Blog

Loof die Koning

Loof die Koning

Ebos Aifbouhokhan

“Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” –Lukas 19:38

Loof die God van die hele aarde, ons Verlosser en Koning. Die Een wat is en wat weer sal kom. Die ewige Koning. Die Leeu en die Lam. Die Een wat ons genadig is en wat ons daagliks red. Die Een wat ons vir ewig liefhet. Glorieryk in heiligheid en wat groot wonders doen. Ons loof U! Halleluja!

Kom ons aanbid en loof hierdie groot Koning wat ons Vader is. Hy is waardig om vir ewig geprys te word. Hy het hulp en vrede aan mense gebring. Hy het verlossing gebring sodat ons nie langer deur sonde gebind is nie. Hy is die Een wat sien en wat doen.

Jesus het verlossing gebring en ‘n einde gemaak aan die slawerny van die mensdom. Elkeen wat in Hom glo het nou die lewe en lewe in oorvloed. Hy het die hoogste eer aan die Vader gebring. Aanbid die Here saam met my!

Jesus is al hierdie dinge en meer, en tog het Hy hierdie broos gestalte en vlees van ‘n mens aangeneem. Hy is ‘n Koning, inderdaad die Koning van konings, en tog was sy familie nie ryk nie. Hulle het nie invloed of ‘n hoë posisie in die gemeenskap gehad nie. Jesus is in Nasaret, waar daar nie hoop was om iets goed te vind nie, gebore. Hy het vriende gemaak met die uitgeworpenes van die samelewing. Sy dissipels was vissermanne en tollenaars, mense wat nie deur ander mense vir iets belangriks gekies sou word nie. Hy was so vriendelik dat kinders na Hom toe gekom het. Hy het nie vir ‘n majestieuse perd of ‘n wa gevra om Jerusalem binne te ry nie; Hy het ‘n donkie gekies. Hy het geweën omdat sommige mense geweier het om in Hom te glo.

Jesus, ons het nie woorde nie! U planne is ongelooflik, U weë is perfek. Vandag sluit ek aan by al my susters in Christus wat hierdie studie doen en saam bring ons eer aan die almagtige Koning van die hemel en die aarde. U heerskappy is vir ewig en altyd. Mag ons voortgaan om nader en nader aan U te groei.

Liefde,

Week 6 Uitdaging:

Soos ons ons studie van die Evangelie van Lukas afsluit, word ons geroep om getuies vir die wêreld te wees en te deel wie Jesus is en die verlossing wat Hy bied. Met wie kan jy vandag die Goeie Nuus van Jesus deel? As niemand in gedagte kom nie, vra God om iemand op jou hart te plaas om hierdie week mee te praat.

Week 6 Leesplan:

Week 6 Memoriseervers:

Hy Onthou Jou Naam

Hy Onthou Jou Naam

Emma Harper (uit die Young Women Love God Greatly Bybel)

Is dit vir jou moeilik om mense se name te onthou? Vir my ma is dit baie moeilik. Sy kan glad nie mense se name onthou nie. Ek doen egter iets wat vir my groot verleentheid veroorsaak: ek dink ek ken mense se name en dan noem ek hulle op heeltemal die verkeerde name.

Wanneer iemand jou naam onthou, beteken dit ongelooflik baie vir jou. ‘n Naam is hoe iemand geïdentifiseer word. Wanneer ons iemand op sy naam noem, wys ons dat ons weet wie daardie persoon is.

Toe God vir Moses vertel het wat sy naam is, het Hy Homself “EK IS” genoem (Eksodus 3:14). Dit is die mees goddelike, persoonlike en intieme naam vir God wat ons in die Skrif lees. Om die waarheid te sê, die Israeliete wou dit nie eers skryf of sê nie, maar het inteendeel na Hom verwys as “die naam”. God se bekendstelling van Homself was doelgerig. Ons harte is gemaak vir ‘n diepe persoonlike verhouding en God het genadiglik gekies om daardie verhouding te wees en daardie behoefte wat ons het, te vervul.

Het jy al ooit jou eie naam vergeet? Heel moontlik nie, behalwe as jy, soos ek, gevries het die keer toe die barista in die koffiewinkel my naam gevra het vir my bestelling. Ek het gesê my naam is Kate, wat nie eers naastenby naby aan my naam is nie.

Jesus vergeet nooit ‘n naam nie. En Hy noem dié wat verlore was—jy en ek—gevind.

In Lukas 19 het Saggeus sy naam vergeet. Hy het geïdentifiseer met sy sondes en daardeur begin om ‘n naam vir homself op te maak: tollenaar, skelm, sondaar, verstote, ongeliefd, verlore. Toe kom Jesus op die toneel en Hy vergeet nooit ‘n naam nie: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan” (Lukas 19:5). Jesus het Saggeus nie erken as ‘n buitestaander wat vanuit ‘n boom kyk nie, maar Hy het aangebied om saam met Hom te sit en eet.

Jesus wil nie hê dat ons aan die kantlyne moet leef nie. Hy wil hê dat ons by Hom moet aansluit. En om by Hom aan te sluit, moet ons sy naam ken. Sy naam is Yahweh, die nabye, persoonlike God. Ongeag wat ons dink, God se naam het nooit verander nie. God is onveranderd, en Hy word nie beïnvloed deur ons mislukking nie.

Jesus se liefde vertoon die liefde wat God was, die liefde wat God is en die liefde wat Hy altyd sal wees. Hy soek en roep ons. Hy is die een wat nie meer toelaat dat ons op die verkeerde naam geroep word nie. Wanneer ons ons geloof in Hom plaas, sal ons nie meer sondaars genoem word nie, ons word nou geken as gered, verlos, geliefd. Ons kan die name wat Jesus ons noem onthou wanneer ons onthou wie Jesus is. Hy is Yahweh, die Een vir wie ons harte geskape is, die Een wat “gekom het om te soek en te red wat verlore is” (Lukas 19:10).

Emma

Net een het teruggegaan

Net een het teruggegaan

Mary Leslie Racine

Stel jouself vir ‘n oomblik voor hoe dit sou gewees het om melaatsheid te hê. Jy was ‘n uitgeworpene van die samelewing. Jy moes wegbly van enigiemand wat nie die siekte gehad het nie, dus moes jy alleen woon of in ‘n kolonie saam met ander wat melaats was. Jy moes “onrein” skree as mense naby jou kom.

In vandag se Skriflesing sien ons Jesus wat ‘n dorpie binnegaan, maar voordat Hy ingegaan het, het Hy tien melaatses teëgekom. Let op, die verse sê hulle het op ‘n afstand gestaan. Hulle is nie toegelaat om naby Hom te kom nie en wat het hulle gedoen toe hulle Jesus sien? Hulle het hulle stemme verhef en Jesus “Meester” genoem en Hom toe gevra om hulle genadig te wees. Hulle het geweet hulle het Hom nodig. Hulle het die krag wat Hy gehad het om hulle te genees, erken.

Barnhartigheid word gedefinieër as “deernisvolle behandeling van diegene in nood”. Hierdie mense was in nood. Hierdie mense het deernisvolle behandeling nodig gehad. Hierdie mense vra die Een wat hulle geweet het die krag het om te genees, om medelye met hulle te betoon. Wat sê die Skriflesing het Jesus gedoen? Dit sê Jesus het hulle gesien.

Dink vir ‘n minuut daaroor. In ‘n wêreld waar hulle uitgeworpenes van die samelewing is, het Jesus hulle gesien. Hy het na hulle gekyk. Toe sê Hy vir hulle om hulself aan die priester, wat die een was wat kon bepaal of hulle rein of onrein is, te gaan wys. Het Jesus hulle al genees? Nee, maar wat sien ons die tien melaatses doen? Ons sien hoe hulle op pad is na die priester. Hulle het geglo dat Jesus hulle kon genees van hulle melaatsheid nog voordat Hy dit gedoen het en daarom het hulle na die priester gegaan. Terwyl hulle op pad was is hulle gereinig. Wat volgende gebeur het is iets waarvan ons kennis moet neem.  

Al tien van hulle is genees, al tien was nou nie meer uitgeworpenes nie, maar net een het teruggegaan. Een het afgekyk en gesien dat hy gereinig was en sy onmiddellike reaksie was om terug te gaan en God met ‘n harde stem te loof en op sy aangesig voor Jesus se voete te val en Hom te dank.  

Wat van my? Wat van jou? Daar is ‘n goeie kans dat ons nie melaatsheid het nie en ook nooit gehad het nie, maar ons het eintlik iets veel erger. Ons het ‘n sondeprobleem wat ons van binne, op hartvlak, “onrein” maak, maar God het ons in sy genade genees deur die bloed van Jesus. Hy het die melaatsheid van ons hart weggeneem. Hy het ons van binne gereinig. Jesus het ons gesien, hulpeloos sonder Hom en Hy het ons genees. Wat is my reaksie daarop? Is ek bly om voort te gaan met my lewe, net om die seën van om gereinig te wees te geniet of is die reaksie van my hart om na Hom te draai en te aanbid? Val ek op my aangesig voor sy voete neer en dank Hom? Is ek soos die een, of is ek soos die ander nege?

Ek wil ‘n vrou wees wat daagliks voor die Here kom en Hom aanbid vir die werk van genesing wat Hy in my hart gedoen het. Ek wil ‘n vrou wees wat aanhoudend dankie sê dat ek nie meer sonde-siek is nie. Ek wil ‘n vrou wees wie se lewe gekenmerk word deur ‘n hart van aanbidding en danksegging. Ek wil ‘n vrou wees wat weer en weer en weer terugkom en in dankbaarheid op my aangesig voor Hom neerval. Mag ons almal leer by die een wat teruggegaan het.

Mary Leslie

Die Koste

Die Koste

Cristin Tippin

”Iemand wat nie sy kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.” – Lukas 14:27

Ek onthou ‘n tyd uit my kinderdae toe ek baie graag ‘n spesifieke speelding wou hê. Ek het my ma daarvoor gevra en sy het vir my gesê ek kan die speelding kry as ek my eie geld gebruik. Ek het vinnig die spaarvarkie leeggemaak (ja, ‘n letterlike spaarvarkie) en die geld wat ek gehad het op hierdie speelding spandeer. En dit was wonderlik. Vir miskien ‘n maand lank. En toe verloor dit sy aantrekkingskrag. En skielik het ek gewens dat ek nie die geld wat ek gespaar het, spandeer het op iets wat vir my so ‘n klein bietjie bevrediging sou bring nie, iets wat nie eintlik die koste werd was nie. En hoewel dit ‘n taamlik onbeduidende herinnering is, het ek geleer om eers ‘n belangrike vraag te vra voordat ek die spaarvarkie leegmaak: Is dit die koste werd?

Terwyl ek Jesus se woorde in Lukas 14 gelees het, kon ek nie help om te dink aan hierdie geleentheid toe ek die eerste keer geleer het om die koste van iets te bereken nie. Want, uiteindelik dink ek die dissipels was gedwing om hierdie vraag vir hulself te beantwoord: Is dit die koste werd om Jesus te volg?

Wat was die koste? Om bereid te wees om “sy eie kruis te dra en [Jesus] te volg”. Die kruis was ‘n verwysing na kruisiging, ‘n grusame metode van marteling wat in ‘n intense pynlike dood geëindig het. Daarbenewens was dit ook algemene praktyk dat hierdie misdadigers hul eie kruis moes dra na die plek van hul kruisiging.

Stel jou voor dat Jesus vir hierdie dissipels sê dat om een van sy dissipels te wees, hulle elkeen gewillig moes wees om hul eie kruis te dra en Hom te volg. Watter beelde dink jy het deur hul koppe gemaal? Beelde van hulself as misdadigers wat hul metode van teregstelling na hul eie dood dra. Beelde van oorgawe, opoffering, pyn en selfs die dood. Wat ‘n skokkende beeld moes dit vir sy dissipels gewees het. In daardie oomblik was elkeen gedwing om hulself af te vra: Is dit die moeite werd om Jesus te volg, ongeag die koste?

As Christene vandag moet ons onsself ook hierdie vraag afvra: Is dit die koste werd om Jesus te volg? Dalk is jou koste om te weerhou van sekere dinge as gevolg van jou toewyding aan ‘n lewe van getrouheid. Dalk is dit om geleenthede te mis omdat jy Christus as Here bely. Dalk ervaar jy onregverdige vervolging. Dalk is die koste werklik om jou lewe in gevaar te stel ter wille van die evangelie. Wat dit ook al mag wees, daar is altyd ‘n koste verbonde om Jesus te volg. En daardie koste is dikwels groot.

So, is dit die moeite werd? Sal die beloning die koste oortref? Die antwoord is ongetwyfeld, ja!

“Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” – Romeine 8:18

Soos ons in Lukas 13 lees, het die Vader ons genooi na ‘n groot fees, ‘n fees van vreugdevolle gemeenskap en rus en oorvloed. ‘n Fees wat veel swaarder weeg as die huidige opoffering en lyding wat ons nou mag verduur. ’n Fees wat wag vir diegene wat Hom sal volg. Ja, die koste om Jesus te volg is groot. Maar die beloning is soveel groter.

Sommige dae of seisoene of jare mag die koste te hoog lyk. Die opoffering of lyding voel dalk te veel. In daardie dae, lê dit aan sy voete neer. Bely dit aan die Vader wat so diep vir jou omgee. Vra Hom vir groter geloof, volharding en hoop. Hy sal getrou wees, selfs in tye wanneer ons nie is nie (2 Timoteus 2:13). Hy gee genoeg om en is deernisvol genoeg om ons in ons twyfel tegemoet te kom en ons gerus te stel dat, hoewel die koste groot is, die beloning soveel groter is.

Laastens, weet dat Jesus self bereid was om die prys te betaal wat Hy van die dissipels gevra het. Die koste daaraan verbonde dat God se mense van sonde verlos en met die Vader versoen is, was dat Jesus bereid was om sy eie kruis te dra en sy lewe aan daardie einste kruis oor te gee. Terwyl ons nog sondaars was, het Christus vir ons gesterf (Romeine 5:8). Hy was bereid om die prys te betaal, en het geglo dat die komende beloning groter sou wees. En die beste nuus van alles is dat gelowiges in Christus ook erfgename saam met Christus is. Dit beteken dat as ons saam met Hom ly, ons ook saam met Hom sal deel in hierdie beloning (Romeine 8:17). Ons sal die Vader se fees saam met Hom geniet.

En, eendag, hoop ek om saam met elkeen van julle aan die Vader se tafel te kan aansit.

Cristin

Week 5 Uitdaging

Ons Skrifgedeeltes hierdie week fokus op wat dit beteken om ware geloof te hê en hoe dit lyk om ‘n dissipel van Jesus te wees. Soos jy hierdie gedeeltes deurlees, teken die kenmerke van geloof en dissipelskap aan. Vertoon jy dit in jou lewe en verhouding met God? Hoe leef jy elke dag ware geloof uit? Hoe leef jy as ‘n ware dissipel van Jesus? Is daar areas waarin jy kan groei?

Week 5 Leesplan

Week 5 Memoriseervers

God is Ons Bron

God is Ons Bron

Andrea Howey

In Lukas 12:29-32 sê Jesus vir sy dissipels: “Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ‘n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee. Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.”

Net voor ek gaan sit het om hierdie blog te skryf, was ek besig om ‘n kruidenierslys te maak van ‘n paar items wat ek gaan nodig hê vir die week wat voorlê. Die belangrikste item op my lys? Dik room vir my koffie. Daardie heerlike skeppie room in my koffie is ‘n klein bederfie in my lewe waarna ek soggens regtig uitsien. Toe ek dit by my inkopiemandjie voeg, was ek geskok om te sien hoeveel die prys oor die afgelope paar maande opgegaan het. Vir ‘n oomblik het ek aan die dink geraak hoe die stygende pryse nie net my oggendkoffieroetine nie, maar my in baie ander opsigte gaan raak. Toe ek my kom kry, het ‘n groeiende onrus oor al my lewensbehoeftes met my op loop gegaan.   

Wanneer God vir ons sê ons moet ons nie kwel oor wat ons gaan eet of drink nie, en ons eerder beywer vir sy koninkryk, maak Hy nie die mees basiese en fundamentele behoeftes in ons lewens as onbenullig af of sê ons moet daardie behoeftes ignoreer nie. God wil hê ons moet op Hom konsentreer en leer om na Hom as ons Bron en Voorsiener te gaan. Diegene wat nie God se weë ken nie, kan nie anders as om met inspanning te probeer en kla oor die stand van hulle behoeftes nie. Maar ons wat weet wie God is en hoe Hy werk, weet dat ons Hom volkome kan vertrou met elke behoefte waarvoor ons te staan kom.

Terwyl die wêreld hulle inspan en dag vir dag angstiger raak, wil God hê ons moet weet dat Hy diep-diep vir ons, sy geliefde kinders, omgee. Die wêreld mag dalk al hoe meer gespanne raak oor die prys van brood en melk maar ons hoef nie net so paniekerig te raak nie. God weet ons het dieselfde behoeftes. En Hy het ons nie misgekyk of in die steek gelaat nie. Hy wil egter hê ons moet ons harte anders as die wêreld instel en koninkryksbeginsels toepas: om op die Here te vertrou, sy geregtigheid te soek, gehoorsaam te wees aan sy Woord, vrygewig te wees met ons lewens en hulpbronne, die evangelie te verkondig, en deur geloof te wandel. Wanneer ons dit doen, leer ons wie ons Bron is en sal ons weet Hy sal voorsien.

Ek onthou nog ‘n verhaal wat my ouma my vertel het van toe sy ‘n dogtertjie was. Haar pa was ‘n jong leraar op ‘n klein plattelandse dorpie in Oklahoma in die 1930’s. Hulle het baie min besit en die kerk se salaris was skaars genoeg om hulle rekeninge te betaal en elke week kos op die tafel te sit. Die meeste van die gesinne in hulle plattelandse gemeentetjie was waarskynlik tydens die Groot Depressie in dieselfde bootjie. Maar hulle het die Here vertrou en Hom getrou gedien.

My ouma het my van een spesifieke herinnering vertel. ‘n Fout het ingesluip en die diakens by die kerk, onder die indruk dat een van die ander kerkleiers dit hanteer het, het eenkeer vergeet om haar pa te betaal. Soos die dae aangestap het, het my ouma onthou, was daar uiteindelik niks kos oor om te eet nie en ook nie geld om kos te koop nie. Haar ouers het nie eintlik mooi geweet hoe om die situasie te hanteer nie en die beste ding wat hulle toe kon doen, was om te bid. Die gesin het in die woonkamer bymekaargekom en gebid dat God ‘n antwoord sou stuur en hulle het geglo dat Hy sou voorsien.    

Net ‘n paar uur later was daar ‘n klop aan hul deur. ‘n Boer, een van die diakens in hulle kerk, het op hulle stoep gestaan. Hy het my oupagrootjie vertel dat hy besig was om sy lande te ploeg toe die Heilige Gees hom aan my oupagrootjie laat dink het. Hy kon nie die gedagte aan hom afgeskud kry nie, los toe sy ploeg en gaan dorp toe na die leraar se huis. Hulle kon toe vertel van die nood en die kerk kon die saak regstel.

Daardie ervaring het my ouma so duidelik herinner en was vir ander ‘n getuienis dat God ‘n deernisvolle, goeie Vader is wat baie deeglik van ons daaglikse behoeftes bewus is. Psalm 37:3-5 herinner ons dat wanneer ons die dinge van God nastreef, wanneer ons ons in die Here verlustig en op Hom vertrou, sal Hy ons gebede verhoor en in ons belang optree. Verder aan in dieselfde hoofstuk, staan daar in Psalm 37:25: “Ek was jonk en ek het oud geword, maar nooit het ek ‘n regverdige verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie.”

Net soos God vir my ouma as dogtertjie voorsien het en vandag vir ons sorg as ons Hom vertrou, na Hom opsien en in sy weë wandel, sal Hy in ons behoeftes en meer voorsien. Hy is getrou aan sy Woord en sy beloftes. Hy is nie ‘n djin of towerfee aan wie ons kan voorskryf nie; Hy is ‘n soewereine God. Maar Hy is ook ‘n goeie Vader en as ons weet hoe om op sy Woord te staan, op sy beloftes te steun, Hom te vertrou en Hom in ons lewens na te volg, sal ons ontdek dat sy getrouheid nooit ophou nie. Wanneer ons vertrou dat God ons Bron en Voorsiener sal wees, put ons uit ‘n kragtige bron waarvan die wêreld geen begrip het nie.   

Vandag, in plaas daarvan om al hoe meer besorgd te raak oor die behoeftes wat ons in die gesig staar, laat ons eerder onthou van God se getrouheid oor die geslagte heen. As daar ‘n groot behoefte in jou lewe is, vertrou dat Hy sien, Hy ken en dat Hy omgee.

Ruimhartigheid en Aanbidding

Ruimhartigheid en Aanbidding

Kelli Trontel

Ek het onlangs vir ‘n nie-winsgewende organisasie begin werk. Hulle missie is om mense te bereik wat die volgende generasie van evangelie beskermhere kan word. Ek het geen idee gehad wat ‘n “evangelie beskermheer” was nie, en die afgelope paar maande was so ‘n seëning, aangesien die Here ‘n pragtige werksgeleentheid op my pad gebring het wat my oë oopgemaak het vir ‘n groter visie op die roeping wat Hy op ons elkeen geplaas het, reg waar ons is.

Beskermheer: ‘n persoon wat finansiële of ander ondersteuning aan ‘n persoon, organisasie, saak of aktiwiteit bied.

In Lukas 10 word tasbare voorbeelde van vroeë beskermhere van die evangelie aan ons gebied: die Sending van die Twee-en-sewentig, die barmhartige Samaritaan, en Maria en Marta. Elke storie gee insig oor hoe ons die Here moet liefhê met ons hele hart, siel, verstand en krag, of dit nou is deur evangelisasie, omgee vir die armes en behoeftiges, of om aanbidding ‘n prioriteit te maak.

Ruimhartigheid is ‘n daad van aanbidding.

Om van onsself te gee (finansieel of enige vorm van ondersteuning) is nie net ‘n uitdrukking van gehoorsaamheid nie, maar ook van dankbaarheid en vertroue. Ons sien dit in elke gebeurtenis wat in Lukas 10 afspeel en dit is duidelik dat die Here kennis neem en elke daad van diens erken. Die boodskap is eenvoudig: wees lief vir God, wees lief vir mense. Dit is meer as ‘n oulike advertensie-frase wat ons dikwels op koffiebekers en t-hemde sien; dit is ‘n opdrag. Ons het elkeen ‘n rol om te speel en dit kos meer as net geld om betrokke te wees en ‘n beskermheer van die evangelie te word.

Meer dikwels as nie, word ons geloof vertoon deur die manier hoe ons leef. Ons harte is altyd waar ons skat is. Hoe ons ons tyd spandeer weerspieël waaraan ons waarde heg. Ons bankstate weerspieël wat deur die maand vir ons belangrik is. Dít waaraan ons waarde heg word nie maklik weggesteek nie. En al was dit weggesteek, God sien en weet alles.

Ek stem saam dat om te gee beter is as om te ontvang, en ek hou baie daarvan dat die Here ons geskape het om deel te neem aan dít wat Hy koester en waardeer. Hy het sy lewe op aarde op hierdie manier geleef, en Hy het nog nie iets van ons gevra wat Hy nie self gedoen het nie. Selfs terwyl Hy aan die kruis gehang het, het Jesus voorsiening gemaak vir sy moeder. Hy het seker gemaak sy sal versorg word. Hy het deernis geopenbaar, selfs terwyl Hy pyn ervaar het en aan ‘n kruis gehang het. Om te wag vir die lewe om “perfek” te wees of om te wag om “genoeg” te hê voordat jy enige iets aan ander voorsien, is soos om op die kantlyn te wag en te kyk hoe die lewe en geleenthede by jou verbygaan.

My seun was so ‘n voorbeeld van liefde en opoffering vir my. Die afgelope somer het hy hard gewerk om limonade op ons straathoek te verkoop. Hy het baie goed gedoen met die verkope en was so trots op homself. Op my verjaardag het hy sy geld uit sy spaarbussie gehaal en in die straat afgehardloop na hierdie ou man wat grassnyers verkoop en herstel. Hy het ‘n grassnyer gekoop sodat hy self die grasperk kon sny, sodat ons nie meer vir tuindienste hoef te betaal nie. My lieflike seun is ‘n voorbeeld van wat Christus ons roep om te doen: om ‘n behoefte raak te sien en in die behoefte te voorsien. Ons kan dalk nie almal grassnyers of motors vir mense koop nie, maar liefde en vriendelikheid maak ‘n groot impak. Die oorvloed van Christus word vermenigvuldig deur ander mense op beide groot en klein maniere te dien.

Ons leer om die oorvloed van Christus te vertrou wanneer ons in nood is. Daar is sekere dinge in die lewe wat net in die valleie ontdek en verstaan ​​word. Ek glo dat dit egter in daardie valleie is dat Christus aan ons openbaar hoe ons sy oorvloed kan wys aan ander wat in nood is. Ons dien ‘n goeie, getroue en soewereine God wat alles sien—ons behoeftes sowel as die behoeftes rondom ons. Omdat ons God heelhartig liefhet, sal ons van nature heelhartig lief wees vir mense.

Die Leeu en die Lam

Die Leeu en die Lam

Grace Ann Hopkins

In die wêreld van sielkunde het ek geleer dat ‘n mens se oortuigings en kognisies jou gedrag beïnvloed. Ek het gevind dat hierdie teorie en sentiment baie waar is in my eie lewe. Wanneer ek byvoorbeeld glo dat ek ’n las is en dat mense nie omgee wat ek te sê het nie, isoleer ek myself en bly ek emosioneel afgesonder. Ek is seker daarvan dat jy nou aan vele voorbeelde kan dink van hoe jou eie oortuigings jou optrede en die manier hoe jy jouself en ander behandel, beïnvloed.

Hierdie konsep kan ook op ons geestelike lewe toegepas word. My pa het eenkeer vir my gesê dat wat ek oor God glo, die manier waarop ek lewe sal bepaal. Die gedagte hieraan het my verstom. Ek het besef dat ek God in die verkeerde lig beskou het. Vir lank het ek gedink dat ek meer moet doen om God trots te maak op my. Ek was onder die indruk dat ek altyd ‘n glimlag op my gesig moes hê, dat ek geen negatiewe emosies kon erken nie, en dat ek die verantwoordelikheid dra om mense in my eie krag te red. Al hierdie oortuigings het my gedrag beïnvloed en uiteindelik het dit gespruit uit my onakkurate siening van wie God was en is.

Die enigste manier om ‘n akkurate siening van God te hê, is om sy Woord te lees. God het Homself duidelik gemaak in die bladsye van die Skrif, in die lewe van Jesus en deur sy Heilige Gees, wat woon in diegene wat in Hom glo. Dit is duidelik dat Hy daarna verlang dat ons Hom moet ken en weet wie Hy werklik is.

Wanneer ek die Woord van God oopmaak, lees ek die woorde van Jesus wat sê: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.” (Mark 6:31). Hierdie woorde sê vir my dat God ‘n intieme verhouding met my verlang. Hy wil nie hê dat ek meer doen nie, bloot in sy teenwoordigheid wees en Hom geniet. As ek dink aan my eie verhoudings; ek wil nie hê my vriendinne moet heeldag dinge vir my doen nie, ek wil eerder tyd saam met hulle deurbring en by hulle wees. En ja, sulke opregte toegeneentheid en liefde kweek ‘n opregte vorm van aksie.

Wanneer ek die Woord van God oopmaak, besef ek dat God my menslike emosies bekragtig. God ken my menswees en alles wat dit behels. God is ‘n deernisvolle God, wat beteken dat Hy saam met my wil worstel deur enigiets waardeur ek gaan. God smag daarna dat ek my hart voor Hom uitstort; Hy wil elke positiewe of negatiewe emosie hoor wat ek ervaar. God is sorgsaam en teer en sterk genoeg om dit alles te dra.

Wanneer ek die Woord van God oopmaak, vind ek dat ek nie onder druk is om mense se probleme op te los of hulle pyn te dra nie. In Johannes 6:44 sê Jesus: Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie. Terwyl ek geroep is om ander te verdra en saam met hulle te wandel—om my saam met ander te verheug en saam met hulle te huil—in my menslikheid, kan ek hulle nie red nie. Dit is ‘n werk van die Heilige Gees alleen, wat God is en enige siel kan red, ongeag waar hulle is. As ons hierdie dinge in ag neem, is daar groot vertroosting, vrede en hoop.

Heel waarskynlik laat die lees hiervan jou met ‘n vraag: Hoe herbedraad ek die oortuigings wat my so lank vasgekluister het in die plek waarin ek myself tans bevind – die siklusse waarin ek vasgevang is wat my verhoudings, my welstand en my siening beïnvloed van myself, God en die wêreld? Ek bekragtig hierdie vraag, en ek verstaan hierdie gevoel. Ek was op ‘n plek waar ek nie kon onthou hoe die waarheid geklink het nie, want die leuens was so oorverdowend.

Op baie maniere het ek die leuens as die waarheid aanvaar. Ek het gevind dat, om my oortuigings te herbedraad, moet ek weet wat waar is. Jy kan berus in die wete dat God vir jou sy Woord gegee het, wat die absolute waarheid is waarop jy jou geloofstelsels kan baseer in ‘n wêreld wat baie wispelturige en veranderende standaarde het. Daarom, om jou oortuigings te herbedraad, moet jy elke woord van hierdie heilige Boek indrink. Dit is jou wapen, jou skat, jou goddelike krag en jou gesag. Beoefen wat hierdie Boek sê. Skryf dit op die tafels van jou hart. Spreek dit voortdurend oor jouself. Dit is hoe die herbedrading begin.

Jy is bekwaam en sterk, dapper en briljant, talentvol en uniek. Hou aan om jy te wees en laat die Here toe om elke deel van jou wese te suiwer en te verfyn. Daar is soveel goedheid vir jou in die vooruitsig. Jy word nie oor die hoof gesien nie, so hou aan veg. Hou aan om in die God te rus wat oppermagtig en groot is, maar tog naby en intiem. Leer alles wat jy kan van Hom en glo wie Hy sê Hy is. Hy is die Leeu en die Lam, die groot Hoëpriester en die offer, eenmalig en vir alle mense. Hy is alles—alles waarna jy gesoek het en alles wat jy ooit sal nodig hê. Jy is syne, en Hy is joune. Maak nie saak wat nie.

Week 4 Uitdaging:

Hierdie week gaan ons Skrifgedeeltes in Lukas se Evangelie oor na ‘n afdeling wat fokus op die konflik tussen Jesus en die godsdienstige leiers. Te midde van hierdie konflik het Jesus vir sy dissipels gewys wat dit werklik beteken om Hom te volg en die opofferings wat hulle vir die koninkryk sou moes maak. Ondersoek hierdie week wat dit beteken om Jesus waarlik te volg en wat Hy jou dalk vra om op te offer terwyl jy saam met Hom wandel.

Week 4 Leesplan:

Week 4 Memoriseervers:

Meer as Genoeg

Meer as Genoeg

Katie Shott

Wanneer was die laaste keer wat jy deur Jesus verras is?

Hierdie vraag is onlangs in ons Bybelstudiegroep gevra en dit het ons laat dink dat ons, dalk selfs onbewustelik, op beperkte wyses aan God gedink het in terme van wat Hy kan doen, hoe Hy sal werk of hoe Hy ons gebede kan beantwoord.

Dink net as ons in tyd kan teruggaan en daardie selfde vraag aan Jesus se dissipels kan vra in die vroeë dae van hul roeping om Hom te volg. Ek dink hulle antwoord sal wees: “Vandag!”

Kom ons herinner onsself aan die ongelooflike verandering in hul daaglikse lewens en die wonderbaarlike dinge waarvan hulle getuies was nadat hulle deur Jesus gekies en geroep is. Hulle het gesien hoe ‘n melaatse genees is, ‘n verlamde man genees en vergewe is, dooies opgewek is, ‘n storm gestil is, duiwels uitgedryf is, menigte mense genees is en ‘n koninkryk wat anders en kontra-kultureel is, deur gelykenisse verkondig en oordink is!

Hierdie is net ‘n paar van die gebeurtenisse wat ons tot dusver in ons studie van die Evangelie van Lukas bestudeer het. Is ons deur Jesus verras? Deur wie Hy is, wat Hy leer, hoe Hy die onmoontlike kan doen, hoe Hy die Een is wat sien en ken en omgee? Of het ons so bekend geword met hierdie gedeeltes van die Skrif en die wonderbare dinge waarvan hulle vertel, dat hulle hul wonder verloor het?

Die apostels was saam met Jesus terwyl Hy baie ongelooflike dinge gesê en gedoen het, maar nou is hulle uitgestuur in sy krag en outoriteit, as Jesus se verteenwoordigers, om die siekes te genees en die Goeie Nuus van Jesus se koninkryk te verkondig. Hulle het onderrig ontvang om met min te reis, as ‘n herinnering aan hul absolute afhanklikheid van God en alleenlik sy voorsiening van alles wat hulle benodig.

Is dit nie vir ons ook ‘n groot les onderwyl ons God dien en uitreik na ander nie? Ons moet onthou dat niks deur ons menslike pogings, in ons eie krag of uit ons eie hulpbronne bereik word nie, maar soos Paulus sê, dat alles wat in sy naam en vir ewige waarde gedoen word, “uit Hom en deur Hom en tot Hom” is (Romeine 11:36). Watter taak ookal voor ons lê, maak nie saak hoe oorweldigend of hoe moeilik die taak van die bediening met tye mag voel nie: Jesus is meer as genoeg.

Lukas vertel ons dat die dissipels teruggekom het van hule avonture in die bediening en alles aan Jesus vertel het (Lukas 9:10). Ons kan onsself net indink hoe opgewonde en entoesiasties hulle was! Dit is interessant om te sien wat Jesus hier doen—Hy neem hulle saam met Hom om privaat weg te kom om te rus.

Hoe belangrik is dit nie vir elkeen van ons ook om, te midde van ons besige skedules en al die eise wat ons beleef, te kies om tyd te maak vir daardie sabbatsrus wat net Jesus kan gee. Die tyd alleen saam met Hom vul ons, herstel ons en gee ons weer energie. Ek onthou die wyse woorde van ‘n ouer dominee wat gesê het dat ons “uitmekaar gehaal” moet word sodat ons nie “uitmekaar val” nie!

Die skares het Jesus en sy dissipels gevolg en ons barmhartige Verlosser was nie geïrriteerd of gefrustreerd deur die onderbreking nie. Inteendeel, Hy het hulle verwelkom, die siekes genees en, terwyl Hy gepraat het oor die koninkryk van God, hul grootste behoefte aangespreek.

Die vertelling van wat volgende gebeur het, is so goed bekend. Die ‘Vermeerdering van die Brood’ kom in al vier die Evangelies voor en is ‘n verhaal wat selfs die jongste kind kan onthou. Kom ons laat onsself toe om deur Jesus verras te word terwyl ons die besonderhede van hierdie ongelooflike wonderwerk oordink.

Hulle was in ‘n afgeleë plek, dit het laat begin word, die mense het die hele dag aandagtig na elke woord van Jesus geluister, maar nou was hulle besig om moeg en honger te word. Die dissipels was nie lelik toe hulle vir Jesus gevra het om hulle weg te stuur nie; hulle het eerder besorgdheid op ‘n praktiese manier gewys. Jesus het egter barmhartigheid betoon en weereens bewys hoe Hy meer kan doen as wat enige iemand kan vra of hom of haar kan indink! Toe Jesus die dissipels gevra het om die mense iets te gee om te eet, het Hy hulle herinner dat hulle alles wat hulle benodig, in Hom het.

Die vyf brode en twee visse wat hulle gekry het was ‘n goeie hoeveelheid vir ‘n piekniek vir een mens, definitief nie vir vyfduisend nie! Is enige iets te moeilik vir die Here? Hy is magtig om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink! Jesus het die brood en visse geneem, sy Vader gedank, dit gebreek en dit alles aan sy dissipels gegee om daardie groot skare te voed. Hoe ongelooflik is dit nie om te lees dat almal geëet het  totdat hulle versadig was en dat daar twaalf mandjies vol oorgebly het nie! Daar was meer as genoeg!

Dit is ons God.

Hy neem onmoontlike situasies en werk vir ons beswil en vir sy glorie.    

In ons desperate en moeilike omstandighede wys Hy sy Goddelike krag.

Hy vermenigvuldig ons beperkte hulpbronne om sy doel te bereik.

Ons moet nie wonder hoe Hy sal werk of wat Hy kan doen of nie doen nie. Ongeag watter omstandighede jy jouself in bevind of watter probleme jy ookal in die gesig staar, Hy is meer as genoeg vir dit alles. Liewe vriendin, ek bid dat jy vandag deur Jesus verras sal word.

Ore om te Hoor

Ore om te Hoor

Brittany Salmon

Het jy al ooit ‘n goeie vriend gehad wat die evangelie al baie keer gehoor het en tog het hulle nog nie toegelaat dat dit hul harte sag maak en hul lewens verander nie? Of wat van jou? Het jy al die Goeie Nuus van Jesus gehoor, maar die Woord van God voel of dit op dowe ore (ons ore) val?

Die Skrifgedeelte wat ons vandag lees, spreek presies dit aan (as jy nog nie die gedeelte gelees het nie, neem ‘n oomblik om dit te doen en kom dan gou terug—ons sal net hier wees!).

Vandag lees ons hoe die Goeie Nuus van Jesus ‘n verskeidenheid reaksies kan ontlok, maar ‘n ware gelowige reaksie sal lyk soos ‘n saadjie wat in goeie grond geplant is. Dit sal groei en goeie vrugte dra. ‘n Ongelowige hart hoor hierdie Goeie Nuus en verwerp dit om verskeie redes.

Ek hou baie van hierdie verse. Jy sien, die manier waarop Jesus ander geleer het deur gelykenisse en stories te gebruik, het nog altyd tot my gespreek. En die beeldspraak van goeie grond teenoor slegte grond is een wat dikwels ‘n bietjie harder tot my spreek en my altyd laat nadink oor die grond in my eie hart.

Jesus het verduidelik dat daar drie maniere is waarop ‘n mens die Woord kan “hoor” en dit skiet nie wortel nie. Ons gehoor kan weerloos (v. 12), vlak (v.13), of afleibaar (v.14) wees.

Wanneer ek in hierdie lig daaroor dink, dink ek ons kan saamstem dat daar tye is wanneer ons almal in een van daardie kategorieë val. Verskillende seisoene het my gehoor al laat wankel, maar daar is goeie nuus! ‘n Oplossing kan gevind word in vers 18:

“Pas dus op hoe julle luister, want wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word, maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy dink dat hy het, weggevat word.”

Wil jy ‘ore hê om te hoor’, soos ons gedeelte beskryf? Hierdie gedeelte sê vir ons dat die sleutel tot ons begrip nie is om ons ore te dwing om anders te wees nie. Dit is nie om teologiese kursusse te neem of kundiges te word nie. Dit is om tyd in God se Woord deur te bring, na sy stem te luister. Dit is om te kies om na die gebooie en lering van Jesus te luister en om sy Woord toe te laat om die grond van jou hart te versag.

Soms lei ek Bybelstudies vir vroue en onvermydelik is daar ‘n vrou wat na die tyd na my toe sal kom en iets sê soos: “Ek is ‘n Christen, maar ek verstaan net nie God se Woord wanneer ek dit alleen by die huis lees nie.” My gunsteling ding is om te kyk hoe hul oë verhelder wanneer ek sê: “Ek ook.”

Jy sien, om ore te hê wat hoor, gaan nie daaroor om die slimste teoloog in die vertrek te wees nie; dit gaan daaroor om ‘n sagte hart te hê wat soos die vrugbare grond in hierdie gedeelte is. Dit gaan daaroor om tyd alleen en saam met ander in ons geloofsgemeenskappe deur te bring om God se Woord te bestudeer en daarna te luister. Dit gaan daaroor om aandag te gee aan ons harte, en wanneer ons agterkom dat ‘n weerlose, vlak of afleibare gehoor begin wortel skiet, maak ons die veranderinge wat nodig is om sagte harte en oop ore te hê, gereed om te hoor.

Ek laat jou vandag met hierdie vraag om oor na te dink: Het jy ore wat hoor? Watter tipe grond word in jou hart weerspieël? En as jy na eerlike nadenke jouself in ‘n seisoen bevind waar jou hart nie die goeie grond weerspieël wat in hierdie gedeelte genoem word nie, watter stappe moet jy neem om tyd te maak om meer na God se Woord te luister?

Mag God jou hierdie week seën en jou bewaar en mag Hy jou ore gee om te hoor.

Jesus Sien Jou

Jesus Sien Jou

Petra Stoneman

Aan die begin van hierdie nuwe week in ons studie van die Evangelie van Lukas, vind ons Jesus naby Kapernaum, spesifiek naby ‘n dorp met die naam Nain.

Jesus en sy dissipels, asook ‘n groot skare mense wat hulle gevolg het, het na Nain gestap. Net buite die dorpie het hulle ‘n stoet gesien. ‘n Man wat gesterf het is by die ingang van die dorp uitgedra, vermoedelik na ‘n plek buite die dorp om begrawe te word. Sy moeder was daar en saam met haar, byna die hele dorp se mense. Haar seun het gesterf en sy was ‘n weduwee. Elke aspek van haar lewe is geraak deur smart en droefenis en sy het moontlik geen visie of hoop vir die toekoms gehad nie.

Miskien voel jy dieselfde. Het jy alle hoop vir die toekoms verloor? Is dit vir jou onmoontlik om verby die hartseer en vermoeidheid in jou hart, enigsins iets goeds raak te sien? Indien dit so is, lees asseblief voort, dierbare vriendin. Daar is steeds hoop vir jou.

Toe Jesus hierdie vrou raaksien, het Hy haar innig jammer gekry. In ander woorde gestel, Jesus se hart het na haar toe uitgegaan, Hy het haar gesien en haar emosies gestaaf, en was saam met haar hartseer. Hy het ‘n diepe begeerte gehad om haar te troos.

Wanneer ons onsself te midde van ‘n broeiende storm bevind, kan ons geen beter troos vir ons siele vind as die troos van Jesus Christus nie. Hy is sagmoedig en nederig van hart (Matteus 11:29). Hy het gekom om die lewe wat jy nie kon leef nie, te leef en Hy het die dood gesterf wat jy verdien het. Hy het dit alles gedoen sodat jy deel kan hê in sy oorwinning oor die dood, sodat jy ‘n persoonlike verhouding met Hom kan hê as die Here van jou lewe en die Verlosser van jou siel.

Jesus se medelye het Hom tot aksie genoop. Op sy bevel is die jong man uit die dood opgewek en aan sy moeder terugbersorg. Haar rou het in vreugde verander.

Jesus het mag oor die dood. Selfs die aanraking van die baar, wat in Jesus se dae gesien is as seremonieël verontreinigend, het Hom nie besmet nie. Eerder, sy aanraking het dadelik die dood verdryf. Hy kan dinge in ‘n oomblik verander. Hou vas aan jou geloof, liewe vriendin! Hy kan jou omstandighede verander en totdat die uitkoms kom, of tot met die verlossing van jou siel, sal Hy jou met sy sterk regterhand versterk!

Wat was die reaksie van die skare in daardie tyd? Wat moet ons reaksie vandag wees, ongeag of ons wagtend is, te midde van smart en beproewings is, of aan die ander kant, verheug is oor ons dierbare Verlosser se deernisvolle hand op ons lewens?

“Almal is met ontsag vervul en het God geprys deur te sê: “‘n Groot profeet het onder ons opgestaan” en “God het na sy volk omgesien.” – Lukas 7:16

Kom ons prys God met alles wat ons het! Prys Hom met jou woorde, met jou dade, met jou toegeneentheid en met die bietjie of die baie wat Hy jou gegee het! Hy het gekom om sy mense te help en jy word nie oorgesien nie.

Skep moed; Jesus sien jou, Hy gee innig vir jou om en Hy ken jou intiem met groot toegeneentheid en liefde (1 Johannes 3:1).

Week 3 Uitdaging:

Ons sal hierdie week in ons Skrifgedeeltes sien hoe baie wonderwerke Jesus verrig het. Die dissipels het persoonlik gesien hoe Jesus hierdie wonderwerke doen, maar hulle geloof was steeds swak. Evalueer hierdie week eerlik jou geloof. Vra God om aan jou ‘n area van jou lewe te openbaar waarin jou geloof versterking nodig het en vra dan vir God om dit te doen deur die krag van sy Gees in jou.

Week 3 Leesplan:

Week 3 Memoriseervers: