Die Heiligheid van God

Die Heiligheid van God

Melissa Fuller

Weeklag is ‘n kragtige praktyk. Soos ons ons pyn teenoor God uitspreek, verklaar ons ook ons geloof in Hom. Wanneer ons na Hom roep, erken ons die manier waarop sonde pyn en lyding veroorsaak het in die wêreld wat Hy geskep het. Weeklag is ‘n manier om ons geloof in Hom uit te druk, selfs terwyl ons ‘n gebroke wêreld ervaar.

Terwyl lyding soms deur die gebrokenheid van die wêreld veroorsaak word, word sommige lyding deur spesifieke sondes in ons lewens veroorsaak. Die mense van Juda het dit eerstehands ervaar.

God het die volk Israel gekies om sy uitverkore volk te wees, die nasie deur wie Hy die hele wêreld sou seën deur die Messias, die Verlosser van die wêreld. As gevolg van die sondes van Israel se konings is die nasie in twee koninkryke verdeel, Israel en Juda. Israel, die noordelike koninkryk, het uit tien stamme bestaan, terwyl Juda, in die suide, uit die stamme van Juda en Benjamin bestaan het. Die noordelike koninkryk van Israel is in 722 v.C. deur die Assiriërs oorgeneem. Die suidelike koninkryk het nog sowat 125 jaar oorleef totdat dit ook vernietig is, hierdie keer deur die Babiloniërs. 2 Kronieke bied ‘n gedetailleerde verduideliking van waarom die inwoners van Juda deur sy vyande vernietig is:

“Die Here die God van hulle voorvaders het voorturend aan hulle sy wil bekend gemaak deur middel van sy boodskappers, want Hy was begaan oor sy volk en sy woning, maar hulle het die boodskappers van God uitgelag, sy woorde geminag en sy profete gespot totdat die toorn van die Here oor sy volk losgebreek het. Die straf was onherroeplik. Die Here het die konings van die Galdeërs teen hulle laat optrek, en dié het die jongmanne van Juda doodgemaak binne in die heiligdom en nie jongman of meisie, grysaard of invalide ontsien nie. Die Here het almal in die mag van die koning van Babel gegee. Alles wat in die tempel was, of dit groot was of klein, die skatte van die huis van die Here, van die koning en sy amptenare, alles het hy na Babel toe gevat. Daarna het hulle die tempel afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles wat van waarde was, verwoes. Almal wat nie doodgemaak is nie, is na Babel toe weggevoer, waar hulle die koning van Babel en sy seuns se onderdane was totdat die Perse die bewind oorgeneem het. So is die woord van die Here vervul wat deur middel van Jeremia gekom het. Die ballingskap het aangehou totdat die land vir sy sabbatsjare vergoed is. Die hele tyd dat die land woes gelê het, het dit ‘n sabbatsrus geniet, ‘n volle sewentig jaar”       (2 Kronieke 36: 15-21).

God het getrou aan die mense van Juda geleentheid op geleentheid gegee om Hom te volg. Soms het die mense berou gehad oor hulle sonde en na Hom teruggekeer. Maar dikwels het die mense hulle tot valse gode gewend, afgode aanbid en soos die goddelose nasies rondom hulle geword – die nasies wat hulle opdrag gekry het om te vernietig.

God is barmhartig, lankmoedig en vol liefde. God is ook heilig, regverdig en jaloers. Toe God se mense voortdurend van Hom weggedraai het en ander gode aanbid het, het Hy aan hulle geleenthede gegee om hulle te bekeer en na Hom terug te keer. Maar hulle harte was verhard. God het sy uitverkore volk gedissiplineer deur toe te laat dat hulle deur die Babiloniërs verower word. Hy het ander nasies as gereedskap gebruik om sy heiligheid, geregtigheid en toorn aan sy volk te toon.

Die Boek van Klaagliedere verskaf aan ons ‘n eerstehandse verslag van die vernietiging van Jerusalem. Die profeet Jeremia, dieselfde profeet wat dekades lank die mense van Juda geroep het om hulle te bekeer, het geween oor die vernietiging van die stad en die tempel. Hy het diep hartseer uitgespreek oor wat met God se volk gebeur het. Hy het geweeklaag oor die sonde van die nasie en hulle rebellie teen God erken.

Tog het Jeremia, selfs in sy klaaglied, hoop gegee. Hy het uitgeroep in erkenning dat God sy volk vernietig en gedissiplineer het. God se heiligheid is deur sy mense bespot en Hy het uiteindelik sy oordeel oor hulle uitgestort. Jeremia se klaaglied het ‘n erkenning van die heiligheid van God getoon. Hy het verklaar dat God reg was om hierdie oordeel oor sy volk te bring omdat hulle teen Hom gesondig het en geweier het om hulle te bekeer. Jeremia se klaaglied is ‘n verklaring dat ongehoorsaamheid aan God vernietiging bring en dat bekering die enigste pad terug na Hom is.

God is regverdig en heilig. Hy kan nie en sal nie sonde duld nie. En God is vergewensgesind; Hy laat toe dat sy mense hulle bekeer en na Hom toe terugdraai. Omdat Jesus vir ons gesterf het, het Hy die straf geneem wat ons verdien het vir ons sonde. Hy is nou ons voorspraak, en gaan voortdurend namens ons voor die Vader. As ons gelowiges in Christus is, kan ons, wanneer ons ons van ons sonde bekeer, die vertroue hê dat ons ten volle vergewe is en herstel is tot ‘n volmaakte verhouding met Jesus Christus en God die Vader.

Dalk lees jy hierdie en het jy nog nie besluit om Christus met jou lewe te vertrou nie. Dalk glo jy steeds dat jy al die goeie en slegte dinge wat jy doen, moet uitbalanseer en seker maak dat jy oordeel vermy op grond van jou eie meriete. Gelukkig is dit nie die geval nie. Vandag kan jy glo dat Jesus Christus die Seun van God is wat aarde toe gekom het om jou te red van die straf wat jy verdien. Hy het jou plek ingeneem en Hy het die toorn van God verduur – die straf wat jy moes ontvang – sodat jy ‘n verhouding met God kan hê. Nou, wanneer jy in Hom glo, en glo dat Hy ‘n volmaakte lewe geleef het, gesterf het en weer opgestaan het en dat sy offer al is wat jy nodig het om herstel te word met God, kan jy lewe in Hom hê!

Hy is medelydend en lankmoedig, en Hy is heilig. Sy heiligheid is die rede hoekom Hy nie sonde kan verdra nie. Vandag ervaar ons nie die toorn van God soos Jeremia dit ervaar het nie. In plaas daarvan is die toorn van God oor sy Seun, Jesus, uitgestort sodat ons Hom kan ken. Wanneer ons ons geloof in Christus plaas, word ons vergewe en met Hom herstel.

Week 2 Uitdaging:

Maak tyd hierdie week om stil te sit en na te dink oor die wonderlike dade van die Here. Skryf dit neer in jou joernaal of op ‘n stuk papier wat jy in jou Bybel kan hou. Skryf ‘n paar van die dinge neer wat God vir jou gedoen het, die gawes wat Hy vir jou gegee het en die beskrywing van sy barmhartigheid en genade teenoor jou.

Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers:

Hoe Lank Nog, Here?

Hoe Lank Nog, Here?

Lyli Dunbar

Ons het voor middagete ons motor in die sonnige Suid-Florida opgepak en die lang rit aangepak om by tannie Beth in die berge te gaan kuier. Ons was nog skaars weg, toe ek ‘n harde stem uit ‘n klein lyfie wat in die karstoel op die agtersitplek vasgegordel was, hoor teem. “Dit vat te l-a-n-k!”

Ons het nog maar 90 minute van ons 13 uur lange rit afgelê. Ek moes glimlag. Ek wens ek kon my perspektief aan die ongelukkige kind in my sorg oordra, maar ek het geweet hy is nog nie gereed om sy denkwyse te verander nie. In plaas daarvan het ek die radio ingestel op ‘n aanbiddingslied waarvan hy hou en voorgestel, “Hoekom sing ons nie solank nie?” Nadat hy hom ‘n paar minute lank hardnekkig teen my impromptu lofprysing verset het, het hy toegegee en sy misnoeë deur melodie laat wegspoel. Met ‘n glimlag terug op sy gesig het hy ‘n vals “Dankie Here dat U my gered het” uitgebulder.

Ek moet bely dat ek die afgelope jaar meer as een keer “hoe lank nog” tot God uitgeroep het. Ek wens ek kon net ‘n klein kykie van sy ewige perspektief kry. Miskien sou dit my help verstaan waarom Hy toegelaat het dat baie moeilike dinge oor ons gesin kom.

Miskien het jy al, soos ek, gebid dat God dinge in jou lewe moet verander, en dan word jou ergste vrese bewaarheid. Jy voel asof God jou vasgegordel het op ‘n rit wat jy nooit wou onderneem nie, en jy wonder hoekom Hy dit toegelaat het. Soos die Psalmis is jy dalk oorweldig deur bekommernis en wonder jy of God ooit jou gebede hoor.

Vriendin, as ons saam met God wandel, is ons nooit alleen nie—selfs wanneer ons deur ons pyn verblind word. Kom ons volg die patroon wat ons hier in Psalm 13 kry om ons oor die weg te help kom:

“Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here?”

Eerstens neem ons ons vrae na God toe. Pleks van dikmond wees en swyg, kan ons eerlik wees met God oor ons emosies. Hy sien ons hart en ken ons pyn. Net die Vader van barmhartigheid kan ons regtig vertroosting bring. Daarom kan ons, in plaas daarvan om ons beste vriendin te bel om teenoor haar af te pak of ure aaneen televisie te kyk om ons aandag af te lei, ons benoudheid na God se troon bring.

“Luister tog en antwoord my, Here my God!”

Daarna vra ons God vir bonatuurlike hulp. As ons self ons probleme probeer oplos, gaan dit ons pyn net vererger. In plaas daarvan, moet ons net by God vir ons antwoorde gaan soek. Net Hy kan ons siele nuwe lewe gee en ons van ons nood verlos. Wanneer ons besef dat ons dit nie self kan “regmaak” nie, val ons by sy voete neer en bid dat die Almagtige namens ons sal ingryp.

“Ek hou vas aan u troue liefde.”

Laastens herinner ons ons aan wat waar is. Ons omstandighede mag verander, maar ons God is in beheer. Hy is getrou. In elke seisoen het ons rede om te juig en sy naam te loof omdat Hy ‘n God is wat verlos. Hy het ons van sonde en dood gered, en veg elke dag vir ons. Ons Vader God sal seëvier en op die ou end die vyand oorwin.

Ons hoef nie vandag vir God weg te steek hoe ons regtig voel nie. Hy ken ons en ons kan ons harte uitstort en vertrou dat Hy ons hoor. Sy stilte beteken nie dat Hy afwesig is nie. Ons moenie dat die vyand se planne ons heeltemal van stryk bring nie want God sal ons staande hou. Hy sal ons spoedig ‘n nuwe lied laat sing.

Ons Bron Van Krag

Ons Bron Van Krag

Julie McIlhatton

Ek het onlangs vir ‘n groep tieners gevra of hulle dink ‘n Christen se lewe is makliker en het minder probleme. Sonder om te aarsel het een van hulle geantwoord: “Ja!” Ongelukkig is dit nie die geval nie. Ek het die geleentheid gebruik om die waarheid te deel dat ons almal moeilike dae beleef en ek het vir hulle voorbeelde uit my eie lewe gegee. Ek het hulle gewaarsku dat die Bybel selfs vir ons sê dat om ‘n Christen te wees, die lewe moeiliker kan maak. Kyk wat het met Jesus gebeur!

Terwyl ek na hulle gedempte gesigte gekyk het, het ek bygevoeg: “Maar, ons wandel nie alleen deur enige van daardie dae nie – Christene wandel met God.” Soos Psalm 23:4 sê: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.”

Daar is so baie in hierdie wêreld wat ons kan lei tot smart en weeklag. Dit is nie verkeerd dat ons so reageer nie. Ons hoef nie ons pyn te verdoesel nie en die Psalms kan ons help om eerlik oor ons gevoelens te wees. Hierdie wêreld is nie soos dit moet wees nie. En tog weeklaag ons nie sonder hoop nie, ons weeklaag nie sonder geloof nie. Ons ken die Here.

Vandag se Psalm wys ons dat die Here pyn, vrees en frustrasie verstaan. Jesus het die eerste vers van hierdie Psalm aangehaal toe Hy aan die kruis gehang het. Elke woord sou ongelooflik pynlik vir Hom gewees het – en dit beteken dat Hy doelbewus gekies het om hierdie Psalm aan te haal. Hy wou die gedagtes van diegene wat naby gestaan het, gelei het na die res van die woorde van hierdie Skrifgedeelte.

In die verlede het ek ‘n speletjie by die werk gespeel waar ek probeer het om ‘n liedjie in ander mense se gedagtes in te bring. Ek sou saggies neurie of ‘n sin uit ‘n liedjie in ‘n gesprek met iemand aanhaal en kyk hoe lank dit neem vir die ander persoon om die liedjie te begin sing! Dit het ons gehelp om deur eentonige dae te kom, want die woorde van die liedjies wat ons goed ken, haak gewoonlik vas in ons gedagtes.

Die Psalms was liedere wat aan die Jode bekend was. Hulle sou vinnig herken het dat Jesus Psalm 22 aangehaal het en hulle sou die res van die Psalm geken het. Trouens, in Markus 15:33-36, nadat Jesus die eerste lyntjie van hierdie Psalm aangehaal het, het hulle Hom iets gegee om te drink, verwysende na Psalm 22:16.

Hierdie Psalm wys ons dat Jesus geweet het hoe dit voel om beledig, verag, beledig en gespot te word. Daar is so baie ongelooflike akkurate verwysings oor wat met Jesus aan die kruis gebeur het, selfs die verdeling van sy klere deur te loot! Tog eindig hierdie Psalm nie in wanhoop nie. Van die woorde in vers 22 af: “U het my gebed verhoor!” verander die hele Psalm van rigting. God is die Redder van dié wat na Hom toe uitroep, wat die Here erken en na Hom toe draai. Die Here is tereg geloof en gedien. Hy is die Koning wat oor alle nasies regeer. Ons sien mense van elke volk wat Hom dien en ander vertel van alles wat Hy gedoen het. Die laaste vers van Psalm 22 sê: “Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word van hierdie verlossingsdaad getuig: die Here het dit gedoen.” Jesus het dit gedoen. Dit is volbring (sien Johannes 19:30), ons Redder het in ons plek gesterf.

Daar is so baie in hierdie wêreld waaroor ons kan weeklaag. Dinge gebeur en ons verstaan nie hoekom nie. Ons bevraagteken hoe so baie pyn en euwel kan bestaan. Tog is ons bewus van die Here se nabyheid, Hy is nie ver van ons af nie en Hy is die Bron van ons krag (Psalm 22:20). Hy verstaan ons pyn en Hy wandel met ons. Ons weet dat God nie die lyding van die verdruktes ignoreer nie. Ons kan ons liefdevolle God wat ons nie behandel soos wat ons dade verdien nie, saam vier en aanbid. Ons wandel met God.

As jy vandag tyd het, lees Markus 15:21-39 en staan verwonderd oor hoe dit met Psalm 22 verband hou. Alhoewel hierdie Psalm deur Dawid geskryf is honderde jare voor Jesus aan die kruis gehang het, is dit gebruik om diegene rondom Hom—en vir ons—te wys op alles wat Hy daar vir ons gedoen het.

As gelowiges sal ons dae nie altyd gelukkige, tevrede dae wees nie. Ons sal dae vol vrae, pyn en weeklaag hê. Dis gedurende daardie tye wanneer ons dikwels so baie leer oor God se goedertierenheid en genade. Baie van die Psalms is gevul met eerlikheid en pyn, maar hulle dui ook aan dat God die Bron van ons krag is. Dit is in orde om eerlik met God te wees en toe te laat dat sy Woord jou herinner aan sy liefde vir jou soos Hy saam met jou wandel.

Onthou die Waarheid

Onthou die Waarheid

Angela Perritt

Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër. Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins.” –Psalm 77:12-13

Ek het in die laaste twee jaar meer tot die Here geroep as op enige ander tyd van my lewe. Ek het meer kere as wat ek wil erken met rou gevoelens van verwerping geworstel. Snags wanneer ek probeer het om aan die slaap te raak, het vrae, soos dié waarvan ons in Psalm 77 lees, my gedagtes gevul. Ek het gewonder wanneer God die storms wat in my lewe gewoed het, gaan stilmaak. Soos die dissipels, het ek gevoel asof ek in ‘n boot op ‘n meer vir Jesus gevolg het, en sedertdien, soos elke storm in my lewe ingebots het, is my lewe meedoënloos deur een storm ná die ander heen en weer geskud. Dit was in die donkerste oomblikke van daardie nagte dat ek my hart en gedagtes toegelaat het om in waaksaamheid te verslap en dít wat God toegelaat het om te gebeur, te bevraagteken.

Het Hy my steeds lief? In my gedagtes weet ek wat die waarheid is, maar wat Hy toegelaat het om in my lewe in te kom en my en my familie skade te berokken, het gevoel asof Hy my nie liefhet nie.

Wou Hy my tot my breekpunt toe neem? Dit het gevoel asof ek skaars genoeg tyd gehad het om asem te skep, toe my lewe deur ‘n nuwe storm getref is. En die hoeveelheid storms wat ek en my familie in so ‘n kort tyd ervaar het, het my laat wonder hoekom Hy nie ingetree het om elke vuishou ligter te maak nie.

Die snoeiwerk in my lewe het my met tye laat wonder of Hy wil snoei om meer groei in my lewe te veroorsaak, of om my af te sny tot waar daar niks oorbly nie.

Ja, hierdie laaste twee jaar was baie erg.

Tog het ek nooit werklik verstaan hoe weeklaag voel totdat ek deur ‘n seisoen daarvan moes wandel nie. Alhoewel hierdie paar jare moeilik was, was hulle ook goed. Goed, omdat ek nader aan Jesus gegroei het te midde van die pyn, te midde van die onbekende en ten spyte daarvan dat ek nie die “hoekom” wat my laat in die aande wakker gehou het, verstaan het nie

Deur hierdie twee jaar van weeklag, het ek geleer dat dit in orde is om teenoor ons Here uit te roep. Dit is in orde om sy aksies en wat Hy in ons lewens toelaat, te bevraagteken. Dit is in orde om rou met ons emosies te wees wanneer ons seer het en om te midde van dit alles, uit te roep.

In daardie tye, wanneer ons in die versoeking kom om wanhopig te voel, kies eerder om te onthou.

Onthou hoe God in die verlede getrou was en, deur te onthou, vind die krag om te vertrou. Vertrou God se soewereiniteit. Vertrou God se wysheid. Vertrou God se liefde.

Liewe vriendin, as jy jou in ‘n seisoen van weeklag bevind, net soos ek ervaar het, wil ek jou graag aanmoedig om te onthou soos die Psalmis in Psalm 77 skryf. Ongeag van hoe jy voel, onthou dat God jou nie verlaat het nie. Onthou sy jare van getrouheid, nie net aan jou en jou gesin nie, maar ook reg deur die Bybel.  

Dit is wanneer ons kies om God se getrouheid te onthou, dat ons die krag kan vind om God te vertrou te midde van die pyn van vandag.

Onthou: dit sal ook verbygaan, hierdie seisoen sal uiteindelik verander. Die pyn sal nie vir altyd aanhou nie en jy is nie alleen te midde van dit alles nie. Roep uit tot God en terwyl Hy jou die krag gee om een meer dag staande te bly, onthou sy getrouheid aan jou.

Wees Heelhartig Lief vir God,

Week 1 Uitdaging:

Dink na oor ‘n tyd in jou lewe toe jy dit moeilik gevind het om tot God te nader as gevolg van jou lyding. Skryf die moeilike vrae wat jy gevra het, wat blyk of dit nie die God wat jy ken weerspieël nie, neer. Spandeer hierdie week tyd om dit aan God te gee in klaaggebede.

Week 1 Leesplan:

Week 1 Memoriseervers:

Vertrou God Te Midde Van Swaarkry – Inleiding

Vertrou God Te Midde Van Swaarkry – Inleiding

Maak nie saak waarheen ons draai nie, lyding blyk oral om ons te wees. As ons saans die TV aanskakel, sien ons dit op die nuus. Elke dag hoor ons van meer sterftes, meer bakleiery en meer onenigheid – ongeag die land, stad of mense. As ons aanlyn gaan, sien ons lyding in die foto’s, video’s en getuienisse wat gedeel word. Wanneer ons mekaar in die oë kyk, kan ons die letsels daarvan sien.

Vir baie van ons voel die wêreld buite beheer en lyk dit of dit by die dag vererger. Die lyding wat ons aanskou en ervaar, kan oorweldigend wees. Dit lyk asof een hartverskeurende gebeurtenis lei tot ‘n ander, en baie mense het begin wonder waar God is te midde van al die hartseer. Met al die pyn, al die boosheid, al die lyding wat mense ervaar, sien God dit raak of, nog erger, gee Hy selfs om?

Ons het almal al baie storms deurstaan. Met ‘n wêreldwye pandemie, natuurrampe, verandering in werk, verhuising, gebroke verhoudings, sterftes en gesondheidskomplikasies, is ons almal goed bekend met hartseer en pyn. Sommige dae voel meer as wat ons kan hanteer. Lyding het my geleer om op nuwe maniere tot die Here te roep. Die gebeure wat plaasvind, nie net in my persoonlike lewe nie, maar wêreldwyd, het by my ‘n begeerte geskep om meer oor weeklag te leer.

Deur my lyding het ek talle kere na die boek Psalms geblaai, terwyl ek die hartseer wat ek in my hart gevoel het, in woorde probeer omskryf het. Baie keer wanneer ek Dawid se klaagpsalms gelees het, het ek my kop instemmend geknik. Nooit tevore kon ek die hartseer van Klaagliedere en Jeremia se gebrokenheid verstaan ​​soos nou nie.

Lyding se doel is ons ondergang, maar dit hoef nie so te wees nie.

Dis my gebed dat jy, terwyl jy met hierdie studie besig is, sal leer dat dit goed is vir jou om tot die Here te roep in smart, hartseer, onreg en pyn. Dawid, Jeremia en Paulus het vir ons die belangrikheid daarvan om te treur te midde van ons lyding goed gemodelleer. Soos elkeen van hulle, bid ek dat jy sal leer om God op ‘n dieper vlak te vertrou en op die ou einde, leer om te verheug, selfs in jou hartseer.

Jy is nie alleen in jou pyn, hartseer en lyding nie. Jesus het daardie pad al voorheen gestap en Hy sal dit weer saam met jou stap, elke tree van die pad. Wat Satan beplan om te gebruik as ons ondergang, sal God gebruik om ons geloof te versterk. Roep dus tot die Here in jou lyding; jy hoef nie langer die trane terug te hou nie. Jesus verstaan ​​en Hy treur saam met jou. Ek bid dat jy deur hierdie studie ook sal leer om God te vertrou te midde van jou lyding en gereeld die dissipline van weeklag sal beoefen.

Ek bid dat jy sal leer om God op ‘n dieper vlak te vertrou en op die ou einde, leer om te verheug, selfs in jou hartseer.

Soveel Meer

Soveel Meer

Katie Shott

Ek is nou al ‘n hele ruk klaar met hoërskool, maar ek onthou nog duidelik dat my Engelsletterkunde-onderwyser beklemtoon het hoe belangrik die aanhef van ‘n stuk skryfwerk is en hoe om goed af te sluit. Sy het benadruk dat ons die lesers se aandag moes vasvang, en uiteindelik alles met ‘n bevredigende slot saamvat, sodat die leser wens daar was nog!

Ek dink die apostel Johannes sou ‘n A in haar klas gekry het! As ‘n mens terugdink aan Johannes se inleiding waar hy Jesus bekendstel, wie Hy was en waarom Hy gekom het, gryp dit ons beslis aan. Hier, aan die einde van die boek, mag dit vanuit ‘n literêre oogpunt dalk meer sin maak dat Johannes aan die einde van hoofstuk twintig afsluit—daar’s die opwinding van  Jesus se wonderbaarlike opstanding, sy verskyning aan Maria en die dissipels, sy herbevestiging aan die twyfelende Tomas, wat alles oploop na gister se SOAP-vers dat daar soveel meer wondertekens is wat Jesus gedoen het as waarvan ons weet! Die doel van die boek is dat ons sou glo dat Jesus die Messias is wat die ewige lewe bied wanneer ons in sy naam glo (Johannes 20:30-31)!

Ons kan daarom vra, waarom is daar ‘n hoofstuk 21? Is dit regtig nodig? My kop en my hart antwoord met ‘n dawerende JA! Kom ons vra onsself nou af wat God wou hê ons moes weet toe sy Gees Johannes geïnspireer het om verder te skryf en die boek met hierdie hoofstuk af te sluit!

Jesus verskyn ‘n derde keer sedert sy opstanding op die oewer van Galilea waar van die dissipels, onder Simon Petrus se leiding, weer gaan visvang het. Ten spyte van al hulle bedrewenheid, na ‘n hele nag se werk, het hulle niks gevang nie (Johannes 21:3).

Die volgende oggend, toe Jesus op die strand verskyn, het hy visvangwenke aan hulle uitgeroep. Hulle het die net uitgegooi nes Hy gesê het, al het hulle Hom nog nie herken nie, en die resultaat was ‘n oorvloedige vangs!

Ek kan nie help om op hierdie punt te wonder nie of Petrus ‘n ‘Déjà vu’-oomblik beleef en teruggedink het aan die lewensveranderende gebeurtenis wat Lukas in hoofstuk vyf van sy evangelie opgeteken het: Simon Petrus het heelnag visgevang, niks gevang nie, en Jesus het vir hom visvangadvies gegee wat uitgeloop het op ‘n oorvloedige vangs! Dit was die sleutelmoment in Petrus se lewe, toe hy besef het wie Jesus werklik is, en toe hy geroep is om Hom te volg en mense in plaas van vis te vang!

Hier het ons nog ‘n sleutelmoment in Petrus se lewe. Hy het sy opgestane Here ontmoet, die Een wat hy verklaar het hy tot die dood toe sou volg, maar toe ontken het dat hy Hom ooit geken het.

Petrus is een van die Bybelkarakters met wie ek regtig baiekeer kan identifiseer. Hy is passievol, maar kom in verleentheid. Hy tree oorhaastig op en bedoel goed, maar is heeltemal verkeerd. Hy wil ‘n getroue volgeling wees maar laat (volgens ons standaarde) Jesus in die steek.

Daarom is ek so mal oor Petrus se reaksie toe Johannes Jesus herken en vir Petrus sê: “Dit is die Here” (Johannes 21:7). Petrus pluk onmiddellik al sy klere aan en spring in die meer om terug na Jesus toe te waad, want hy kon nie nog die honderd tree wag dat die boot by die oewer uitkom nie!  

In plaas daarvan om weg te kruip en in skuld, skaamte en vrees terug te trek as gevolg van sy mislukking, hardloop Petrus na die Een toe wat roep, liefhet, vergewe, skoonwas en herstel!

Die gesprek na ontbyt tussen Jesus en Petrus was kosbaar. Johannes het geweet hoe belangrik dit vir sy lesers sou wees om te sien hoe teer Jesus drie keer vir Petrus herstel en heraanstel en Petrus se drie verloënings goedmaak.

Kom ons dink ‘n bietjie daaroor na: Toe Jesus Petrus se roeping herbevestig het om ‘n herder van God se mense te wees, het hy nie begin om vir Petrus te vra of hy die kudde liefhet nie. Dit is nie “Petrus, het jy die skape lief waarvoor ek jou roep?” nie. Nee! Jesus het vir Petrus gevra: “Het jy my lief?” (Johannes 21:15)

Liefde vir Jesus is waar alle sending begin. ‘n Lewe in sy diens moet kom uit harte wat oorloop van liefde vir die Verlosser, sodat ons liefde tot uitdrukking kom deur in Jesus se naam uit te reik.

Kan Jesus ons vandag saggies herinner dat ons Hom moet volg, ten spyte van ons mislukkings in die verlede, in die onbekende wat voor ons lê, en opnuut ons liefde wat getroue gehoorsaamheid, toewyding en opoffering sal insluit,  aan Hom verklaar?

Ons gaan Petrus vir eers los en ons bespreking vir vandag klaarmaak met Johannes se afsluiting van hierdie wonderlike evangelie. In sy slotaantekening (Johannes 21:24-25), wou Johannes ons graag herinner dat ons sy getuienis en alles wat hy oor Jesus meegedeel het, kan vertrou omdat hy alles eerstehands ervaar het. Johannes herbeklemtoon dit in sy eerste brief (1 Johannes 1:1) waar hy skryf dat hy verkondig wat hy gehoor, met sy eie oë gesien, waargeneem en aangeraak het.

Ons kan alles glo wat Johannes ons van Jesus vertel want Johannes het ‘sy heerlikheid gesien’ (Johannes 1:14), hy was daar by die kruis en die leë graf, en dit is ‘n betroubare ooggetuieverslag.

O, hoe nodig het ons nie om daaraan herinner te word in hierdie tyd waarin ons leef, waar daar geen absolute waarheid is nie en mense kies om te glo wat hulle ook al pas. God se Woord is ons vaste fondament en ons staan op hierdie onwankelbare waarheid. Johannes het ons bekendgestel aan Jesus wat die enigste weg en die waarheid en die lewe is (Johannes 14:6).

Ten slotte, om by te voeg tot wat Johannes ons omtrent Jesus vertel het en die wonderlike dinge wat Hy gedoen het, sluit hy af met ‘n verklaring dat daar nog soveel meer is wat ons nie weet nie!

Die grootste biblioteek ter wêreld, die Library of Congress in Washington D.C., bevat meer as 170 miljoen items. Dit is niks in vergelyking met wat Johannes ons vertel dat, as alles wat Jesus gedoen het, opgeteken sou word, die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke sou hê nie. Ons aanvaar dat Johannes blykbaar as skrywer hier taal gebruik om die saak te versterk of oor te beklemtoon, maar die punt wat hy by ons wou tuisbring, is dat wie Jesus is en wat Hy alles gedoen het, nie ingeperk kan word deur tyd of ruimte nie.  

Hoe opwindend is dit dan nie dat daar altyd vir ons soveel meer is wat ons omtrent ons Verlosser kan uitvind en weet! Ons gaan ons daaraan toewy om…

  • Sy Woord te deursoek
  • Op sy oproep te antwoord
  • Sy weë te soek
  • Sy onuitputlike volheid uit te leef
  • Hom heelhartig lief te hê
  • Na sy beeld omvorm te word
  • Die goeie nuus dat Jesus die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe is, te verkondig

…want ons God is vandag steeds besig om sy verhaal in en deur die lewens van sy mense te skryf!

Halleluja!

Gaan en Vertel

Gaan en Vertel

Kelli Trontel

Verandering en verlies is ‘n paar van die lewe se werklikhede waarmee ek baie vertroud geraak het oor die afgelope tien jaar. Ek onthou die oomblik toe ek die oproep ontvang het oor my pa se dood, maar ek onthou nog duideliker die oomblikke wat gelei het tot die neem van daardie gevreesde telefoonoproep. Ek het pas ‘n vriendin se huis verlaat wie se kamermaat onlangs haar ma verloor het. Ek kon nie die gedagte afskud om ‘n ouer te verloor nie. Ek was so gefokus daarop dat ek my vriend begin vra het hoe haar kamermaat daagliks funksioneer, want ek kon my skaars daardie werklikheid voorstel.

Terwyl ek die aand na my kar gestap het, was my gedagtes op die hemel gerig op ‘n manier waaraan ek nie vroeër veel aandag geskenk het nie. Ek het daaraan gedink hoe hierdie meisie ‘n ander perspektief op die hemel as ek gehad het, veral sedert sy haar ma verloor het. Toe lui my foon. Ek het ‘n gevoel gehad dat iets met my pa gebeur het, maar toe my oom bel om my die nuus te vertel, was my onmiddellike reaksie om hom te vra om net ‘n rukkie te wag voor hy iets sê. ‘n Desperate poging om net nog ‘n oomblik te wag voor dit my ewige werklikheid sou word.

Egskeiding was nog ‘n werklikheid wat ek nie sien kom het nie. Onkant gevang, verlate, verraai en in oorlewingsmodus gegooi met twee klein kinders, het ek oornag ‘n enkelma geword. Ek het hard baklei en gepleit vir my huwelik. Ek het “aangehou” deur toegewyd te bly om my trouring te dra, totdat my egskeidingsprokureur gebel het om vir my te sê dat die egskeiding finaal was. Dit was toe, toe ek my ringe afhaal, dat ek my nuwe werklikheid betree het.

Ek weet nie waardeur jy is nie, maar ons word vertel dat ons lewe op hierdie aarde hartseer sal insluit. Wat ek geleer het terwyl ek deur hierdie seisoene gestap het, is nie om die hoe en hoekom te probeer uitpluis of verstaan ​​nie, of om desperaat “vas te klou” aan iets wat uit my lewe verwyder word nie, maar om die Here te vertrou. Vertrou op sy getrouheid, sy tydsberekening en bowenal, sy soewereiniteit.

Jesus se reaksie aan Maria Magdalena, “Moenie aan my raak nie,” is ook geskryf as: “Moenie aan my vashou nie,” en is glo gesê in reaksie op haar begrip van Hom. Sy het Hom geken as “leraar” en niks meer nie. Sy reaksie was dus minder daaroor dat sy fisies aan Hom vasgehou het, wat sy gedoen het onmiddellik nadat Hy haar buite die graf by die naam geroep het, maar meer daaroor dat Hy soveel meer is: haar Here en Verlosser. Hy het vir haar gesê om nie op daardie oomblik haar beperkte begrip van Hom “vashou te hou” of aan  “vas te klou” nie, want sodra Hy opgevaar het na sy Vader in die hemel, sou meer van wie Hy is aan haar geopenbaar word.

Die Here is so sorgsaam en ek hou daarvan hoe Hy ons oë sagkens oplig in die rigting waar Hy ten volle geken kan word, selfs in ons hartseer en teleurstelling. Hy het Maria se oë opgelig en haar op ‘n sending gestuur. Hy het niks van haar teruggehou nie, maar net genoeg gedeel om haar vorentoe te laat beweeg—om die Goeie Nuus te gaan vertel!

Hierdie vers smeek ons ​​om onsself ‘n paar belangrike vrae te vra:

  • Wie glo jy is Jesus?
  • In watter seisoene en op watter maniere het jy aan Hom vasgehou?
  • Is Hy vir jou net “leraar” of is Hy jou persoonlike Here en Verlosser?

Alhoewel hartseer en verlies gedreig het om my voete onder my uit te slaan, was dit in daardie seisoene dat die Here so baie naby was en dinge aan my geopenbaar het wat ek dalk andersins nie sou geweet het nie. Ek is vasberade om beter, nie bitter te wees nie en wil lewe met my oë opgelig en my hande wyd oop om God heelhartig lief te hê en Hom bekend te maak. Ek wil nie vashou aan die verlede of aan ‘n herinnering nie, maar aan wat voorlê en waarheen die Here my roep.

Die Koste van die Ewige Lewe

Die Koste van die Ewige Lewe

Grace Ann Hopkins

Toe ek gaan sit om ons Skrifgedeelte vir vandag te lees, het ek geweet ek sal die hele hoofstuk moet lees om die konteks van Jesus se woorde te verstaan, maar die vyand het my begeerte en aandag van God se Woord afgetrek. Enigiets anders het gelyk na ‘n beter gebruik van my tyd. Daar is inderdaad ‘n geestelike stryd rondom ons aan die gang!

Vriendin, die vyand wil nie hê jy moet die Woord van God hoor nie, want hy is ‘n leuenaar en hy haat die waarheid (Johannes 8:44). Die vyand weet dat God se Woord die waarheid is en dit het die mag om jou ten volle vry te maak (Johannes 8:32), so hy sal enigiets doen om jou daarvan weg te hou, of dit nou beteken om jou apaties teenoor dit, of net ‘te besig’ daarvoor te maak.

Toe ek vandag se Skrifgedeelte begin lees, kon ek myself nie keer nie. Ek het die presiese woorde van Jesus, my Verlosser en Beste Vriend, opgeslurp. Hy het direk oor my gepraat, met my. Hy het spesifiek vir my gebid. Opregte trane het in my oë opgewel tot by die punt dat ek nie kon sien nie. Dit was trane van blydskap, trane wat kom wanneer jy besef hoe diep geliefd jy is.

Ek het op daardie oomblik geweet dat Jesus lewe en dat Hy naby my was en wou hê dat ek sy hart vir my moes ken. Hierdie oomblik het so intiem en warm en veilig en vreedsaam gevoel omdat ek in die waarheid van God gebly het en nie in die vyand se leuens dat ek onsigbaar, vergete, ongeliefd en alleen was nie. My God se Woord het gesê dat ek aan Hom behoort en dat ek in Hom leef. Dit het gesê dat ek deur Hom geken en geliefd is, selfs al het die wêreld my nie omhels nie.

Liewe vriendin, Jesus het vir jou gebid en bid op die oomblik vir jou. Het jy geweet dat Jesus Christus aan die regterhand van God sit en vir ons intree (Romeine 8:34)? Dit is duidelik in Johannes 17 dat God se hart vir jou is om Hom intiem te ken. Hy het so ver gegaan om sy geliefde Seun, Jesus, aarde toe te stuur om sy karakter en natuur aan jou te openbaar: ’n karakter van diepe barmhartigheid, deernis en lojale liefde (Psalm 145:8). Jesus is God in die vlees, wat sy tuiste op aarde gemaak het met die uitsluitlike doel om God se liefde vir jou te demonstreer.

Jou sonde het Hom nie afgeskrik nie, maar sy volmaakte liefde vir jou het Hom altyd net nader getrek. God se hart is dat niemand verlore mag gaan nie, maar dat almal tot bekering kan kom (2 Petrus 3:9). Dit beteken dat Hy wil hê jy moet in ‘n intieme verhouding met Hom wees. Dit is waarom Hy sy Seun gestuur het. Vir my gee dit nuwe betekenis aan Jesus se woorde in Johannes 17:3: “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.”

Vriendin, miskien het jy die waarheid dat God jou persoonlik liefhet, uit die oog verloor. Ek moedig jou aan om die koste van die ewige lewe te oorweeg. Wat moes Jesus doen sodat jy kon lewe? Hy het sekerlik sy alles vir jou gegee. Al wat oorbly is dat jy dit glo. Jy is verseker die moeite werd om liefgehê te word, want Jesus het jou as sy bloed werd geag. Ek kon dit nie beter verkondig as hierdie nie: “Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir die goddeloses gesterwe. ‘n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ‘n regverdige nie. Ja tog, vir ‘n goeie mens, sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe.  Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:6–8).

Week 6 Uitdaging:

Glo jy Jesus is die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe? Hoekom of hoekom nie? Kan jy dit aan ‘n vriend verduidelik wat Christus nie ken nie? Vra hierdie week vir God om vir jou ‘n deur oop te maak om te deel hoe Jesus die Seun van God is en die enigste weg na die ewige lewe.  

Week 6 Leesplan:

Week 6 Memoriseervers:

Die Wingerdstok

Die Wingerdstok

Emily Bradberry

“Ek kan dit self doen. Moenie oor my bekommer nie.“

Hierdie woorde het die toon aangegee vir meer van my dae as wat ek sou wou erken. Ek sien myself as ’n sterk, onhafhanklike vrou. En hoewel daar niks fout is met hierdie ingesteldheid nie, kan hierdie gedagtes van vasberade onafhanklikheid in my verhouding met God invloei.

In een van sy laaste boodskappe voor Hy na die kruis gaan, het Jesus geleer dat ons lewens nie bedoel is om gewortel te wees in ons eie selfgenoegsaamheid nie. Inteendeel, vir diegene van ons wat Jesus as Here bely, moet ons elke dag afhanklik wees van sy liefde, voorsiening en leiding.

Hoe doen ons dit? Jesus sê vir ons om te “bly” (Johannes 15:4). Die woord kom agt keer in vier verse voor, wat die belangrikheid daarvan aandui. Bly druk ’n voortdurende, voortdurende aksie uit: bly (bly vas) in Jesus. Wanneer ek probeer om die lewe op my eie krag te hanteer of streef na perfeksie en aanvaarding, skiet ek altyd te kort. Hierdie sogenaamde bronne van lewe is soos onkruid of dooie takke: hulle bied kortstondige voeding of hoegenaamd geen lewensgewende voeding nie.

Wanneer ek my daaraan toewy om die Skrif te lees, tyd in gebed deur te bring, en raad te soek by en gemeenskap met ander gelowiges, stel die Heilige Gees my in staat om meer vreugdevol, geduldig, liefdevol en rustiger te word. Jesus is die Ware Wingerdstok (Johannes 15:1). Hy is die enigste bron in die lewe wat ek nodig het, nie geld nie, nie toekennings nie. Net Hy en Hy alleen.

God wil hê ons moet verbind bly aan Hom, die bron van lewe. Nie omdat Hy ons wil bedrieg of ons vreugde wil steel nie. In Johannes 10:10 het Jesus gesê: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê en dit in oorvloed.” Jesus roep ons om intiem met Hom verbind te bly sodat ons voluit kan lewe. Ek moet myself daagliks aan hierdie waarheid herinner. Ek is magteloos om op my eie deur die lewe te gaan, wat my behoefte aan ’n Verlosser openbaar.

As die meester-tuinier beloof Jesus nie ’n maklike lewe nie. Hy beloof egter ’n vrugbare lewe. Hy sny die dinge terug wat my verhinder om te groei. Dit gebeur beide wanneer ek passievol na Hom soek en wanneer ek my eie pad probeer gaan. Alhoewel dit nie altyd maklik is nie, is albei voordelig. Deur seisoene van snoei, het ek geleer dat ek my begeertes en voorkeure moet laat vaar om aan sy wil en sy weg te onderwerp.

Jesus bied Homself aan as die bron vir ons groei. Hy nooi alle gelowiges uit om ’n lewe te lei wat baie vrug dra.

Bly in Jesus. Hy bly getrou in ons, by ons en deur ons as die ware wingerdstok.

Jesus die Dienskneg

Jesus die Dienskneg

Andrea Howey

Hierdie Skrifgedeelte mag dalk baie bekend wees, dit vertel die verhaal van Jesus wat die voete van sy dissipels gewas het. Dalk is dit nuut vir jou. Hoe dit ook al sy, daar is iets daaraan om die Woord van God met vars oë te lees om te sien wat God deur sy Woord sê.

Net voor hierdie gebeurtenis het Jesus sy laaste openbare boodskap gelewer, van sy laaste woorde aan die skares wat Hom gevolg het. Daarna het Hy homself saam met sy dissipels onttrek in ‘n privaat kamer, weg van die skares, weg van enige afleidings. Ek wonder hoe dit moes gewees het om in die kamer te sit en waar te neem en te luister.

In daardie oomblikke het Jesus op sy dissipels gefokus. ‘n Paar oomblikke waarin Hy hulle wou laat met woorde en ‘n voorbeeld wat hulle sou onthou in die komende dae. Dit is die laaste keer wat Hy hulle bymekaar sou hê om vir hulle instruksies te gee en hulle te onderrig. Johannes 13:1 sê: “Voor die viering van die paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het … Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.”

Jesus het geweet sy tyd het aangebreek om dit waarvoor die Vader Hom gestuur het, te vervul. Hy het ‘n begrip gehad van sy plek in tyd, en Hy was getrou aan sy roeping en aan die mense waarvoor Hy geroep is om te dien tot die einde toe.

Ons het die voordeel om Jesus se voorbeeld te sien en sy woorde agterna te hoor, maar as ons die woorde opnuut sou hoor, wonder ek of ons die omvang van sy hart en sy liefde sou verstaan. Sy dringendheid om die belangrikheid oor te dra om Sy woorde te aanvaar, Sy liefde te aanvaar, Hom te aanvaar en om alles wat Hy Sy lewe sou aflê om te gee ten volle te ontvang: vergifnis, barmhartigheid, verlossing, liefde. Wat Jesus dus gedoen het, was om sy hart vir sy dissipels te wys op ‘n manier wat glashelder in hulle gedagtes sou bly, hoe dit lyk om sy voorbeeld te volg om ander met ‘n onbaatsugtige liefde te dien.

Jesus het ‘n bak met water geneem, ‘n handdoek om sy middel vasgemaak en laag gebuig om die voete van sy dissipels te was. Een vir een het hy hulle bedien terwyl hy hulle voete gewas en afgedroog het.

Hierdie optrede van Jesus, as iemand na wie hulle opgekyk het, hulle mentor, hulle leermeester, die Messias, wat nou na hulle op kyk terwyl Hy hulle vuil voete was en afdroog, moes die kamer tot stilte geruk het. Om Hom die rol van ‘n dienskneg te sien aanneem, om Homself te verootmoedig wanneer dit andersom moes gewees het, dit was vir hulle te veel om in te neem. En Hy het dit verstaan. Jesus het geantwoord: “En Jesus antwoord hom: “Wat Ek doen, begryp jy nie nóú nie, maar later sal jy dit verstaan.” (Joh 13:7).

Jesus het geweet dat nie almal sou verstaan ​​wat Hy doen of sê nie, maar Hy het in elk geval gehoorsaam gebly aan sy roeping. Hy sê vir hulle: “Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen … Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.” (Joh 13:15-17)

Toe Jesus die voete van sy dissipels gewas het, het Hy ‘n uiterlike aksie getoon wat sy innige liefde vir hulle oorgedra het. Hy het geweet dat hierdie eenvoudige daad van laag buig om hulle voete te was, in die komende dae hulle herinnering sou prikkel wanneer hulle besef ​dat dit ‘n voorstelling was van hoe Hy sy lewe vir hulle sou aflê. In plaas daarvan om net hulle voete met water te was, sou Hy sy lewe aflê, sodat elkeen wat Hom aanneem vergewe kan word, gewas kan word van elke sondevlek, van binne en buite deur die bloed wat Hy sou vergiet. Hulle het dit toe nie ten volle verstaan ​​nie, maar in die dae wat volg, sou hulle.

In daardie laaste oomblikke het Hy geweet as hulle eers besef het wat Hy alles gedoen het, beide in die was van hulle voete, en die aflegging van sy lewe aan die kruis, hulle sou weet dat alles wat Hy gesê het, alles wat Hy gedoen het, was om vir die wêreld te wys dat Jesus is wie Hy gesê het Hy is: Seun van God, Verlosser, Messias, Here.

Hy het vir die dissipels in Johannes 13:20 gesê: “Dit verseker Ek julle: Wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.”

Om ‘n volgeling van Christus te wees, is om te lewe, te dien en lief te hê soos Hy gedoen het, sy voorbeeld te volg en sy Woord as die waarheid te aanvaar. En wanneer ons dit doen, word ons ‘n weerspieëling van sy liefde terwyl ons ander in sy naam dien, sodat hulle ook sy woorde sal aanvaar, sy liefde sal aanvaar, Hom sal aanvaar en alles sal ontvang waarvoor Hy sy lewe afgelê het. Vergifnis. Genade. Verlossing. Liefde.