hemel gereeld putte vind wat opdroog, nooi die Seun van die lewende God ons om lewende water te drink uit ‘n put wat nooit sal opdroog nie.