Daar Is ‘n Beter Manier

Daar Is ‘n Beter Manier

Grace Ann

Deuteronomium 30 het my diep geraak toe ek dit lees. Dit is ‘n kragtige gedeelte waarin Moses die Israeliete vir oulaas voor sy dood bemoedig het. Op hierdie tydstip het hulle al veertig jaar lank in die woestyn rondgedwaal en ek kan my nie indink hoe moeg en verward hulle moes gewees het nie. Dit is op hierdie punt dat Moses die volk aanspoor om na hulle eerste liefde terug te keer. Hy vermaan hulle deur hulle te herinner aan God se karakter wat so liefdevol en genadig is. Moses het die waarheid oor sonde en verlossing verklaar; hy het vir die Israeliete gesê dat diegene wat God liefhet in die Beloofde Land sou woon en die lewe hê, maar dié wat nie aan God toegwyd is nie, nie die Beloofde Land sou binnegaan nie en sou omkom. Ek kan amper die dringendheid in Moses se stemtoon hoor wanneer hy verklaar: “Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe!” Dit was die belangrikste keuse wat die Israeliete ooit moes maak – om God te kies. Dit is ook die belangrikste keuse wat ons ooit sal moet maak.

God gaan ons nooit forseer om Hom te kies nie. Ofskoon God desperaat daarna smag dat ons na Hom toe sal gaan en by Hom bly, laat Hy daardie besluit aan ons oor. En terwyl Hy wag, bid Hy vir ons (Romeine 8:34). Sy liefde is so geduldig. Hy sal aan ons sy bly terwyl ons vrae vra en twyfel of woede uitspreek. Hy bly lojaal as ons dislojaal teenoor Hom is, wanneer ons op al die onvervullende plekke van die wêreld soek na liefde. God se liefde oortref enige soort menslike liefde wat ons al ooit beleef het; dit het geen fisieke of emosionele grense nie.

Vriendin, ek wil jou vandag vra, het jy al vir God gekies? Miskien het jy nog nooit jou geloof in Hom geplaas nie. Miskien glo jy in Hom maar vlug op die oomblik om die een of ander rede van Hom af weg. Ek wil hê jy moet weet dat Hy jou gemaak het, en Hy wil jou hê. Die plan wat Hy vir jou het is een vol hoop, onvoorwaardelike liefde en die ewige lewe. Jesus sê self daar is ‘n breë pad na die dood en baie bewandel dit want dis maklik en almal doen dit. Die pad wat na die lewe lei is egter smal en min kies om daarlangs te loop (Matteus 7:13-14). Watter pad kies jy vandag? Ek hou van God se liefdevolle versekering dat wat Hy van ons vra, nie vir ons te moeilik is om te doen nie. Hy het ons nie alleen en hulpeloos gelaat nie, want Hy het sy Lewenswoord gegee om ons elke tree van die reis te lei.

God weet jy is ‘n mens, en Hy het innige deernis met jou. Die Israeliete het God gekies, weggedwaal, God gekies, weggedwaal, en die kringloop het net aanhou herhaal. Toe Hy hulle gered het, was hulle verheug maar het gou weer van Hom vergeet. Tog het Hy hulle met lojale liefde sy volk bly noem, maak nie saak wat nie. Vriendin, niks wat jy gedoen het of ooit sal doen, kan jou van God se liefde vir jou skei nie. God dink aan, en veg sonder ophou vir jou en het jou innig lief. As jy tot inkeer kom, is Hy altyd bereid om te vergewe. Psalm 103:11-12 sê dat sy liefde so groot is as die afstand tussen hemel en aarde, en Hy verwyder ons sonde so ver van ons af as wat die ooste van die weste af is. Dit is nooit te laat om die weg van die lewe en waarheid – om God bo jou begeertes en die wêreld – te kies nie. Hy het alles wat jy nodig het om hierdie keuse te maak vir jou gegee, en Hy sal elke lewenstree op hierdie aarde saam met jou wees, totdat jy  van aangesig tot aangesig by Hom kan wees.   

Ek wil jou met die woorde van ons geliefde Jesus uit Johannes 10:10 groet: “’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Jesus het die pynlikste dood gesterf om jou uit die mag van die sonde en dood te red. Hy het die dood oorwin sodat jy nou oorvloedige lewe, en vir altyd die ewige lewe kan hê. Dink vandag na oor sy opoffering. Terwyl jy jou Godgegewe behoefte aan liefde en waarde in al die plekke van die wêreld probeer bevredig, hoor ek Hom persoonlik, met soveel liefde, by jou pleit en sê:  

My geliefde!

Kyk vir my!

Daar is ‘n beter manier…

Verander vyande na erfgename

Verander vyande na erfgename

Sara Lindsey

Ek was onlangs vir ‘n naweek weg saam met ‘n groep vriende. Sommige van hulle ken ek al vir dekades lank op ‘n baie diepe vlak, en ander het ek op daardie tydstip minder intiem geken. Ek het vandag se verse gelees terwyl ek gereis het, in afwagting op hierdie studie en ek was verwonderd oor hoe dikwels die onderwerp van versoening voorgekom het in die verhale wat ons met mekaar gedeel het.

Ons het al almal verskille in ons vriendskappe, families of professionele verhoudings beleef. Somtyds los ons ons verskille op en vind ons ‘n nuwe vlak van begrip en groei. Somtyds staan ons eie trots in die pad. Somtyds bereik ons ‘n skikking, somtyds net ‘n wapenstilstand. Somtyds laat konflik ons bitter en vol wrokke.

Die waarheid is dat ons mense is wat baie bagasie met ons saamdra. Ons bring al ons vooroordele en wonde uit die verlede in elke verhouding in en dit is ‘n resep vir onmin. Ons is ook inherente sondige mense, en op ons beste maak ons steeds foute. Verhoudings—en versoenings—is ingewikkeld en moeilik.

Voor Jesus was ons verhouding met God gebroke. Ons was vreemdelinge en gesien as vyande van God (Romeine 5:10). Jesaja 59:2 sê: “Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.” As ek uit ‘n wêreldse perspektief hieraan dink, dan klink dit soos ‘n verhouding wat nooit herstel sal kan word nie. Uit ‘n ewige perspektief is dit ewige verdoeming.

Maar God. Hy het uit genade sy Seun, Jesus aan die kruis geoffer om ons met Hom te versoen. Jesus het “die sondes van die volk versoen” (Hebreërs 2:17). 2 Korintiërs 5:17-18 verduidelik: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.” Wanneer ons die geskenk van verlossing deur Jesus aanvaar, is ons met God versoen (Romeine 5:10). Ons vrede met God is herstel deur die bloed aan die kruis (Kolossense 1:20).

Ek hou baie daarvan hoe dit in 2 Korintiërs 5:21 gesê word: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” Ons kan nie werk hiervoor nie. Ons verdien dit nie.

Nadat ons sy geskenk van verlossing aanvaar, is dit ook ons verantwoordelikheid om ander te vertel hoe hulle met God versoen kan word. Die skrikwekkende beskrywing van ons lewens “voor Jesus” is ook die harde realiteit van ‘n lewe “sonder Jesus.” Vriende, deel die Goeie Nuus. Kom ons maak die hemel vol.

Week 3 Uitdaging:

Dink na oor die gebeure in Jakob se lewe waaroor jy tot dusver gelees het. Sou God Jakob verlos het sonder Jakob se slinkse optrede? Het Jakob uitgemis op die seën van God deur selfstandigheid en bedrog? Hoe het Jakob se kinders dieselfde neigings van om op hulself staat te maak en bedrog geopenbaar?

Week 3 Leesplan:

Week 3 Memoriseervers:

Worstel Met God

Worstel Met God

Brittany Salmon

Ek kan onthou hoe ek in die Sondagskool gesit het toe ek die eerste keer die storie gehoor het van Jakob wat met God stoei. Ek was verward oor die idee van ‘n man wat met die Almagtige God stoei en ek was nog meer verward oor die doel van die storie. Waarom het God met Jakob gestoei? Waarom het Jakob nie opgehou nie? Waarom op aarde het God vir Jakob ‘n mank heup gegee? En die lys van vrae waarmee ek my onderwyser gepeper het, het aangehou en aangehou.

En tog, soos ek ouer geword het, het hierdie storie een geword waarna ek sou teruggaan en troos vind. Deur die jare, soos ek die gedeelte gelees en herlees het, sou verskillende dinge van die storie vir my uitstaan in verskeie seisoene. Om mee te begin, ek hou daarvan dat God afgekom het en met ‘n persoon gestoei het. Sy fisiese teenwoordigheid is ‘n rariteit dwarsdeur die Ou Testament en die feit dat Hy naby Jakob gekom het, met hom gestoei het en hom geseën het, is ‘n diepgaande weldaad.

Nog iets waarvan ek hou in hierdie storie, is dat God vir Jakob gevra het: “Wat is jou naam?” asof Hy nie geweet het nie. Maar natuurlik, God het geweet! Dit laat my dink aan hoe Jesus dikwels aan sy dissipels en die Fariseërs vrae gevra het, nie omdat Jesus nuuskierig was nie, maar omdat Hy wou hê dat hulle iets belangriks moes verstaan. God het Jakob sy naam gevra en toe het Hy vir hom ‘n nuwe naam gegee, nie omdat die Almagtige God nie geweet het met wie Hy stoei nie, maar omdat Hy Jakob gehelp het om sy identiteit as ‘n seun van God te verstaan!

(Soos ek gesê het, ek is mal oor hierdie storie.)

Maar daar was een seisoen in my lewe vol hartseer en verlies en hierdie Skrifgedeelte het ‘n diep impak op die trajek van my reis gehad. In ‘n toestand van teleurstelling en verwarring het ek myself bevind waar ek Genesis 32 vanuit  ‘n ander oogpunt gelees het – met insig waar ek kon insien en verstaan waarom ek sonder om op te gee, met die Here worstel. Ek was op ’n plek waar ek Jakob se desperaatheid verstaan toe hy uitgeroep het: “Ek sal jou net los as jy my seën.” (Genesis 32:26).

Ek onthou daardie aand nadat ek Genesis 32 gelees en gebid het, “God, ek weet dat U goed en heilig is en dat U eindelik tot my beswil en tot u eer is. Maar ek verstaan nie my huidige omstandighede nie. Ek kan nie my gedagtes om dit draai nie en ek worstel met die realiteite van lewe in ‘n gevalle wêreld. En so, Vader, sal ek aanhou worstel totdat U my seën. Dit hoef nie te lyk soos ek dink ‘n seën moet wees nie, maar ek laat U nie los voordat U my laat los nie.”

En, soos Jakob, het ek met God geworstel. Nie vir ‘n nag nie en nie op ‘n fisiese manier nie, maar vir ‘n seisoen sou ek die deure van die hemel afbreek en God vra om te genees wat in my hart gebreek was. Ek wou nie materiële seëninge hê nie; Ek wou die seën hê om verlos te word, versoen te word en heel gemaak te word.

Met verloop van tyd het God op wonderbaarlike maniere in my hart gewerk.

Maande het verbygegaan en eendag het ek wakker geword en besef dat ja, my lewe was in stukke, maar God het stadigaan weer iets moois aanmekaargesit. Jare later, selfs nou, alhoewel ek kan sien dat Hy my oorvloedig geseën het meer as waarvoor ek ooit kon hoop, loop ek steeds mank. Die wonde wat die lewe gebring het mag dalk genees wees, maar dit het ook hul merke gelaat.

Ek het met God geworstel en Hy het my geroep gehoor. Hy het nie vir my alles gegee waarvoor ek gevra het nie, maar Hy het die gebroke dele van my storie genees. Dwarsdeur my worsteling het ek gevind dat wat die Skrif oor die karakter van God sê, waar is: Hy is ‘n God wat eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. (Jesaja 61:3).

Wanneer ek nou Genesis 32:22–28 lees, glimlag ek dikwels. Want in hierdie gedeelte sien ons ‘n man wat werklik met God gestoei het – fisies – en hy het die omstandighede geseënd, en  mank, agtergelaat.

En dieselfde is waar in my eie lewe.

Meer as Genoeg

Meer as Genoeg

Kelli Trontel

“En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het. Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hieraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee.” – 1 Johannes 3:23–24

“Die Here is getrou, al is die lewe en ander nie.” Dit is ‘n frase wat ‘n leuse in my lewe en in ons huis geword het. Ek het dit eerstehands ervaar en sal vir altyd getuig van die getrouheid van die Here, selfs in die donker, verwoestende, en wat gelyk het soos, onregverdige seisoene in my lewe.

Ek onthou die nag so duidelik. Dit was die eerste aand wat ek getwyfel het of ek “genoeg” was vir my man om ons en ons huwelik te kies toe ek verblind was deur sy verraad. So vinnig as wat daardie gedagte by my opgekom het, het ‘n nog harder stem direk met my gepraat en gevra: “Is ek genoeg vir jou?” Ek het dadelik geweet dat ongeag hoe my omstandighede op die ou end sou uitdraai, die Here naby my was, Hy was met my en Hy was genoeg.

Sal ons gehoorsaamheid en getrouheid aan die Here kies wanneer ander ons seermaak, ons verraai of onregverdig behandel? En nee, ek stel geensins voor om in ‘n verhouding te bly waar ons mishandel word nie, maar wat ek vra is, sal ons nie moed verloor wanneer ons met hartseer en teleurstelling gekonfronteer word en wanneer al wat ons oor het Jesus is nie? Is Hy genoeg?

Soos ons aan die einde van Genesis 31 lees, het Jakob sy skoonpa, Laban, bestraf. Hy was kwaad, en met reg. Dit het vir meer as twintig jaar opgebou namate Jakob Laban getrou en lojaal gedien het. Jakob het bo en behalwe gegaan, hard gewerk en baie opgeoffer, selfs wanneer ander nie sy integriteit of ondersteuning van Laban se suksesvolle ondernemings gesien of raakgesien het nie. In ruil daarvoor is Jakob onregverdig deur Laban behandel, insluitend om sy loon tien keer te verander!

Wat ons met die blote oog sien, verbleek in vergelyking met wat ons deur die lens van geloof sien.

Wat ons in die oomblik as verwerping kan beskou, kan dikwels agterna as beskerming gesien word.

Ons leef in ‘n gevalle wêreld en selfs in hierdie verhaal het die karakters almal gebreke en is hulle bedrieglik, maar God het altyd ‘n manier om euwel om te keer. Die gebod vir ons is om in Jesus te glo en mekaar lief te hê. Seëninge, guns, beskerming en wysheid sal alles ‘n uitvloei wees as ons in Hom bly. Ons kan in volle sekerheid van die Here se nabyheid wandel terwyl ons die bonatuurlike en onverklaarbare werkinge van die Heilige Gees in ons lewe ervaar, veral te midde van ons beproewings.

Daar kan verhoudings in ons lewens wees waar skeiding die beste ding is. Dit was vir my ‘n moeilike les om te leer, veral met betrekking tot vriendskappe wat ek gedink het ek vir my hele die lewe sou hê. Die verraad was vernietigend. Die bedrog was hartverskeurend. Die verlating was verpletterend. Terwyl ek egter hierdie swaar situasies en omstandighede voor die Here neergelê het, was die Heilige Gees getrou om my hart te genees deur dit sag te hou teenoor diegene wat my seergemaak het. Ek is met vertroosting begroet toe ek grense gestel het en eenvoudig weggestap het. Die Here is ons verdediger en die beste een om daardie werk namens ons te doen.

Ons sien dit keer op keer dwarsdeur die Bybel en ek het dit in my eie lewe gesien en ervaar: wat ek gedink het verwerping is, was werklik die Here se beskerming. Mag ons nader aan God kom in ons seisoene van seer en hartseer en getrou gevind word in die lyding, wat karakter voortbring.

Wanneer alles weggestroop is, is God meer as genoeg.

Kies Die Lewe

Kies Die Lewe

Katie Shott

Kan ek jou ‘n vraag vra? Is jy besluiteloos? Is jy huiwerig om keuses te maak? Dalk is jy soos my vriendin vir wie die restaurantspyskaart ‘n foltering is omdat sy net nie kan kies nie, en wanneer ons gaan inkopies doen, kom sy met leë hande tuis omdat sy nie kan besluit nie. Ek, daarenteen, is heeltemal die teenoorgestelde. Selfs as jong kind het my ma my al aan ander beskryf as “iemand wat weet wat sy wil hê”. (Dit was nie noodwendig ‘n goeie ding nie en het beslis my arme geduldige ma voor ouerskapuitdagings te staan gebring!)

Elke dag maak ons keuses en besluite; sommige onbewustelik, sommige is onbeduidend, en sommige is uiteindelik lewensveranderend.  Miskien is die uitwerking op ons van ‘n keuse wat iemand anders gemaak het uitdagend of hartverskeurend, en in ‘n oogwink is die landskap van ons lewe verander in iets heel anders as wat ons ooit sou kies of selfs vir ons sou kon indink.   

Met die lees van Genesis 29, kan ons maar net raai dat Lea nie sou gekies het om tweede viool te speel, ongeliefd te voel, en ‘n man te hê wat haar nie as sy vrou wou hê nie. Ek wil geensins Lea se lyding ligtelik afmaak en suggereer dat, omdat God saam met haar daarin was, dit alles reg gemaak het nie.

God was baie beslis met Lea, maar ek en jy weet dat daar tye in ons lewens is wanneer die pyn van die omstandighede waardeur ons moet gaan, ‘n baie teenwoordige werklikheid is, selfs mét die versekering van God se teenwoordigheid by ons. Daar is tye wanneer die lewe onregverdig lyk, wanneer die las te groot is, wanneer ons beproewings vir ons te swaar raak en dit lyk asof ons gebede onbeantwoord bly. Dit is wanneer ons ‘n keuse het. Ons kan moed opgee en tou opgooi, of ons kan kies om aan God en sy beloftes vas te hou. Ons kan Hom vra om ons in tye van beproewing en hartseer ‘n ander perspektief te help kry.     

Kom ons kyk wat Lea in haar swaarkry van God geleer het. Die name wat Lea vir haar eerste  twee seuns gegee het, sê vir ons dat sy geweet het God slaan ag op haar situasie en dat Hy die smekinge van haar hart gesien en gehoor het (Genesis 29:32-33). Die wete dat God haar nie vergeet het nie, dat Hy altyddeur met liefde en deernis na sy kinders kyk, moes vir Lea ‘n groot hulp en versekering gewees het.

Liewe vriendin, het ons self vandag daardie liefdevolle herinnering nodig? Ongeag wat ons deurmaak, God weet. God sien. God hoor.

Toe haar vierde seun gebore is, het Lea verklaar dat sy die Here gaan loof! Al het haar situasie nie eintlik verander nie, het Lea die moeilike keuse gemaak en geloof aan die dag gelê. Sy het God vertrou ten spyte van haar omstandighede en Hom geprys vir wie Hy is. 

In Kolossense 3:1-3 spoor Paulus ook die gelowiges in Kolosse aan om ‘n hemelse perspektief te kies. Watter lesse kan ons saam uit sy onderrig leer? 

“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God” (my beklemtoning).

Paulus moedig ons aan om te “strewe na die dinge daarbo”. Ons moet kies om op te kyk en aktief Christus se koninkryk na te jaag, sy gesag en heerskappy in ons lewens te begeer, en ons oë op Jesus, ons opgestane, seëvierende en verhewe koning gevestig te hou. Ons moet ook ons gedagtes bly rig op die dinge daarbo deur te kies om God se Woord, sy groot en kosbare beloftes vir ons te lees en te glo, en ons harte en gedagtes met sy waarheid te vul. Dit is die onwankelbare fondament vir enige omstandigheid waarin ons ons ook al bevind.

Paulus sê ook vir ons dat ons gesterf het en ons lewens saam met Christus in God verborge is – watter wonderlike herinnering aan ons identiteit en sekuriteit! As ons vertrou dat Christus ons Verlosser en Here is, het ons nuwe lewe, die ewige lewe, in Hom. Die verlede het nie meer ‘n houvas op ons nie, ons sonde is bedek deur Jesus se bloed, en die lewe wat ons nou het, is in die Seun van God wat ons liefhet en Homself vir ons gegee het. Ons lewens is dus saamgevoeg, verweef met Christus, saam met ons Hemelse Vader, en ons het ‘n band wat niemand kan breek en waarvan niks ons kan skei nie. Ons is Syne en Hy sal ons nooit los nie.   

As jy in die verlede slegte of dom keuses gemaak het, weet vandag met sekerheid dat jy sy reiniging en vergifnis, en elke oggend nuwe ontferming en sy verlossende genade kan vra.

As jou lewe en hart deur keuses, dalk iemand anders s’n, gebreek is, mag jy God se nabyheid  ervaar. Daar is niks wat Hy nie gesien en gehoor het nie; Hy is die God wat herstel en genees, wat self die lig in ons duisternis is. Mag jy die onverbreekbare liefde van Jesus, die Man van Smarte wat saam met jou deur hierdie vallei stap, beleef.

As jy nog nie heelhartig gekies het om jou lewe te gee aan die Een wat Homself vir jou gegee het nie, of miskien ‘n ruk lank gekies het om jou eie pad te stap, bid ek dat jy vandag sal kies om eers sy koninkryk te soek en Hom toe te laat om jou Verlosser en Here te wees. Kies om Hom met jou hele hart en verstand en al jou krag lief te hê en die goeie planne en doelwitte wat Hy vir jou het, uit te leef.

Moses het geweet, toe die Israeliete op die punt was om die Beloofde Land binne te gaan, dat alhoewel daar baie seën voorgelê het, daar ook gevegte die hoof gebied en moeilike besluite gemaak sou moes word; met tye sou hulle ongehoorsaam wees en wegdwaal en daarom het Hy God se volk bemoedig en aangespoor met hierdie vermaning in Deuteronomium 30:19b-20a. Ek sluit nou af met hierdie woorde as my gebed vir elkeen van ons vandag en elke dag:

“Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die Here jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae.”

Amen!

Week 2 Uitdaging:

Skryf hierdie week die belangrikste gebeurtenisse van Jakob se lewe neer. Gebeur hierdie dinge as gevolg van Jakob se planne of God se verlossing? Hoe beїnvloed Jakob se manipulasie of ongeduld elke uitkoms? Neem tyd om na te dink oor die maniere waarop jy probeer om God te “help” om sy doel te bereik.

Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers:

Sommige Dinge Neem Tyd

Sommige Dinge Neem Tyd

Andrea Howey

“Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.”

–Galasiërs 6:7–9

Ons het al almal situasies beleef wanneer die versoeking daar is om op te hou, omdat ons nie enige vrugte sien van die getroue dade van gehoorsaamheid wat ons in ons lewens saai nie. Miskien begin ons moeg word om te wag, moeg om te probeer, moeg omdat ons geen resultaat sien van die regte dinge wat ons doen nie.

Ek wil jou bemoedig: moenie ophou om die regte dinge te doen omdat dit voel asof gehoorsaamheid geen verskil maak nie. Moenie opgee wanneer jy begin wonder of dinge ooit sal verander nie. Jy mag dalk nie die vordering sien wat jy wens jy vandag al kan sien nie, maar sommige dinge neem tyd. Die oes kom altyd uit die saad wat gesaai is. Ons sal regtig oes wat ons saai.

God mis niks nie. Nie die goeie nie en ook nie die slegte nie. God mis nie die getroue gehoorsaamheid van sy kinders nie, net soos Hy ook nie die ontroue aksies van ander wat verkeerd doen en lyk asof hulle daarmee wegkom, mis nie.

Daar is ‘n versekerde oes, ‘n belofte van God vir ons as ons nie ophou om goeie sade in geloof te saai nie: sade van liefde, genade, gehoorsaamheid, ywer, hoop en oorwinning in ons lewens. As jy die regte dinge gedoen het, hou aan daarmee. Hou aan om te bou op sy getroue belofte dat as ons nie moeg word om goed te doen nie, ons op die bestemde tyd die oes sal insamel.

Dit is net ‘n kwessie van tyd. Bietjie vir bietjie, dag na dag hou ons aan om in die dinge van die Gees te saai. Dit lyk nie asof daar op die oomblik baie gebeur nie, maar gee dit tyd. Bly getrou. Hou aan om te doen wat reg is. Dit sal nie lank wees voordat jy sien dat die sade van getrouheid pragtige vrugte produseer in jou lewe nie en jy sal ‘n verhaal en ‘n getuienis hê oor die getrouheid van God rakende sy beloftes in jou lewe.

Laat ons nie opgee nie, laat ons nie moeg word om goed te doen nie en kom ons volhard vir daardie versekerde oorwinning. Kom ons volhard in geloof en hoopgevulde verwagting en glo dat Hy ‘n oes van belofte en deurbraak in ons lewens sal bring op presies die regte tyd.

God weerhou nie die goeie van jou nie; Hy is besig om iets in jou te verdiep met die verloop van tyd. Hy wil hê dat sy Woord in jou lewe moet werk. Ons sal nooit skaam gelaat word wanneer ons sy weë volg en volgens sy Woord leef nie. Hy is ‘n goeie Vader en Hy is vir ewig getrou. Hy is nie onverskillig met ons lewens nie, nie onbewus oor ons dade van getroue gehoorsaamheid nie. Hy mis niks nie. Hy het altyd sy oog op ons en sy hand op ons lewens.

Stap vir stap, bietjie vir bietjie, selfs waneer dit voel asof jy nie vorder nie, hou aan om te doen wat goed en reg is. God is ‘n God van sy woord. Hy hou sy beloftes. Eendag sal ons terugkyk en verstom staan oor hoe sy getroue beloftes in ons lewens bewaarheid is. ‘n Goeie oes sal op die regte tyd kom—dit is net ‘n kwessie van tyd.

Die Gawe Van God Se Barmhartigheid

Die Gawe Van God Se Barmhartigheid

Lyli Dunbar

Tien jaar voordat ek my man ontmoet het, het ek gedink dat God beplan het dat ek met ‘n ander man sal trou. Ek het met hierdie verhouding voortgegaan en geglo dat ek presies weet wat God se wil was—maar dit was nie. Ek was skielik alleen gelaat met ‘n gebroke hart en ek het gewonder wat het skeefgeloop. Nou besef ek dat ek my weg oopgedruk en oopgebeur het waar dit nie my plek was om te wees nie. Ek het nooit werklik dít wat ek wou hê oorgegee en volkome aan God se wil onderwerp nie.

In die nadraai van my hierdie hartseer tyd het ek op die rusbank in my sitkamer gesit en uitgeroep na God. Ek het erken dat ek gewillig was om nooit te trou as dit God se plan vir my lewe was, en ek het voorgeneem om nie te probeer om “dit te laat gebeur nie”. As dit God se plan was dat ek ‘n sielsgenoot vind, kon ek vertrou dat Hy ‘n weg sal baan terwyl ek voortgaan om Hom te vertrou. In tussentyd het ek besluit om in vrede met my huidige omstandighede te leef. Waar ookal God my sou lei, ek wou my lewe leef in die strewe om Jesus te ken.

Omdat God barmhartig is, beskerm Hy ons van ons dwaasheid en Hy vergewe die gebrokenes van hart vir hulle selfsug. Sy planne vir ons is perfek en Hy sal altyd sy wil vir ons lewens bewerkstellig. Maak nie saak wat nie, jy kan vertrou dat God dit “sal laat gebeur” as dit sy plan vir jou is.

Ongelukkig het Isak se familie baie hartseer beleef omdat elke lid van sy familie probeer het om “te doen wat hulle wil,” in plaas van om aan God se will oor te gee. As die hoof van die huishouding het Isak geweet dat God reeds vir Jakob aangewys het om die seën te ontvang, maar hy het besluit om oor te gee aan wat die mense verwag het. Dit het onregverdig gelyk om nie sy eersgeborene te seën nie, dus het hy die norms van die kultuur gevolg en was hy ongehoorsaam aan die Woord van God.

Die filosofie van die wêreld is om te “doen wat jou gelukkig maak.” Esau se hoofprioriteit was om homself gelukkig te hou en hy het toegegee aan sy selfsug. Hy het alreeds sy geboortereg aan Jakob verkoop vir ‘n warm maaltyd, maar toe het hy besluit dat daardie plan nie vir hom werk nie. Hy het nie verplig gevoel om sy woord te hou nie, want dit het nie aan sy doelwitte voldoen nie. Sy eindelose najaging om te kry wat hy wou hê, het Esau net meer ontevrede met sy lewe gelaat.

Jakob en Rebekka het geweet wat God wou hê, maar hulle het gefaal om te vertrou dat God ‘n weg sou baan in ‘n onmoontlike situasie. Miskien het hulle verskonings gemaak vir hulle slegte gedrag omdat hulle gevoel het dat hulle iets wat nie reg was nie, wou herstel. Hulle het probeer om God se werk te doen deur die metodes van die wêreld te gebruik om te konkel en leuens te vertel. Ongeregtige keuses eer nooit vir God nie.  

Vier gebroke mense het hulle manier geëis, maar, in sy genade, het God sy belofte gehou. Ongeag hulle verskriklike keuses, het God getrou gebly. Uit hierdie onvolmaakte familie het die Almagtige God verlossing aan die hele mensdom gebring. God het hierdie hartseer situasie gebruik om Jakob te bring na presies waar hy moes wees en Hy het alles voorsien wat hy sou benodig om vrugbaar te wees. Ja, Jakob het van sy kinderhuis weggevlug en moontlik nooit weer vir Rebekka gesien nie, maar God het ‘n groter plan gehad om ‘n nuwe familie te laat voortkom. Deur Jakob, het God sy geloofsfamilie saamgeroep en saamgebring:

“God die Almagtige sal jou seën:

Hy sal jou vrugbaar maak en jou ‘n groot nageslag gee.

Jy sal ‘n baie groot volk word.”

–Genesis 28:3

Miskien het jy soos ek ongelooflik gefaal om te wag vir God om dinge te laat gebeur en jy het ‘n gemors van dinge gemaak. Vriendin, God se getrouheid word nooit deur ons mislukking verhinder nie. God seën steeds gebroke mense wat na Hom draai en oorgee. As jy jou alles aan Hom oorgee, sal Hy jou seën, meer as wat jy kan vra of jou kan indink.

Vandag kan jy en ek in gebed ons hande voor die Here oophou en vra vir sy barmhartigheid:

Here, help my om vandag te vertrou dat U ‘n plan vir my lewe het en dat U dit sal laat gebeur op u tyd en op u manier. Vergewe my dat ek vereis dat dit op my manier geskied. Ek wil my verwagtings laat gaan en ophou om dinge sonder U te “laat gebeur.” Doen vandag wat U met my moet doen. Amen.

God Se Beloftes

God Se Beloftes

Angela Perritt

God is soewerein. Ek kan daardie waarheid met my verstand verstaan, maar om daardie waarheid in die praktyk in my lewe toe te pas, is baie moeiliker. Ek weet dat God se optrede verhewe is bo my optrede, maar wanneer ek nie sy optrede en sy besluite kan sien of verstaan nie, dan is dit moeiliker vir my om sy soewereiniteit te aanvaar en te onderwerp daaraan.

En dan kry ons vandag se verse.

Om eerlik te wees, ek het nog altyd geworstel met die verhaal van Esau en Jakob. As ‘n ma van drie dogters, het dit my ongemaklik gemaak om te sien hoe Isak vir Esau voorgetrek het en Rebekka vir Jakob voorgetrek het. Ek wil sien dat beide ouers hulle seuns ewe liefhet. Ek weet dat sommige kinders hierdie realiteit dat een ouer liewer is vir ‘n broer of ‘n suster as vir hulle, geleef het en daardie verwerping word vir die res van hulle lewens ervaar.

Ironies genoeg was Jakob nie die enigste een wat met God geworstel het nie. Van tyd tot tyd het ek met Hom geworstel wanneer ek Skrifgedeeltes soos ons verse van vandag gelees het.

Ek vind ek worstel met God omdat ek nie verstaan nie. Ek weet in my verstand dat my verlossing nie gebaseer is op my werke nie, dat dit ‘n gratis geskenk is. Maar wanneer ek sien dat God iemand seën wat, in my oë, dit nie verdien nie, bevraagteken ek sy soewereiniteit. Dit is tye soos hierdie wanneer dit moeiliker is om die teologie wat ek weet waar is, uit te leef. Ek weet dat my verlossing nie gebaseer is op my werke, my goeie dade of my keuse om vir Hom te leef nie. Maar my begrip ontmoet die realiteit van teologie wanneer ek sien dat God mense seën en beloftes maak aan mense en families wat ek glo dit nie verdien nie. Hoekom hulle en nie iemand meer getrou nie?

En dit is waar ek worstel. Dit is waar ek myself onderwerp. Dit is waar ek sien hoe sondig my hart is en waar ek bely.

Wie is ek om te bevraagteken waarom God een persoon seën bo ‘n ander? Dink ek dat ek meer weet as God? Nee.

En in die belofte wat aan Abraham, Isak en Jakob gemaak is, sien ek God se pragtige soewereiniteit geopenbaar.

Hulle was almal onvolmaak, net soos ek.

Hulle het nie God se guns, seëninge of verbondsbeloftes verdien nie.

En net so verdien ek dit ook nie.

En tog noem God my in sy goedheid, Syne.

Ons dien ‘n ongelooflike God.

En dus wanneer ek Jesaja 43:3 lees: “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.”  verheug ek in God se goedheid. Ek verheug in sy welwillendheid vir almal van ons wat nie die liefde, beskerming en seën van om kinders van God te wees, verdien nie.

Wanneer ek deesdae Skrifgedeeltes soos ons verse van vandag lees, vind ek dat ek verheug in plaas van bevraagteken. Dankie Here dat U kies om ons te gebruik, ten spyte van hoe ons is. Dankie dat U onvolmaakte mense gebruik om ‘n volmaakte plan te vervul.

Dankie dat U sondaars, net soos ek, gebruik om ‘n deel van u verlossingsplan te wees.

Wees Heelhartig Lief Vir God.

Week 1 Uitdaging:

God het ‘n verbond met Abraham gesluit en hom ‘n groot belofte gegee. Lees hierdie week Genesis 15 en let op die belofte wat God aan Abraham en sy nageslag gemaak het. Hoe sien jy in hierdie week se verse hoe God sy belofte aan Abraham se nageslag deur Jakob vervul?

Week 1 Leesplan:

Week 1 Memoriseervers:

Kies God, Nie Die Wêreld Nie – Inleiding

Ons maak voortdurend keuses. Dikwels behels ons keuses om te kies tussen die dinge van die wêreld of die dinge van God. Ons kan dikwels in die versoeking kom om die maklike uitweg te kies, wat ons toelaat om gou met die leer op te beweeg, of wat ons glo die beste is. Die lewens van Jakob en Josef wys vir ons hoe God sy kinders dissiplineer wanneer hulle die dinge van die wêreld kies en hoe Hy hulle seën wanneer hulle eerder kies om Hom te volg.

Die boek Genesis is ‘n kombinasie van twee vertellings. Hoofstukke 1–11 beskryf hoe God die wêreld geskep het, asook die begin van die mensdom, sonde, genade, verlossing en belofte. Hoofstukke 12–50 beskryf die lewens van die aartsvaders van God se uitverkore nasie: Abraham, Isak, Jakob en Josef. God het hierdie familie gekies as die een deur wie Hy sy Messias na die wêreld sou stuur, die Een wat die wêreld van sonde en dood sou red.

Die meeste Bybelkenners is dit eens dat Genesis deur Moses geskryf is gedurende die tyd toe die Israeliete in die woestyn Sin rondgedwaal het, ongeveer 1440 v.C. Die lewens van die aartsvaders is deur Moses opgeteken vir die geslag Israeliete wat die land wat God beloof het om aan hulle te gee, sou binnegaan. Terwyl hulle voorbereidings getref het om die Beloofde Land, Kanaän, binne te gaan, het die woorde van Genesis hulle herinner aan wie hulle God is en waarom ‘n lewe aan Hom gewy die moeite werd was om na te streef.

Hierdie Bybelstudie fokus op die lewens van Jakob en Josef en dit begin by Genesis hoofstuk 25. Terwyl ons hierdie manne se lewens bestudeer, sal ons die getrouheid van God aan sy uitverkore volk deur belofte, seën, dissipline, lyding, vervolging, hongersnood, toetsing, versoening en herstel ontdek. Jakob en sy gesin het voortdurend voor die keuse gestaan ​​tussen God se weë of dié van die wêreld. Terwyl hulle nie volmaak was nie, het God aangehou om in hulle lewens te werk om sy planne vir hulle te realiseer. God self was die held wat voortdurend sy mense gevorm het terwyl Hy hulle vir die toekoms voorberei het.

Ons kan leer om God heelhartig lief te hê deur sy beloftehoudende karakter te bestudeer. In hierdie studie sal ons sien wat dit beteken om in gehoorsaamheid te wandel, en ons sal die getrouheid van God sien om sy mense te dissiplineer en na Hom terug te bring wanneer hulle sondig. God is altyd getrou aan sy mense, sy beloftes en sy verbond. Mag ons ontvanklik wees om alles te leer wat Hy vir ons in die vooruitsig het, met verwagting dat Hy Homself op nuwe maniere aan ons sal openbaar terwyl ons daarna streef om Hom deur sy Woord te ken.

Benewens hierdie studie, kyk ook na “In die Begin” en “Geloof bo Volmaaktheid” vir ‘n volledige studie van die Boek Genesis!