Volkome Oorgawe – Inleiding

Die lewe kan moeilik voel. Wanneer ons ons lewens eerlik in oënskou neem kan ons dalk wonder, is dit regtig wat God vir my beplan het? Is ek werklik binne sy wil? Indien wel, hoekom is my lewe so moeilik? Ek het gedink sodra ek ‘n kind van God word, sou my lewe sonder stryd wees. Hoekom voel dit of my gebede onbeantwoord bly? Hoekom voel dit of ek deur een beproewing reguit in ‘n ander een in loop? Hoekom is my lewe gekenmerk deur gebrokenheid en pyn? Hoekom kan my lewe nie maklik wees nie?

Ons het almal al van tyd tot tyd hierdie vrae in die een of ander vorm gevra. Ons is almal van die pad af gedwing deur verraad, hartseer en gebrokenheid. Ons word daagliks daaraan herinner dat hierdie wêreld nie ons tuiste is nie, en tog is ons hartseer oor wat ons nie het nie. Ons is geskep vir soveel meer, en ons smag daarna om ‘n stukkie hemel op aarde te ervaar. So wanneer die lewe moeilik raak, wanneer die antwoorde op ons gebede wegbly en wanneer pyn ons lewens binnedring, worstel ons met hoe ons gedink het ons lewe sou wees teenoor die realiteit daarvan.

Ons vind vroue met soortgelyke verhale regdeur die Bybel. Hulle het elkeen deur hulle eie pyn, twyfel en bekommernis gegaan. Hoewel hulle verhale elkeen uniek is, was hulle volkome oorgegewe lewens gekenmerk deur ‘n mengsel van hoop en hartseer. Nie een van hulle het ‘n maklike lewe gehad nie. Elkeen moes deur pyn loop. Elkeen moes God vertrou in die onbekende. Elkeen moes lewe deur geloof, nie deur sien nie. Elkeen moes kies om in God se goedheid te glo te midde van hulle onbeantwoorde gebede.

Elkeen moes in die spanning van God se soewereiniteit en die lewe se gebrokenheid leef.

En dit was God se wil vir hulle lewens.

“Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.– Romeine 12:12

Hulle verhale het verskil, maar maak nie saak waardeur hulle gegaan het nie, hulle het nooit alleen daardeur gegaan nie. God was met hulle in elke vallei en op elke bergtop. Hy het elke gebed gehoor en hulle pyn gevoel.

Was hierdie vroue volmaak? Nee, maar al hierdie vroue het een ding in gemeen gehad: ‘n verhouding met God.

En as jy jou geloof in Christus geplaas het, het jy ook ‘n verhouding met God.

Ons lewens word dalk nie gekenmerk deur gemak nie, maar maak geen fout nie, dit word gekenmerk. Gekenmerk deur God se liefde. Gekenmerk deur God se voorsiening. Gekenmerk deur God se salwing.

Staan ​​dus sterk in jou geloof my liewe vriendin. Moenie bang wees nie, al bewe die wêreld. God is met jou. God is vir jou, en God het ‘n groter doel met die pyn onderwyl jy kies om jou lewe met volkome oorgawe aan sy wil oor te gee. Soos die vroue in die Bybel wat ons voorafgegaan het, is God met ons, en in Hom vind ons ons krag, maak nie saak wat oor ons pad kom nie.

“Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.” – Psalm 16:8

‘n Lewe van Lofprysing

‘n Lewe van Lofprysing

Petra Stoneman

Elke dag wil ek U loof, ek wil u Naam altyd prys.

Die Here is groot, alle lof kom Hom toe,

sy grootheid is ondeurgrondelik.

Psalm 145:2-3

Ek onthou een van die moeilikste tye van my lewe.

Dit het gevoel asof ek nooit weer sou hoop nie en ek was uitgeput en afgemat.

Ek het daagliks tot die Here gebid om hierdie swaar donker wolk waaronder ek geleef het, weg te neem. Ek het Hom heeltyd gevra om my te help om sterker as voorheen anderkant hierdie seisoen uit te kom, om Hom dieper as ooit voorheen te vertrou, en om my te leer wat dit ook al was wat Hy vir my te midde daarvan voorberei het sodat ek niks sou misloop terwyl ek dit omwens nie.

By een van die Love God Greatly Intensive opleidingsweke het ons by ‘n wyse, godvrugtige dame wat ons bevoorreg was om te ontmoet, geleer van die krag om God te loof vir wat Hy nog gaan doen. Sy het ons uitgedaag om God te loof en te dank vir wat nog sou kom, vir hoe Hy alles tot sy verheerliking en ons beswil sou laat uitwerk, en vir hoe Hy sy beloftes in ons lewens sou vervul.

Hierdie uitdaging en bemoediging het in dié donker seisoen van my lewe my daaglikse gebed geword. Ek het openlik vir die Here vertel dat ek raadop was en nie geweet het wat besig was om met my te gebeur en waarom nie, maar dat ek geweet het Hy het ‘n doel daarmee. Ek het Hom begin loof vir wie ek WEET Hy is, al het ek nie so gevoel nie.

Om God elke dag te loof, beteken nie dat ons ons danksegging op die omstandighede van ons lewens baseer nie.

In Psalms 140-144 bid Dawid dat die Here hom van vyande sal verlos. In hierdie psalms roep hy uit na God vir spesifieke hulp en herinner homself aan God se karakter.

Hierdie vyf psalms word gevolg deur die laaste ses van die hele boek, wat op lofprysing fokus.

Besef jy wat dit beteken? Vyf gebede gevolg deur ses lofprysings! Daar behoort altyd lofprysing en aanbidding na ons versoeke en smekinge te kom. Ons vra eers en dan loof ons. Ons versoek en dan sê ons dankie. Ons smeek en dan aanbid ons.  

Dit is ook opmerklik dat die hele Psalmsboek dien as ‘n bron van bemoediging, aansporing en vertroosting in moeilike tye. Dit is ‘n boek wat eerlike en rou gebede bevat, wat ons herinner dat ons nie alleen in ons swaarkry is nie, en dit sluit af met ses volle Psalms wat God loof vir alles wat Hy is.

Watter een praktiese ding kan ons uit vandag se Psalm leer? Te midde van swaarkry fokus ons op, en herroep al die ongelooflike, merkwaardige en wonderlike waarhede wat ons oor God weet en terwyl ons bid vir verlossing, herhaal ons hierdie waarhede vir ons siel. Ons kan selfs ‘n pen en papier gryp, of ons Aantekeninge-toepassing op ons fone gebruik om dit aan te teken. Wat ook al vir ons werk, ons herroep daadwerklik alles wat ons weet waar is en al die kere in ons lewe wat ons God se getrouheid beleef het, en herinner ons verstand, hart en siel daaraan.  

Hoekom? Want alles op hierdie aarde sal verbygaan, maar sy koninkryk bly vir ewig staan.

Die beste lê nog voor en daar is so baie waarna ons kan uitsien. Daarom, ongeag wat in of om ons aan die gang is, kan ons saam met Dawid verklaar, “Elke dag wil ek U loof!”

God het my in sy ontferming gehelp om te besef dat dit beter is om my lewe onder die swaarste donker wolk te leef wat tot diep intimiteit met Hom lei as onder ‘n helderblou sonskyn lug en sy naam te vergeet.

Lofprysing is ‘n besluit, ‘n hartsgesindheid wanneer ons ons te midde van swaarkry bevind. Kom ons maak dus daardie besluit, vriendinne!

Kom ons wees vroue wat kies om ons hemelse Vader in enige soort omstandighede te loof en dankie te sê omdat hulle weet Hy is waardig en omdat hulle weet dat ‘n seer, hopelose wêreld hulle dophou.

Lofprysing is ‘n uitdrukking van respek en dankbaarheid.

Laat ons vroue wees wat gekenmerk word deur dankbaarheid en lofprysing, vroue wat sterk en dapper lewens lei ten spyte van hulle lewensomstandighede, vol vertroue op die God van die hemel en aarde wat hulle harte vashou.

“Danksegging wek dankbaarheid in die hart op” – Richard Baxter (1615-1691)

Ek sluit my tyd saam met julle op die blog vandag en ons klaaglied-studie af met die lirieke van een van my gunsteling liedere wat my altyd tot trane, belydenis en lofprysing dryf: 

My Troubled Soul (Praise the Mighty Name of Jesus)

My troubled soul why so weighed down

You were not made to bear this heavy load

Cast all your burdens upon the Lord

Jesus cares, he cares for you

Jesus cares, he cares for you

And all your worrying won’t help you make it through

Cast all your burdens upon the Lord

And trust again in the promise of his love

I will praise the mighty Name of Jesus

Praise the Lord, the Lifter of my head

Praise the Rock of my salvation

All my days are in his faithful hands

My anxious heart, Why so upset?

When trials come how you so easily forget

To cast your burdens upon the Lord

Jesus cares, he cares for you.

I will praise the mighty Name of Jesus

Praise the Lord, the Lifter of my head

Praise the Rock of my salvation

All my days are in his faithful hands.

Leaning, leaning, leaning on the everlasting arms

Leaning, leaning, leaning on the everlasting arms

Leaning, leaning, leaning on the everlasting arms

Dankbare Harte

Dankbare Harte

Sara Lindsey

Soms is kinders die beste onderwysers. ‘n Onskuldige slaaptydgebed sal iets wees soos: “Dankie vir Coco (ons hond), en vir baie plek om te hardloop, en bene, en skoene, en sonskyn, en daardie lieweheersbesie wat ek op die blaar gekry het, en vir die blaar, en al die diere, en . . .” Daardie slaaptydgebede wat so rondspring kan my help om te dink aan my gesindheid, want ek was dikwels té besig om die besonderhede raak te sien, wat nog te sê om dankie te sê.

DANKBAARHEID. Beide die sekulêre wêreld en die Christelike wêreld stem saam (en sulke ooreenkomste is skaars!) dat dankbaarheid belangrik is.

Wat is dankbaarheid? Die Oxford woordeboek definieer dit as “die kwaliteit om dankbaar te wees; bereidwilligheid om waardering te toon en vriendelikheid terug te gee.”

So hoekom is dankbaarheid belangrik?

Baie wetenskaplike studies het dankbaarheid oor die afgelope paar dekades geëvalueer. Jy kan meer in hierdie navorsing delf as dit jou interesseer, maar hulle het getoon dat die beoefening van dankbaarheid talle areas in ‘n persoon se lewe verbeter, insluitend (maar nie beperk tot): verhoging van selfbeeld, verhoging van geluk, verbetering van sosiale verhoudings en ondersteuning, vermindering van depressie, en die verbetering van fisiese gesondheid.

Psalm 116 is ‘n dankgebed. Die psalmis beloof sy liefde en lojaliteit aan die Here en vertel hoe God hom uit ernstige omstandighede gered het. In reaksie op God se goedheid en getrouheid, vra die psalmis: “Hoe kan ek die Here terugbetaal vir al sy goedertierenheid teenoor my? Ek sal my verlossing vier en die Naam van die Here aanroep. Ek sal my geloftes aan die Here nakom voor sy hele volk” (Psalm 116:12–14). Ons kan nie God se gawes in ons lewens verdien of terugbetaal nie, maar ons kan sy gawes aanvaar en ons dankbaarheid aan Hom wys in woord en daad.

Interessant genoeg is Psalm 116 een van die Egiptiese Hallel-psalms (Psalms 113—118). As deel van die Joodse tradisie is hierdie Psalms tydens die Paasfees voorgelees. Beide Matteus 26:30 en Markus 14:26 beskryf dat Jesus en die dissipels ‘n lofsang gesing het nadat hulle hul laaste maaltyd en eerste nagmaal saam voltooi het, voordat hulle na die Olyfberg gegaan het. Die lofsang word nie in daardie verse gespesifiseer nie, maar gebaseer op die tydsberekening met betrekking tot die Pasgamaaltyd en die Joodse tradisie, sou Psalm 116 voorgedra gewees het. Stop en dink hieroor: Jesus was in staat om dankbaarheid uit te spreek, selfs met die wete dat sy kruisiging op hande was.

Instruksies om dankbaar te wees is deur die Skrif versprei. Sommige dae is dit maklik, maar sommige omstandighede of seisoene is weliswaar moeilik. Hoe kan ek God moontlik dank vir ‘n dood, ‘n egskeiding, ‘n natuurramp? Ek verstaan ​​nie die hoekom agter baie dinge wat gebeur nie. Daarom bid ek die Skrif en die waarheid van wie God sê Hy is tydens aaklige, verwarrende, tragiese oomblikke. Byvoorbeeld, Deuteronomium 31:8 sê: “Die Here gaan voor jou uit — Hy sal by jou wees; hy sal jou nie in die steek laat of jou verlaat nie. Moenie bang of moedeloos wees nie!” Ongeag of my omstandighede goed of sleg is, ek is dankbaar dat God met my sal wees. Ek bid God se eie goddelike woorde en verkondig die waarheid daarvan.

Ek dink dat dankbaarheid soos ‘n spier is; dit word sterker met oefening. Dit het geheue en word meer outomaties met herhaling. Kom ons wees vasberade om dankbaarheid te beoefen net soos ons vasberade is om gimnasium toe te gaan of vir ‘n wedloop te oefen.

Kom ons bid vir dankbare harte en werk daaraan om doelbewus dankbaar te wees. Ons is ‘n uitverkore en geseënde volk. God se genade en barmhartigheid is in die wonderwerke – en die besonderhede.

Verander Weeklag in ‘n Dans van Vreugde

Verander Weeklag in ‘n Dans van Vreugde

Grace Ann Hopkins

2021 was die moeilikste jaar van my lewe. Dit was ‘n tyd toe ek verlies op baie maniere ervaar het en eensaamheid soos ‘n steekpyn gevoel het. Die sinsnede wat ek die meeste in al my joernale geskryf het, was: Ek kan vir niemand sê nie. Ek is alleen. Niemand het van my seer geweet nie, want ek was eerlikwaar bang. Ek het ‘n leiersposisie beklee en het gedink ek het geen ander keuse nie as om sterk te wees en aan te hou. Ek het myself gedwing om uit die bed op te staan en normaal op te tree, maar kon dié vertoon ook maar net ‘n ruk volhou.  

Oplaas het ek my afgesonder en heeldag alleen gebly as ek kon. Die aantal bose gedagtes wat ek toegelaat het om in my kop te sweer, was te veel om op te noem. Dit het gevoel asof ek my identiteit, my gevoel van eiewaarde, my hoop verloor het; my lewe het doelloos gevoel.  

Dink aan ‘n tyd toe dit vir jou gevoel het asof jy in ‘n donker put sonder uitkomkans was—‘n tyd toe jy vasgekeer, desperaat en alleen gevoel het. Miskien voel jy nou so of het jy iewers in die verlede so gevoel, maar ek wil jou aanmoedig om eerlik te wees. Ek moes uit my gemaksone tree om hierdie woorde te skryf, maar ek het besef die vyand wil ons in oneerlikheid vasgevang hou, wat ons net nog meer eensaam en afgesny laat voel. Afsondering is die vyand se doelwit, maar God se volmaakte doel vir jou is verbondenheid en intimiteit en ware, onvoorwaardelike liefde.

Ek is seker jy het baie in hierdie studie oor weeklag geleer. Ek is baie lief vir Psalm 30 omdat dit voel asof Dawid alles so mooi saamvat. In verse 2-4 onthou hy die waarheid oor wie God is en wie Hy vir hom was: sy Opheffer en Geneser en Redder. In vers 3 spesifiek, onthul Dawid dat hy geweeklaag en tot God uitgeroep het toe hy hulp desperaat nodig gehad het. In verse 9-11 sê Dawid hoe hy hom na God gewend en Hom eerder as homself vertrou het. In vers 12 beskryf Dawid God se reaksie teenoor hom, toe God Dawid se droefheid in ‘n dans van vreugde verander het, Dawid se rouklere uitgetrek en hom met blydskap geklee het. Ten slotte beeld vers 13 Dawid se reaksie uit: vir altyd sal hy sy Verlosser, God, dank.

Hierdie gedeelte bevestig vir my dat die jaar van my intense worsteling nie vermors was nie. Ek hoop dat jy bemoedig sal word deur baie dinge wat ek geleer het. Eerstens wens God vir niemand van ons pyn toe nie, maar pyn is die gevolg van ons bestaan in ‘n wêreld wat deur sonde verdorwe is. Pyn het nie die oorhand oor God se karakter nie; God se karakter het die oorhand oor pyn. Hoewel God nie wil hê jy moet swaarkry nie, sal Hy dit altyd ten goede aanwend. Wat die vyand wou gebruik om jou te benadeel en te vernietig, kan God ten goede gebruik om jou te laat groei, sy liefde vir jou te openbaar, en jou na dieper intimiteit met Hom te lei.

Tweedens laat God ons nooit alleen nie. Hy treur in moeilike tye saam met ons, omdat sy karakter volmaakte medelye het (Hebreërs 4:15). Hy is naby die gebrokenes van hart (Psalm 34:18). Sy oë is altyd op ons, en Hy ken ons situasies intiem.

Derdens kan ons slegs wanneer ons eerlik is, waarlik lofprys. Hoe meer ek besef dat ek ‘n punt bereik het waar ek ‘n Verlosser desperaat nodig het, hoe harder word my lofprysing. As ek eerlik is oor my swaarkry, besef ek die omvang van God se genade en liefde, want Hy het Jesus gestuur om vir my te wys hoeveel hy vir my omgee, aan my dink, en aktief namens my veg. Verstaan jy? Swaarkry kan óf deur die vyand gebruik word as jou ondergang óf deur jou Vader, God, om—deur die kruis en Christus se kosbare bloed—jou oorwinning te verklaar oor ‘n wêreld wat deur sonde verdorwe is.

Ek daag jou uit om met jouself eerlik te wees oor waar jy staan. Wat is die toestand van jou hart, verstand en siel? Ek daag jou uit om jou hart voor God uit te stort, want Hy is jou toevlug en wil graag jou gebroke hart vashou (Psalm 51:17; 62:8). Laastens daag ek jou uit om nog ‘n geloofsprong te waag en mense wat jy vertrou by jou situasie te betrek. Ek bestraf die leuens van die vyand dat eensaamheid, angs, depressie en duisternis jou enigste opsies en jou lot is. Jy is gemaak om in verhoudings te leef en liefgehê te word net soos jy is. Die liggaam van Christus is ‘n gawe om juis dít vir jou te wys.

Jy is nie ‘n las nie, my vriendin, maar ‘n seën om vir ander te wys hulle is nie alleen nie. Ons kan almal saam gebroke wees.

Die laaste ding wat ek geleer het, is dat ons kan worstel en terselfdertyd besig wees om te genees. Daar is nie iets soos volmaaktheid nie, en daar is nie ‘n tydlyn vir genesing nie. God geniet dit om elke tree saam met jou te stap en so lank as wat dit nodig mag wees, saam met jou in die loopgrawe te wees, want sy liefde is geduldig en lankmoedig (1 Korintiërs 13:4). Dit is sy karakter en dit sal nie na gelang van jou omstandighede verander nie.

Laastens wil ek jou wys waarom jy kan lofprys. Openbaring 21:1-4 sê:

“Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.’”

Hierdie aarde is nie al wat daar is nie. Jesus gaan vir jou terugkom, om jou na ‘n beter plek te neem (Johannes 14:1-3). Maar hou moed, want terwyl jy nog op hierdie aarde is, sal God self jou Helper, Geneser en Redder wees—net soos Hy vir Dawid was. God sal nie toelaat dat jou swaarkry tevergeefs is nie maar sal dit gebruik om jou na Jesus se beeld te omvorm (Romeine 8:29). Hy sal ook jou getuienis gebruik om ander van sy groot mag en liefde te oortuig (Genesis 50:20). Kyk en beleef hoe Hy jou weeklag en pyn in ‘n dans van vreugde gaan verander. Hy sal dit verseker nie vermors nie.

Na ‘n lang ruk, nadat ek uiteindelik hulp gesoek het en mense in my situasie betrek het, en bowenal, ontmoetings met my Geneser, Jesus, is ek bevry van baie dinge wat my vasgevang gehou het. Ek worstel nog soms maar dit is in orde. Ek is ‘n mens en God weet dit (Psalm 103:14). Ek het op geen ander tydstip groter intimiteit met God ervaar as in my swaarkry nie. Ek het beleef hoe God onvermoeid my uitroepe koester en vashou. Ek het beleef hoe Hy toelaat dat my worsteling ‘n brug bou vir pragtige verhoudings met ander. Ek het beleef hoe Hy my worstelinge gebruik om my hart te reinig en my meer soos Hy te maak. Deur hierdie reis het God my dele van sy karakter gewys wat ek andersins nooit sou gesien het nie: Hy is my Lig, Geneser en Versoener, en het ongelooflik geduldige liefde vir my. Nou kan ek my verhaal vertel en ander bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God my bemoedig het.  Dit is hoe God my weeklag in ‘n vreugdedans verander het.

Week 4 Uitdaging:

Verbind jouself om hierdie week toegewyde tyd te spandeer om God elke dag te loof. Begin met vyf minute en voeg meer by as jy kan. Lees deur ‘n lofpsalm of gebruik jou eie woorde. Om sy lof te verklaar, herinner ons aan sy liefde vir ons en sy vermoë om kragtig in ons lewens te werk.

Week 4 Leesplan:

Week 4 Memoriseervers:

Dit weet ek

Dit weet ek

Katie Shott

“Jesus min my, salig lot, ek weet dit uit die Woord van God…”

As kind is my vroegste herinneringe aan die Sondagskool hierdie lieflike, eenvoudige liedjie wat ons geleer het. Eenvoudig en tog diepsinnig. ‘n Onwrikbare, onveranderlike, grondliggende waarheid waaraan ek steeds herinner moet word, veral wanneer die lewe moeilik raak.

Ons loop gevaar om, wanneer ons deur beproewinge gaan, of deurlopend moeilike situasies hanteer, ons God sien deur die lens van daardie omstandighede en dan bevraagteken ons waar Hy is of wat Hy doen.

In plaas daarvan moet ons ons daartoe verbind om die perspektief van die waarheid te kies van wat ons weet van ons goeie, liefdevolle, getroue, belofte-houdende God. Ons moet vashou aan sy Woord as ons anker, sodat ons deur die storms van die lewe kan gaan sonder dat ons geloof skipbreuk ly of sonder dat dit ons heeltemal verlate laat voel.

Die praktyk om te treur, om ons diepste hartseer, verlange, twyfel of vrese eerlik teenoor ons hemelse Vader te bely, is beide nuttig en skriftuurlik. Dit kan ook ‘n kanaal wees waardeur God Homself deur sy Gees meer aan ons openbaar; sodoende word ons geloof versterk, ons vertroue verdiep en gee dit ons skatte in die duisternis wat ons kan help om te volhard.

Onlangs, tydens ‘n getuienis-aand by die kerk, het ‘n lewenslange vriendin dapper haar verhaal gedeel van hoe sy die afgelope tien jaar drie verskillende soorte kanker moes hanteer, en al die behandelings, operasies, terapieë en newe-effekte wat deel was van hierdie verskriklike siekte. Sy het gedeel hoe iemand haar gevra het of sy iets nuuts omtrent God geleer het deur alles wat sy gewedervaar het. Sy het gesê dat dit meer was asof alles wat sy vir jare in haar geloofsreis geken het, vir haar spesifiek waar geword het. Die een ding waarvan sy die meeste seker was, meer as ooit tevore, deur dit alles, was hoe lief God haar werklik gehad het.

Ek was so ontroerd! Dit was nie wat ek verwag het om te hoor nie.

Dit kan ons natuurlike, menslike reaksie wees dat wanneer siekte of beproewinge oor ons pad kom, ons God en sy goedheid bevraagteken. Ons twyfel aan sy liefde, omdat ons dit nie voel nie en ons kan nie verstaan ​​hoekom ons huidige omstandighede so ongelooflik moeilik is om te verduur nie. Tog is my dierbare vriendin ‘n voorbeeld van God se heerlikheid, om Hom te vertrou deur alles wat sy deurgemaak het, vas te klou aan die hoop wat sy in Christus het en te weet dat niks, absoluut niks haar ooit kan skei van God se onveranderlike, onvoorwaardelike, onfeilbare, onverdiende liefde vir haar deur Christus Jesus, haar Here nie.

En so, terwyl ons hierdie week ons gedeelte in Romeine 8 oordink het en terwyl ons vandag op ons SOAP-verse (38,39) fokus, kom ons verklaar saam met die apostel Paulus dat ons seker is van, oortuig is dat niks ons gaan skei van God se liefde vir ons in Jesus nie.

Dit is die ewige liefde van Jesus waarop ons altyd kan staatmaak, beide nou en vir ewig! Maar, hoe kan ons dit regtig weet? Ons kyk na die kruis en ons sien die Een wat straf en lyding verduur het bo wat ons nooit eers kon dink nie, en ons herinner onsself daaraan dat Jesus aan die kruis van sy Vader geskei was, sodat ons nooit, ooit sal wees nie.

Paulus sê nie dat lyding of swaarkry niks is nie – dit is nie vir ons hier ‘n ‘grinnik en verdra’ tipe boodskap nie. Nee, dit is met die beeld van ‘n stryd wat Hy ons verseker ons het totale, oorweldigende oorwinning deur ons oorwinnende Verlosser.

Wanneer Paulus ons verseker dat hy oortuig is van oorwinning in al hierdie dinge, (nie ten spyte van, of nadat dit verby is nie), weet ons dat sy boodskap eg is, omdat hy baie verskillende beproewinge en ontberinge ervaar het, so ook die volgehoue ​​krag van die Een wat hom deurgebring het. So kan God ons gebruik om ander te bemoedig terwyl ons ons verhaal van lyding deel en getuig van hoe God met ons is in dit alles.

Die apostel Paulus gee ‘n redelike omvattende lys van al die dinge wat nooit tussen ons en God se liefde sal staan ​​nie. Hy dek dood, lewe, geestelike opposisie, enige kragte, hoogte of diepte, wat ook al teenwoordig is of wat kom, en net vir ingeval daar ‘n situasie kan wees wat nie hier genoem word nie, wat Paulus gemis het, voeg hy by “of enigiets anders in die hele skepping” (Romeine 8:39). Dit dek dit alles! Niks in hierdie wêreld kan ons beroof van die verlossende, ondersteunende liefde van Christus nie. Waarheid moet die rots en vaste fondament wees vir ons mede broers en susters wat regoor die wêreld uiterste vervolging, gevangenisstraf, selfs die dood in die gesig staar, omdat hulle Jesus volg.

Corrie Ten Boom (wat die gruwels van ‘n Nazi-konsentrasiekamp beleef het) was ‘n wonderlike voorbeeld van ‘n lewe van geloof en vertroue. Ek onthou altyd die bemoediging van hierdie waarheid wat sy in die boek The Hiding Place gedeel het: “Daar is geen put dieper as God se liefde nie.”

My vriendin, in watter put is jy op hierdie oomblik? Het jy die tere herinnering nodig dat Jesus jou liefhet en dat niks jou ooit van Hom sal skei nie? Onthou, die Een wat jou liefhet, is die Een wat Homself vir jou gegee het, en deur sy opstanding het Hy oorwinning oor sonde, die dood en die hel vir jou behaal. Saam met Hom en deur Hom, het jy volkome oorwinning oor wat jy ook al teëkom (Romeine 8:37).

En so, geliefdes, hoe sal ons dan reageer op hierdie groot waarheid van God se onbreekbare liefde wat ons saam opnuut oorweeg het? Kom ons bid dat ons sal groei in en versterk word deur hierdie liefde, dat ons by Paulus aansluit deur sy gebed vir die Efesiërs te gebruik:

“Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” (Efesiërs 3:16–19).

JESUS ​​MIN MY, SALIG LOT, DIT WEET EK.

Hoop Ongesiens

Hoop Ongesiens

Crystal Stine

“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” – Romeine 8:26.

Die belangrikste oomblikke van groei in my reis saam met God het uit die diepste valleie van my lewe gekom. Toe die lewe onderstebo gedraai het en ek geen idee gehad het hoe om vorentoe te beweeg nie, toe verlies hard en onverwags getref het, toe ek nie meer die vrou herken het wat ek in die spieël gesien het nie – dit het verander in van my kosbaarste oomblikke saam met die Here.

Aan die einde van myself, toe ek absoluut niks meer gehad het om te gee en niks meer om te verloor nie, was God daar. Toe ek nie meer kon dink aan die woorde om te sê nie, het my gebede eerliker as ooit geword. Ek moes geloof en hoop hê in wat ek nie kon sien nie, want alles voor my was besig om uitmekaar te val. En God was getrou om saam met my na die ander kant van die vallei te stap, om in my lewe te wag vir my genesing en sy heerlikheid, sodat ek, wanneer die volgende vallei kom, sal onthou waar om my hoop en my toekoms te plaas.

In ons teks van vandag skryf Paulus aan die gelowiges in Rome, en hy neem tyd om hulle – en ons – te herinner dat God gedoen het wat mense nie kon nie. Deur sy Seun te stuur om vir ons sondes te sterf kan ons sondes nou ten volle vergewe word. ‘n Heeltemal onbevlekte offer, en die enigste een wat waardig genoeg is om vir die skuld van die wêreld te betaal. As gelowiges het ons nou toegang tot die Heilige Gees, wat getuig dat ons kinders van God is en ontvangers van die pragtige gawe van verlossing.

Paulus merk op dat ons reaksie, sodra ons besluit het om Jesus te volg, anders is as die res van die wêreld. Ons volg nie wat ons vlees begeer nie, of neem sake in ons eie hande en probeer dinge in ons krag regmaak nie, maar ons volg waar God opdrag gee. Ons is nie in slawerny genooi nie, maar aanneming en daardie verhouding bring hoop en ’n toekoms mee.

Maar ’n lewe wat Jesus volg, kom nie sonder lyding of opoffering nie (Romeine 8:17).

Wanneer mens God volg, is daar soveel goeie dinge wat daaruit kom, maar ons word nooit ‘n veilige, maklike, gemaklike lewe belowe nie. God het egter ook ‘n plan daarvoor. Paulus skryf dat ons lyding nie futiel is nie, maar ‘n doel het wat in hoop gewortel is – vir diegene van ons wat kies om die slawerny van die wêreld te verruil vir die vryheid wat ons in Christus het, het ons iets heerliks ​​om na uit te sien – die ewigheid saam met God , waar alle lyding weg is, alle siekte genees, alle as met skoonheid vervang is. Die wêreld sal getuig van die manier waarop ons met eerlikheid en hoop deur hartseer loop, en dit is dalk net die ding wat iemand anders in ‘n verhouding met God intrek.

Selfs ons tye van wag het ‘n doel, aangesien God dit ontwerp het as ‘n geleentheid vir ons om uithouvermoë te bou terwyl ons met hoop wag vir die dag wat Sy beloftes vervul sal word. En terwyl ons wag, het ons die Heilige Gees, wat ons harte ken, om namens ons in te tree wanneer ons nie die woorde kan kry om te bid nie, wanneer ons harte swaar en beswaar is deur laste. Vreugde sal in die môre kom, maar totdat daardie dag aanbreek, terwyl ons wag, terwyl ons ly, terwyl ons tot die Here roep, kan ons rus in hierdie waarheid:

“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” – Romeine 8:37-39

Wat kom is beter as wat was

Wat kom is beter as wat was

Andrea Howey

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” – Romeine 8:18

Hoe leef ons in die spanning van die moeilike dinge waardeur ons in die lewe gaan en die pragtige hoop en verwagting van wat kom?

Die definisie van spanning is “die toestand van om styf uitgerek word.” Ek dink elke persoon wat hierdie lees het begrip met om styf getrek te word. Styf getrek terwyl ons deur soveel moeilike dinge gaan wat net nie sin maak nie. Brutale styd met gesondheid. Onvrugbaarheid. Finansiële laste. Verrraad. Dood van ‘n geliefde. Gebroke verhoudings. Depressie. Werkloosheid. Om in spanning uitgerek te word, is pynlik.

Daar is soveel pyn en hartseer wat die werklikheid vir soveel mense is en tog, soos ons deur daardie spanning tussen pyn en hoop, die “wat nou” is en “wat sal kom,” reik, sal ons God se belofte vind wat vir ons sê daar is ‘n komende heerlikheid wat die Bybel beskryf wat “nie eers vergelyk kan word nie” tot die huidige lyding waardeur ons gaan. Romeine 8:18 sê: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie”.

Dit sê vir my dat ons kan verwag om beide pyn en hoop te ervaar. Ons sal ‘n mate van pyn en lyding in hierdie lewe ervaar en daarin roep ons tot God in ons nood. Ons wandel deur hartseer. Dit is wat weeklag is. Soos weeklag ons toelaat om deur hartseer en rou te reis, nie die werklikheid daarvan te ignoreer of lig te maak nie, is dit ook bedoel om die gaping na ewige hoop te oorbrug. Vir diegene wat Jesus hulle Here gemaak het, is ons huidige lyding nie die einde van die verhaal nie. Wat kom “kan nie eers vergelyk word” met die komende glorie nie.

God weet hoe om ons ervarings van verlies en pyn bymekaar te bring en hulle almal te verlos. Of ons nou die volheid van sy beloftes hier aan hierdie kant van die hemel ervaar, of ons eenvoudig moet vashou aan die hoop dat dit nog vervul moet word, kan ons volle vertroue hê in sy Woord en sy beloftes wat ons herinner dat “alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet, die wat volgens Sy besluite geroep is.” (Romeine 8:28).

In Jesus is daar meer lewe en hoop en oorwinning wat voorlê as wat daar in ons hede of verlede is. Wat kom is beslis beter as wat was. “Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met voharding” (Romeine 8:25).

Of ons dit hier in hierdie lewe of eendag in die hemel sien, ons sal sien dat nóg die tydelike moeilike tye of teleurstellings, of selfs die beste dae van ons verlede, die blink toekoms wat in Hom op ons wag kan oorskadu nie. Met Jesus lê die beste nog voor. Daar is ‘n wonderlike hoop op heerlikheid wat voorlê. Wat kom is beter as wat was, In Jesus se naam.

Week 3 Uitdaging:

Hierdie week lees ons elke dag deur Romeine 8:18 – 39. Werk daaraan om hierdie gedeelte of ‘n paar van die verse daaruit te memoriseer as ‘n herinnering aan die soewerinitiet, krag, liefde en die groot hoop wat ons in Hom het.

Week 3 Leesplan:

Week 3 Memoriseervers:

‘n Doel vir Lyding

‘n Doel vir Lyding

Brittany Salmon

Gedurende die laaste paar maande het baie van ons vriende en familielede deur intense verlies en lyding gegaan. Die afgelope paar jaar was vir baie mense moeilik, en ek vemoed dat jy in ’n soortgelyke situasie is. Daar is baie min wat ondgedeerd gelaat is. Of lyding gekom het van die pandemie, orkane, sneeustorms, veldbrande, onverwagte mediese diagnoses, of dalk selfs die sonde van ander – swaarkry en hartseer het ons gemeenskappe geteister.

Maar hartseer en verlies is nie nuut vir die mensdom nie, en dit kom beslis nie as ’n verrassing vir ons God nie.

Dwarsdeur die Skrif sien ons ’n God wat naby die gebrokenes van hart kom. Ek hou daarvan hoe die Skrif nie net plek maak vir diegene wat deur hartseer en lyding wandel nie. Die Bybel is eerder ’n lydensverhaal wat lewe gee. Die hoofkarakter in die groot boodskap van die Skrif is ’n goeie en lydende Dienaar, een wat uiteindelik ’n verskriklike dood ly sodat ander toegang tot die ewige lewe kan hê. Lyding is nie vreemd in die verhaal van Christenskap nie; dit is ’n sentrale tema.

’n Vriend het eenkeer vir my gesê, “God is groot genoeg om jou hartseer te dra. Hy is groot genoeg om enige vrae wat jy mag hê te dra. Hy is groot genoeg vir alles van jou – so bring jou volle self na die tafel. Laat geen deel agter nie, selfs die harde en morsige dele. Neem hulle na ons goeie en liefdevolle Vader.”

Dit is die ding van ons God. Jy hoef nie voor te gee nie. Hy verwag nie dat ons na Hom toe moet kom en maak asof die lewe goed is nie, selfs al is dit nie. Hy het beslis nie nodig dat ons presteer of probeer om sy liefde te verdien nie. In plaas daarvan gee Hy dit gratis aan ons. Deur groot lyding aan die kruis het God sy onvoorwaardelike liefde aan ons gegee en belowe om eendag weer te kom en alles wat verkeerd is reg te stel.

Die boek Klaagliedere is ’n goeie voorbeeld van hoe, terwyl ons wag op die wederkoms van Christus, sonde, hartseer en lyding steeds verwoesting op hierdie aarde sal saai. En ons ignoreer nie daardie hartseer nie, ons betreur dit eerder. Ons maak ruimte vir die lyding en laat toe dat dit ons nader dryf aan God se liefde, waar ons stabiliteit en krag vind bo wat ons ons kan indink.

So vandag, vir dié van julle wat belas en swaar belaai is, wil ek dieselfde uitnodiging gee wat my vriend baie jare gelede vir my gegee het. Klaagliedere nooi ons uit om ons volle self, ons volle weeklag na die Here te bring. En terwyl ons weeklaag, hetsy deur wonde van ons sonde of die sondes van ander, roep ons uit: “Bring ons terug na U toe, Here, sodat ons na U kan terugkeer; vernuwe ons lewe soos in dae tevore.”

Mag jy vandag in weeklag vertroosting vind in die arms van jou Verlosser, en mag Hy jou lewe vernuwe in die dae wat kom.

Groot Is Sy Trou

Groot is Sy Trou

Ebos Aifuobhokhan

Mense het vir my gesê as ek kan skryf oor die gebeure waarvan ek julle nou gaan vertel, dan beteken dit dat my hart amper genees is. Ek is ‘n skrywer en die een of ander tyd sal ek skryf oor die dinge wat in my lewe plaasgevind het, alhoewel ek oor die meeste van hierdie gebeurtenisse nooit iets deel nie. Om te skryf is my manier om dinge te verwerk.

Op die 8e Mei 2020 het my vader sy aardse woning verruil vir die hemelse om met die Here te wees. My wêreld is deurmekaargegooi. Die tyd het stilgestaan. Die lewe het op een of ander manier vaal geword. In September 2021 het ek met my eerste swangerskap ‘n miskraam gehad. Ek het nie geweet dat daar sulke erge pyn bestaan nie. Toe my vader gesterf het, het ek gedink ek het die diepste pyn ervaar. In die verloop van sestien maande het ek my vader verloor, asook ‘n kind wat ek nooit kon vashou nie.

Liewe vriende, my hart is in stukke geskeur. Ek het geskommel tussen pyn, afgestomptheid, woede, skuldgevoelens, geloof en vrees. Ek het deur ontelbare emosies gegaan. Niemand kon werklik die pyn waardeur ek gegaan het, verstaan nie, behalwe diegene wat ook daardeur gegaan het en selfs toe, het ek alleen in my sielesmart gevoel. Mense wou hê ek moes praat toe ek niks gehad het om te sê nie. Die miskraam was nie my skuld nie, maar ek het skuld en skaamte ervaar dat ek dalk veroorsaak het wat gebeur het of dat ek iets kon doen of nie gedoen het, wat dit laat gebeur het nie. Dit het gevoel asof ek totaal geplunder is. Ek was in ongelooflike emosionele pyn. Ek kon nie verstaan hoekom dit gebeur het nie. Ek was nog nie oor my vader se afsterwe nie, en toe gebeur dit.

Ek het op ‘n Saterdag uitgevind dat my baba dood is en ek is geskeduleer vir chirurgie op die Maandag. Die hele Saterdag was my gedagtes leeg. Ek het gehuil en gehuil en ek het ‘n doodse gevoel gehad. Vir die eerste keer in my lewe kon ek nie bid nie, want om eerlik te wees, ek het nie geweet wat om te sê nie. Ek het vriende en familie om my gehad en toe dit aand word het ek gevra dat almal moet huis toe gaan omdat ek alleen wou wees. Ek is kort tevore getroud, maar my werksverplasing na die provinsie waar my man gewoon het, was nog nie afgehandel nie.

Vroeg Sondagoggend het die Heilige Gees my wakker gemaak en Hy het my gehelp om te bid. Ek het op daardie oomblik hoop nodig gehad. Dinge het gebeur wat ek nie wat ek nie verstaan het nie. Ek het ‘n behoefte daaraan gehad dat my Hemelse Vader iets sê. Ek was desperaat om sy stem te hoor om die versekering te hê dat Hy in beheer was en is. Selfs al het ek dit geweet, wou ek weereens weet dat hierdie gebeure Hom nie verras het nie.

Liewe vriende, ek wou net my Pa hê. Soos ‘n klein kindjie wat pyn ervaar en wat huil net om opgetel en vasgehou te word en verseker te word dat alles reg is en reg sal wees. Dit is wat ek nodig gehad het. Ek het nodig gehad om herinner te word aan sy groot trou wat my nog nooit in die steek gelaat het nie. My grootste vraag was: “Vader, is U daar? Sien U hierdie?”

Die Heilige Gees het daardie Sondagoggend tot my hart gespreek en alhoewel al my pyn nie oombliklik verdwyn het nie, is ek daarvan verseker dat Hy bewus was van my foltering. Ek het sedertdien gewonder wat goeds sal kom uit my miskraam, maar hier is dit! Vandag deel ek met julle en vertel ek vir julle met heelhartige vertroue en sekerheid in my hart dat God getrou is.

Teen die tyd wat jy hierdie lees, sal ek reeds geboorte gegee het aan my reënboogbaba, of ek sal baie na aan my verwagte datum wees. En die feit dat ek hieroor kan skryf aan vroue reg oor die wêreld, wys dat ons Vader vertrou kan word, en dat Hy getrou is. Hy vergeet nie sy kinders nie, selfs nie wanneer ons in die middel van ondenkbare pyn en lyding is nie.

Die genade en krag wat jy benodig, word aan jou beskikbaar gestel. Wanneer jou gedagtes afgestomp is en die intensiteit van wat jy deurgaan jou oorweldig, lees Klaagliedere 3:24 totdat dit insink. Die Here is jou lewe. God is met jou. Hy sal nie toelaat dat enige iets jou hart oorweldig nie. Die lig sal weer skyn, omdat Hy ons nooit in die donkerte inlei nie. Sy sorgsaamheid teenoor ons in grensloos en kan nooit geblus word nie.

Wanneer jy te midde van daardie pyn, onsekerheid, lyding en verwarring is, herhaal verse 21 tot 24 van Klaagliedere 3 saam met my.

Maar dít sal ek ter harte neem

en om dié rede bly ek hoop:

deur die liefde van die Here

het ons nie vergaan nie;

daar is geen einde

aan sy ontferming nie,

dit is elke môre nuut.

U trou is groot.

Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,

daarom hoop ek op Hom.”

God se barmhartigheid is eindeloos. Sy trou is te groot om te tel, uit te put of te faal. Hy is ons lewe, ons God wat in en met ons leef. Ons hoop in Hom kan nooit misplaas of verloor word nie. Moenie toelaat dat die duiwel leuens saai dat jy vergeet is of dat God nie getrou is nie. Sy getrouheid is groot! Soos ek hier skryf, gee daardie feit gee my hart soveel vreugde!

Sê die volgende hardop saam met my: “daarom hoop ek op Hom.”

Liewe vriendin, ek het jou ewig lief.

Shalom van Nigerië.

Die Heiligheid van God

Die Heiligheid van God

Melissa Fuller

Weeklag is ‘n kragtige praktyk. Soos ons ons pyn teenoor God uitspreek, verklaar ons ook ons geloof in Hom. Wanneer ons na Hom roep, erken ons die manier waarop sonde pyn en lyding veroorsaak het in die wêreld wat Hy geskep het. Weeklag is ‘n manier om ons geloof in Hom uit te druk, selfs terwyl ons ‘n gebroke wêreld ervaar.

Terwyl lyding soms deur die gebrokenheid van die wêreld veroorsaak word, word sommige lyding deur spesifieke sondes in ons lewens veroorsaak. Die mense van Juda het dit eerstehands ervaar.

God het die volk Israel gekies om sy uitverkore volk te wees, die nasie deur wie Hy die hele wêreld sou seën deur die Messias, die Verlosser van die wêreld. As gevolg van die sondes van Israel se konings is die nasie in twee koninkryke verdeel, Israel en Juda. Israel, die noordelike koninkryk, het uit tien stamme bestaan, terwyl Juda, in die suide, uit die stamme van Juda en Benjamin bestaan het. Die noordelike koninkryk van Israel is in 722 v.C. deur die Assiriërs oorgeneem. Die suidelike koninkryk het nog sowat 125 jaar oorleef totdat dit ook vernietig is, hierdie keer deur die Babiloniërs. 2 Kronieke bied ‘n gedetailleerde verduideliking van waarom die inwoners van Juda deur sy vyande vernietig is:

“Die Here die God van hulle voorvaders het voorturend aan hulle sy wil bekend gemaak deur middel van sy boodskappers, want Hy was begaan oor sy volk en sy woning, maar hulle het die boodskappers van God uitgelag, sy woorde geminag en sy profete gespot totdat die toorn van die Here oor sy volk losgebreek het. Die straf was onherroeplik. Die Here het die konings van die Galdeërs teen hulle laat optrek, en dié het die jongmanne van Juda doodgemaak binne in die heiligdom en nie jongman of meisie, grysaard of invalide ontsien nie. Die Here het almal in die mag van die koning van Babel gegee. Alles wat in die tempel was, of dit groot was of klein, die skatte van die huis van die Here, van die koning en sy amptenare, alles het hy na Babel toe gevat. Daarna het hulle die tempel afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles wat van waarde was, verwoes. Almal wat nie doodgemaak is nie, is na Babel toe weggevoer, waar hulle die koning van Babel en sy seuns se onderdane was totdat die Perse die bewind oorgeneem het. So is die woord van die Here vervul wat deur middel van Jeremia gekom het. Die ballingskap het aangehou totdat die land vir sy sabbatsjare vergoed is. Die hele tyd dat die land woes gelê het, het dit ‘n sabbatsrus geniet, ‘n volle sewentig jaar”       (2 Kronieke 36: 15-21).

God het getrou aan die mense van Juda geleentheid op geleentheid gegee om Hom te volg. Soms het die mense berou gehad oor hulle sonde en na Hom teruggekeer. Maar dikwels het die mense hulle tot valse gode gewend, afgode aanbid en soos die goddelose nasies rondom hulle geword – die nasies wat hulle opdrag gekry het om te vernietig.

God is barmhartig, lankmoedig en vol liefde. God is ook heilig, regverdig en jaloers. Toe God se mense voortdurend van Hom weggedraai het en ander gode aanbid het, het Hy aan hulle geleenthede gegee om hulle te bekeer en na Hom terug te keer. Maar hulle harte was verhard. God het sy uitverkore volk gedissiplineer deur toe te laat dat hulle deur die Babiloniërs verower word. Hy het ander nasies as gereedskap gebruik om sy heiligheid, geregtigheid en toorn aan sy volk te toon.

Die Boek van Klaagliedere verskaf aan ons ‘n eerstehandse verslag van die vernietiging van Jerusalem. Die profeet Jeremia, dieselfde profeet wat dekades lank die mense van Juda geroep het om hulle te bekeer, het geween oor die vernietiging van die stad en die tempel. Hy het diep hartseer uitgespreek oor wat met God se volk gebeur het. Hy het geweeklaag oor die sonde van die nasie en hulle rebellie teen God erken.

Tog het Jeremia, selfs in sy klaaglied, hoop gegee. Hy het uitgeroep in erkenning dat God sy volk vernietig en gedissiplineer het. God se heiligheid is deur sy mense bespot en Hy het uiteindelik sy oordeel oor hulle uitgestort. Jeremia se klaaglied het ‘n erkenning van die heiligheid van God getoon. Hy het verklaar dat God reg was om hierdie oordeel oor sy volk te bring omdat hulle teen Hom gesondig het en geweier het om hulle te bekeer. Jeremia se klaaglied is ‘n verklaring dat ongehoorsaamheid aan God vernietiging bring en dat bekering die enigste pad terug na Hom is.

God is regverdig en heilig. Hy kan nie en sal nie sonde duld nie. En God is vergewensgesind; Hy laat toe dat sy mense hulle bekeer en na Hom toe terugdraai. Omdat Jesus vir ons gesterf het, het Hy die straf geneem wat ons verdien het vir ons sonde. Hy is nou ons voorspraak, en gaan voortdurend namens ons voor die Vader. As ons gelowiges in Christus is, kan ons, wanneer ons ons van ons sonde bekeer, die vertroue hê dat ons ten volle vergewe is en herstel is tot ‘n volmaakte verhouding met Jesus Christus en God die Vader.

Dalk lees jy hierdie en het jy nog nie besluit om Christus met jou lewe te vertrou nie. Dalk glo jy steeds dat jy al die goeie en slegte dinge wat jy doen, moet uitbalanseer en seker maak dat jy oordeel vermy op grond van jou eie meriete. Gelukkig is dit nie die geval nie. Vandag kan jy glo dat Jesus Christus die Seun van God is wat aarde toe gekom het om jou te red van die straf wat jy verdien. Hy het jou plek ingeneem en Hy het die toorn van God verduur – die straf wat jy moes ontvang – sodat jy ‘n verhouding met God kan hê. Nou, wanneer jy in Hom glo, en glo dat Hy ‘n volmaakte lewe geleef het, gesterf het en weer opgestaan het en dat sy offer al is wat jy nodig het om herstel te word met God, kan jy lewe in Hom hê!

Hy is medelydend en lankmoedig, en Hy is heilig. Sy heiligheid is die rede hoekom Hy nie sonde kan verdra nie. Vandag ervaar ons nie die toorn van God soos Jeremia dit ervaar het nie. In plaas daarvan is die toorn van God oor sy Seun, Jesus, uitgestort sodat ons Hom kan ken. Wanneer ons ons geloof in Christus plaas, word ons vergewe en met Hom herstel.

Week 2 Uitdaging:

Maak tyd hierdie week om stil te sit en na te dink oor die wonderlike dade van die Here. Skryf dit neer in jou joernaal of op ‘n stuk papier wat jy in jou Bybel kan hou. Skryf ‘n paar van die dinge neer wat God vir jou gedoen het, die gawes wat Hy vir jou gegee het en die beskrywing van sy barmhartigheid en genade teenoor jou.

Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers: