Die Krag van Vergifnis

Die Krag van Vergifnis

Julie McIlhatton

Vergifnis is nie maklik nie. As gevalle mense is dit nie in ons natuur om te vergewe wanneer ons deur ander seergemaak word nie. Maar sonder vergifnis kan bitterheid, haat en ‘n begeerte na wraak binne-in ons posvat, en dit is swaar laste om te dra.

Hoewel dit moeilik is om ander te vergewe, kan ons net so sukkel om self vergewe te word. Dit het my as Christen lank geneem om te aanvaar dat God my volkome vergewe het. Ek kon aanvaar dat God my sondes vergewe het van voor ek ‘n Christen was. Waarmee ek egter gesukkel het, was die feit dat ek aanhou sondig het! Hoe kon Hy dit vergewe? Ek weet ek verdien glad nie sy vergifnis nie. Hoe ookal, ek het baie tyd verspil deur nie God se vergifnis te aanvaar nie en ek het toegelaat dat dit my verhouding met Hom beïnvloed.

Ek was soos Adam en Eva, wat dwaas in die tuin weggekruip het. God het Josef se verhaal gebruik om my te leer en vir my meer van sy vergifnis te wys.

Ons weet wat Josef se broers gedoen het; hoe hulle hom in hulle jaloesie wou doodmaak, maar besluit het om hom eerder as slaaf te verkoop. Hulle het toegelaat dat hulle pa glo hy is dood, al het hy jare lank bitterlik oor Josef getreur.

Hoewel die broers in daardie tyd so verander het dat hulle baie beskermend oor Benjamin was, het hulle so verskrik geraak dat hulle nie ‘n woord kon uitkry toe Josef homself aan hulle openbaar het nie. Josef het vir hulle gesê om hulleself nie te verkwalik nie, want God het hom vooruit gestuur om baie lewens te red, insluitend hulle s’n, aangesien die hongersnood nog vyf jaar sou duur (Genesis 45:4-7).

Gevolglik het die hele gesin na Egipte verhuis, en Jakob, wat nou Israel heet, het sewentien jaar lank daar gewoon (Genesis 47:28). Gedurende hierdie tyd het Josef na almal omgesien, tyd saam met hulle deurgebring en hulle liefgehad.

Maar toe Israel sterf, was Josef se broers opnuut deur vrees aangegryp. Sou Josef nou hulle oortreding wreek? Dit het hulle hartsgesindheid meer weerspieël as dié van Josef. As hulle posisies omgeruil was, is dit waarskynlik wat hulle sou doen!

Josef het gehuil toe hy hulle brief ontvang het. Hy kon kwaad word en hulle uiteindelik terug kry. Maar in plaas daarvan het hy die broers na hom geroep en herhaal wat hy sewentien jaar tevore vir hulle gesê het. Hy wou nie hê hulle moes bang wees nie. Hy het hulle daaraan herinner dat God hulle verkeerde dade ten goede gebruik het om baie te red. Hy het hulle laat verstaan dat hy vir hulle en hul kinders sou aanhou voorsien. Hy het hulle waarlik vergewe. Daarna het hy vriendelik met hulle gepraat.

Is dit nie hoe God ons behandel nie? Hy vergewe ons, stel ons liefdevol gerus, voorsien vir ons en praat vriendelik met ons. Dis nie wat ons verdien nie, maar dit is hoe God is. Ons kan seker wees dat ons sondes vergewe is en dat die Here kies om dit te vergeet. Hy dink nie meer aan die verkeerde dinge wat ons gedoen het nie (Jeremia 31:34; Hebreërs 8:12). Ons is bevry van die las van ons sonde. Selfs wanneer ek weer opmors kan ek verseker wees van sy genadige vergifnis. Die straf vir my sonde is deur Jesus betaal.

Soos Josef, is Jesus sleg behandel, uitverkoop vir ‘n paar silwerstukke, en verkeerdelik beskuldig, geslaan en doodgemaak. Tog het God dit vir ‘n goeie doel gebruik, om die lewens van baie te red—myne ingesluit! Ek is vry om te leef soos God my ontwerp het om te wees, in verhouding met Hom. Dit beteken dat wanneer ek na ons hemelse Vader kom, dit sy volmaakte liefde is wat my verander, nie my wil om harder te probeer nie.

Miskien sukkel jy om iemand te vergewe.

– Bid, vra die Here om jou te help, en bid vir hulle (Matteus 5:44–48).

– Onthou hoeveel keer God jou vergewe het, dit maak ons ​​vry om ander te vergewe (Matteus 18:23–35).

– Probeer om aan hulle goed te doen, weerhou jou van skinder of om enigiets teen hulle te gebruik (1 Petrus 3:8–9).

– Weet dat die Here goed uit hierdie verskriklike situasie kan bring, al het hulle nie om vergifnis gevra nie. Josef het sy broers vergewe lank voordat hy hulle weer gesien het.

Dit is belangrik om daarop te let dat vergifnis nie beteken dat jy toelaat dat iemand jou aanhou seermaak nie. Ons moet wysheid gebruik.

Miskien sukkel jy soos ek om vergifnis van iemand anders of van die Here te aanvaar. Wees nederig en aanvaar die genadige vergifnis wat jou gebied word. Laat die herstel van jou verhouding toe. Onthou dat God selfs uit ons foute die goeie kan bring. Dit beteken nie dat ons doelbewus sondig nie, maar ons kan vertrou dat die Here in beheer is en nie meer ons sondes onthou nie.

Laat ons vroue wees wat poog om, sover dit van ons afhang, in vrede met almal te lewe (Romeine 12:18). Ons kan dit doen as ons staatmaak op die Vredevors wat ons getransformeer het; sy vergifnis het vrede en vreugde vir ons siele gebring.

“Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie,

vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,

want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is,

so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.

So ver as die ooste van die weste af is,

so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders,

so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

– Psalm 103:10–13

God Sien

God Sien

Ebos Aifoubhokhan

“U het my al gesien toe ek nog ongebore was,

Al my lewensdae was in U boek opgeskryf

Nog voordat ek gebore is.”

Psalm 139:16

In Genesis 49 sien ons hoe Jakob aan die einde van sy lewe woorde oor sy seuns se lewens spreek. Hierdie woorde het weerspieël wie hulle was, wat hulle gedoen het en wat hulle – en hulle afstammelinge – sou wees. Sommige het diepgaande seëninge ontvang en ander het vloeke ontvang. Hulle optrede het gevolge gehad. Sommige goed en sommige sleg. Diegene wat ander seergemaak het, het hul loon ontvang en diegene wat goed gedoen het, is beloon vir wat hulle gedoen het.

Josef, wat deur sy broers verrraai is, is seëninge en profesië gegee wat diep en vertroostend was. Hy was geseën asof hy die eerste seun was.

God sien. Ons word nooit vergeet nie. God sien elke traan wat val. Ons SOAP-vers vertel ons dat God ons gesien het nog voordat ons moeders geweet het dat hulle swanger is. Hy was die een wat ons gevorm en gemaak het. Voor enige iets plaasvind, weet God reeds. Dit is die God wat jy en ek glo en vertrou.

Daar sal storms, oorweldigende tye, trane en pyn wees, maar weet dit: herstel is verseker. Dit waardeur jy nou gaan is besig om jou voor te berei vir wat God beplan het.  

God het ‘n leier nodig gehad wat, in wysheid en vertroue op Hom, die wêreld sou bewaar van hongersnood. Uit wat in Genesis oor Josef geskryf is, weet ons dat hy ‘n bevoorregte kind was. Die lyding wat hy deurgemaak het, het in hom die krag en wysheid gebou om die heerser en verlosser te wees wat God nodig gehad het hy moes wees. God het reeds geweet wie Josef sou wees, soos Psalm 139:16 ons vertel, maar Josef moes deur ‘n seisoen  van voorbereiding gaan. Daardie voorbereiding het nie in droefheid geëindig nie, maar in vreugde en herstel van alles wat hy verloor het en meer.

God werk, liewe vriendin. Hy ken al ons dae. As iemand vertrou kan word om te doen wat Hy gesê het Hy sal doen, is dit God. Hoe weet ek dit? Want ons het ‘n God wat ‘n pragtige toekoms vir ons beplan het. Hy het groot planne vir ons en Hy gee vir ons ‘n toekoms gevul met hoop. Ons sien sy getrouheid om dit te doen regdeur die geskiedenis van sy mense en ons kan vol vertroue wees dat Hy dit vandag in ons lewens doen.

Moenie toelaat dat die hede jou verblind van die toekoms wat God reeds geskryf het nie. 

O, hoe heerlik en pragtig om deur die God van die heelal gesien te word en om ons lewens reeds deur Hom beplan te hê. Met die hulp van die Heilige Gees kan ons God vra vir wysheid om sy plan vir ons lewens uit te leef deur Hom elke tree van die pad te vertrou. Vertrou dat Hy ons pyn en lyding herstel en nie vergeet nie.

Ek sluit af met een van my gusteling verse in die Bybel:

“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet, die wat volgens sy besluit geroep is.” Romeine 8:28

Kom ons verpersoonlik hierdie vers om ons vertroue in die herstellende krag van Jehovah te bou.

Ek weet dat God alles ten goede meewerk vir my wat Hom liefhet en ek is geroep volgens sy besluit.

Halleluja.

Rus liewe vriendin. God is in beheer!

Pragtige Herstel

Pragtige Herstel

Crystal Stine

Ek het nou die dag doelloos deur Facebook geblaai toe ek op ‘n video afkom wat ‘n vriendin geplaas het. Sy het ‘n storie vertel van toe sy die fout gemaak het om haar soliede hout eetkamertafel met ‘n stoomskoonmaker skoon te maak. Om die waarheid te sê, ek het vrae gehad. Was dit ‘n klein, ligte soort stoomskoonmaker? Wat het haar daartoe gelei dat ‘n spons of papierhanddoek nie meer genoeg was om die tafel af te vee nie? Hoe vuil kon haar tafel moontlik gewees het om sulke drastiese gereedskap te benodig?

Sy het nie een van daardie vrae beantwoord nie, maar het voortgegaan om te deel dat in die proses om haar tafel met ‘n stoomskoonmaker skoon te maak, en ten spyte van al haar beste bedoelings, is die tafel verwoes. Die hitte van die stoom het die hout wit gevlek, en nou was sy paniekbevange. Wanneer jou beste planne deur die mat val en uitloop op ‘n ramp, hoe maak jy dit reg? Haar antwoord het gekom in die vorm van ‘n doen-dit-self-produk wat sy vroeër gekoop het, maar nooit gebruik het nie. Die enigste rede hoekom hierdie produk bestaan het, was om te herstel.

Op een of ander manier, op ‘n rak in haar motorhuis, het sy alreeds presies gehad wat sy benodig het om dít wat beskadig is te herstel, sodat dit weer nuut sou lyk. (Net om julle te laat weet: dit het gewerk!)

In ons Skrifgedeelte vandag sien ons dat God vooraf voorberei het vir die herstel wat Hy geweet het nodig sou wees, maar sy antwoord het in die vorm van ‘n persoon gekom. Josef was die hele tyd deel van God se plan. Die hongersnood was vir God geen verrassing nie. Die drome wat God vir Josef as ‘n jong man gegee het, was geen fout nie, en die lewe wat Josef gelei het, het hom voorberei om die hele land deur ‘n verwoestende seisoen te lei.

God het die verhouding tussen Josef en sy familie herstel. As gevolg van Josef se getroue diens aan die Farao is Josef se gesin ryklik geseën met die beste grond in Egipte, werk en voedsel vir die hele huisgesin. Die hele land het baat gevind by Josef se voorbereiding voor die hongersnood. Hy het sewe jaar lank die oortollige graan gebêre en toe die hongersnood begin het, was hy gereed om voedsel aan die Egiptenare te verkoop. Toe die volk nie meer geld gehad het om graan te koop nie, het Josef kos vir hulle gegee in ruil vir hulle vee—en so Farao se eiendom vermeerder terwyl hy die volk gevoed het. En toe daar nie meer vee oor was om mee handel te dryf nie, het Josef grond van die Egiptenare gekoop en vir hulle geld vir voedsel gegee en sodoende weereens Farao se grondgebied vermeerder.

Josef het voorberei, en God het herstel.

 “Deur my regeer die konings
en stel die maghebbers vas, wat reg is;
deur my heers die vorste en die edeles, 
al die regters van die aarde.
Ék het lief die wat my liefhet, 
en die wat my soek, sal my vind.” – Spreuke 8:15-17

Teen die tyd dat die hongersnood begin het, was dit twintig jaar sedert Josef se broers hom vir twintig silwerstukke aan die Midianitiese handelaars verkoop het. God het Josef doelbewus in Egipte geplaas, vir Sy doel. Josef se verhaal toon dat God getrou is om sy beloftes na te kom (die drome wat Josef gehad het, het inderdaad waar geword), en Hy gee om vir ons herstel en verhoudings. Eendag sou Jesus kom om volkome herstel te bring, maar terwyl ons van Josef lees, kry ons ‘n blik op wat gaan kom.

Miskien bid jy ook soos ek, vir herstel. Wat ook al verlore of gebroke is, vertrou op God om dit op sy perfekte tyd te herstel. Terwyl ons wag, kom ons soek na maniere om ons harte voor te berei om daardie herstel ten volle te ontvang, terwyl ons God heelhartig liefhet en nader aan Hom groei.

Week 6 Uitdaging:

Jakob het groot geloof in God se belofte geopenbaar al het hy dit nie in sy leeftyd ten volle verwesenlik gesien het nie. Neem hierdie week tyd om ‘n paar verse oor God se beloftes vir sy mense te vind. Skryf dit op ‘n notakaart en plaas dit rondom die huis om jou te herinner aan God se getrouheid en beloftehoudende karakter.

Week 6 Leesplan:

Lees 6 Memoriseervers:

Vertroos en Oortuig

Vertroos en Oortuig

Sara Lindsey

Vandag se verse bring vir my beide vertroosting en oortuiging.

Hierdie gedeelte van Genesis beskryf hoe God vir Jakob en sy gesin na Egipte gebring het. Dit bring Genesis 15 weer terug in ons gedagtes, toe God vir Jakob se oupa, Abram (Abraham), gesê het: “Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge in ’n vreemde land sal wees.”

Die huidige verhaal vertroos my, want dit is ’n demonstrasie van God se karakter en sy getrouheid. God kan nie minder wees as wie Hy sê Hy is nie; Hy is onmeetlik en onveranderlik goed en getrou. God verbreek nie sy beloftes nie.

In dieselfde asem spreek dit tot my en oortuig dit my wanneer ek alles in die Bybel lees, want ek weet ek verwag te dikwels dat God aan my tydlyn en volgens my kriteria sal werk. Abraham se nageslag het honderde jare van ballingskap in Egipte deurgebring. Moses het die volk gelei na die Beloofde Land, maar het dit self nooit binnegegaan nie. Paulus, ’n groot leier in die vroeë Christelike kerk, het gely. Hoekom? Hoekom die lang wag? Hoekom die omswerwing? Hoekom die pyn?

Niemand weet nie, behalwe om te sê, ons beperkte verstand kan nie begin om die kompleksiteit van God se algehele plan vir die mensdom te begryp nie. Elkeen van ons se lewens is ’n enkele stukkie van die groot legkaart, ’n enkele stringetjie in die web van verhale. Ons kan dit eenvoudig nie sien of begryp nie.

“Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.” – 1 Korintiërs 13:12

Selfs wanneer die wêreld buite beheer voel, selfs wanneer ons verlate voel, laat ons vashou aan God se belofte dat “alles ten goede meewerk vir dié wat God liefhet, wat volgens sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28). Laat ons op sy plan vertrou; God het Homself deur die eeue heen betroubaar bewys.

Die Keerpunt

Die Keerpunt

Lyli Dunbar

Vir byna twee dekades het ek Engels op hoërskool gegee en die grootste deel van die dag saam met tieners verhale gelees. Ek het ‘n uitdeelstuk vir my leerders saamgestel om die sleutelelemente van ‘n goeie verhaal te leer. Saam sou ons die intrige ontleed, die sleuteloomblikke identifiseer en bespreek wat die verhaal so onvergeetlik gemaak het. ‘n Verhaal wat goed geskryf is, gryp jou hart aan en laat jou dink oor hoe jou keuses jou lot kan verander.

God skryf die beste verhale. Josef se verlossingsverhaal gee my hoop wanneer my eie lewe ‘n onverwagse wending neem. God het ‘n gebroke familie wat deur afguns en selfsug verskeur is, gekies om verlossing vir ons almal te bring. Ek kan sien hoe die vyand probeer het om verdeeldheid en chaos te skep, maar God het ‘n tragedie in triomfantelike herstel omskep. Net soos Josef se verhaal goed geëindig het, glo ek dat my ingewikkelde situasie ook ’n mooi einde sal hê.

Sonder konflik, misluk verhale. Die hoofkarakter moet een of ander probleem oplos of ‘n struikelblok oorkom. Dit is maklik om te sien wanneer ek ‘n boek lees, maar moeilik om te aanvaar wanneer dit in my eie lewe afspeel. Ek beland op my knieë en bid dat God dinge sal verander en vir my my gelukkige einde sal gee.

Miskien beleef jy op hierdie oomblik ‘n tragedie in jou eie familie. Ek hoop dat jy bemoedig sal word deur die gebeure in Josef se lewe te ontleed, want God is nog nie klaar geskryf aan jou verhaal nie. Jou keerpunt kom nog, en God gaan die eer kry. Net soos Josef gaan jy dalk uitkom waar jy nooit verwag het om te gaan nie, maar jy is nooit alleen nie. God is die held wat altyd veg om jou te red, en Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie.

Josef se verhaal leer ons dat ons pyn nie ongesiens by ons God verbygaan nie. Die planne van die vyand kan nie sy goddelike plan vir ons lewens verydel nie. Ongeag waar hierdie lewe ons heen lei, God seëvier uiteindelik.

Hoe ons op onvoorsiene gebeure reageer, kan vir diegene in ons invloedsfeer die rigting na redding aandui. Josef het nooit aan bitterheid toegegee nie. Hy het deur die konflik volhard en vertrou dat God die bladsy sou omblaai en op die regte tyd sy verhaal sou herskryf. Kom ons kies om ‘n beter verhaal met ons lewens te skryf:

In plaas daarvan om “ons sin te kry”, kan ons ons aan God se wil onderwerp.

Eerder as om onsself af te sluit, kan ons genade betoon en ons teenstander na die tafel toe nooi. Waar die vyand ons probeer verdeel het, kan ons vandag kies om aan te hou veg vir verlossing. Net soos Josef, kan ons nee sê vir vergelding en ons oopstel vir God om oortuiging te bring en herstel te bewerkstellig.

God se genade het ‘n invloed gehad op elke gebeurtenis in hierdie verhaal. Nie een karakter is as onredbaar afgeskryf nie. Die keerpunt het gekom toe Juda en sy broers oplaas hulle sonde en selfsug erken het. Josef se vyandige broers het in nederigheid op die grond neergeval en vergifnis gevra. Hulle het besef dat hulle nie hulself kon red nie. Gelukkig het God hulle broer presies daar geplaas waar hy namens hulle kon intree.

Hierdie pragtige verlossingsverhaal is ‘n voorafskaduwing van ‘n nog groter liefdesverhaal wat deur Christus waar gemaak is. As deel van God se verlossingsplan het Jesus vlees geword en aarde toe gekom om sondige mense te red. Ons Verlosser het ongelooflike verwerping en vervolging verduur om sy lewe op te offer. Hy het tot die einde toe volhard omdat Hy vir ons almal se redding geveg het.

God het die donkerste dag in die geskiedenis omgekeer toe Jesus die dood verslaan en die oorwinning behaal het. Geen verhaal is vir God te donker om om te keer nie. Wanneer ons vertrou dat God die verloop van sake in ons lewe sal orden, kan ons met groot verwagting na môre uitsien. Ons slot sal altyd baie groter wees as wat ons kan vra, kan dink of ons kan voorstel.

Vriendin, jou verhaal is veilig in God se magtige hande. Hy sal altyd sake omkeer en sy geliefdes red.

Bekeer en Word Versoen

Bekeer en Word Versoen

Grace Ann Hopkins

Ek sukkel fisies met perfeksionisme en dit sypel dikwels in my verhoudings in. Ek het vir ‘n baie lang tyd gedink dat ek ‘perfek’ moet wees om liefgehê te word. Saam met hierdie oortuiging het ek gedink dat my vriendskappe ook ‘perfek’ kan wees. Ek kan onthou van verskeie kere toe ek verpletter was onder die onmoontlike standaard van perfeksie. Hierdie soort druk is verlammend en skaamte volg vinnig, want as iets verkeerd loop, word dit jou skuld. Wanneer jy tekort skiet aan jou standaard, isoleer jy jouself omdat dit veiliger is, in plaas daarvan om weer te probeer.  Maar dit is ook eensamer. Ek onthou toe ek ‘n nuwe vriend ontmoet het, het ek dit gesien as nog ‘n kans om weer perfeksie te probeer. Aan die begin was dit wonderlik en ek het gedink ek is uiteindelik in beheer. Maar toe die onvermydelike misverstand kom en iemand ongeliefd gevoel het, het ek angstig en bang geword. Aangesien ek opgemors het, sou ek enigsins nog waardeer word?

Ek het ontdek dat geen mens perfek is nie en geen aardse vriendskap ooit perfek kan wees nie. Die interessante ding is egter dat ek die ontdekking kon maak deur onvolmaaktheid van aangesig tot aangesig te sien toe ek deur die pyn moes gaan om die ideaal te verloor waaraan ek so lank vasgehou het. Ek kan nou met vertroue sê dat my kosbaarste vriendskappe in die wêreld dié is wat juis onvolmaak is. Hulle het soveel diepte as gevolg van swaarkry en misverstande en slegte tye en, uiteindelik, as gevolg van vergifnis. Dit is die soort vriendskappe waar twee mense hulle daartoe verbind om saam te groei en mekaar lief te hê, maak nie saak wat nie. As ek na hierdie vriendskappe kyk, sien ek God se hand op hulle, want nét Hy kon die krag gehad het om die geweldige hoeveelheid gebrokenheid in hulle te versoen.

2 Korintiërs 7 is ‘n kragtige gedeelte. Terwyl jy dit lees, is dit duidelik hoe die liggaam van Christus mekaar nodig het en geskep is om mekaar aan te moedig, na mekaar te smag en langs mekaar te loop. Verse 9 en 10 openbaar die krag van bekering en hoe dit ons lei na ‘n plek van versoening met mense en met God. Om by ‘n plek van versoening te kom, sal baie emosies en werklike pyn na vore kom. Baie trane word gestort. Daar is ‘n pynlike oomblik wanneer ons besef dat ons die ander persoon seergemaak het en dit is hartseer. Maar hierdie hartseer is nie iets waaroor ons spyt moet wees nie, want dit baan die weg vir dieper verbintenis en ware liefde wat voortspruit uit die daad van vergifnis. En die skoonheid hiervan is dat, wanneer ons aan God erken dat ons sondaars is en sy gawe van vergifnis ontvang, ons met Hom versoen en gered word; ons het die ewige lewe vir ewig en oorvloedige lewe nou.

Vriendin, Jesus het sy lewe gegee om ons met Homself te versoen omdat Hy so graag ons beste vriend wil wees. Ons kan ons onvolmaakthede en gebreke erken in ‘n veilige plek van geen oordeel nie, want Jesus het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om dit te red (Joh. 3:17). Hy het uit die hemel gekniel om jou te ontmoet waar jy is. Hy het jou meer lief as wat menslike woorde ooit kan uitdruk. So, ek moedig jou sagkens aan om die leuen dat jy volmaak en onberispelik moet wees om deur God liefgehê en aanvaar te word, eens en vir altyd prys te gee. Maak nie saak hoe ver jy weggehardloop het nie, Hy is ‘n Vader wat jou met ope arms ontvang, net soos jy is. Hy is desperaat lief vir jou en smag daarna dat jy die volheid van sy liefde sal ontvang. Dit is die waarheid en enige ander idee is ‘n leuen uit die put van hel.

In Handelinge 2:38 beveel Petrus passievol die mense van Jerusalem om te bekeer en weg te draai van hul sondes en vergifnis te ontvang. Enigeen kon dit gesê het en dit sou krag dra, want hierdie woorde is waar. Dit is egter so kragtig dat God Petrus aangewys het om die evangelie aan hierdie mense te verkondig, want Petrus was een van Jesus se beste vriende – ‘n man wat saam met die Messias op aarde kon wandel. Ons weet dat Petrus baie foute gemaak het en dat hy vurig en impulsief kon wees. Maar as gevolg van Petrus se bewustheid van sy onvolmaakthede, het hy des te harder gesê dat Jesus, die God van onvoorwaardelike liefde, gereed was om daardie kosbare mense van Jerusalem te vergewe en te red as hulle net wou bekeer en hulle sonde wou erken en daarvan wegdraai. Omdat ons weet dat Petrus self die vergifnis van Christus ervaar het – dat hy eerstehands ontvang het dit waaroor hy gepreek het – kan ons volle versekering hê dat hierdie woorde warer as waar is. God het jou innig lief. Bekeer jou en word versoen!

Week 5 Uitdaging:

Hierdie week sal ons fokus op Josef se proses om sy broers te toets, asook hul versoening. Is daar iemand met wie jy moet versoen? Neem stappe om hulle eers te vergewe en soek dan, indien moontlik, versoening. Skryf neer hoe God in jou lewe werk en hoe jy sy getrouheid in die proses sien.

Week 5 Leesplan:

Week 5 Memoriseervers:

Sterk, Ferm en Standvastig

Sterk, Ferm en Standvastig

Katie Shott

Ek is mal oor ‘n goeie verhaal. Een propvol kinkels en onverwagse draaie en wendings. ‘n Verhaal van “armoede tot rykdom,” gewoonlik met ‘n held, ‘n paar slegte ouens, ‘n bietjie romanse, en beslis ‘n gelukkige einde!

Ek is mal oor die verhaal van Josef. ’n Groot gedeelte—twintig hoofstukke—van die eerste boek in ons Bybels word aan die lewe van Josef gewy, meer as aan enige van die ander karakters waarvan ons daarin lees. Meer as oor Adam, Noag, Abraham, Isak of Jakob. Ons het baie om te leer oor Josef en, nog belangriker, ons het baie om te leer oor God wat in, deur en vir Josef werk.

Aan die begin van hoofstuk 41 vind ons Josef in die tronk. Hy het niks verkeerd gedoen om daar te beland nie, inteendeel! Hy het van versoeking gevlug en aangehou om God te eer, maar hy is verkeerdelik beskuldig en is selfs vergeet deur die skinker wat hy gehelp het. Op hierdie punt in ons verhaal het Josef reeds ten minste twee jaar in die tronk deurgebring, maar ons lees nie van hoe hy in wanhoop verval het, jammer gevoel het vir homself, sy familie verwyt het dat hulle hom dertien jaar tevore in die steek gelaat het nie, ook nie dat hy God beskuldig dat Hy hom vergeet het nie. So, hoe kon Josef nie net oorleef nie, maar floreer, selfs te midde van hierdie moeilike tye? Wat het al die verskil gemaak?

Die Here was met hom.

Toe Josef as slaaf aan Potifar verkoop is, lees ons dat die Here met hom was (Genesis 39:2), en weer (39:21) toe Josef onregverdig tronk toe gestuur is, lees ons dat die Here met hom was en goedheid en guns aan hom bewys het. Josef se omstandighede het nie die realiteit van die teenwoordigheid en voorsienigheid van sy soewereine God gedemp nie, dit het hom onderhou en in staat gestel om ‘n God-gesentreerde lewe te lei, maak nie saak hoe moeilik dinge was nie.

Wees bemoedig, liewe vriendin. Josef se God is ook ons God. En watter moeilikhede ons ook al moet trotseer, of in watter tronk van wanhoop of teleurstelling ons ons ook al bevind, ons kan ook die versekering van die belofte van Jesus hê dat Hy ons nooit sal begewe of verlaat nie (Hebreërs 13:5). Dit is meer dikwels in tye van beproewing, hartseer, pyn, verdriet en lyding dat ons van die dieper dinge van God leer as in ons bergpiek-ervarings. Waar jy jou ook al vandag bevind, die Here is met jou.

Op hierdie stadium in die verhaal lees ons van Farao se kommerwekkende drome en hoe Josef die enigste een was wat dit kon interpreteer. Die gevolg hiervan is dat Josef uiteindelik van die tronk na die paleis verskuif! God het voortgegaan met sy voornemens vir Josef se lewe en op die ouderdom van 30 word Josef tweede-in-bevel in die hele Egipte, deur goddelike wysheid te gebruik om die land te lei ter voorbereiding vir die sewe jaar van oorvloed en die sewe jaar van hongersnood, soos geopenbaar deur God in Farao se drome.

Josef het God steeds geëer, selfs toe hy bevorder is tot onderkoning van Egipte. Hy het nie bevrediging in voorspoed, of sekuriteit in die voorsiening van Farao gesoek nie, maar het heelhartig tot die welsyn van die mense en die eer van God gewerk. Toe Josef se twee seuns gebore is, sien ons dat hy verklaar het dat hy geweet het God se hand was op hom deur alles wat hy moes verduur deur die name wat hy hulle gegee het.

Hy het die oudste Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.”  (52)  Josef het sy ander seun Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.”– Genesis 41:51–52

Kom ons bestudeer die name wat Josef gekies het. Kan ek voorstel dat hy dalk nie gesê het hy het vergeet, omdat die lewe nou goed was nie, maar eerder dat hy nie meer al die moeilikheid en lyding wat hy deurgemaak het, onthou het nie? Ons weet dat dit regtig moeilik is om die aaklige dinge wat met ons gebeur te vergeet, so dalk was dit nie dat Josef vergeet het van die verskriklike gebeure en uitdagings wat hy ondervind het nie, maar eerder het God hom in staat gestel om nie meer die pyn en seer te voel wat gepaard gaan daarmee wanneer hy terug dink aan die verlede nie.

“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” – Romeine 8:28

Josef vertel ook vir ons, deur die naam Efraim, dat sy tyd van lyding hom nie gebroke of onvrugbaar gelaat het nie, dit was eerder ‘n vrugbare tyd! Beproewings en probleme kan ons na die Here laat hardloop vir skuiling, en daar vind ons skatte in die duisternis. In noue intimiteit met Jesus vind ons sy algenoegsame genade, sy tere liefderyke goedhartigheid en barmhartigheid, en sy ewige arms wat ons dra. Ons geloof word gelouter in die vuur van swaarkry, sodat ons lewens meer van ons Verlosser sal weerspieël.

Voordat ek vandag gaan sit het om hierdie gedeelte te bestudeer, was ek by ‘n gebedsbyeenkoms wat aangebied is deur ‘n Christelike bediening wat ons vervolgde broers en susters regoor die wêreld heen ondersteun. Ek twyfel nie dat daar ontelbare verhale is wat ons kon hoor van ons medegelowiges wat harde arbeid in gevangenisse in Noord-Korea moet doen of wat in ‘n tronksel in Eritrea sit, oor wat dit beteken om lyding te verduur nie. Om te weet wat dit beteken om God se ondersteunende genade te ervaar, om die lig van Jesus te skyn te midde van die aakligste duisternis, en om deur sy Gees sterk te kan staan ​​teen boosheid en teëstand. Ons het baie om te leer uit hulle diepe vertroue in ons hemelse Vader wat goed is, selfs wanneer die lewe nie is nie. Soos Hy met Josef was, so, op hierdie oomblik, is die Here met elkeen van ons vervolgde gesinne, deur dit alles.

Hy is ook met ons, in die goeie en die slegte tye, in die pyn en hartseer, in swakheid, in verlies en mislukking, die vreugdes en teleurstellings, Hy is daar, Hy werk in dit alles.

“God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.” – 1 Petrus 5:10

Beter As Ons Eie

Beter As Ons Eie

Crystal Stine

Josef se verhaal is ‘n bemoedigende voorbeeld van hoe God se planne beter is as ons eie, selfs wanneer ons nie verstaan wat aangaan nie.

Josef het letterlik drome gehad oor wat God belowe het om in sy lewe te doen. Hy het gedroom dat hy ‘n leier sou wees en dat selfs sy broers voor hom sou neerbuig. Dit is geen verrassing dat sy familie nie van die idee gehou het nie. Die pad om daar te kom het geensins gelyk soos Josef gehoop het dit sou wees nie: hy is in ‘n put gegooi, verkoop as ‘n slaaf, vals beskuldig en in die tronk gegooi. As gevolg van Josef se liefde vir God het hy nederig gedien en gewerk en God met sy dade geëer. Op die ou end het Josef gesien hoe God sy belofte nakom.

Josef het alle rede gehad om in wanhoop te verval. Hy is deur sy broers verkoop as ‘n slaaf, valslik beskuldig en onregverdig in die tronk gegooi. In plaas daavan het Josef die geleenthede wat God hom gegee het gebruik en hy was getrou om God te eer in alles wat hy gedoen het. Josef het aangehou om God te vertrou, hard te werk en sy oortuigings te handhaaf. God het Josef geëer, nie oor enige iets wat Josef gedoen het nie, maar om die belofte wat Hy aan Josef se voorvaders, Abraham, Isak en Jakob gemaak het, na te kom.

Langs die weg het Josef verhoudings met mense bewerkstellig, sy talente gebruik en gegroei tot ‘n godvresende man. Wanneer ons haas om ons planne en drome in ons eie tyd te laat gebeur, mis ons dikwels die geleenthede wat God ons gee om te leer, te groei en verhoudings te bewerkstellig. 

Nie een van my eie drome het waar geword soos ek gedink het dit sou gebeur nie. God het my op ‘n kronkelende reis geneem wat, soos Josef s’n, tot eer van God was, maar nie altyd vir my gemak was nie.  

Wanneer dit voel of ons drome ontspoor, is dit maklik om daarna te streef om dinge op ons eie te laat gebeur. Ons kruip uit teleurstelling weg van ons verantwoordelikhede af. Ons lees ‘n Skrifgedeelte soos hierdie en dink: “Hoe lekker vir Josef, dit het alles vir hom uitgewerk.” God het nie net ‘n weg vir Josef voorsien nie, Hy het Jesus gestuur om ons groot verlossing te wees. God is nie klaar om ‘n pad; ‘n reguit pad of ‘n ompad, voor te berei wat ons na die plek neem wat Hy vir ons beplan het nie. God is getrou om beproewings en versoekings in ons lewens te gebruik terwyl Hy ons voorberei vir wat Hy beplan het. Alle seën is van Hom en Hy is getrou om die gehoorsaamheid van sy mense op sy perfekte tydsberekening te beloon. Hy alleen verander nooit nie en Hy is die een wat vir ons goeie gawes gee. (Jakobus 1:17).

Wanneer ons tyd neem om terug te kyk na wat God in ons lewens gedoen het, kan ons hoop en vrede vind deur te sien wat God kan doen vir ons met dít wat vir ons soos ‘n ompad lyk. As Hy dit alles vir Josef gedoen het wat mag Hy dalk in jou lewe doen? Dit is meer as wat jy ooit kan dink.

Swaarkry Wat Verbygaan

Swaarkry Wat Verbygaan

Ebos Aifuobhokhan

“Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” –2 Korintiërs 4:17-18

Ons Godgegewe drome sal altyd deur Satan, ons grootste sielevyand, en mense wat nie verstaan hoe God in ons lewens werk nie, aangeval word. Ek is al diep seergemaak deur familie en mense wat vir my soos familie is, en die pyn wat ‘n mens ervaar wanneer familie jou seermaak, is erg en sny baie diep.

Josef se broers, sy eie vlees en bloed, was jaloers oor wat kon gebeur as sy drome sou waar word. Daarom het hulle hom en sy drome probeer vernietig.

Liewe vriendin, weet dat niemand jou Godgegewe drome en aspirasies tot niet kan maak nie. God het dit aan jou gegee en Hy is getrou om klaar te maak wat hy in jou lewe begin het. Hoe weet ek dit?

Kom ons kyk eers na verse 8 en 9 in vandag se Skrifgedeelte:

“In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.”

Ons sal nooit verpletter word deur die pyn en swaarkry wat ons verduur nie, selfs al is dit deur die toedoen van diegene wat die naaste aan ons is. Hoekom? Omdat God se Woord so sê. En ek glo eerder God se Woord as wat ek glo dat my naam Ebos is. Ons mag oorbluf word deur al die pyn wat ons deurmaak, maar ons sal nooit tot wanhoop of hopeloosheid gedryf word nie. Soos met Josef, is ons Droomgewer lewend en wakker oor sy Woord om dit te volbring (1953-vertaling). Halleluja! Ons sal vervolg word omdat ons in God glo en nie soos ander kan leef nie, maar staan vas, liewe vriendin, God het jou nie verlaat nie. Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie. Hy wat oor ons waghou, slaap of sluimer nooit nie. Die ewige God van Israel is ons rots en fondament, ons anker en hulp wat altyd beskikbaar is.

“Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” – 2 Korintiërs 4:17-18

Die apostel Paulus probeer glad nie die swaarkry ligtelik afmaak wanneer hy die uitdrukking “maar gering” gebruik nie. Hy vergelyk dit met die beloning en heerlikheid wat ons uiteindelik gaan ontvang. My pyn wat ek tans verduur is niks in vergelyking met die skoonheid wat God daaruit gaan voortbring nie.

Wie sou kon dink dat Josef die tweede magtigste man in Egipte sou word? Hy is deur sy broers verraai en as slaaf verkoop, deur ‘n vrou van owerspel beskuldig, in die tronk gesmyt, en vergeet deur iemand wat veronderstel was om hom te help. Maar toe die tyd daar was, het God in al sy glorie opgedaag. Josef het allesbehalwe gelyk soos iemand wat pyn en swaarkry in sy verlede moes verduur. In so ‘n mate dat nie eers sy broers hom herken het nie.

Dit is die God wat ons dien. Hy neem nie jou pyn ligtelik op nie. Hy sien jou lyding raak en Hy weet wat om te doen. Niks kan naastenby vergelyk met wat Hy na jou kant toe gaan laat kom nie. Vergewe diegene wat jou seergemaak het, en kyk weg van die pyn en swaarkry deur op God se Woord en beloftes te fokus. As Hy iets gesê het, dan sal Hy dit doen. Laat ons aanhou want ons vergoeding duskant die ewigheid gaan groot wees en soos vandag se SOAP-verse ons verseker, is ons seker van die ewigheid saam met Hom waar daar nie meer trane, pyn, swaarkry en droefheid sal wees nie.

God is aan jou kant. Jy is nie alleen nie. Vra Hom om jou geestelike oë oop te maak sodat jy dinge vanuit sy perspektief kan sien. Dit sal jou bemoedig om aan te hou.

Gebed: God, in sulke oomblikke, voel ek ek wil in u teenwoordigheid bly en nêrens anders heen gaan of niks anders doen nie want u Woord het my hart vol hoop, sekerheid en vreugde gemaak. Dankie vir u Woord. Help ons om ondanks wat ons sien of voel, op U te fokus. Maak ons oë oop om ons swaarkry vanuit u perspektief te sien, en mag ons daardeur getroos word en ander vertroos. Ons het U lief. Amen.

Week 4 Uitdaging:

God het Josef toegelaat om groot lyding in sy lewe te verduur om sy goddelike doel te bereik. Terwyl jy lees, let op Josef se lyding. Nadat jy hierdie week se leeswerk voltooi het, gaan deur die oomblikke van sy lyding en besin oor hoe God elkeen van daardie gebeurtenisse verlos het. Glo jy dat God op dieselfde manier in jou lewe kan werk? Hoe het God reeds van sommige van jou seisoene van lyding verlos?

Week 4 Leesplan:

Week 4 Memoriseervers:

Moenie Opgee Nie

Moenie Opgee Nie

Crystal Stine

Ek het die oggend ná een van haar sokkerwedstryde saam met my dogter in die skool se aflaaitou gesit. Ons was albei moeg en gefrustreerd met die uitslag van die wedstryd, en sy het my vertel van al die dinge wat nie volgens plan verloop het nie. Dit was ‘n baie lang lys wat alles ingesluit het van om truie te moes verander tot ‘n ongelyke sokkerveld tot swak skeidsregters en opdringerige spelers. En elke sin het begin met: “Dit is nie regverdig nie…”

Soveel as wat ek met al haar punte saamgestem het, was dit die woorde van een van haar afrigters wat by my opgekom het. Tydens die wedstryd, terwyl die meisies op die bank gesit en gefrustreerd en geminag gevoel het, het hul afrigter ‘n paar ferm maar sagte woorde vir hulle gehad. Om die uitslag van die wedstryd op al die “onregverdigheid” te blameer, sal hulle nooit help om as spelers en as ‘n span te groei nie. Daar is niks wat by die oefening gedoen kan word wat ‘n beampte alles regverdig sal laat sien nie. Daar is geen oefeningwedstryde wat die manier waarop ‘n ander span speel, sal verander nie. In plaas daarvan om hul energie en emosies te fokus op die dinge wat hulle nie kan verander nie, het hul afrigter hulle aangemoedig om te kyk na wat hulle kan verander.

Dit is nooit maklik om vir jou kind te sê dat die lewe nie regverdig is nie, maar ek het genoeg gesien om te weet dat dit nie haar enigste teleurstelling of frustrasie sal wees nie. Mense sal gunstelinge hê, klasmaats sal krediet neem vir werk wat hulle nie gedoen het nie, iemand anders sal die bevordering aangebied word waarvoor jy hard gewerk het – en dit is genoeg om jou te laat moed opgee.

Ek is seker Josef se broers het hul deel van “dit is nie regverdig”-oomblikke gehad toe hulle gekyk het hoe hul jongste broer met blatante begunstiging behandel word. Dit was moeilik genoeg om saam te leef met die feit dat hul pa duidelik die meeste lief was vir Josef, en nou het hy veelvuldige drome gehad wat aangedui het dat die hele gesin eendag voor hom sou neerbuig. Dit was te veel. Ons sal voortgaan om te lees oor wat Josef se broers gekies het om te doen as gevolg van hul frustrasie, maar dit is baie duidelik dat hulle daarop gefokus het om die oorsaak te verwyder in plaas van om hul harte te verander.

God was besig om die weg voor te berei vir Josef om soveel meer toevertrou te word as wat selfs sy drome sou aandui. Josef sou die man wees wat tussen lewe en dood gestaan ​​het vir die hele Egipte, aangesien God hom in ‘n posisie geplaas het om die nasie voor te berei vir die komende hongersnood. Dit was ‘n plan wat baie jare van opoffering en standvastige getrouheid in die klein dingetjies gekos het voordat Josef gereed was vir alles wat God vir hom gehad het.

” Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.” – Lukas 16:10

Die lewe is nie regverdig nie, maar ons God is, en ons kan Hom en sy planne vertrou. Moenie opgee nie. Wanneer jy oor die hoof gesien, opsy gestoot en verslaan voel, staan ​​vas. Werk aan die dinge wat jy kan verander. Groei nader aan God, lees sy Woord, versterk jou karakter, verfyn die gawes waarmee Hy jou geseën het, en oefen om getrou te wees in die klein, onsigbare oomblikke. Eendag sal jy kan terugkyk en sien hoe God jou voorberei het vir iets meer as wat jy ooit kon dink.